Liesl Jobson. Ride the tortoise. Jacana, 2013. ISBN 978 1 4314 0566 4.
Resensent: Joan Hambidge
Ride the tortoise is ‘n bundel kortverhale van Liesl Jobson. Liesl Jobson het al aandag getrek as ‘n besondere beoefenaar van “flash fiction”. Sy is ook ‘n bekende fotograaf en digter. Sy behartig die Mad Hatter’s Review, ‘n aanlyn-tydskrif.
Dit is ‘n bundel met verhale wat jy eenvoudig nie kan neersit nie. Vanaf die openingsverhaal “The Edge of the Pot” waarin korrupsie aangespreek word, lees ‘n mens met verwondering aan hierdie bundel. Kortverhale waarin die onthulling jou dikwels tussen die oë tref. “You Pay for the View: Twenty Tips for Super Pics” gebruik die kamera en hoe foto’s dikwels iets registreer wat búite woorde lê. Van die eerste kamera wat die kind as geskenk ontvang van die vader tot die priemende foto’s van ‘n premature baba in ‘n broeikas (wat die moeder as indringend en pornografies ervaar), word weergegee. Dit word gekonstrueer rondom die stappe, wat die jong fotograaf in handleidings aantref soos “hold it steady”, “mix up your perspective”, “watch the light”, ensomeer. Die leser word ingetrek by verskillende vinjette in die verteller, nee eerder fokalisator, se gemoed. “I am a camera” van Christopher Isherwood kom hier ter sprake.
Wat tussen die afdelings gebeur, is in wese tersaaklik. Foto’s is ‘n betreding van privaatheid, maar vertel terselfdertyd verhale waaroor ons agterna kan tob en nadink. Dit verfris die geheue en word ‘n stuk geskiedenis waarvan ‘n mens nie kan wegdraai nie. Foto’s is eweneens vervalsings, leer ons uit hierdie multivlakkige verhaal. Die kamera maak die fotograaf braaf en in haar werk verken sy gevaarlike ruimtes. Nie alleen verander die aard van die kamera nie (van ‘n ou Kodak Brownie tot ‘n digitale kamera), maar ook die mitologie rondom foto’s wat die siel steel van die objek wat gefotografeer word, blyk die subteks te wees van die verhaal. Die verhouding tussen die vrou en man het skielik tussen twee vinjette verander; net soos die fokalisator-kameravrou se sieninge van foto’s en hul impak getransformeer het. Dit word ‘n ondersoek van self teen die agtergrond van ‘n politieke “back drop” en ‘n aanwending van kamerategnieke wat ‘n meta-analise word van dít wat ons beleef.
As daar ooit ‘n klassieke verhaal in ‘n bundel gestaan het wat gebloemlees móét word, is dit hierdie storie. Met herlesings, word die leser bewus van méér, ánder fasette.
‘n Besondere wins van hierdie bundel is die skrywer se vermoë om ‘n waarheidsgetroue weergawe van ánder kulture te maak sonder dat dit bespotlik of stereotipies raak. In die openingsverhaal, onder andere, word die leefruimte van swart mense verken: in “On a Broomstick”word ‘n Afrikaanse familie se ervaring van ‘n vader se siekte en dood beskryf. Daar is geen vermindering of neerkykery nie. Die implisiete outeur (in Wayne Booth se terme) het te veel respek vir die menslike kondisie wat uitgebeeld word.
“Practice” vertel op ‘n hartgrypende wyse die verhaal van ‘n kind se breinsiekte. Inligting word via die internet verkry en die verskillende tegnieke wat Jobson gebruik om hierdie pynlike gegewe aan die leser oor te dra, sal vir altyd by hierdie leser spook. Musiek is eweneens ‘n deurlopende motief in hierdie bundel, besonder skerp verwoord in “Tease”.
‘n Punt van kritiek: miskien word die montage-tegniek te veel gebruik. In ‘n eerste weergawe oortuig en oorrompel dit. By “The Exact location of The Exit” weet die leser wat sy wil bereik: stiltes en ontwikkelinge tussen vinjette.
“Boston Brown Bread” wil satiries wees en die slot is onthutsend: om jou doof te maak vir ander se rusies.
Die verhale is dus ‘n kaleidoskoop van die komplekse Suid-Afrikaanse landskap: al die fasette van die nuwe (ruwe?) Suid-Afrika met ‘n besondere blik op grens-ervarings: ‘n besoek aan ‘n senukliniek, anoreksie, ‘n vroeggebore baba, self-laserasie, dwelmverslawing, afpersing, omkopery, ‘n selfoonoproep na ‘n geliefde in die ICU, egskeidings, haweloosheid, ensomeer.
Daar is ‘n glossarium van eg Suid-Afrikaanse uitdrukkings soos bliksem en umlungu. “Night” op bladsy 94 moet lees “nicht” op syn Duits.
In Chinese simboliek is die tortoise / skilpad ‘n simbool van wysheid; in die Egiptiese mitologie staan dit vir ‘n magiese kwaliteit waarmee die boosheid afgeweer word. In Afrika-simboliek staan dit vir vroulike kreatiwiteit.
In “Still Life in the Art Room” word die verskillende betekenisse ontgin.
Lees hierdie bundel. Dit is werklik die moeite werd. Die prosa het dikwels ‘n sterk poëtiese kwaliteit.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]