Sunday, June 19, 2016

Joan Hambidge - Op hierdie vadersdag [Gedig]



Goedskiks, twintig jaar te laat,
onthou ek hoe ek jou ligbruin jas
met ekstra knope en binnesakke
in 'n New Yorkse winter dra.
Dié jas is saam New Haven toe,
waar ek in 'n brief vir julle skryf
van die koudste winter
in menseheugenis. My eerste sneeu
hier met verwondering gevoel.
Vér benede vriespunt,
met die geleende jas geborge:
my vulpen vergeet in een van die sakke.
Dié jas, weet ma te vertel,
het later verlore geraak.
In daardie winter sou ek nooit
kon weet hoe jy, vader,
my sou bly beskut lank na jou vertrek
wanneer ander winters
kwaadskiks my sou  koudlei.


© Joan Hambidge