Friday, November 13, 2015

Joan Hambidge - Augury [Gedig]




My pa se vriend
Ottie Reno, 'n regter in die VSA,
hoof van die hoefyster-gilde,
stuur elke jaar rondom Kersfees
beste wense vir my ouers.
Dit was toe hy nog in die lewe was.
Die regter met die ronde handskrif.
Daar staan nog 'n hoefyster
in ons huis en na my pa se dood
kyk ek na al die beeldjies van brons:
'n bul, 'n hoefyster en 'n horlosie.
Wens ek het toé gevra,
meer verstaan van hierdie dinge
toe my pa nog in die lewe staan.
Dan was dit nou als oorbodig
hierdie klein argief,
'n onbegryplike gedig,
wat woeker, weifel en waarsku:

die digter as sibille.