Saturday, November 7, 2015

Joan Hambidge - Vicky Christina Barcelona



Vicky Christina Barcelona
Woody Allen

I
Woody Allen se Vicky Christina Barcelona (2008) is Woody Allen se vierde rolprent wat hy buite die VSA vervaardig het. Hierdie rolprent het ongeveer 25 pryse verower en word allerweë as ‘n uitsonderlike werk geloof. Met elke weerkyk is daar ‘n besondere toespeling nie alleen op die werk van Gaudí en Miró, nie maar veral aan die Spaanse filmmaker Pedro Almodóvar. Iets van die Spaanse filmmaker se melodramatiese aanslag, word in hierdie Spaanse film aangetref.  Een van Almodóvar se gunsteling aktrises, Penélope Cruz, is alreeds ‘n kode vir die speurende kyker met wie Almodóvar 'n filmiese verhouding opgebou het. Ook die gebruik van werklike kunstenaars (soos die Spaanse kitaarspelers) en die Katalaanse kunstenaar, Agustí Puig, wat vir Vicky Christina Barcelona kunswerke gemaak het, is ‘n verdere kopknik na die Spaanse filmmaker wie se films ook die spanning tussen werklikheid en fiksie problematiseer. Pedro Almodóvar gebruik sy werklike familie as karakters en in een film is daar ‘n konsert waar aktrises luister na ‘n Spaanse konsert. In Vicky Christina Barcelona is die kitaarspeler in Asturias Emilio de Benito wanneer 'n mens na die lys van erkennings kyk.

In die werklike lewe is Bardem getroud met Cruz. Dus duidelike vraisemblance in Barthes se terme of die inspeling van die werklikheid wat alles voortdurend uitstel en problematiseer.


II
Twee vriendinne vertrek vir 'n vakansie na Barcelona. Dit word deur 'n "voice over" (Evan Welch) vertel. Die twee se sieninge van die liefde verskil dramaties: die een soek sekuriteit, die ander een, pas uit 'n verhouding, hou meer van uitdagings. Beide raak betrokke by 'n Spanjaard, ene Juan Antonio Gonzalo, wie se vader gedigte skryf maar dit wil publiseer nie, weens sy afsku aan die mensdom se selfgerigtheid.

Aan die einde (die film is 'n voltooiing van die ervaring, soos die "voice over" reeds aandui), keer Vicky terug na die ou lewensstyl en sy het 'n tweede Amerikaanse bruilof met haar eggenoot Doug (Chris Messina) wat nie bewus is van haar kortstondige affair met Juan Antonio nie. Christina, op haar beurt, weet beslis wat sy nie wil hê nie. Haar verhouding met Juan Antonio en María Elena (Cruz) was eweneens 'n vakansie-romanse.

Vicky word "verower" na 'n Spaanse kitaaraand.


III

Aan die einde staan Doug en Vicky by 'n straatwinkel en hy oorweeg om vir hul gasheer en -vrou (Judy en Mark) voëls te koop as 'n geskenk. Die voëlhokkie waarsku die kyker wat met Vicky gaan gebeur: sy gaan in 'n huwelik vasgevang wees met Doug, waaruit sy nie sal kan ontsnap nie. Hierna het sy 'n laaste ontmoeting met Juan Antonio en María Elena skiet op hulle, wond Vicky per ongeluk wat dan tot realiteit geskok word. Sy besef dat dit nie die lewe vir haar sal wees nie. Juan Antonio, ten spyte van sy romantiese aard (waarteen sy aanvanklik in opstand kom) dui op gevaar. Sy verkies 'n lewe met die voorspelbare Doug, oor wie Christina uiters neerhalend is in een van hul gesprekke. Vicky se onrus word uitspeel teen Judy en Mark, die welgestelde weldoeners, se lewe: sy sien hoe Judy, haar "distant relative", (Patricia Clarkson) 'n man soen en Judy probeer om Vicky en Juan Antonio weer bymekaar uit te bring by 'n partytjie. Vicky besef egter dat Judy haar eie ongelukkigheid só probeer besweer.

IV
Deur 'n Spaanse film te maak vind ons 'n duidelike toespeling op Almodóvar se films. En Vicky is boonop 'n kenner van Gaudí (Besoek 7 November 2015) se werk, die "backdrop" waarteen die film afspeel.
Karakters ontmoet by die Sagrada Família, onder andere.

Hoe moet 'n mens dit benader? Woody Allen se Manhattan(1979) kan onder beskou word as sy liefdesverhouding met hierdie stad. George Gershwin se Rhapsody in Blue is die musiek wat gebruik word om die stemming te skep. Zubin Mehta (van die New Yorkse Philharmoniese orkes) en Michael Tilson van die Buffalo Philharmoniese orkes was die dirigente van die musiek vir hierdie klassieke film.

Die Sagrada Família is onvoltooid. Dit is waarskynlik ook die mees gewaardeerde monument in Barcelona en een van die meeste toeriste lok.

Vicky Christina Barcelona is die film van Allen waarna hierdie kyker die meeste kere teruggekeer en by elke herbesoek 'n ander dimensie ontdek het oor verhoudings, toespelings op kunswerke en films, en is so beskou ‘n "onvoltooide" teks in my gemoed. Die Spaanse kitaarspel bly draal in die gemoed lank ná die voltooiing daarvan ...

Vertelling (en Woody Allen kan vertel), subteks, interteks, toespelings, grappies - dit is alles daar. Nes die intrede van Joan Pera (‘n Allen-"double") wat 'n mens weer neem Fellini se Otto e mezzo (1963), 'n besinning oor die aard van die filmkuns met Marcello Mastroianni as Fellini se doeblet.


© Joan Hambidge