Charl J.F. Cilliers, Behind
the view. Malgas Publishers, 2014. ISBN 978 0 620 60894 7
Resensent: Joan
Hambidge
I
Kort op die hakke van Johann de Lange se Weerlig van die ongeloof en Hennie
Aucamp se Skulp verskyn Charl J.F.
Cilliers se bundel Behind the view,
'n selfpublikasie. Ondertussen is daar ook die vertalings en herdigtings van
Daniel Hugo van Omar Khayyam se Rubaiyat.
Aldrie Afrikaanse bundels het by Protea verskyn.
A.P. Grové se Woord en
wonder (Nasou, 1984, 128) betrek Opperman se siening oor hierdie digvorm.
Opperman noem dit klein stukkies dinamiek van die gees. As kort gedig, voer hy
verder aan, staan dit onder beheer van kritiese werksaamheid en as gevolg
hiervan kry ons 'n sentensieuse en epigrammatiese trekkie met 'n spaarse
gebruik van die woord. In wese, besluit hy, is die kwatryn eintlik waarneming
en kommentaar.
Vir my is daar 'n handvol – sowat 28 kwatryne – wat werklik
uitstekend is. Die wat my persoonlik geval het, is veral gedigte wat handel oor
die skryfproses.
Die vraag is – en ek het dit al vantevore gevra – waarom
moet so 'n uitstekende digter sy eie gedigte publiseer?
Dis 'n pragtige bundel en dit is 'n skande dat die
Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde hom nie na waarde skat nie.
II
Daar bestaan vele handleidings oor die kwatryn se spesifieke
aard. In The anatomy of poetry wat in
1953 by Routledge & Kegan Paul verskyn het, verwys Marjorie Boulton soos
volg na hierdie digvorm:
"any metre with lines rhyming in sets of four. The
possible rhyme schemes are obviously: abab, abcb, aaaa, abba, aaab, aaba."
(144)
Sy onderskei ook verder tussen die volgende soorte:
(a) common
measure": hier het elke reël agt en ses sillabes met die rymskema abab of
abcb. Coleridge se "The Ancient Mariner" is hiervan 'n voorbeeld;
(b) long
measure": hier vind ons agt sillabes in elke reël met die rymskema ababa
of abcb. Verskeie ballades en Tennyson se "In Memoriam" is bekende
voorbeelde;
(c)
short measure": kwatryne met 6.6.8 en ses
sillabes met die rymskema abab of abcb;
(d) the
'Omar Khayyam'-quatrain": hier vind ons die jambiese pentameter met die
rymskema aaba;
(e)
the 'Gondibert'" oftewel 'Elegiese' stansa
waarvan Gray se "Elegy" 'n voorbeeld is.
Ottone M. Riccio in The
Intimate Art of Writing Poetry, wat in 1980 by Prentice-Hall verskyn het,
sien dit so: die verskil tussen die "hymnal stanza" en "envelope
stanza" (66, 67). Hy wys ook op die gewildheid van die jambiese pentameter.
So het ek indertyd geskryf oor De Lange se kwatrynbundel:
Weerlig van die
ongeloof word tereg opgedra aan die semantikus Henning Snyman wat met sy
essays oor die digkuns (soos Teodoliet,
Mirakel en muse) verhelderende
bydraes gelewer het. Die eiesoortige werking van die digterlike beeld en die
fyn balans tussen abstraksie en konkrete vergestalting met die uitwys van hoe
litotes, satire en die metafoor o.a. funksioneer, bly standaardwerke in die
letterkunde. Die bundel bevat ‘n kunswerk van Judith Mason: Die oog van die storm wat die titel goed
verduidelik. (Op Litnet se nuusbrief
destyds is die digterlike oog saam met die kunswerk geplaas.) Die digterlike
beeld moet immers gesien kan word.
III
Dikwels lewer die gedigte in Behind the view kommentaar op die skryfproses en is dit meditatief
in aanbod. Dit is 'n moeilike vorm om te beheer, omdat elke woord op sy plek
moet wees.
Die digter werk met ryme en halfryme. Hy gee ook aandag aan
metrum en ritme. Die gedigte is selfrefleksief, selfs meditatief, oor die aard
van die kwatryn.
Poetry
Poetry, as we all know,
can only change the status quo
inasmuch as words can hope to show
more deeply what our hearts already know. (79)
Where do
longings go?
Where do longings go
when what was longed for grows
too faint: image without sound,
ache without a wound? (81)
Quatrain
I started writing this quatrain
and now only three lines remain -
the damn thing's going down the drain
because I know the last rhyme is inane. (80)
Dit is net 'n behendige digter wat so selfrefleksief kan
speel met die vorm van die kwatryn. Opperman het eweneens in sy gedigte gespeel
met die konvensies van vorm. Hoe dit jou inperk, maar terselfdertyd nuwe
moontlikhede laat ontdek.
Wild fig
Is the quatrian too small
for the wild fig tree?
Will it grow so broad and tall
more words would be necessary? (45)
Uiteraard is dit dan wat dikwels in die gemoed van die leser
gebeur. Die gedig mag klein in omvang wees, maar die interpretasie-moontlikhede
is oneindig. Is hier ook 'n toespeling op die wilde vy van die Bybel? Is daar
'n verwysing na die onmoontlikheid om iets groots in 'n klein gedig te verpak?
Sou 'n mens al die interpretasies wou aktiveer, sou die gedig nie meer 'n
kwatryn wil wees nie!
Die digter het kennis geneem van die moderne wêreld en sy
bedreigings soos in hierdie gedig:
Modern sounds
Everything now is a sound-bite.
Rhythms have disappeared.
There's little sense in a flash of light,
no symphony in a single chord. (23)
Die digter is telkemale bewus van die ónmoontlikheid van
besegging en dat woorde die digter in die steek mag laat:
Words
Words in which we live
in so many guises
trying so often unsuccessfully to give
tongue to something that surprises. (22)
Behind the view is pragtig uitgegee - met 'n blom op die
voorblad. Charl J.F. Cilliers is nie
alleen 'n uitstekende vertaler nie, maar ook 'n digter om van kennis te neem.
Oor die digter se Collected poems het
Henning Snyman indertyd geskryf. Dit staan opgeteken op die agterblad: “Die eenvoud
van die bundel kan misleidend wees, want hierdie eenvoud van woord en struktuur
word gelaai met van die allermooiste metafisiese verse in die Suid-Afrikaanse
letterkunde”. Hierdie wyse woorde is ook op die jongste bundel van toepassing.
Bestel van die digter: franban@mweb.co.za
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van
Fine Music Radio.)