Tuesday, June 28, 2016

Joan Hambidge nuwe lid van US se raad



Kaapstad. – Prof. Joan Hambidge is deur lede van die Universiteit Stellenbosch (US) se konvokasie tot die universiteitsraad verkies.

Hambidge is verbonde aan die Skool vir Tale aan die Universiteit van Kaapstad.

Luidens ’n verklaring deur die US strek haar termyn van 22 Junie 2016 tot 1 April 2018.

Sy is aangewys in die plek van dr. George du Toit wat voor die einde van sy termyn, 1 April 2018, bedank het.

Lede van die konvokasie het vroeër vanjaar benoemings ingedien vir dié vakature. ’n Verkiesing is gehou nadat meer as een kandidaat benoem is.

Die ander kandidate was prof. Tito Mboweni, voormalige president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, dr. C.J. Oosthuizen,’n kliniese sielkundige en konsultant, C.G. van Schalkwyk, US-alumnus, prokureur en geoktrooieerde rekenmeester, en J.S. Amupanda,’n akademikus verbonde aan die Universiteit van Namibië.