I
In 2005 word 'n dokumentêr
vrygestel oor die film Deep Throat,
'n bekende chic porno-film met Linda Lovelace, die meisie wat net 'n orgasme
kan bereik met orale seks, omdat haar klitoris in haar keel sit.
Andy Warhol het oor hierdie
kultusrolprent geskryf en in 1980, met my eerste besoek aan New York, gaan kyk
ek dit op 42nd Street saam met die film The
Devil in Miss Jones. Twee kortfilms wat die porn-genre verander: daar is 'n
storie; 'n narratief dus.
Wat die dokumentêr fassinerend
maak, is die uitsprake van Erica Jong, Camille Paglia, Norman Mailer, Gore
Vidal, Hugh Hefner, e.a. oor die seksuele rewolusie. Paglia is heel uitgesproke: die verwoede verbanning en sensuur op die film bewys haar
insiens dat die seksuele rewolusie nog nie plaasgevind het nie. En die
feministiese reaksie dat porno verban moet word, bewys dat feministiese die
grootste sensors in die gemeenskap geword het. Paglia se werk - soos Sexual Personae, Vamps & Tramps, en
meer - bly inspirerende leesstof. Sy is dikwels krities oor feministe
wat vrouens - volgens haar - van regte ontneem (Camille Paglia - Wikipedia. Besoek 3 Desember 2016).
Harry Reems
Maar hier moet ons anders kyk na
die film en die impak wat dit op Linda Lovelace en Harry Reems, haar mede-ster
se lewens gehad het. Lovelace, so beweer sy later, was gedwing om die film te
speel deur haar man en die blou merke op haar lyf kan dui op aanranding. Reems is
deur die FBI inhegtenis geneem omdat hy obseniteit sou versprei het. Hy spring
wel tronkstraf vry danksy goeie regshulp. Wanneer hy ná die film aansoek doen
vir 'n rol in Grease, word hy
afgewys. Sy reputasie as porno-ster tel teen hom.
Hy vertel in die film hoe drank
en dwelms sy lewe verwoes het. Hy verloor al sy vriende, sy huis, tree later in
ander sleazy rolprente op, maar is te dronk om veel reg te kry.
Sowel hy as Lovelace is nooit
vergoed vir die 1972-film nie. 'n Skamele $20 was die vergoeding. Ander mense
het skatryk geword uit die film wat in 'n Florida hotel verfilm is. Lovelace
raak later bekeer (soos Reems) en sterf in 'n motorongeluk - 'n ongelukkige
persoon volgens die kommentaar van haar suster en jeugvriendin in die
dokumentêr.
Nixon se anti-porno-kampanje het reg in die hande van die Republikeine gespeel. Hoe ironies dat die
Watergate-debakel sý Deep Throat sou
word toe Bob Woodward en Charl Bernstein sy ongerymdhede aan die kaak gestel
het (Deep Throat (Watergate) - Wikipedia. Besoek 3 Desember 2016).
II
Wat hierdie dokumentêr
skitterend illustreer, is hoe die politiek van die dag 'n impak gehad het op reaksie op die film. Ook die verandering in mores het Lovelace en Reems (Dr
Young) se lewens verander. Indien die seksuele rewolusie werklik plaasgevind
het, sou hulle nooit skaam gevoel het, of sou dit hul lewens nie só verander het
nie. In 'n tyd van uitbundigheid was dit "reg" vir beide. Daarna kom
harde realiteite - veral vir Reems wat sou kon tronk toe gaan.
Jack Nicholson en Warren Beattie
is sy bondgenote van vryheid van spraak en optrede toe die bioskoop op 42nd Street
afgebrand word en die verskillende rolspelers geviktimiseer is.
Dan is daar ook die film Lovelace (2013) waarin haar lewe met
Chuck Traynor onthul word. (Lovelace. Besoek 3 Desember 2016).
III
Marlon Brando en Maria Schneider
Sopas is daar 'n polemiek rondom
oor Bernardo Bertolucci se Last Tango in
Paris, 44 jaar later. Met die heruitreiking is daar 'n youtube-insetsel,
tussen die regisseur en Brando, dat Maria Schneider onbewus was van wat presies
met haar sou gebeur in die beroemde bottertoneel met Marlon Brando.
Die regisseur is in 1972 voor
die hof gedaag met 'n opgeskorte vonnis van vier maande. Kopieë van die prent
is vernietig en Schneider is in 2011 oorlede.
Ook sý, soos Linda Lovelace, het
die deelname aan so 'n rolprent betreur.
Sy was 19. Haar lewe is deur
hierdie film verander. Sy was 'n dwelmverslaafde; daar was selfdoodpogings en
het later erken sy is biseksueel en sterf aan kanker.
Die roem van die film het haar
glo geskend. In haar eie woorde:
I was rock 'n' roll. About drugs, we did not know at the time, it was so dangerous. There was an ideal, to change society and especially a thirst for novelty...I have lost seven years of my life and I regret it bitterly...I started using drugs when I became famous. I did not like the celebrity, and especially the image full of innuendo, naughty, that people had of me after Last Tango. In addition, I had no family behind me, who protect you ... I suffered abuse. People who come up to tell you unpleasant things on planes. I was tracked down, and I felt hounded ...(Maria Schneider (actress) - Wikipedia. Besoek 4 Desember 2016)
Met Brando het sy wel bevriend
gebly. Sy was ook die meisie in The
Passenger van Antonioni teenoor Jack Nicholson, uitgereik in 1975.
Nicholson weer was in 'n ander
storm betrokke toe sy vriend Roman Polanski in sy huis 'n jong meisie verkrag
het. Iets wat Polanski sy hele lewe lank sou agtervolg en waaroor hy berouvol
praat in sy film-memoir (Roman Polanksi -
A Film Memoir, reg. Laurent Bouzereau - 2013) met Andrew Braunsberg, 'n
vriend en medewerker. Verfilm in Switserland tydens huisarres praat hy oor die
holokaust, Sharon Tate, en sy films waarvan hy The Pianist as die beste uitsonder. Mense ken my nie, merk hy op.
Ek is nie soos die pers my voorstel nie.
IV
Beide rolprente bewys hoe die
klimaat verander het. Daar is 'n neo-konserwatisme, 'n afwysing van
transgressiewe rolprente.
Ironies genoeg - ten spyte van
simpatie met die twee vroue se ellende - bly beide films bakens in die
geskiedenis van rolprentkuns. Dieselfde geld Polanksi se groot films soos Rosemary's Baby, Chinatown, The Pianist.
Helaas kan 'n mens nie meer een
van hierdie filmtekste benader sonder die wete van die lewens wat verander is
nie.
© Joan Hambidge