Petra Müller (1935 - )
Ek het Petra meer as vyf-en-dertig jaar
gelede ontmoet. Sy was toe ‘n uitgewer en omring deur ander kundiges. Mense wat
lang en vér paaie gestap het met hulle skrywers. "Moenie jou novelle Sonderspel nou publiseer nie; laat dit
ryp word.” En hoe bly is ek nie dat ek geluister het nie. Jare later kon ek dit
verwerk in my roman Die Judaskus. Dit was ons eerste ontmoeting.
My tweede ontmoeting was toe ek haar
kortverhale en gedigte leer ken het. Niemand kan skryf oor die omtes van die
hart soos hierdie vrou nie. Daardie magiese lykdig oor haar broer Nico in haar
debuut Obool (1977) kan ‘n mens nooit vergeet nie. So lui die slot:
Ek moet jou naam nog eenmaal noem, in liefde
en verset.
Hoe anders sal ek jou van hierdie
volgehoue stilte red?
So is daar vele gedigte en bundels wat ‘n
mens ontroer oor die gebruik van kleur, die musikaliteit van die vers en die
digterlike vermoë om die ding in sy dinglikheid te kan beskryf.
Hoe kan ‘n mens ‘n gedig uitsonder waarmee
jy hierdie digter wil beskryf aan voornemende lesers?
Daar is twee bundels wat ek in lewe gelees
het wat my liggaamlik ontstig het. Beide het ek vir die eerste keer op ‘n koue
wintersaand gelees. Ted Hughes se Birthday letters (1998) en Petra se Die
aandag van jou oë (2002).
So klink ‘n vers uit hierdie bundel:
Glas
Op reis
In Tarragona het ek toe gesien
Hoedat die vlam die kwarts bedien
Totdat die glas begin te vloei
En uit die asem van die maker swel
As weerloos liggevulde bel
Wat afskulp sonder grein
Of naat.
Jou liefde het my so verlaat.
In die gedig “Posbode” spreek sy die dood
so aan:
Posbode
Die dood staan dikwels stil om ‘n adres
Te bekyk, of ‘n vroevy te pluk.
Hy het ‘n mankebeen, en dra sy leersak
Aan ‘n ysterarm. O, geduldige een!
En die brief kom altyd betyds aan,
Per besteller wie se mooi tenoor
Soggens deur ons huis trek as hy ligvoet
Met die trappies afdaal op ‘n melodie van
Gluck.
En net vir een oomblik weet ons,
Verstar tussen narsing en tjienkerientjie,
Hóé dit sal wees sonder ons verlore
Klein Euridikie.
Om
die gedagte van geel (2012) bevat ‘n opgawe
van onder andere jeugherinneringe. Hier skryf sy:
selfs ’n gewone mens kan herinnering
afskil:
die yslike nawellemoen
wat sy vorm ook
tot in sy afskil hou
En dit is ook van Petra waar. Sy is soos
háár mentor Martin Versfeld, iemand sonder tierlantyntjies en fieterjasies.
Tereg is sy bekroon met die Hertzogprys
vir haar deurgekomponeerde bundel Die aandag van jou oë. En almal wat
Petra ken, weet hoé sy jou kan uitkyk met ‘n kompromislose, geen nonsens-blik.
Haar kennis van opera en Lieder is
merkwaardig. En kuiers saam met haar en haar eggenoot wyle Wilhelm Grütter, het
altyd gewissel tussen die grappige en die diepsinnige; die skunnige en die
Verhewe Gedagtes. Boere-adel, in die oorspronklike sin van die woord:
mense van die land. Dis net so ‘n mens wat ‘n plek se naam Waterval sal roep,
weg van pretensie en opgesmuktheid.
Petra se belesenheid en haar kennis van
Osip Mandelstam en vele ander digters is indrukwekkend.
Geluk aan jou, vriendin. Jy wat vroedvrou
is en was vir soveel skrywers deur soveel jare. En wat ons digkuns verryk het
met jou aardse, aangrypende verse wat die aandag van ons oë opeis.
En ook dank vir jou lewenswysheid.
*
Van haar het onder meer die volgende
digbundels verskyn: Obool (1977), Patria (1979), wat met die
Eugène Marais-prys bekroon word, Liedere van land en see (1984), My
plek se naam is Waterval (1987), Swerfgesange vir Susan (1997) en Die
aandag van jou oë (2002), waarvoor sy in 2005 die Hertzogprys ontvang het.
Daarna verskyn ’n bundel gedigte in Engels, Night Crossing (2006).
Van haar belangrikste Prosatekste:
1962 Verlore vallei,
Dagbreek-Boekkring
1963 Die windskerm, Human &
Rousseau
1980 Werf in die rûens, Tafelberg
1982 Voëls van die hemel, Tafelberg
1993 Die dwerg van Infanta en ander
verhale, Tafelberg
1995 In die omtes van die hart,
Tafelberg
2007 Desembers (saamgestel deur
Rachelle Greeff), Tafelberg
(Hierdie
resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)
© Joan
Hambidge