Wednesday, June 26, 2013

Orhan Pamuk - The museum of innocence (2010)



Orhan Pamuk. The museum of innocence. Faber & Faber, 2010. ISBN 9780571237029

Resensent: Joan Hambidge

Jy is die antropoloog van jou eie ervarings. Orhan Pamuk.

‘n Roman speel in op films, ‘n museum, die geskiedenis en lewer kommentaar op al die verskillende vlakke van die werklikheid. Boonop vertel die werklike skrywer vir ons in ‘n regte museum hoe alles inmekaar pas.

Dit gebeur in The museum of innocence van Orhan Pamuk, die Turkse skrywer en wenner van die Nobelprys vir letterkunde in 2006. Die roman van 734 bladsye bevat ‘n naamsregister. Die leser kan dus elke karakter opsoek asof jy ‘n historiese dokument lees en boonop is daar ‘n werklike museum in Istanbul wat die komplekse verhouding tussen fiksie en werklikheid vérder uitbou. Die museum is in April 2012 geopen in die historiese Çukurcuma area.

Die roman handel op die eerste vlak oor onbeantwoorde liefde. Kemal (‘n ryk besigheidsman) se liefde of eerder dalk, obsessie met Füsun (uit ‘n meer beskeie familie) word in besonderheid vertel. Objekte (soos koeldrankbottels en sigaretstompies) word vinjette vir die ervaring van die geobsedeerde verteller wat vir ons meedeel presies hoeveel keer hy haar ouers se huis besoek het net sodat hy naby aan haar kan wees. Daar was 1,593 besoeke aan die Keskin-huishouding waar hy omstreeks seweuur opgedaag het en televisie met die gesin gekyk het. 4, 213 sigaretstompies van sy geliefde het hy bewaar.


En objekte word gegaps sodat hy iets van haar kon behou. Soos hondjies bo-op die televisie of ‘n botteltjie parfuum. Hiervoor vergoed hy later deur geld agter te laat.

Op ‘n dieper vlak word dit ‘n analise van die geskiedenis van Istanbul en soos die verteller ons dan inlig, beleef ons Istanbul as “mental map”. Geboue, bakens, restaurante, die Bosphorus, moskees is alles daar. Besoekers aan die stad herken die roetes wat gevolg word. Die geskiedenis van Turkye en die invloed van Atatürk word ontleed. Ons beleef die stormagtige noodtoestand van die sewentigerjare.

Die roman is eweneens ‘n analise van die liefde en hoé seksualiteit in hierdie tyd ervaar is. Die jong vrou wat voorhuwelikse seks toestaan, “verloor” iets. Hierom moet die man met haar trou of sy word as ‘n Westerse vrou gesien. Daar word kommentaar gelewer op skoonheidskompetisies waaraan jong Turkse meisies deelneem. ‘n Mens sou die hele roman ook kon lees as ‘n analise van die verskille tussen Westerse en Turkse siening van skoonheid. Hoe mense lyk, word in besonderheid beskryf.

Die verteller is aanvanklik verloof – Sibel verlaat hom en gaan studeer in Parys, omdat sy bewus is van sy verskeurdheid. Tant Nesibe, die liefdesobsessie, Füsun se moeder, vertel hoe haar dogter moes trou om van die klad (“stain”) van die verhouding met Kelam weg te kom (385).

Sy trou dan met Feridun ‘n jong man, onbewus van Kemal se liefdesobsessie, wat graag ‘n kunsfilm wil maak. Hy hoop dat ons ryk verteller hom sal borg. Daar word ook kommentaar gelewer op Turkse films en die impak daarvan op ‘n gemeenskap. Turkse films wat dikwels melodramaties is, word geanaliseer. Hoofstuk 59 wys weer op die sterk sensuurstelsel in hierdie gemeenskap waar die filmmaker se vryheid van spraak aan bande gelê was. Fotoboekies was eweneens in die sewentigerjare ‘n ruimte waar vroue buite die patriagale orde kon beweeg. 

Grace Kelly is ‘n ikoon in hierdie roman. Hulle kyk na haar films op TV na haar dood en Kemal analiseer hoe sy geliefde reageer op hierdie skoonheid. Hierdie kragtige toneel verduidelik die verskille tussen die Westerse en Turkse vrou. 

Die objek-van-begeerte – soos in Lolita van Nabokov – se lot word in jukstaposisie geplaas met ‘n voëltjie in ‘n kou in haar ouerhuis. 

Die filmverwysings word ‘n “counter-plot” wat die komplekse spanning tussen fiksie/werklikheid (die museum)/films vérder bevestig. Op die koop toe is daar werklike verwysings na ‘n Pamuk-familie by ‘n troue en ene Pamuk blyk uiteindelik die ouktoriële outeur te wees van hierdie verhaal. 

Orhan Pamuk buitekant sy museum (© Sedat Mehder / The Innocence of Objects deur Orhan Pamuk-Abrams)

Vir iemand wat al verskeie kere in Istanbul was, word die roman nog komplekser. Jy herken bakens en gewoontes. Die leser word getransporteer deur die komplekse lae van hierdie samelewing: Bizantium, Konstantinopel tot moderne Istanbul.

Diegene met ‘n eksemplaar van die boek, mag die museum gratis besoek. In ‘n stad wat al in 657 VC gestig is. Die komplekse geskiedenis van Istanbul word in The museum of innocence geberg.

En die leser word ook kyker wanneer jy na die BBC-program kyk oor die museum met Pamuk as begeleier.

Die roman dwing ons na verdere werklikhede.

In Istanbul is daar ook fronse dat hy tekste oorneem uit ander tekste – kennelik onkunde oor die postmodernistiese speletjies wat hy met die ingeligte leser speel waarvan die wérklike museum ‘n markante voorbeeld is.

As Skrywer is hy in 2005 krimineel aangekla oor sy siening van die vervolging van Armeniërs deur die Turke. Die klag is ‘n jaar later laat vaar, ofskoon hy steeds aangekla word van die feit dat hy “Turksheid” beledig het.

Dog ‘n skrywer wat soveel briljante boeke geskryf het om Turkye oop te maak op vele vlakke, kan nie van soiets beskuldig word nie. 

Boonop maak hy van die verhouding tussen fiksie en werklikheid iets nuuts: die roman is meer werklik as die gekonstrueerde museum. 

In 2012 vind ons ‘n boek oor die museum: The innocence of objects.



Neem 'n toer deur die museum:

The Museum of Innocence

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger, BY geplaas.]