Saturday, June 25, 2016

Huldeblyk: Adam Small (1936 - 2016)

Adam, Rosalie & Joan op Franschhoek

Adam Small het gereeld met my gekorrespondeer; elke e-pos afgesluit met “alles van die mooiste”. Sowel sy digkuns as dramas kan as bakens beskou word. Die onoortroffe Kanna hy kô hystoe (1965) en sy bundel Kitaar my kruis (1962) met sy wonderlike praatverse is tekste waarheen ek altyd terugkeer. Sy eiesoortige Kaaps het ’n stem gegee aan sý mense in ’n tyd toe witheid en manlike oorheersing alles bepaal het in Afrikaans. D.J. Opperman het hom raakgesien en gekanoniseer.

Sy liefde vir N. P. van Wyk Louw is alombekend. Hy het Louw in Engels vertaal (Oh wide and sad land wat in 1975 verskyn het.)

By ’n Franschhoek-skrywersbyeenkoms, ’n tyd terug, moes ek ’n gesprek met hom voer; altyd met Rosalie langs hom. Hy was die oggend die vieste in oor ’n verkeerde berig dat hy krities was oor die Sestigers. Al wat die gesprek kon red was humor. “Julle hou van Klawerjas, Adam. Ons van strip-poker.” Hy het lekker gelag en toe kon die gesprek voortgaan met die oorwegend Engelse gehoor wat kon hoor hoe uitstekend “Kô laat ons sing” steeds is!

Agterna het hy in die pers bedank vir die genoeglike oggend, die ou jintelman wat hy was.


Huldeblyk vir Adam Small

In Groot Verseboek staan jy,
daardie blou monument vir Apartheid,
beheer deur Wit Manne
met vrouedigters toé uitgeskuif
tot ’n blote vroulike aanvulling,
doenig met potte en panne
in die kombuis of tot ’n manlike digter
se minnares met wie hy smiddae
op die rusbank die jambiese pan slaan.
O treurig dié wysie op die digter se naat.
Hier is lesbiese vroue eens afwesig
of op vlug na Kanada en ander uithoeke
van die aardbol. Tweederangs, stil,
terwyl ’n gedig net-net ’n natuurbloemlesing haal
én die dieper onheil troebel soos ’n haai
onderwaters draal.
Jou kon hulle nie uitrangeer na die slawekwartier
of buitekamer nie.
Jou stem te helder, bytend.
Jy staan vir ’n Distrik ses in hierdie digterlike Bybel,
herinner hulle aan “forced removals”
en die Groepsgebiedewet.
Boonop dryf jy die spot en hekel
met die Heilige Orde van die Woord.
“Dis die lô, dis die lô”,
klink dit op in elke vers
en jy vertaal selfs die VaderGod van die Digkuns.
Vandag onder ’n mat
ontdek ek ’n klein geraamte
van ’n vlugtende gekko gemosaïek.
Naby Ingrid Jonker en Breytenbach
nes die rollende duisendpoot van Louis Eksteen
én die ander stilgemaaktes, is jy immer die een
wat rats, sonder omhaal van woorde, steeds
in Kaaps bly skel teen mensgemaakte wette.
En ek wonder: hoe voel jy nóú?
Of is jy soos daardie gekko
deur al die teenstand
tog stilgemaak?

(Uit: Lot se vrou. 2012)

© Joan Hambidge