Kerneels Breytenbach. Piekniek by Hangklip. Human & Rousseau, 2011. ISBN 9780798156035
Resensent: Joan Hambidge
‘n Literêr-teoretiese speurtog: ‘n analise van Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip
Opsomming
Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip tree in gesprek met
die tradisie van die speurverhaal wat sedert E.A. Poe se The purloined letter ‘n aktiewe speurder het. Hierdie roman is
egter ‘n speurverhaal sonder ‘n speurder sodat die leser in die posisie van die
speurder geplaas word. Daar is etlike tegnieke wat deur Breytenbach aangewend
word om hierdie effek te bewerkstellig, te wete die toespeling op Peter Weir se
bekende film, Picnic at Hanging Rock
en die gebruik van ‘n ouktoriële verteller wat veral in die romans van o.a.
Fielding na vore kom. Hierdie verteller is outoritêr en manipuleer die
vertelling met opsommings en binnetredes. Daar is ook aandagafleiers (red herrings) in die roman wat die
speurverhaal vérder parodieer, soos verwysings na bekende en minder bekende
Afrikaanse gedigte en werklike mense. Terselfdertyd betrek die outeur ook
strategieë van twee satirici, te wete Etienne Leroux en Thomas Pynchon. Beide
hierdie skrywers het in Een vir Azazel
(1964) en The crying of Lot 49 (1966)
die konvensionele speurverhaal se struktuur verander. Uiteindelik word Piekniek by Hangklip ook ‘n besinning
oor die funksie van fiksie binne ‘n geweldgeteisterde samelewing.
Abstract
Abstract
Kerneels Breytenbach’s Piekniek by Hangklip subverts the
tradition of the detective novel since E. A. Poe’s The Purloined letter where there is a visible detective. Piekniek by Hangklip is a novel without
a detective thereby positioning the reader as detective. Breytenbach imposes
certain techniques to achieve this, namely a reference to Peter Weir’s
well-known film Picnic at Hanging Rock
and the use of the authorial narrator as demonstrated in the novels of
Fielding. The authorial narrator is authoritarian and manipulates the story
through summaries and intrusions. The detective story is parodied further by
means of red herrings, for instance references to well-known and obscure
Afrikaans poetry and real persons. Simultaneously strategies of well-known
satirists, namely Etienne Leroux and Thomas Pynchon are also employed. Both
authors undermine the structure of the conventional detective story in Een vir Azazel (1964) and The crying of Lot 49 (1966). Piekniek by Hangklip could be read as a
meditation on the the role of fiction in a society marred by violence.
1 Die speurverhaal
Die speurverhaal, sedert Edgar
Allen Poe se The purloined letter,
het altyd ‘n speurder wat die leser se interpretasies bepaal. C. Auguste Dupin tree
in Poe se klassieke verhaal, wat oorspronklik in 1844 in ‘n literêre tydskrif
verskyn het, op. Die ander twee verhale waarin hierdie speurder ook ‘n rol
vertolk, is The Murders in the rue morgue
en The mystery of Marie Rogêt. Die
verhale het oorspronklik in ‘n letterkundige tydskrif verskyn soos dit
gebruiklik was in die laat negentiende eeu. Die naamlose verteller openbaar aan
Dupin van die belangrikste sake en die hoof van die polisie wat by hulle
aansluit, vertel dan vir Dupin van ‘n saak wat handel oor afpersing. ‘n Brief
word omgeruil met ‘n ander een (die duplikaatbrief) en dit gee dan aanleiding
tot die storie. Die soektog na die gesteelde brief word nie opgelos nie en
hierom word Dupin gevra om hulp. Dupin vind die brief, ontvang die beloning van
die polisiehoof (“Prefect”) en bely dan dat die dief besef het dat die
speurders sou soek in verborge plekke en hierom is dit nie versteek nie, maar
oop en bloot geplaas sodat niemand dit sou raaksien nie. Dupin besoek die
minister in sy hotel. Dupin ontdek ook dat D- ‘n nuwe adres op die gesteelde
brief geskryf en sy eie stempel daarop afgedruk het. Die brief is ook teruggevou.
Dupin laat sy snuifdosie agter as alibi om die volgende dag te kan terugkeer na
die hotel. ‘n Geweerskoot in die straat laat D- buitentoe gaan en Dupin ruil
die brief om met ‘n duplikaat. Dupin herhaal dus die optrede van D-. Die speurder
in hierdie verhaal is net so slu soos die dief en dupliseer sy optrede. In
Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip
daarenteen, weet die leser vanaf
die openingstoneel wie die moordenaar is: Joshua Gumbo (van die Lucky
Thirteen-sindikaat) skiet Sonja Griessel se ouers per ongeluk dood tydens ‘n
mislukte kaping. 1. Sy soen haar kaper op die mond wanneer sy haar balans
verloor tydens die kaping. Dit ontstig hom so dat Josua haar dan agtervolg. Hy
het deur hierdie aksie sy mojo verloor. Sy vertrek Kaap toe om die traumatiese
gebeure te verwerk en vestig haar op Pringlebaai. Die soektog na Sonja word
deur psigologiese spanninge gekenmerk soos in Georges Simenon se Maigret-reeks waarin die speuraksie
ondergeskik is aan wat tussen mense gebeur. ‘n Nuwe huis word vir haar ontwerp
deur ‘n argitek en terwyl die moordenaar na haar soek, vermoor hy ook ander
mense. Verskeie karakters, dikwels onbetroubaar, word aan die leser voorgestel,
soos prokureurs, eiendomsagente, boukontrakteurs, swartbemagtigingsaktiviste,
‘n hermafroditiese literêre biograaf, onder andere, wat soos in ‘n
Pynchon-roman die raaisel of soektog, kompliseer. (Hierop kom ons terug in
afdeling 6.) Hierdie roman word egter beskryf as “’n speurverhaal sonder ‘n
speurder”; daarom is die leser uiteindelik die speurder saam met die
manipulerende ouktoriële verteller. (Hierop kom ons terug in afdeling 3.)
Die debat tussen Lacan en Derrida
benadruk dat skryf en dood gelykgestel kan word. In hul analises van Poe se The purloined letter handel dit om die aleteia oftewel “unveiling” van
verskillende maniere van interpretasie. Die doelwit van hierdie artikel is nie
‘n psigoanalitiese ontleding nie, maar eerder ‘n speurtog na die verwysings en
spel met die speurverhaal. Die “Seminar on the
purloined letter” opgeneem in Yale French
Studies van 1972 wys op die verskillende interpretasies en Derrida se
siening dat die brief (“die letter”) sowel Dupin as die psigoanalis se oog sal
ontglip. Die speurverhaal se moontlikhede word steeds ontgin soos in die BBC se
Sherlock Holmes-reeks waarin moderne tegnologie – soos blogs en selfone – help
om die moordenaar vas te trek. Sherlock “sterf” ook in Deel II se laaste
episode wat weer inspeel op Agatha Christie se Curtain: Poirot’s last case waarin Hercule Poirot aan die kaak
gestel word. Verskeie reekse soos The killing
wat in Seattle afspeel, werk met die kodes van die speurverhaal en vraisemblance met toespelings op
werklike politieke gebeure. Umberto Eco se roman The name of the rose het
eweneens in die tagtigerjare die speurverhaal ontgin met Sean Connery in die
filmweergawe. Die speurverhaal word nie meer as ‘n mindere genre beskou nie en
die tekste van ‘n gesiene teoretikus soos Eco bewys dit.
2 Die titel
Piekniek by Hangklip
verwys na Peter Weir se rolprent Picnic
at Hanging Rock (1975) met sy onseker einde. Wie is die skuldige? Die oop
slot van die film laat die kyker teoretiseer oor die implikasies dat daar nooit
sekerheid gevind sal word oor presies wat gebeur het nie. By Breytenbach word
die skuldige van die openingstoneel aan ons bekend gestel. Ons is getuies wat
toekyk hoe die verhaal ontvou. Weir se rolprent werk met ‘n oop slot en die
kyker vind nie sluiting nie. Die tradisionele speur- of moordverhaal is gerig
op sluiting (“closure”) met ‘n moordenaar(s) of skuldige wat deur ‘n slim
speurder uitgevang word.2. Die rolprent is gebaseer op Joan Lindsay se
gelyknamige roman van 1967. In die publikasie van The secret of hanging rock verduidelik Lindsay haar sieninge oor
die verdwyning. Die gegewe in die oorspronklike teks is egter sterker, omdat
daar nie sluiting is nie en die misterieuse aspek beklemtoon word. Dalk het die
meisies in ‘n ander tyd inbeweeg, naamlik ‘n ervaring van die primordiale
wêreld van die oerinwoners (aborigines).
Die verduideliking van die skrywer dekonstrueer ook die gegewe dat dit ‘n
werklike verhaal is, wat sowel in die roman as in die film die gegewe besonder
kragtig maak. By Breytenbach is daar ook ‘n werklikheidsdimensie ingebou in die
toespelings op die geweld van die moderne samelewing en verwysing na herkenbare
ruimtes en mense.
3 Die vertelinstansie: ‘n ouktoriële verteller
Die subtitel van die roman lui as
volg: Die geskiedenis van die avonture
van Joshua Gumbo en Sonja Griessel. Geskryf in vae navolging van Henry
Fielding, outeur van Joseph Andrews. In een volume.
Breytenbach skep ‘n ouktoriële
verteller wat van die leser ‘n medepligtige maak met uitsprake soos “boonop
weet hy nie wat ons weet nie” en met hofies wat ‘n hoofstuk voorafgaan. Jy, dus
die werklike leser, word ook as liewe leser aangespreek. Dit is dus ‘n
vertelling wat deurentyd kommentaar lewer op die leesproses en die
gebeurlikhede soos dit ontvou. En daardie “ons” is dan eintlik die leser-as-speurder.
Henry Fielding (1707 – 1754) se Joseph
Andrews is ‘n duidelike interteks wat die opsomming van die verhaalgebeure
verduidelik. Fielding was magistraat; Sonja is prokureur. Daar is ook
toespelings op die Pamela / Shamela-parodie,
te wete die antwoord op Richardson se ernstige roman, wat deur Fielding
ontluister en gesatiriseer word. Die roman speel in op Etienne Leroux se Een vir Azazel (1964) met die roman se
eiesinnige aanpassing van die speurverhaal. ‘n Mens dink ook aan Erica Jong se Fanny (1991), wat met die tradisie van
die Fielding-roman in gesprek tree. Die verhaal van Fanny Hackabout-Jones is ‘n
parodie van Fielding se werkswyse. Die ouktoriële vertelinstansie, anders as
die personale verteller (derdepersoon), maak die leser deurentyd attent op die fiksionaliteit van die teks, die
roman-as-konstruksie. Die sogenaamde “suspension of disbelief” word telkens
opgehef en die verhaalgang word ondermyn deur hierdie soort verteller wat
breuke in die verhaalgang veroorsaak. In die filmkuns versteur die montage-tegniek die verhaalgang. Culler
wys daarop in Structuralist poetics (1975)
dat dit ‘n bekende tegniek is van die speurverhaal vir die karakters om die
aard van die speurverhaal te bespreek. By Breytenbach is dit die verteller wat
hierdie funksie vervul met sy meta-kommentaar en volgens Culler kan hierdie
spel met genre-konvensies gesien word as pseudo-parodie, ‘n term van Empson
(1975: 150).
4 Literêre toespelings en die implikasies van skryf
4 Literêre toespelings en die implikasies van skryf
Daar is ‘n literator (hy is ‘n
trassie) wat biografieë skryf, onder andere oor Abel Coetzee en Jan Senekal.
Hierdie spel kry verdere ironiese dimensies veral sedert die afsterwe van J.C.
Kannemeyer, die bekende biograaf, in Desember 2011. Op bladsy 414 word die spel
ondermyn deur na die werklike biograaf, J.C. Kannemeyer (“die illustere J.C.
Kannemeyer”) te verwys. Die verskil tussen die werkswyse van die karograaf en
biograaf word hier verduidelik met die implikasie dat ‘n werklike karakter se
optrede in ‘n roman fiksionele dimensies aanneem.
Karel Schoeman maak ‘n buiging,
soos Barend J. Toerien met sy groot neus. Hierdie inspelings op werklike mense
is eweneens ‘n tegniek wat die vraisemblance
of werklikheidsdimensie van die verhaalgegewe versterk. Die leser word deur
hierdie soort toespelings daarop attent gemaak dat hy/sy besig is met ‘n stuk
werklikheid of reportage.
Terselfdertyd is dit ook ‘n oomblik van ontluistering: ‘n biografie oor mindere
letterkundige figure is onvoorstelbaar. En die verhale oor bekende skrywers
soos Schoeman en Toerien (en die mites rondom hul lewens), maak van die
skinderstorie ‘n feit, wat die leeservaring problematiseer. Wat is waar? Wat is
verdigsel? Op ‘n skerpsinnige wyse word
die rol van die verteller en skrywende instansie geanaliseer en die talle
verwysings na die bestaan van God, Boeddha, karma, die noodlot, word ‘n meditasie
oor die implikasies van skryf. Flaubert se dictum
oor die funksie en rol van die skrywer in ‘n verhaal, word gedekonstrueer. Die
verteller meng die hele tyd in en is nooit afwesig nie, terwyl Flaubert se
bekende dictum juis was dat die
skrywer soos God in die natuur, orals aanwesig, maar nêrens sigbaar is nie.
Ons vind eweneens vreemde name
vir karakters, so bekend aan Thomas Pynchon se werkswyse waar dit ‘n simboliese
implikasie dra, soos Jaap Schvantz of Cas van Ryneveldt. (Oedipa Maas by
Pynchon in The crying of Lot 49
gepubliseer in 1966, beteken: Oedipus, my ass). Daar is vele toespelings: na
musiek, na kos, volksfabels en ander verhale wat bydra tot die
werklikheidsdimensie van die roman.
Hierdie spel is eweneens bekend
aan die filmkuns. Die films van Austin Powers parodieer James Bond en júis in
sy satiriese antwoorde wys hy op die pornografie van geweld in Bond-films.
Hierdie roman wil ons, soos wat Fielding gedoen het, attent maak op die
werklikheid daarbuite. Hierom herken ons werklike mense, soos wyle Kobus
Pienaar, aan wie die roman opgedra is. Terselfdertyd kry die karakters nuwe
argetipiese status binne die opset van die roman. Die roman tree uiteindelik in
gesprek met Sewe dae by die Silbersteins
(1962) en veelal lewer die roman vernuftige kommentaar op die gesprek tussen
Etienne Leroux en Thomas Pynchon. Fielding se siening oor hoé romans die
werklikheid reflekteer. Die verwysings na Kafka en Henry James verdien verdere
speurwerk oor hul sieninge van wat romans wil bereik. Nabokov is ook aanwesig:
Pynchon was ‘n student van Nabokov aan die Cornell Universiteit en die bekende
lesings oor die struktuur van romans soos, onder andere, Madame Bovary, Anna Karenina, Ulysses, word in die beroemde lesings
verduidelik. Die roman verwys eweneens na Aristoteles se siening van oorsaak en
gevolg, wat telkemale deur die verteller gedekonstrueer word.
Die roman betrek ook Die mugu (1959) en hoe toeval ‘n lewe
kan verander.
Die vreemde name wat simboliese
implikasies het, speel in op sowel Pynchon as Leroux se werkswyse. (Afdelings 6
en 7.) Elizabeth Dipple wys daarop dat sowel Umberto Eco as Borges die
speurverhaal as ‘n “dominant metaphysical mode” sien:”the unraveling of which
leads to major epistemological illustrations through which the author can
impose his/her will, or at least demonstrate it to the reader” (48). So gelees,
kan die speurverhaal gesien word as ‘n soort roman waarin sterk ideologiese
kommentaar gemaak word in ‘n gemeenskap waar daar op ‘n daaglikse vlak uiterse
geweld plaasvind en veral deur die media in besonderhede beskryf word. Plaasmoord (2010) is onder andere die
titel van Karin Brynard se roman, terwyl daar ‘n toenemende aantal Afrikaanse romans
binne hierdie sub-genre verskyn het die afgelope tyd, soos van Chris Karsten se
Die Afreis van Abel Lotz (2012), Piet
Steyn se Snoeiskêr (2008), Francois Bloemhof se Helse manier van koebaai sê (2011), Dirk Jordaan se Arendsnes (2012), om belangrike name uit
te sonder. Jordaan skryf ‘n polisieroman waarin dossiere en prosedures gebruik
word om die moord op te los. Die gewildheid van Deon Meyer se speurverhale,
sowel binnelands as buitelands, bevestig watter belangrike plek hierdie
sub-genre tans beklee nes die televisie-speurreekse soos Wallander (BBC), The Killing (VSA),
Damages (VSA) en Sherlock Holmes
(BBC).
5 Aandagafleiers (Red Herrings)
Culler (1975:148) wys daarop dat
die speurverhaal gesien kan word as ‘n “force of genre conventions” en dat die
leesplesier opgesluit lê in die karakters se psigologiese intelligensie en ‘n
oplossing in die slot waarin alles uiteindelik onthul sal word. Daar is ook ‘n
patroon in hierdie soort teks, te midde van allerlei besonderhede;
terselfdertyd erken hy dat hierdie patroon oortree (“violated”) of gesubverteer
kan word. Die leser het wel ‘n verwagting in hierdie soort teks. Hy verwys na die
vraisemblance van genre “whose
fundamental device is to expose the artifice of generic conventions and
expectations” (1975: 148). Die gebruik van toevallige en aweregse verwysings na
die Afrikaanse digkuns, parodieer die rol van die leser as speurder vérder. In
die eindnotas (erkennings) word daar verwys na Groot Verseboek, Martjie van Celliers en Opperman se Voëlvry. Die digkuns van Opperman werk
ook met die speurverhaal-gegewe soos die gedig “Draaiboek” en “Blom van die
baaierd”(uit Blom en baaierd, 1956).
Die slot van “Blom van die
baaierd” word ‘n opsomming van die aard van die speurverhaal: ‘n analise van
paranoïa en geweld in die moderne samelewing:
En hulle vind hom waar hy takkies
breek
en bid om sy en Brakfontein se
sonde,
om dié van Brussel, Jerusalem, en
elke streek…
waar hy rooi kappertjies in al
die wonde,
die halfoop oë en neusgate steek
(1987: 225).
Op bladsy 16 van Piekniek by Hangklip sit die predikant,
dominee Johann, sy arms om haar skouers en in sy binnespraak verwys hy na
Totius (“Ons weet wat in sy gedagtes is, dat hy weet van die verlies wat soos
‘n pyl in haar brand, die Here alleen weet wat sy ly…”) wat op ‘n onluistering
van Totius se bekende lykdig neerkom en met seksuele innuendo gelaai word.
Die pyn-gedagte
O Die pyn-gedagte: My kind is dood! …
dit brand soos ’n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.
Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu’s word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg vort (...)
Die daaropvolgende verwysing na Ina Rousseau se gedig “Eden” oor die mensepaar:”Staan daar nog in Eden êrens die mislukte tuin” word geparodieer om die sinisme van die ouktoriële verteller te beklemtoon.
Die pyn-gedagte
O Die pyn-gedagte: My kind is dood! …
dit brand soos ’n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.
Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu’s word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg vort (...)
Die daaropvolgende verwysing na Ina Rousseau se gedig “Eden” oor die mensepaar:”Staan daar nog in Eden êrens die mislukte tuin” word geparodieer om die sinisme van die ouktoriële verteller te beklemtoon.
Ina
Rousseau
Eden
Staan daar nog in Eden êrens,
verlate soos ’n stad in puin,
met poorte grusaam
toegespyker,
deur eeue die mislukte tuin?
Word daar nog die swoele dae
deur swoele skemering en nag
vervang
waar donkergeel en purper
vrugte
verrottend aan die takke hang?
Sprei daar ondergronds ’n netwerk
soos sierkant deur die rotse
heen:
die sware, onontgonne riwwe
van goud en onikssteen?
Vloei daar deur die natgroen struike
nog met kabbeling wat ver
weerklink,
die viertal glasblink
waterstrome
waarvan geen sterfling drink?
Staan daar nog in Eden êrens,
verwaarloos soos ’n stad in
puin,
gedoem tot langsame verrotting
deur eeue die mislukte tuin?
In Culler se terme word die leser
se verwagting gesubverteer (1975: 140). Die bekendheid met Afrikaanse gedigte
word binne die konteks van die speurverhaal ontluister. Terselfdertyd kan dit
ook gelees word as ‘n verlange na ‘n tyd vóór gewelddadigheid.
Kuberkrakers, dieetspeurders,
argitektuur, Nietzsche, Latynse frases, spirituele debatte, die soeke na jou
mojo (sleng vir “movement and joy”), vertrouenswendelaars in religieuse
praktyke (soos die United Church of Zambia), maak van hierdie
parodies-satiriese roman ‘n ervaring wat die leser enersyds amuseer (soos ‘n
verwysing na gedekonstrueerde kookkuns!) en andersyds ontstem. Die leser is
voortdurend in ‘n ondergrondse netwerk van verwysings en vals of vreemde
toespelings. Die sogenaamde aandagafleiers of “red herrings” neem die leser na
‘n ander werklikheid buite die teks.
Veral die toespelings op die gekanoniseerde Afrikaanse digkuns veronderstel ‘n
ander letterkundige sisteem, wat ver verwyder is van die konvensionele
opvattings oor die digkuns. Ironies genoeg, word onder meer ‘n gedig betrek van
Totius wat handel oor die gewelddadige dood van sy dogtertjie waarmee die roman
ontstemmende kommentaar lewer op die ooreenkomste tussen fisiese en psigiese
geweld.
6 Die gesprek met Etienne Leroux
Die partytjie in Hoofstuk XX
aktiveer Leroux se Sewe dae by die
Silberteins (1962). Dit is veral Een
vir Azazel (1964) wat die duidelikste interteks vorm vir hierdie roman. Die
bekende Quis, quid, ubi, quibus auxiliis, cur,
quomodo, quando? (Wie, wat, waar, waarmee, hoekom, hoe, wanneer?) word in hierdie roman verander na: Ubi?, Quid?, Cur?,
Quis?, Quibus Auxiliis?, Quomodo?, Quando? omdat die struktuur van die
speurverhaal gedekonstrueer word. Die speurder is die hakkelende Demosthenes H.
de Goede.
Een vir Azazel speel
op die Welgevonden-landgoed af. Jock Silberstein se plaas is geskenk aan die
Stigting en die skoonseun Henry van Eeden-Silberstein woon nog op die plaas. Sy
vrou Salome sterf by die geboorte van haar seun, die reus Adam Kadmon, ‘n
idioot. ‘n Meisie, Lila word vermoor en Demosthenes H. de Goede, die hakkelende
en filosofiese speurder, ondersoek die moord. Dr. Johns begelei en verduidelik
alles aan die speurder en Adam, die reus, is die sondebok wat geoffer moet
word. Die gegewe verwys na die Bybelse verhaal wat opgeteken staan in Levitikus
16. 3. Die Engelse vertaling van hierdie roman heet One for the devil wat die vergeldingsaspek sterker beklemtoon.
In hierdie roman word daar verwys
na die kitsch op Welgevonden. Die plastiekswaan sal ‘n “stukkie kitsch wees op die kaggelrak van hul
herinnerings” (1984: 137) en in Piekniek
by Hangklip word die hele kwessie van argitektuur en kitsch eweneens te berde gebring in die gesprekke met die argitek.
“Dis die kwartaallikse piekniek by die
forellemeer,” sê dr. Johns. “Psigoterapeutiese ontspanningsgenot.” (1984: 175).
Hierdie passasie dra die saad vir die
latere roman, Piekniek by Hangklip,
soos gevind deur die leser-as-speurder. Die Meturgeman, wat as intellektuele
gids optree by Leroux word in Piekniek by
Hangklip vertolk deur die ouktoriële verteller wat met kwasi-wysgerige en
ontluisterende opmerkings die verhaal verduidelik aan die leser. Die hakkelende
Demosthenes H. de Goede word in Breytenbach se roman geparodieer met die
hakkelende Joshua: “d-dalk selfs ‘n derde” (2011: 113).
7 Die gesprek met Thomas Pynchon
Thomas Pynchon se The crying of Lot 49 (1966) word beskou
as ‘n baanbrekende teks binne die Amerikaanse postmodernisme. Die verhaal
handel oor Oedipa Maas se hantering van die stryd tussen twee posdienste, te
wete Thurn & Taxis en die Trystero. Vanaf die agtiende eeu is hierdie twee
posdienste in ‘n stryd gewikkel en daar bestaan ‘n stel vervalste seëls as
“bewysstuk” van hierdie stryd wat Oedipa probeer oplos in die sestigerjare in
San Francisco Bay Area. Oedipa is dus die speurder wat orals tekens sien van
hierdie stryd.
Die briewebokse word verdoesel as
vuilgoedblikke waarop W.A.S.T.E. gegraveer is:
We await silent Tristero’s empire
met ‘n ikoon wat beskryf word as ‘n “loop, triangle and trapezoid” (1982:34).
Vir ‘n duidelike aanwysing
van al die karakters in hierdie
komplekse roman, is die Wikipedia handig: The Crying of Lot 49 - Wikipedia, the free encyclopedia,
besoek 19/1/2012). Tanner skryf eweneens oor die karakters in Thomas Pynchon (1982).
Trystero is ‘n kreatiewe skepping
van Pynchon. Wanneer Oedipa se voormalige geliefde, Pierce Inverarity, sterf, word sy die ergenaam en ontdek as ‘n soort
speurder dat alles nie pluis is met Trystero nie.
Sy is getroud met Wendell "Muncho" Maas, ‘n
platejoggie in Kinneret en ‘n LSD-verslaafde. Hy is onder andere gaande oor die
musiek van Sick Dick o.a. Sy het ‘n verhouding met Metzger, ‘n prokureur wat haar
help met die testament. Sy regsfirma heet “Warpe, Wistfull, Kubitschek
and McMingus”. Daar is ‘n “band”, The Paranoids en deur hierdie name lewer
Pynchon satiriese kommentaar. Oedipa se shrink heet Dr. Hilarius en in
aansluiting by Nabokov, wie se minagting vir psigoanalise bekend was, skryf hy
LSD aan haar voor. 4. Verder blyk dit dat hy ‘n Nazi-dokter in Buchenwald was.
Hier het hy deelgeneem aan ‘n program om Jode tot waansin te dryf. John
Nefastis en Stanley Koteks is twee wetenskaplikes wat iets weet oor die
Trystero, wat Oedipa probeer ontfutsel. Randolph Driblette is die regisseur van
die drama The courier's tragedy, die
drama wat Oedipa meemaak, omdat sy weet dat Driblette haar van inligting kan
voorsien. Hy pleeg egter selfmoord. Mike Fallopian wat sy in ‘n kroeg ontmoet, blyk wel oor inligting te
beskik oor die Peter Pinquid-vereniging. Genghis Cohen, ‘n filatelis, verskaf
leidrade oor die ontslapene se seëlversameling. Dit is ‘n belangrike kode,
omdat in die gesprekke tussen hom en Oedipa die kwessie van vervalsing na vore
kom, wat die roman plaas binne die postmodernisme as ‘n konterfeitsel van die
werklikheid. Professor Emory Bortz, is ‘n dosent aan San Narciso (‘n
samestelling van San Francisco en narcisme), wat ‘n kenner is van Wharfinger se
werk, die drama wat Oedipa sien. Hy blyk ook iets te weet oor Trystero, wat
verdere onsekerheid oor die misterie in die hand werk.
Tanner wys daarop in sy studie
oor Pynchon (1982: 56) dat hierdie verhaal die speurverhaal ómkeer. Die verhaal
se misterie vermeerder hoe vérder dit ontwikkel, terwyl die leser juis ‘n
oplossing verwag. Die naam Oedipa Maas aktiveer die eerste speurverhaal in die
Westerse literatuur, te wete die Oedipus-verhaal met die oplossing van die
raaisel en ondermyn dit terselfdertyd, want Maas beteken ook “my ass” en kan
gelees word as ‘n bekende karakteriseringstegniek by Pynchon:“The relationship
between individual and name is deliberately problematized – and caricatured –in
Pynchon’s texts” (1982: 60). Elkeen wat ‘n leidraad het, wil dit nie bekend
maak nie of sterf. Die speurverhaal beweeg tot sekerheid; iets wat Pynchon
deliberaat omkeer: alles word juis al hoe meer duister en ingewikkeld.
In
die derde hoofstuk staan daar:”Things did not delay in turning curious”(1982:
29) en daar etlike semiotiese aanwysings en leidrade gegee vir die leser, onder
andere ook ‘n ikoon (1982: 34).
Hierdie
ikoon (die sogenaamde “muted post horn”) word beskou as ‘n wyse van
kommunikasie met diegene met onortodokse seksuele begeertes (1982: 75), die
sogenaamde Inamorati Anonymous (IA). Hier skeer Pynchon die gek met geheime
organisasies en kentekens wat lede van so ‘n groep kenbaar maak, soos ‘n
geheime handdruk.
Die
teks lewer kommentaar op die leesproses:
“Behind
the initials was a metaphor, a delirium tremens, a trembling unfurrowing of the
mind’s ploughshare. The saint whose water can light lamps, the clairvoyant
whose lapse in recall is the breath of God, the true paranoid for whom all is
organized in spheres joyful or threatening about the central pulse of himself,
the dreamer whose puns probe ancient foetid shafts and tunnels of truth all act
in the same special relevance to the word, or whatever it is the word is there,
buffering, to protect us from” (1982: 89).
Die
metafoor word gesien as iets wat sowel die leuen as die waarheid ontbloot; afhangend
van jou posisie (“inside, safe, or outside, lost”). ‘n Pornografiese eksemplaar van die drama
blyk in die Vatikaan beskikbaar te wees (1982: 105). Daar is eweneens ‘n
speelse verwysing na Nabokov op bladsy 101.
Die
roman wentel rondom misverstande en opsetlike foute. REPORT ALL OBSCENE MAIL TO
YOUR POTSMASTER, sic. (1982: 30) signifieer die onbestendigheid van alles.
Selfs die poskantoor maak ‘n fout, seëls word vervals en daar is telkens
verwysings na hiërogliewe wat die leser (en karakters) moet ontsyfer. Die
Trystero kan nie vertrou word nie (“trust”) (1982: 70) Verder word absurde
insidente gebruik om die gegewe te ontluister soos ‘n snotgooi-kompetisie en
sarkastiese opmerkings word gemaak oor homoseksualiteit (1982: 50) en
psigoanalise wat politiek korrektheid ondermyn. In die slot van die roman is
Loren Passerine ‘n poppemeester; die verteller in hierdie roman en by
Breytenbach, is eweneens ‘n soort poppemeester.
8 Piekniek by Hangklip
In sy roman Piekniek by Hangklip roep Breytenbach die werkswyses van Leroux en
Pynchon op: satiriese kommentaar op die samelewing, ontluistering van
pretensie, die gebruik van simboliese naamgewing, die spel met ‘n
kommentariërende verteller wat herinner aan Leroux se meturgeman en ‘n spel met
die struktuur van die speurverhaal. Waar Leroux die tydsorde omkeer en Pynchon
die oplossing uitstel, word die leser in Piekniek
by Hangklip bekendgestel aan ‘n roman sonder ‘n speurder. Dupin of Poirot
kon die leser lei en die meturgeman bied ook sekerhede met sy (pseudo) filosofiese
opmerkings. By Breytenbach is daar geen sekerhede meer nie. Die leser is
alleen. Die leser bevind sig in ‘n gewelddadige en vyandige werklikheid.
As Flaubert gemeen het dat die
skrywer soos God orals aanwesig, maar nêrens sigbaar moet wees nie, is die
leser in Piekniek by Hangklip
uitgelewer aan ‘n ontluisterende verteller en ‘n ontologiese onsekerheid. Dit
is inderdaad ‘n “unresolvable plot”, soos Dipple die moderne roman tipeer: die
speurwerk kan nooit voltooi word nie, juis omdat die roman heenwys na soveel
ander tekste en ‘n herkenbare Suid-Afrikaanse werklikheid. Die verskillende
tradisies van die roman vanaf die laat negentiende eeu tot die modernisme en
postmodernisme word in hierdie roman byeengebring sodat Piekniek by Hangklip ook gelees kan word as ‘n roman wat kommentaar
lewer op die ontwikkeling van die roman tot ‘n besef dat alle interpretasies
onbestendig en “oop” bly. Die tekstuele onbewuste van hierdie roman is een van
ontluistering en van ‘n ernstige besinning oor die aard van die romankuns. Daar
is geen speurder nie; die leser word hierdie posisie toegeken in ‘n
fassinerende speurtog. Anders as by Pynchon is daar nie meer ‘n opsie van
binne/veilig, buite/onseker nie. Alles in hierdie roman staan in die teken van
onveiligheid en onbegrensdheid wat die leser neem na die “potustornnost”, of
ander wêreld soos Nabokov dit benoem het.
Die teks is besonder positief
ontvang, maar het geen bekronings ontvang nie. Gesiene kritici soos Louise
Viljoen, Thys Human, Michiel Heyns en selfs in ‘n resensie-artikel op Litnet
het Izak de Vries dit aangeprys.
Waarom hierdie roman nie ten spyte van die loflike ontvangs bekroon is nie, bly ‘n onopgeloste raaisel. ‘n Ironiese raaisel, wat inspeel op Weir se film waarin die kyker bly spekuleer. In ‘n speelse artikel op Litnet: Is Piekniek by Hangklip ’n kriminele oortreding? (Izak de Vries, besoek op 17 Julie 2012) raak Izak de Vries onbewustelik aan van die probleme in hierdie teks: is dit omdat hy die reëls van die speurverhaal oortree? Is dit omdat die skuldige nie vasgetrek word en die goeie nie die bose oorwin nie? Is dit dalk die afwesigheid van die speurder en die dekonstruksie van konvensies?
De Vries verwys na die naam Schvantz as penis in Jiddisj (“prick”) wat dan aansluit by die naamgewing by Leroux en Pynchon soos hierbo uiteengesit. De Vries wys op die vreemde setwerk om die stotterende verteller se uitspraak op te vang as nog ‘n leesversperring. Soos hy dit dan opsom: “Breytenbach steek tong uit vir die leser, verál vir die leser wat ’n foutlose krimi soek.”
Louise Viljoen bespreek die roman op Litnet: “Piekniek by Hangklip seepgladde plesier” op 8 September 2011 (besoek op 17 Julie 2012). Sy skryf: “Henry Fielding, wat eintlik ’n dramaturg was, het begin om romans te skryf toe hy wou reageer op die buitensporige sukses van Samuel Richardson se melodramatiese briefroman Pamela, or Virtue Rewarded van 1740, waarin die jonge Pamela Andrews ’n eindelose stryd het om haar kuisheid teen haar werkgewer te verdedig. Fielding se parodie met die titel An Apology for the Life of Mrs Shamela Andrews het gewys dat die kuise Pamela eintlik glad nie so voorbeeldig was nie.”
Michiel Heyns resenseer die roman vir Beeld & Die Burger in Oktober (besoek op 17 Julie 2012) en wys eweneens op die pakkende gegewe in die roman. Thys Human se resensie heet “Tarantino in die Overstrand” in Beeld 9/10/2011 (besoek op 18 Julie 2012) is eweneens positief oor die aweregse aanslag van hierdie roman. Hy wys op die eksterne verteller se toetrede om van die raaisels in die verhaal op te los en ag die verwysing na Fielding as ‘n belangrike leidraad.
In sy voorwoord tot dié roman gebruik Fielding die term komiese epos (“comic epic poem in prose”) om na die aard van die werk te verwys:
“[A] comic romance is a comic epic-poem in prose; differing from comedy, as the serious epic from tragedy; its action being more extended and comprehensive; containing a much larger circle of incidents, and introducing a greater variety of characters.
It differs from the serious romance in its fable and action, in this: that as in the one these are grave and solemn, so in the other they are light and ridiculous; it differs in its characters, by introducing persons of inferior rank, and consequently of inferior manners, whereas the grave romance sets the highest before us; lastly in its sentiments and diction; by preserving the ludicrous instead of the sublime.”
Umberto Eco se slotwoorde in The name of the rose is hier tersaaklik: ”It is cold in the scriptorium, my thumb aches. I leave this manuscript, I do not know for whom; I no longer know what it is about: stat rosa pristine nomine, nomina nuda tenemus”…
Joan Hambidge
Kaapstad: Desember
2011 – September 2012
Bibliografie
Bloemhof, Francois. 2011. Helse manier van koebaai sê. Kaapstad:
Human & Rousseau.
Brink, A.P. 2000. Groot verseboek 2000. Kaapstad:
Tafelberg.
Bowers, Fredson (red.). 1980. Nabokov, Vladimir: Lectures on literature.
Londen: Weidenfeld and Nicholson.
Breytenbach, Kerneels. 2011. Piekniek by Hangklip. Kaapstad: Human
& Rousseau.
Brynard, Karin. 2010. Plaasmoord. Kaapstad: Human &
Rousseau.
Christie, A., 1975. Curtain :
Poirot's last case. 1983 ed. London: Fontana.
Con Davis, Robert. 1986. Contemporary literary criticism. New York: Longman.
Culler, Jonathan. 1975. Structuralist poetics. Structuralism
linguistics and the study of literature. Londen: Routledge & Kegan
Paul.
Derrida, Jacques. 2005. Sovereignties in question. The poetics of
Paul Celan. New York: Fordham University Press.
Dipple, Elizabeth. 1988. The unresolvable plot: reading contemporary
fiction. Londen: Routledge.
Eco, Umberto.1983. The name of the rose.Londen: Martin
Secker & Warburg.
Jordaan, Dirk. 2012. Arendsnes. Kaapstad: Tafelberg.
Jong, Erica. 1981. Fanny. Being the true history of the adventures of
Fanny Hackabout-Jones. New York: Granada.
Karsten, Chris. 2010. Die afreis van Abel Lotz. Kaapstad:
Human & Rousseau.
Leroux, Etienne. 1984. Die Silberstein-trilogie. Kaapstad: Human & Rousseau.
Lindsay, Joan. 1987. The secret of Hanging Rock. Londen:
HarperCollins.
Mehlman. Jeffrey. 1972. “Seminar
on ‘The purloined letter’ “.Yale
French Studies, 48 (1972. pp. 38 – 72.
Meyer, Deon. 2011. 7 dae. Kaapstad: Human & Rousseau.
Opperman, D.J. 1987. Versamelde poësie. Kaapstad: Human &
Rousseau/Tafelberg.
Poe, Edgar Allen. 1845. The gift. Philadelphia: Carey and Hart.
Pynchon, Thomas. 1966. The crying of Lot 49. New York: J.B.
Lippincott & Co.
Steyn, Piet. 2008. Snoeiskêr. Kaapstad: Tafelberg.
Tanner, Tony. 1982. Thomas Pynchon. Contemporary writers. (reds. Malcolm Bradbury en Christopher
Bigsby). New York: Methuen.
Weir, Peter. 1975. Picnic at Hanging Rock. Film (Australië).
Wikipedia. The Crying of Lot 49 - Wikipedia, the free encyclopedia, besoek op 19/1/2012.
Eindnotas:
1. In Deon Meyer se 7 Dae word die ingeligte leser ‘n
leidraad gegee deur die verwysing na Leroux se Sewe dae by die Silberstein en met ‘n karakter Henry van Eeden, wat
die moordenaar se identiteit beskerm.
2. Agatha Christie se Poirot
(satiries vertolk deur Peter Ustinov in verskeie films) is, soos Dupin, in
staat om met die oortreder te identifiseer.
8. En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die Here en
een lot vir Asásel.
9. Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die Here op gekom het
en hom as sondoffer berei;
10. maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor
die aangesig van die Here gestel word, om oor hom versoening te bewerk
deur hom
vir Asásel in die woestyn te stuur.
4. Maurice
Couturier in sy essay Nabokov or the
cruelty of desire: a psychoanalytic reading (http://www.libraries.psu.edu/nabokov/coutnab1.htm)
betrek Nabokof se negatiewe siening van Freudiaanse simboliek (besoek op 27
November 2011).
Aan Zimmmer bely hy:
I think he's crude, I think he's medieval, and I don't want an elderly gentleman from Vienna with an umbrella inflicting his dreams upon me. I don't have the dreams that he discusses in his books. I don't see umbrellas in my dreams. Or balloons.
I think that the creative artist is an exile in his study, in his bedroom, in the circle of his lamplight. He's quite alone there; he's the lone wolf. As soon as he's together with somebody else he shares his secret, he shares his mystery, he shares his God with somebody else. (Vladimir Nabokov: The Interviews by Dieter E. Zimmer).
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Stilet geplaas.]