Carl Jung en Sigmund Freud in A Dangerous Method (2011)
Is psigoanalitiese kritiek (Jung en Freud) nog
relevant? Nou onlangs was daar 'n polemiek op die Versindaba oor Jung.
Miskien kan ons dit illustreer aan die hand van
drie uiteenlopende, dog boeiende, en op ’n manier ooreenstemmende, tekste wat
sig besighou met die ondergrond van die bestaan:
Tirza
Arnon Grunberg
Vertaal deur Lina Spies
Protea
ISBN 978 1 86919 824 4
Sagteband
507 bladsye
The
white hotel D.M. Thomas
Penguin
ISBN 0 14 00 6088X
Sagteband
240 bladsye
Die aanspraak van lewende
wesens Ingrid
Winterbach
Human en Rousseau, 2012.
ISBN 978 0 7981 5706 3
Sagteband
355 bladsye
I
Arnon Grunberg se roman Tirza en D.M. Thomas se The white hotel is twee tekste wat op
verskillende wyses die psige van die versteurde person aanspreek. Tirza, ‘n besonder lywige roman, moes ek
resenseer en The white hotel het weer
toevallig by my begin spook toe ek moes nadink oor die verhouding tussen Freud
en Jung, wat in hierdie roman ter sprake kom. Hoe benader ‘n mens Freud en Jung
vandag? En pas jy hul teorieë
toe op letterkundige tekste? En hoe reageer ‘n mens op die voortslepende
misverstande róndom
hierdie belangrike figure wat deur sielkundiges as passé afgemaak word en deur
wetenskaplikes as onbetroubaar en wetenskaplik verdag verdoem word? Sowel Freud
as Jung lewer belangrike bydraes tot die literatuurteorie en tot die begrip van
transgressiewe of normdeurbrekende tekste.
II
Arnon Grunberg se roman Tirza (2006/2014), sy agtste roman, is in
Afrikaans deur Lina Spies vertaal. En die toets van ‘n goeie vertaling – veral
as dit kom by ‘n lang roman – is dat die teks vlot moet lees. Hierin slaag
Spies bepaald. ‘n Mens voel deurgaans dat die storie in vlot Afrikaans vertel
word en nêrens
is daar die haakplekke so bekend aan vele vertalings nie. Geen moeilike woorde
of verkeerde vertalings nie. Miskien behalwe nou vir rondjie (339) wat ek
eerder as rondetjie sou vertaal? En op bladsy 267 moet ky kyk wees.
Dit is my eerste kennismaking met die werk van
hierdie romanskrywer wat skynbaar in Nederlands ‘n bekende en omstrede figuur
is. Op die buiteflap word die boek
aangeprys deur J.M. Coetzee. Hy prys die skrywer vir sy “wit and sardonic
intelligence”. Ek het hierdie roman begin lees en onmiddellik roep die
obsessionele Jörgen
‘n vergelyking op met Vladimir Nabokof se Lolita,
daardie briljante roman van 1955 wat tereg al uitgesonder is as een van die
grootste romans van die twintigste-eeu. Waar Nabokof se roman met verskeie
verwysings en rame werk (ook die voortreflike film van Stanley Kubrick uit 1962 presteer dit) is Grunberg se roman “oper”. Hiermee is uiteraard niks
verkeerd nie. Miskien verraai dit eerder hoe moderne lesers na romans kyk en
dat die oper, vlotter struktuur verkieslik is bó die ingewikkelde verwysings van
‘n Nabokof-roman.
Jörgen
Hofmeester is inderdaad ‘n boeiende figuur. Die begin van die roman beloof
reeds iets: die oopsny van die tunavis wat die latere tragedie eggo.
Obsessioneel is hy inderdaad in sy waarneming. Die verhouding met Ibi - wat
elke maand die huurgeld by die huurders op die boonste verdieping gaan afhaal -
is 'n belangrike vinjet vir die begryp van hierdie streng en krenterige
karakter. Die geld word belê in 'n verskansingsskema en uiteraard verloor hy
dit. Die teks is kennelik satiries in aanbod. Ons beleef alles vanuit
Hofmeester se perspektief en sy verhouding met sy twee eiesinnige kinders, en sy
vrou wat hom verlaat het en onverwags opdaag by die party wat hy vir Tirza gee.
Tirza gaan hierna op reis na Afrika met haar vriend. Ibi bedryf 'n gastehuis in
Frankryk en leef met 'n blas man. Hy sien Tirza se vriend aan vir die
9/11-terroris, waarmee die implisiete outeur die paranoïa en
kleinburgerlike bestaan van die hoofkarakter verder wil beklemtoon. Hy is ontslaan as
fiksieredakteur van buitelandse tekste en sy gevoel van nutteloosheid maak hom
waarskynlik ontoerekeningsvatbaar. Maar sy obsessionele gedrag word goed
voorberei in sy verhoudings met sy kinders, wat in die intieme gesprekke oor
hul seksualiteit en 'n eetversteuring, grensoorskrydend is. Daar is oorgenoeg
beskrywings van aanraking en gesprekke
wat beslis transgressief is. Sy reaksie op Ibi se seksuele avontuur dui dit
aan; nes die seksuele aanraking by die party met 'n klasmaat van Tirza. Die
metafoor van eet/kook is besonder behendig ingebed met binnegedagtes dat hy nie
weet hoe 'n mens se vel lyk wanneer jy dit braai nie (242) wat onheil voorspel.
Sy beheer in die kosmaakproses dui ook daarop: die leser word uitgebreid
voorgestel aan hoé hy kosmaak en wat hy dink van die politiek en die lewe in
die algemeen.
Die roman val in drie dele uit: Die huur, die
offer, die woestyn. Die laaste gedeelte
beskryf ‘n Nederlandse landskap en ‘n besoek aan Namibië in sy soektog na Tirza en haar vriend.
Hierdie laaste gedeelte het eggo’s uit die filmmaker Antonioni se The passenger (1975) met die besoek aan
‘n warm landskap.
Tirza het ‘n Marokkaanse vriend, en Hofmeester se
reisgenoot is Kaisa, ‘n swart meisie. Dus word daar dus subtiele politieke
kommentaar gelewer. Hofmeester is ‘n afgedankte fiksie-redakteur -moet ons
die moorde as fantasie of werklikheid beleef?
Al sy beperkinge en teleurstellings (sy afdanking,
sy benarde finansiële
posisie, sy vrou wat hom verlaat het) word geprojekteer op Tirza se vriend, die
Ander. Hy heet Choukri, maar vir Hofmeester is hy Mohammed Atta …
Boonop is Tirza anoreksies en haar vader lees vir
haar voor uit Madame Bovary en Don Quichot. En Dostojefski se Notas uit die ondergrond. Die
insestueuse verhouding tussen vader en dogter word op verskillende vlakke
uitgewerk. Sy is sy sonkoningin …
Ook in hierdie naam draal daar al prospeksies van
wat die leser te wagte kan wees. Op uiters subtiele wyses plant die implisiete
outeur sleutels vir die leser: hoe 'n tunavis oopgesny word resoneer met die
uiteindelik skokkende onthulling, al mag dit 'n verwronge fantasie wees. Die
besoeke aan Schiphol-lughawe beklemtoon eweneens sy obsessionele aard.
III
Die drie afdelings (Die huur, die offer, die
woestyn) aktiveer alreeds 'n triadiese verbintenis so bekend aan die
psigoanalise. Freud se id, ego, superego en Lacan se verbeelde, simboliese,
Reële dimensies kan dus betrek word. Die triadiese verbintenisse skep immers
die persoonlikheid by Freud en by Lacan dui die drie dimensies op die
konstituering van taal. Die verbeelde is dit wat voor betekenis bestaan en die
simboliese orde dui op die tekensisteem met die Reële wat nooit bereik kan word
nie. Hoe ironies dan dat hy Tirza dus
nie in die woestyn kan vind nie.
In Freudiaanse terme dui die slottoneel op die
superego of die Orde: hy moet verantwoording doen vir sy dade. Die "bees
in hom" (die dier) is nou tot orde geroep. Hy bel egter Tirza se selfoon
om vir laas haar stem te hoor: 'n blote representasie van iemand wat egter nie
meer bestaan nie. Die roman lewer genoegsame bewyse dat so 'n psigoanalitiese
lesing gestaaf kan word. Dit bevat notas uit die "ondergrond" met
siniese kommentaar op die Freudiaanse familie-romanse. Die vaderfiguur oortree
grense van intimiteit (o.a. ook in sy seksuele optrede teenoor 'n jong skoolmaat)
en is by twee geleenthede aanskouer, dus voyeur, van sy dogters se seksuele
aktiwiteite. In beide gevalle tree hy gewelddadig op. Die eerste optrede met
Ibi se minnaar is dan 'n prospeksie vir die latere toneel waar hy Ibi en haar
vriend sien. In Jungiaanse terme projekteer hy sy skadu op ander (sy dogter en
haar Minnaar) en die jong, swart meisie is in wese sy alter ego wat hy
aanspreek om tot klaarte te kom.
IV
Op bladsy 376 word daar verwys na die oorlog in die
boekbedryf. Die stryd om die leser. Die boekeoorlog. En dit is dan ook waarop Tirza sydelings kommentaar lewer: die
behoefte van die leser. Hofmeester onthul sy dade aan die jong kind in Namibië.
Is dit waar of gewoon 'n verdere verbeeldingsvlug? Dit is eweneens ironies: sy
toehoorder is nege en nie in staat om die gevolge te interpreteer nie. Die
e-pos aan Tirza waar hy inbreek op haar stelsel, bewys egter die ergste vir die
speurende leser wat uitgelewer is aan 'n "spel met gevolge" (494).
Vir hierdie kind laat hy dan Tirza se iPod en die manuskrip van die outeur uit
Azerbeidjan, wat hy op sy desperate reis en soektog na Tirza met hom saamdra.
Die slot knoop alles vas en die fantasie waarvoor
'n mens sou hoop, dui op iets anders. Die dier is nie oorwin nie. En al het hy
die irrasionele verafsku (20), het dit hóm oorwin. Die roman lewer satiriese
kommentaar op die moderne Nederlandse samelewing nes die geslag na-oorlogse
literatuur dit gedoen het.
V
D.M. Thomas se The
white hotel het in 1981 verskyn, dus geruime tyd voor Grunberg se roman in
2006. Dit is die verhaal van Lisa
Erdman, 'n geskeide operasangeres wat erge psigosomatiese pyn en hallusinasies
ervaar. Sy vertel in 'n lang gedig en joernaal van 'n fantasie waarin sy met
Freud se seun seksueel verkeer. Alles vind plaas op 'n trein en in 'n wit hotel
wat deur erge rampe geteister word. Vir Freud word sy 'n geval, te wete Frau
Anna G. en in sy analise ontdek hy dat haar toestand verduidelik kan word deur
die verhouding wat haar moeder had met haar oom. Thomas gebruik dus die Dora-saak as 'n spieëlteks om hierdie
verhaal te vertel. Na terapie trou sy weer en sy skenk geboorte aan 'n Joodse
seun in Rusland na die Tweede Wêreldoorlog. [Foto: D.M. Thomas © Mac Dunlop]
Hierdie roman het sewe afdelings: Prologue, I Don
Giovanni, II The Gastein Journal, III Frau Anna G., IV The Health Resort, V The
Sleeping Carriage, VI The Camp.
Die proloog bevat gefiksionaliseerde briewe (o.a.
Sandor Ferenczi en Freud), 'n lang erotiese gedig van die Erdman en haar
joernaal (dit behels afdelings II en III) en in die derde afdeling kom Freud aan
die woord: "In the autumn of 1919 I was asked by a doctor ..." (83).
Epstein, 'n manlike resensent, konsentreer op die
volgende verhaalelemente: sy was eers 'n danseres, gebore in Odessa en word as
kind bewus van die buite-egtelike verhouding van haar moeder wat later saam met haar
minnaar verbrand. Haar vader verwerp haar (ook hier hoor ons die Dora-saak, j.h. ) en sy begin 'n
verhouding met 'n anargis in St Petersburg. Sy raak swanger en tydens 'n dans
verloor sy die kind. In Wenen begin sy 'n tweede lewe as operasangeres en sy
tree kortstondig in die huwelik met 'n anti-Semitiese Oostenryker. Lisa tree
uiteindelik op as operasangeres in Milaan wanneer 'n ander operasangeres - wat
ook 'n kind verloor het - en laat dus al
haar ellende agter haar. Maar dit is van korte duur, want in Kiev word al die
Jode van die tyd na Palestina verban ...
In die slotafdeling fantaseer Lisa dat sy Freud in
die strafkamp gewaar.
Ofskoon hierdie gedeelte gelees moet word as ‘n
uitgebreide fantasie – sy versoen immers met die dooies – lewer die roman dus
sodoende skerp kommentaar op die funksie van psigoanalise in ‘n wêreld geteister deur politieke
onreg. Volgens Leslie Epstein in die New York Times (A novel of neurosis and history. Besoek 2 Junie 2014) is dit die swakste gedeelte van die roman. Hy beweer:
“But Mr. Thomas runs into more serious problems
when he tries to duplicate an actual case history. What is so compelling about
the real Freud's cases, apart from his brilliance in interpreting them and his
great skills as a writer, is that we always know that the dream fragments and
the experiences are authentic.”
Hiermee moet ek verskil van hierdie deurwinterde
resensent, want juis as jy Freud se tekste weer lees, kan jy die uitsonderlike
prestasie van Thomas, ‘n uitstekende vertaler van Achmatova se digkuns,
bewonder. Hy “vertaal” en transporteer Freud dus van die wetenskap na die
ruimte van fiksie. Die afdeling “Frau Anna G.” word ook voorsien van voetnote
so bekend aan Freud se werkswyse. Daar word soms vreemde woorde vertaal (soos
“niederkommen”) wat hierdie gedeelte ook die allure van ‘n redigeerder of
redakteur gee. ‘n Duidelike mîse-en-abyme.
Dat Freud se mees seminale teks, Die
interpretasie van drome (1900)
hier ter sprake kom, is eweneens duidelik. Treinreise – so verduidelik die
karakter Freud op bladsy 95 – is dikwels aanduidings van ‘n naderende dood.
Bekend aan Freud se werkswyse, is die gebruik van metafore. Hy waarsku haar
teen die terugkeer van simptome, maar “that we are moving closer to the light
at the end of the tunnel” (109). Charcot
word ook betrek” “La théorie
c’est bon, mais ca n’empêche
pas d’exister” (111).
Dit is 'n komplekse roman wat my waarskynlik voorberei het op die volgende baken in die Afrikaanse letterkunde. Dit is 'n baken omdat dit op 'n gesofistikeerde
wyse, soos die twee voorafgaande tekste, in gesprek tree met komplekse psigoanalitiese
teorie.
Hierdie resensie staan opgeteken in my blog: Woorde wat weeg.
VI
Die aanspraak van lewende
wesens van Ingrid Winterbach is
bekroon met NB-uitgewers se eerste prys in Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd
in 2012. Die roman word tipeer as “komies, hartroerend, meditatief,
verruimend”. En ‘n mens sou kon byvoeg: melancholies. Die roman is aangrypend
geskryf en speel terug op ‘n vroeëre besinning, naamlik Klaaglied vir Koos.
Winterbach vertel twee stories, te wete die verhaal van Karl Hofmeyr, wat moet
raad vind vir sy broer Iggy se geestesongesteldheid. Hierteenoor het ons die
besinning van Maria Volschenk oor haar lewenslot en hantering van haar suster
se dood. Die karakters se paaie kruis op ‘n plaas, surrealisties beskryf, in
Kaapstad waarin die outeur dus sydelingse en ironiese kommentaar lewer op die
tradisie van die plaasroman in Afrikaans. Ene Josias Brandt, ‘n soort
katalisator in hierdie roman, is in ‘n stryd met Iggy (Ignatius) gewikkel.
Winterbach se romans
interesseer hierdie leser nie om die verhaallyne nie. Dit intrigeer eerder om
die digte verwysingsveld en die sterk metaforiek. Die jongste roman is ‘n
lament en die titel “die aanspraak van lewende wesens” aktiveer ook die ander
kant van die munt, te wete die aanspraak van gestorwenes. Soos in vele romans,
roep die teks ‘n sterk psigoanalitiese verwysingsisteem op. Hierdie teks vra
vir ‘n saamlees met Freud se “Rou en Melancholie” (1917).
Die “vroeë verwonding en
verdriet” (40) van Maria word ondersoek. Die verteller neem ons terug na die
skooljare as ‘n sleutel tot die intense ervaring van leegheid en die familie is
‘n ruimte van verwonding. Dit is ‘n verhaal wat psigiese kennis ondersoek en
die verwysing na die Id aktiveer die kelder van die onbewuste. Taboes (soos
kinders wat ‘n kaal lyk sien) en ‘n DVD (waarna Maria en Vera kyk) waarin
psigiaters meen skaamte en vrees lotsbepalend is, neem ons na verdere betekenislae. Soos
in vroeëre tekste is die “dierlike impulse” en die mens se lot verbind aan
groter patrone. Dit is ‘n roman vol selfverwysings: die “frostbite” aktiveer Die
benederyk en Klaaglied vir Koos se ondersoek na evolusie kom aan
bod. Dit wat buite die rasionele lê, word ‘n fokus. Die Sitra Achra, die
Sheddim, Stabat Mater, Heavy Metal, films (soos The Big Lebowski, o.a.), Wagner, eis ‘n Barthesiaanse benadering op soos beskryf in S/Z (1970)
van kulturele en persoonlike kodes. Met die leser as die waarsêer.
Die verwysings na skaak
neem ons terug na Nabokof.
Die suster, Sofie, se
ongewone blik word ‘n belangrike sleutel vir die emosionele ruimte waarin Maria
haar begeef. Deur haar nalatenskap word Maria bewus gemaak van die spirituele
domein. Die suster, ‘n digter, wil haar hande nalaat aan haar suster; ‘n slim
troop vir hoe die suster se lewe uiteindelik Maria se lot bepaal. Karl se
pakkie bevat eweneens inligting oor sy broer wat ‘n deur ‘n spirituele hel
gefolter word en glo dat hy ook fisies transformeer. Twee parallelle verhale
dus; ‘n parallaks, in Žižek se terme. Die roman aktiveer ook die Gnostiek:
Maria word deur haar suster bewus gemaak van die tien hekke van spirituele
wysheid (125). Iggy se brief aan sy broer aktiveer eweneens hierdie gegewe en
dit sal die leser loon om die Ofiet-diagramme en die Boek Esegiël saam te lees.
Die voorblad aktiveer immers sowel die Bybel as die wetenskap. Syfers speel ‘n
belangrike rol in die roman: Maria is ‘n syfermens en Karl is obsessioneel oor
getalle. ‘n Sielkundige torring aan Maria: watter geheim het die moeder van
haar weerhou? Hierdie aspek neem ons weer terug na die moeder in Die
benederyk.
(Nes die verwysing na
Louise Bourgeois). ‘n Terugkeer na Stellenbosch word bykans intratekstuele
kommentaar op die skrywer se eerste werke. Daar is min passasies wat so
vindingryk geskryf is in enige letterkunde as die ontmoeting met twee bergies
(die vrou ‘n palmleser) in ‘n begraafplaas. Daar is die optekening van die
natuur: sprinkane, spinnekoppe, ensomeer, as ‘n beswering van depressie.
Daar is vele verwysings
na beeldende kunstenaars wat eweneens die teks (onbewustelik) laat voortstu.
Die natuurbeskrywings is digterlik en ‘n mens kan hier die hand van die
beeldende kunstenaar sien in haar konkrete beskrywings van die ruimte. Psigiese
inhoude word nie blote abstraksies of ‘n intellektuele getjommel nie; die leser
beleef dit in die krisisoomblikke van ‘n karakter wat onverwags geskiet word of
‘n kind wat meen sy lewe is in gevaar. Die dialoog is vindingryk en snaaks. Die
verskillende hoofstukke impliseer ‘n ouktoriale vertellershand wat te midde van
chaos tog orden. Die oog vir détail imponeer: van ‘n karakter se bo-lip tot ‘n
vrou se oog kan jy sién.
Die roman het ‘n sterk
verhaallyn met ingewikkelde kodes en toespelings: wetenskap teenoor
spiritualiteit; vooruitgang teenoor kataklisme. Weemoed wissel humor en aksie
af. Klein tersydes word ‘n kulturele kode.
Binne ‘n bestek van
bykans drie dekades het Winterbach haar gevestig as een van die belangrikste
romanskrywers van ons tyd. Dit is loflik dat sy telkens binne ‘n kort bestek ‘n
nuwe roman skryf sonder om gehalte in te boet.
Dit is is ‘n briljante
roman. Sedert publikasie het ek dit driemaal gelees. En elke keer iets
nuuts raak gelees. Daar is min slotte in enige roman wat ek ken wat my tot
sulke weemoed gedryf het as die einde van hierdie boek.
Met stilte as die
grootste ellende wat ‘n mens kan tref; nie skaamte en vrees soos die
Nederlandse psigiaters in die roman meen nie. Dit is opgedra aan wyle Paul
Cilliers, die filosoof.
En in navolging van Charcot: teorie is goed, maar
dit verhoed nie dinge/sake om te bestaan nie. En hierom (waarskynlik) is Jung
die afgelope paar dekades uit literatuurkompendiums geweer, omdat die Franse
Strukturaliste en post-strukturaliste met die groter aanspraak op
“wetenskaplikheid” die literatuurbedryf binnegedring het. Maar dit is jin en
jang. Die verskillende benaderings hoef mekaar nie uit te sluit nie.
Bibliografie:
Cain, William, E. 1964. The crisis in criticism - Theory, literature, and reform in English
Studies. Baltimore: The Johns
Hopkins University.
Die volledige Freud is uitgegee deur die Pelican
library.
Jung, C.G. 1962. Memories, dreams, reflections. Londen, Collins.
Endnoot:
Die volgende is 'n reaksie op 'n polemiek op
Versindaba:
Freud en Jung is relevant vir die literatuurteorie
en lankal nie meer vir die empiriese wetenskappe nie waar albei aanvanklik
aspirasies gehad het. Om ‘n denker of skrywer nadoods uit te vang as
anti-Semities gebeur al om die hawerklap. Die geval Paul de Man is bekend. En
Derrida se verdediging van hom. ‘n Mens kan egter nooit die belangrikheid van Blindness and insight of Allegories of reading ignoreer nie.
Trouens, ek is die mening toegedaan dat De Man juis vanweë sy ingewikkelde
persoonlikheid in staat was om Rilke se ellendes te begryp. Terloops, ‘n digter
wat geweier het om psigoanalise te ondergaan en die digkuns as self-terapie
gesien het.
Jung is ‘n komplekse intellektueel en ek het die
afgelope semester indringend oor hom klasgegee. Waarom is hy onder meer die
afgelope paar dekades uit literatuurteoretiese kompendiums gehaal? Ten spyte
van navolgers soos Maud Bodkin en Northrop Frye.
Sy siening van argetipes – wat dui op
primordialiteit – kan wel van toepassing gemaak word op ‘n skrywer soos Etienne
Leroux. Wanneer jy ‘n teks analiseer met begrippe soos argetipe, skadukant,
projeksie, mandala (ons onthou immers Patrick White se The solid mandala) aanvaar jy sy teoretiese raamwerk vir die eise
wat ‘n bepaalde teks stel. Net soos Jungiane – en ek het al van die lesings van
besoekende geleerdes bygewoon in Kaapstad – kwessies mag ontsluit. Dieselfde
geld D.M. Thomas se The white hotel,
‘n puik roman, wat ‘n fantasie róndom psigoanalise uitwerk. Ons vind hier ‘n
gefiksionaliseerde Sigmund Freud en indien ‘n mens die geskiedenis van Freud se
lewe teenoor die roman plaas, word dit ‘n fassinerende kommentaar op Freud se
denke, erotiek en tekste soos Die wolfman
en die Dora-saak.
Waar Dominique Botha se roman Valsrivier eindig met ‘n gedig, begin hierdie roman met ‘n gedig na ‘n briefwisseling. Botha se roman is ‘n Bildungsroman en ek dink The white hotel (my kopie val al uitmekaar) sou ‘n mens as ‘n briefroman kon beskryf met ‘n dosis historisisme. Botha se teks fiksionaliseer eweneens haar lewe; trouens, dit is meer as haar lewe en die “valsrivier” is die onbewuste …
In sy
voorwoord tot sy roman skryf Thomas dat ‘n mens nie die terrein van histerie
kan besoek sonder om van Freud kennis te neem nie. Hy skryf: “Freud becomes one of
the dramatis personae, in fact, as discoverer of the great and beautiful myth
of psychoanalysis. By myth, I mean a poetic, dramatic expression of a hidden
truth …” Hy verwys ons verder na volumes 3, 8 & 9 van die Pelican Freud
library. Oor die “scietific validity” verskil ek van hom. Die roman handel ook
oor die holocaust en die vraag is: waarom die soektog na die “hidden”, dit wat
weggesteek is. Die film Caché (Hidden)
van Michael Haneke gee waarskynlik weer ander sleutels oor dit wat ons
represseer of berg, net om iewers uit te spring … (Hieroor gesels Haneke uiters
insiggewend in ‘n onderhoud.)
Kommentators binne die moderne sielkunde is
geregtig op hul afwysing van Freud en Jung. Sy relevansie lê in die
transportasie van en na die letterkunde en filmkuns.
© Joan Hambidge