‘n Goeie filmmaker is soos ‘n
goeie romanskrywer. Wanneer een film jou bekoor of aangryp, wil jy meer van die
kunstenaar se werk sien.
Of, sy of haar werk hérbesoek.
Wanneer ‘n mens letterlik elke
dag ‘n film kyk en gesteld is op goeie en belangrike films, word jy gedwing om
films weer te besoek. Met wonderlike, inspirerende gevolge. So het ek sopas
weer gekyk na Anderson se Boogie Nights
(1997) en The Master (2012).
Boogie Nights is ‘n kragtoer. Dit is bykans
asof ‘n mens ‘n opera aanskou, meer spesifiek ‘n porno-opera. Die klankbaan is
verruklik: down memory lane!
Mark Wahlberg, Julianne Moore, Burt
Reynolds, Don Cheadle, John C. Reilly, William H. Macy en Heather Graham is hier
te siene, saam met Philip Seymour Hoffman as die patetiese gay Scotty.
Eddie Adams (Wahlberg) is ‘n “high
scool drop out”. Sy ma noem hom dom en jaag hom weg. Hy werk as ‘n wasser in
die Reseda nagklub van Maurice Rodriguez. Hier ontmoet hy Jack Horner
(Reynolds). Hy word “ontdek” deur Horner as ‘n porno-ster weens sy behaaglike
hingsel en sy filmnaam is Dirk Diggler. Hy een Reed Rotschild (Reilly) maak
aksie-porno. Alles speel af teen die agtergrond van die 70’s se disko-musiek.
‘n Plesierige aksiebelaaide film
waarin seks en uitbundigheid oënskynlik besing word. Totdat Little Bill sy vrou
en haar minnaar doodskiet, homself ook uithaal op ‘n nuwejaarsparty waar die 70’s
oorgaan na die tagtigs.
Nou begin alles afdraande loop.
Dirk Diggler weens sy kokaïne-oordaad kan nie meer ‘n ereksie bereik nie en sy
sterrol word oorgeneem deur ‘n nuweling: Johnny Doe. Colonel word in hegtenis
geneem weens sy kinderporno-films. En Amber Waves (Julianne Moore) verloor ‘n
regstryd oor mede-toesig oor haar seun weens haar donker bestaan. In ‘n toneel
buite die hof, is dit Moore op haar beste wanneer sy verdriet vertolk.
Boonop raak Jack besorg oor die
vervelige tekste waarmee hy opgeskeep sit, neem Rollergirl en sy fillmakers in
sy limousine op soek na idees. Hier loop hulle ‘n ou skoolmaat van Rollergirl
op die lyf en wanneer hy haar beledig, word hy ernstig aangerand. Dirk Diggler
en Reed se poging om musieksterre te word, misluk. Prostitusie word hul
voorland en Dirk word eweneens wreed aangerand een aand deur “bunny chasers”.
Buck Swope trou met Jessie St. Vincent en weens sy porno-verlede weier die bank
‘n lening sodat hy ‘n stereo-winkel kan oop maak. Hy beleef ‘n dramatiese aand wanneer hy midde-in ‘n
rooftog by ‘n doughnut-winkel gesteelde geld kan neem, omdat almal rondom hom
doodgeskiet is, so reg uit ‘n Tarantino-scene. Of eerder, Tarantino het hier
geleen. Dirk en Reed raak by verdere moleste betrokke wanneer hulle bakpoeier
as kokaïene verkwansel aan Rahad Jackson. In 1984 word Buck en Jessie se kind
gebore, Rollergirl gaan terug skool toe en Dirk en Amber (haar “baby boy”),
beoog weer om saam films te maak.
II
Mark Wahlberg se Calvin Klein deurbraak
Die film is ‘n langer weergawe
van Anderson se “mockumentary”, The Dirk
Diggler Story (1988). Anderson speel ook in op Marky Mark se 13 duim, sy
lewe as trashy figuur wat tronk toe gestuur is weens aanranding en rassitiese
uitsprake en wat deur Calvin Klein en Annie Leibovitz ikoniese status verkry het.
Nes sy filmkarakter had hy ook ‘n musiekloopbaan.
Hierna het hy in 2012 ook ‘n
ongevraagde opmerking gemaak oor 9/11 en wat sou gebeur het as hy op daardie
vlug was: “If I was on that plane with my kids, it wouldn’t have went down like
it did”, en “There would have been a lot of blood in that first-class cabin and
then me saying, ‘OK, we’re going to land somewhere safely, don’t worry’”.
Wahlberg issued a public apology after family members of those killed on the
flight expressed outrage about his statements”. Verder het hy in 1991 een van
Madonna se meelopers beledig en selfs vir Guy Oseary op die neus gemoker. (Four Best Madonna Feuds – Ever! | OC Weekly. Besoek 18 Desember 2016)
III
Anderson se grootste talent –
behalwe vir sy goeie draaiboeke en filmografie – is hoe hy speel met sy akteurs
se personas. Dieselfde geld The Master,
‘n briljante analise van Scientology en hoe die impak van die Tweede Wêreld-oorlog
op die Amerikaanse psige.
Joaquin Phoenix en Philip Seymour
Joaquin Phoenix en Philip
Seymour Hoffman word teenoor mekaar geplaas.
Phoenix was toegelaat om te
improviseer en hy het gewig verloor vir hierdie rol. Hierteenoor is Seymour
Hoffman se spel meer beheersd. In onderhoude het Phoenix bely dat hy soos
Daniel Day Lewis “in karakter” gebly het vir drie maande.
Verskeie filmkritici het daarop
gewys dat ‘n mens uit die opposisie tussen hierdie twee fenomenale akteurs
verskillende spelwyses kan raaksien.
Joaquin Phoenix, Philip Seymour Hoffman, & Paul Thomas Anderson
En Anderson ontgin sy akteurs se
personas. Hy laat hul lewens “inbuig” op die karakters wat hulle vertolk. Hoe
imposant bly Seymour Hoffman nie en sy voortydige dood bly die kyker deurgaans
by.
Roland Barthes se effet de réel, oftewel, die effek van
die werklikheid op ‘n teks is hier relevant. Opgeneem in The Rustle of Language van 1968 (Blackwell, Oxford).
Paul Thomas Anderson, skugter voor die kamera
Paul Thomas Anderson ontgin wat
grensoorskryding of transgressie behels en hoe dit die kyker steur. Maar hy is
nie ‘n immorele filmmaker nie. Hy lewer sterk sosiale kommentaar in sy films. (The Master (2012 film) – Wikipedia. Besoek 18 Desember 2016)
© Joan Hambidge