Friday, July 3, 2015

Tinus Horn - Boas Mei is verward (2015)




Boas Mei is verward deur Tinus Horn. Uitgewer: Penguin, 2015. ISBN 9781415206621

Resensent: Joan Hambidge

Baie duidelik op die skaterblad van Tinus Horn se roman Boas Mei is verward staan daar: Fiksie.

In die vrywaringsklousule verneem ons: “Hierdie boek is fiksie. Enige ooreenkoms tussen die karakters en denkbeeldige mense is doelbewus.”

Nou weet jy ook wat Etienne Leroux in gedagte gehad het met sy spel in hierdie soort kontrak tussen teks en leser.

Horn se ander romans heet Droster (1995), Hemel op aarde (’n grafiese roman saam met Alastair Findlay, 1996) en Bomskok (2014). Verder is hy bekend om sy skitterende portrette van Afrikaanse skrywers waarin ’n satiriese blik sy handtekening is.

Dit is amptelik: Ons hoofkarakter is verward.

In hierdie opsig herinner die roman aan Mark Winkler se nou onlangse Wasted (Kwela), waarin die leser bekend gestel word aan ’n outsider-figuur met sy besete, eiesoortige blik op ’n vervreemdende wêreld wat Colin Wilson in The Outsider (1956) so pakkend beskryf het.

Boas is ’n treurige figuur en sy laerskooljare en liefde vir syfers word veral aangrypend vertel. Die verteller lewer implisiete kommentaar op die eise wat die gemeenskap stel. Terwyl Boas “gekamerverlaat het in sy broek”, word die ander kinders beskryf soos Gawie Enslin, wat vas aan die slaap is omdat daar weer nie die oggend brood by die huis was nie.

Boas se liefde vir syfers as kind dui alreeds op sy obsessionele en afwykende gedrag. (Hierdie leser wil egter nie in die strik trap om ’n sielkundige etiket om sy nek te hang nie omdat dit sy funksie as romankarakter sal verskraal. Hierdie roman is eweneens antipsigiatries.)

’n Uiters onthoubare karakter is Dokter Kranko, wat elke oggend met ’n skalpel skeer (bl. 30) en die roman beweeg voortdurend tussen die verskillende aannames oor presies wát normaal is – en wat “abnormaal” behels. Ook die naamgewing vra vir ’n aweregse lees van hierdie roman: Dokter Kranko, Lente Kolyn, dokter Appelman, verpleegster Peony Fisant, ensomeer.

Daar word ’n duidelike spel met die leser gespeel in hierdie roman. Ons sien ’n soort roman-binne-in-die-roman (onder meer op bladsye 59 en 60) en Boas konstateer ook dat die skrywer kan besluit oor leestekens – en te hel met die leser! En dit is ’n belangrike uitspraak vir die begryp van hierdie roman: Jy moet die voorwaardes van Boas se volgehoue ontwrigting aanvaar om die boek te lees (en te geniet).

Boas het ’n obsessie met skoene en skryf – teen mure en selfs op ’n toiletdeksel. En ook onderbroeke is vir hom belangrik.

En sy verlede word oopgeskroef. Talia se gunstelingwoord is “skrootwerf”. En Boas s’n is “banneling”, “bakatel” en “Bartholomeus Diaz”.

Die roman stel die oeroue vraag oor waansin: Wie is die malste? Die pasiënt of die psigiaters en dokters wat simptome identifiseer en die kompleksiteit van elke menslike ellende miskyk?

Dit is die soort boek wat jou noop om weer na R.D. Laing se alternatiewe sieninge oor waansin te kyk. Dit word antipsigiatrie genoem en in hierdie roman is die uitbeelding van psigiaters dalk ’n bedoelde truuk om hierdie debat weer aan te spoor?

In The Politics of Experience and The Bird of Paradise (1967) het Laing onder meer beweer dat skisofrenie ’n manier is om deur die krake van ons toegekorste bewussyn te breek. En dat waansin ná ’n skisofreniese episode jou op ’n nuwe manier na die werklikheid laat kyk.

Wat is normaal? Tinus Horn se roman kan ook gelees word as ’n antwoord op die sogenaamde “double bind” tussen die gemeenskap se verwagtinge (hier dan ook die psigiaters s’n) en wat die individu, Boas, wil doen en begeer. The Divided Self (1960) is hier van toepassing. Vir skeptiese lesers: Al het Horn nie hierdie boeke gelees nie, kan ’n mens hierdie kompakte teks só benader.

Daar is baie humor hier te vinde (soos bl. 138 se gedig). Kinderperspektief en die ervaring van liggaamlike veranderinge en menstruasie word eerlik beskryf.


Dit is ’n teks wat ’n mens inkatrol. Dit is vaartbelyn geskryf met duiwels wat ondergronds dans.