Thursday, November 12, 2015

‘n Moderne Hamlet: ou wyn in nuwe vate




Michael Almereyda se Hamlet – met Ethan Hawke as Hamlet – is ‘n besondere interessante en relevante herbesoek van Shakespeare se klassieke drama. Die teks word verskuif na New York, meer spesifiek Manhatten met sy geel taxi’s en paranoiese gejaagdheid. Herkenbare bakens word ingespan om die storie te vertel, soos Times Square en die Guggenheim-museums met sy sirkels. Hier gil Ophelia haar waansin uit en die sirkels van die hel word geaktiveer.

Moderne tegnologie (selfone, TV-skerms, telefoonapparate, komputers en ‘n gedateerde faksmasjien) word ingespan om die storie te vertel. Die jong, wroegende Hamlet besoek ‘n DVD-winkel waar hy stapels en stapels films uitneem om iets te verstaan van sy Umwelt, teenoor die lesende Hamlet in die oorspronklike teks.

Hierdie film is alreeds in 2000 gemaak en analiseer die impak van modern tegnologie op ons lewens. Hamlet dwaal binne ‘n vlugkajuit en wonder oor die impak van sy dade, terwyl hy na ‘n film kyk.

Is dit toevallig dat die drama-binne-in-die-drama Mousetrap heet? James Dean, die silwerdoekheld soos Hamlet, bly tydloos aanwesig en glibber op ‘n TV-skerm.

Ophelia neem Polaroids wat sy weggooi, in plaas van blomme …

Die oorweldigende back-drop van die nooit-slapende New York was ‘n knap idee. Hierom is die jonge, tobbende Hamlet ‘n tegno-junkie. Die beroemde “to be or not to be”-monoloog word geparodieer deur ‘n Oosterse kommentator op ‘n TV-skerm wat beklemtoon dat ‘n mens se “being” altyd gedefinieer word deur ander mense. Met hierdie insetsel word daar verder gesuggereer dat ‘n mens se syn in die moderne wêreld verder bepaal word deur jou ekstensies in die tegno-wêreld.

Die jong Hamlet weifel tussen ‘n studie in die MBA-wêreld en filosofie. Hy keer terug uit die buiteland om te ontdek dat sy vader, die hoof van Denmark Korporasie, dood is en dat sy moeder (Diane Venora) getroud is met sy moordenaar, Claudius (Kyle MacLachlan). Die nuwe vader is ook nou in beheer van die maatskappy en die oorspronklike oedipale stryd word nou in moderne terme ook ‘n geldstryd.



Peter Bradshaw, ofskoon entoesiasties oor hierdie produksie, is wel skepties oor die voiceovers:

Moreover, Almereyda persistently makes the vulgar mistake of putting soliloquies onto a voiceover over a shot of the tight-lipped protagonist, as a kind of "thinks" bubble. It was the sort of thing Polanski did with his 1971 Macbeth: a disconcerting and unnecessary trick which you just don't need on film, and which lessens the visceral impact of speech.


Vir my is dit aanvaarbaar binne die styl-mélange van die produksie. Dit dwing die kyker om die monoloog van elke karakter weer aan te hoor. Met onderskrifte word dit ‘n besondere spannende spel tussen die Shakesperiaanse taal en die moderne vertolking van Hamlet met ‘n bokbaardjie, sonbril of ‘n tweegeveg wat gemoderniseer word met 'n elektroniese punteteller!

Daar is verder ‘n Elsinore hotel en ‘n laundromat waarin die vermoorde se klere gewas word. Is die laundromat nie immers binne die stadsbestaan die ruimte van sowel eensaamheid as ‘n soeke na kontak nie? Boonop is Sam Shepard, self ‘n gesiene dramaturg, die “ghost”!

Shephard se Buried Child (1979) is ‘n belangrike interteks, nes sy gekwelde lewe. Hierdie drama lewer kommentaar op die spanning in die nuklêere gesin. Hierdie pakkende aktiveer bloedskande op ‘n direkte wyse en aktiveer sowel Oedipus rex as Hamlet.


Hiermee wil die die filmmaker waarskynlik ‘n spanning uitwerk tussen Shakespeare en moderne dramas wat steeds bly teer op die Freudiaanse familieromanse wat terugkeer na Sofokles.

Met Liev Schreiber as Laertes beweeg hierdie kyker weg van die Mousetrap tot in Ray Connolly, ‘n reeks wat moderne kykers fassineer.

Die TV-leser, ten slotte, lewer kommentaar op ons samelewing in hierdie tye wat resoneer tot en met FMF#.

Is die moderne student nie ook in opstand teen die vaderfiguur (die regering) wat hom en haar versaak het nie?

The Mousetrap (Besoek 12 November 2015) is die kode met die leser wat moet speurwerk doen. Soos Agatha Christie se drama beskryf word as "the longest running play", is Hamlet presies ook dit.


© Joan Hambidge