I
Alexander Strachan se roman Brandwaterkom
is ‘n roman wat by my spook. Nie alleenlik is dit goed geskryf nie, maar die
skrywer laat verskillende dimensies naatloos oor mekaar skuif. Die historiese
gegewe van die ABO en die komplekse verhouding met joiners en hensoppers
teenoor die grensoorlog van die tagtigerjare. Oor alles heen beweeg daar ‘n
navorser wat lewe gee aan Vilonel. Die fiksionaliseringsproses word teenoor die
historiese dimensie geplaas en daar is selfs ‘n moment van magiesrealisme met
‘n besoek aan Dwaalpoort.
Die kuns van ‘n geslaagde
historiese roman is om so ‘n karakter ‘n mens te maak. Hierin slaag die
skrywer. Vilonel se optrede is kompleks. Word hy ‘n verraaier omdat hy besef
het die oorlog gaan die Boere niks in die sak bring nie? Of is dit sy
verskeurde liefdeslewe wat hom laat aarsel? Is dit werklik hoogverraad dat hy
manskappe oortuig het van die uitsigloosheid van die oorlog?
Arthur Blake se Boereverraaier
is onder andere ‘n belangrike voedingsbron vir Strachan. Hoe kyk ons vandag na verraaiers?
Daar is vandag ‘n demitologisering van die ABO en die eenvoudige spanning
tussen Boer (heilig) en Brit (onheilig) word deur vele historici anders bekyk.
Albert Grundlingh se studie oor die “hensoppers en joiners” kom eweneens na
vore.
Gaan lees die gedeelte oor
Hertzog se hantering van die Vilonel-saak.
In ‘n rubriek skryf Max du Preez
insigryk oor hoe twee broers ook teen mekaar te staan gekom het in die oorlog. (Max du Preez oor die miskende Piet de Wet. Besoek 2 Julie 2015)
II
Strachan gee ‘n komplekse beeld
van die man wat deur Hertzog as ‘n “skandvlek” op die Afrikanergeskiedenis
uitgekryt is.
Hy laat die roman ook eindig
sonder “closure” – die hoofkarakter sou in die werklikheid nog bly lewe en
diens doen in ‘n gemeenskap.
En dis goed dat die roman eindig
waar dit eindig. Die leser (selfs diegene wat nie die geskiedenis van hierdie
dubieuse figuur ken nie) is so onder die indruk van sy verskillende fasette. En
vir die liefhebber van die geskiedenis is daar dan ook vele tekste wat ‘n mens
kan gaan lees. Met die uiteindelike gevoel van genoegdoening wat ‘n groot roman
by jou laat: die skrywer het van ‘n historiese figuur ‘n mens gemaak, een met
verskillende kante.
'n Werklike goed geskryfde
romankarakter kan 'n mens nooit vergeet nie. Vilonel spook by my, soos Humbert
Humbert in Nabokov se Lolita. Stanley Kubrick se filmweergawe van
1962 - stadig, afgemete in wit en swart met James Mason as Humbert Humbert -
oortuig meer as die weergawe in 1997 van Adrian Lyne met Jeremy Irons in die
hoofrol. Mason gee verskillende fasette aan die hoofkarakter; Irons is te veel
van 'n houtpop.
Mieke Ball se Mensen van
papier (1988) oor personasies in die literatuur, maak belangrike stellings
oor die funksie van die romankarakter. Greimas, die bekende semioloog en
narratoloog, verwys na die aktant en die rolle wat hy of sy vertolk
binne 'n roman. Hy onderskei twintig funksies wat te make het met 'n quest. Die
hoofkarakter moet vanuit 'n buitestaanderposisie iets "oplos" of 'n
teenstand oorkom. Jonathan Culler skryf hieroor in Structuralist Poetics
(1975) en hoe Greimas se werk gebaseer is op Vladimir Propp se Morphology of
the Folktale.
In Strachan se roman is die
quest sowel die oorlog as die problematiese liefdeslewe. Die herintegrasie wat
gewoonlik teen die einde plaasvind, is by Strachan afwesig. En juis dit maak
die roman so sterk. Die leser "voltooi" alles in die gemoed en gaan
lees verder op oor hierdie komplekse figuur.
En wie, wonder 'n mens, sou
Vilonel in 'n film kon vertolk en reg kon laat geskied aan hierdie figuur?
© Joan Hambidge