Monday, July 1, 2013

Nathan Trantraal - Chokers en Survivors (2013)



Nathan Trantraal. Chokers en Survivors. Kwela, 2013. ISBN 978-0-7957-0488-8

Resensent: Joan Hambidge

I

Hierdie bundel werk met spesifieke leeskodes. Eerstens word dit bemark op die voorblad deur Antjie Krog en Alfred Schaffer, twee gesiene digters in eie reg. Vir Krog is dit ‘n bundel “om sidderend van regop te sit!” en Schaffer vind dit skokkend, skreeusnaaks en ontroerend. Krog beklemtoon dat ons nog nooit soiets in Afrikaans gelees het nie.  

Tweedens is die voorblad ‘n wasgoeddraad met pennetjies wat die titel vashou – ‘n baie knap voorblad wat die impak het van iets efemeers, iets wat weerloos is, iets wat kan wegwaai. (Die voorblad resoneer met die gedig waarin die troostelose bestaan erken word: Woensdag 16 Februarie 1988”). 

Derdens verneem ons dat die digter ‘n stripartist saam met sy broer André en stripkuns is subversief, ondermynend en krities. Vierdens word die boek opgedra aan die broer wat hy beskou as “Il miglior fabbro” – wat dus ‘n digterlike vriendskap tussen T.S. Eliot en Ezra Pound aktiveer. Oor hierdie kreatiewe verbintenis is daar al baie geskryf en geteoretiseer – en ‘n mens kan dus ook The wasteland lees as ‘n teks waarin Pound aangespreek word en dat die voetnote eintlik ‘n soort “geheimskrif” was tussen hulle. Vyfdens word die teks begelei met klassieke en bekende motto’s, onder andere Blake se “London” gooi hier ‘n draai.

Hierdie bundel is geskryf in Kaaps en dit is in your face. Dit is die beste woorde wat ek kan vind om hierdie bundel op te som. Op ‘n vreeslose wyse word die ellendes van die Kaapse vlakte vir die leser oopgemaak. Indien jy die bundel lees as ‘n gesprek met die broer kry dit ‘n ander dimensie by, naamlik om ‘n pynlike jeug te verwerk. Om namens ‘n broer ‘n stuk geskiedenis op te skryf – dalk onbewustelik met die broer as kontrole, as mede-belewer van ja-dit-was-so…

Die bundel gee ‘n blik op die wêreld van geweld; dis geskryf in gangsta-taal en tref jou tussen die oë.

Schaffer het gelyk. Dis sowel snaaks as ontroerend. Die verse speel die spel van die inconnu, van afwysend staan teenoor die kanon, maar terselfdertyd is daar meer as genoeg blyke dat die digter presies wat wat hier aangaan. Ons sien dit byvoorbeeld uit die reeds genoemde motto’s, maar ook in die gedig “Groot verseboek” (38):

Ek ken allie shit al by heart,

Sheila Cussons, NP van Wyk Louw, Ingrid Jonker.

Die digter sien homself as die “foremost authority op useless poetry”, want in die wêreld waarin hy hom bevind is die digkuns bepaald ‘n luukse. Het Breytenbach nie ook al verwys na Groot verseboek as ‘n grap nie? En kyk hoe dig Clinton V. du Plessis teen die eise in van die kanon in Rangeer.

Die opdrag tot The wasteland kom natuurlik uit Dante se Heilige Komedie: dit beslaan drie gedeeltes – Inferno, Purgatorio, Paradiso en wanneer ons kyk na hierdie bundel is daar ook (toevallig?) drie afdelings.

II

 - Die belangrikste aspek van hierdie bundel is die praattaal en in fonetiese Kaaps.

 - Daar is humor.

- Daar is ‘n besliste afwysing van enige nostalgie of sentimentaliteit. Die inhoudsopgawe met tydsaanduidings lees soos grafskrifte. Hier is dus ‘n duidelike afskeid van ‘n pynlike, verwonde jeug.

- Die gebruik van plat woorde is opvallend. Cunt, poes, kak, befok, fokkol, piel, nai, fokof.

- Engelse woorde word ook aangetref. Die digter gee ‘n weergawe van sy mense se spreektaal.

- Daar is ‘n ontmaskering van die familie, en meer spesifiek die gesinsopset. Hy het immers by die moeder, tradisioneel die versorger, om onsentimenteel te wees.

“Hammie” (31)
My ma het my gelee
ommie sentimental te wiesie.
Die eeste ding wat sy gepawn et
was haa trouringe.

- Hier is simboliese vadermoord. Die vader word letterlik aangeval soos in ”Fifa 06” (52).

- Dit is gedigte wat ‘n storie vertel.

- Dit wl duidelik on-poëties wees. Teenoor al die veld is vrolik, vind ons ‘n “dywel het alwee al sy pielhare afgeskeer” op die maat van “Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei” (69).

- Daar is ‘n verwysing na drugs (soos buttons byvoorbeeld), casette, porn, DVD’s, CD’s en karaoke. Dus ondigterlike of tegniese woorde wat die gedig binnedring.

- Die private word ontmasker en betree (masturbasie): die Here wiet allien 1” (67).

- Die tronkbestaan / gangsters versus ‘n godsdiens (geloof) word ontgin.

- Terselfdertyd is daar genoegsame verwysings na ander digters wat ‘n bekendheid met die digkuns aandui. Hier vind ons ‘n duidelike ambivalensie by die spreker, wat enersyds ingelig is, maar andersyds soos gert vlok nel maak asof hy nie weet wat eintlik aangaan nie.

- Die gedigte wil soos strips toeganklik wees en soos in hierdie sub-genre die medium gebruik om sosiale kommentaar te lewer. ‘n Mens dink hier o.a. aan Bitterkomix en die digter se eie werk as kommentator in die Cape Times. Soos by Bitterkomix is die skokkende aspek die dinamo van die teks.

- Die spel met die outobiografie – o.a. deur verwysings na Ronelda, sy vrou en sy broer – neem ons terug na die Beats se hantering van vriende wat as werklike mense in die gedigte beland het.

- ‘n Sterk satiriese aanslag soos “Hard to kill trilogy (DVD Boxset)”, 23.

III

By ‘n deegliker lees word die leser egter gedwing om te kyk na die poëtiese tegnieke wat aangewend word. Die sterk narratiewe aanslag en slotreëls tref.

Die digterlike proses word so al spelende ontmasker soos in die reeds genoemde gedig oor Groot verseboek. In “South Korea” (36) bely die spreker:

“omdat ek wiet my poetry is kak / en dat ekkie kan skryfie,”.

Maar dis inderdaad net ‘n faux-tegniek, om al sy sieninge oor die digkuns uit te stal. Die digter is immers – en dit is vir ‘n ‘n belangrike kode – stripkunstenaar.

Miskien sal daar lesers wees wat voel die aanslag is te eenselwig en dat dit die reikwydte mis van sê byvoorbeeld, gert vlok nel se om te lewe is onnatuurlik.

Die bundel gee die manlike perspektief op die digter se vrou Ronelda S. Kamfer se Noudat slapende honde. Digters wat onder een dak saamwoon, tree dikwels in gesprek met mekaar.

Op bladsy 57 staan daar verkeerdelik Fuhrer.

Die bundel is ook beskikbaar as ‘n e-boek en Kwela het dit uitgegee.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]