Monday, August 24, 2020

Resensie | Francois Smuts – Slagoffer | Queillerie, 2020

Francois Smuts – Slagoffer. Queillerie, 2020. ISBN: 9780795802201 

Resensent: Joan Hambidge

 

Op die voorblad van hierdie pakkende speur-cum-misdaadroman word die leser gewaarsku: Die liefde is blind. Ėn die reg.  Dit word 'n dekonstruksie van die krimi in die toepaslike aanhaling van Leonardo Sciascia. Die leidrade wat 'n misdaad oplewer is totaal ontoereikend, meen hy (79).

 

Hierdie roman plaas ál die moontlikhede van dié sub-genre voor die leser se oë. Dit word gelaai met verwysings na die kwessie van skuld en boetedoening, die soeke na oplossings (of closure so bekend aan die speurverhaal) én belangrike rituele soos stiergevegte en godsdiens. Boonop word die ritualistiese aard van 'n hofverskyning geanaliseer. Die posisie van die regter, die assessore, die skuldige se plek in die hof word bekyk. In 'n stadium word die aangeklaagde gewaarsku: ons is nie nou besig met 'n James Bond-verhaal nie.

 

Dawid Neethling is 'n psigiater op Stellenbosch. Hy beklee 'n deeltydse pos as dosent aan die universiteit en 'n beeldskone musiekstudent, ene Eva Rodriquez land in sy skoot. Hulle verhouding verander van 'n professionele een na 'n liefdesverhouding.


Sy word vermoor en alle vingers wys na Dawid wat boonop 'n onsimpatieke wederhelf het. En hy het 'n leuen vertel toe hy die eerste keer ondervra is. Sy vriend Barnabas, 'n priester in die Grieks-Ortodokse kerk, gee raad en ondersteuning. 

 

Tot hier dan die verhaal wat 'n fyn netwerk van bedrog


ontmasker: van bendes wat vanuit die tronk dreig en afpers tot 'n swart verlede met 'n moordenaar in die ou-Suid-Afrika wat lid was van MI, tot 'n ambassadeur wie se hande vuil is. Verder word die polisie-ondersoek en swak forensika eweneens uitgelig. En die media se pogings om altyd 'n moordenaar (dikwels eensydig) onder die soeklig te plaas, onafhanklik van die regsprosesse, kom ook onder die soeklig.

 

Die media word in hierdie roman die jurie. En ons weet welke dwaashede is al verkondig tot die chagrin van regsgeleerdes. Tydens die lees van hierdie roman kyk hierdie leser weer na die BBC-reeks Trial and Retribution (1997) en soveel van die kwessies hier aangesny, kom in speurreekse na vore. In die Franse reeks Spiral (Engrenages) in 2005, waar die hoof duisel van al die sameswerings en leuens, word ongehoorde verhoudings ondersoek tussen die magistraat en 'n polisievrou; 'n skurk en sy regsverteenwoordiger.

 

Ons betree in die eerste gedeelte Sorteo wat afspeel in Kaïro en die "geheim" van moord word weggegee. Met Abba Johannes wat met wysheid reageer: 'n moordenaar kan 'n priester word. Daar is verwysings na die Bybel: die paradys, Job, die teodisee, o.a. 


Verder raam Ernst Hemingway se sieninge oor stiergevegte (wat hy as 'n tragedie beskou het) die vertelling met Dostojefski en Franz Kafka wat alles verder laai. Daar is toespelings op Dante, Lorca, Rilke, Leda en die swaan, Russiese roulet en die donker ondergrond van die menslike bestaan. Verder word die leser etlike verwysings gegee na duende, na sorteo (die Spaanse woord vir loting) én stiergevegte. Onbewustelik sien ons "By die dood van Roy Campbell" van D.J. Opperman en Almodóvar se pakkende rolprent Matador van 1986.

 

Die dood van die bul word gesien as 'n offer aan die gode en opspraakwekkende moordsake staan ook hier: Oscar Pistorius, Dewani, die De Zalze-bylmoord, e.d.m. Ons lees wat die vermoorde dink (in kursief) en daar is 'n dagboek en 'n getuie van die moord. Hoe dikwels is 'n dagboek nie in hierdie soort storie dít wat alles tot 'n punt bring nie.

 

Daar is spelers en teenspelers: Dawid en sy vroulike advokaat; Bella Croeser en Diedericks, Grootboom. 'n Kwaai regter. 'n Snuffelende joernalis. Ras, klas en gender-kwessies kom hier aan bod.

 

Die supsension of disbelief word soms beproef: sou 'n akademikus "vergeet" het wat hy in 'n artikel geskryf het? Is die kwessie van oorlewingskuld by Ingrid nie oordadig nie? Die beskrywing van die DG is dalk te swaar gelaai met onderduimshede? Verduidelikings werk in hierdie roman, omdat die sub-genre gedekonstrueer word.

 

Die roman sny geweldig baie kwessies aan - soos die Russiese kind wat gesteel word van ouers vlugtend uit 'n Bolsjevistise bestel en wat dan jare later 'n bedelkind op straat sien in Parys (134). Onder die vertelling is dit duidelik dat die skrywer 'n duidelike spirituele boodskap wou oordra oor menswees (en karma). Die spirituele impak van leuens (via Stephen Freeman) word 'n belangrike leidraad en motief: hoe leuens mense kan verwoes.

 

In die erkennings verneem ons dat die skrywer 'n regsagtergrond het, en hy sonder 'n terapeut in Kaapstad uit as die beste kliniese een. 'n Ander een is die beste psigiater in Kaapstad. (Dalk subjektief en oordrewe?) Dit is die soort advertisements for myself wat deur 'n redakteur geskrap moes word. Laat die boek vir homself praat.

 

Iewers tussen 'n analise van die krimi én spiritualiteit lewer dit 'n beduidende bydrae. Hierdie leser voorspel nog 'n roman met sterk maatskaplike analises.

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Gedig | Joan Hambidge - Gisela Ullyatt (1977 - 2020) | 2020

 Gisela Ullyatt (1977 - 2020)


In jou eerste en laaste bundel myn

jy die vibrocrete dae van jou jeug.

 

Op 'n Saterdagmiddag ná jou vertrek

word die digkuns meer as die waarheid

 

van duiwe of sprokies se wonde en letsels:

"Ons harte is vol van gemors en verdriet".

 

Vir oulaas stuur ek 'n vers vir jou as redakteur

oor die laaste grenspos wat alle pyn óphef:

 

soos die afdruk van 'n bees in restaurant

om snitte konkreet voor te stel vir die besoeker

 

wat presies kan kies en weeg die rugstring

van die familieskap of die hart afwesig

 

vol verlore liefdes en verbintenisse

tot die dermkanaal elders opgestop

 

met 'n karmenaadjie vir die afwesige leser

wat wónder oor 'n lykdig as consolatio?

 

 

 

Friday, August 21, 2020

Gedig | Joan Hambidge - Cartesiaan | 2020

 Cartesiaan  

VWL  

 

Ek is net lyf en gees, niks tussenin: 

niks van die kerk se "siel", die leë droom. 

Net boom en grond. Die dryfsand se sin 

is iewers wel slinks en slu bedroom 

deur Freud en Lacan - die gode van drieë. 

Hulle dink aan skakels: aan oorgange 

soos ego, id, superego, nes bedrieë: 

verbeelde, simboliese, Reële vir dié drange. 

Lyf: sy! die eerste wat ek ken! 

vol van  groot hobbels, eis haar weg 

na die eis van volmaaktheid as volheid. 

Gees: die knope van die onbewuste ren 

aan my in drome vreemd, só verontreg 

'n inbeweeg tot hierdie parodie: 'n kilheid. 

 

Tuesday, August 11, 2020

Resensie | Francois Smith – Die kleinste ramp denkbaar | Tafelberg, 2020

Francois Smith – Die kleinste ramp denkbaar. Tafelberg, 2020. 

Resensent: Joan Hambidge

 

Francois Smith het bekendheid verwerf met die ongekende sukses van Kamphoer (2014) wat oortuigend deur Sandra Prinsloo vertolk is in 'n solo-vertoning. Nou het sy tweede roman Die kleinste ramp denkbaar verskyn by Tafelberg.

 

Hierdie roman het 'n vreemde bekoring. 'n Dokter, ene Gustav van Aardt, bevind hom op 'n vervalle plattelandse dorpie. Hy moet 'n polisieman, Frans Schuin behandel met 'n bosluisbyt.

 

Daar is 'n eskar (oftewel die bytplek van die bosluis). Soos wat die dokter soek na merke op die lyf van die polisieman, sien ons die letsels in sý psige raak deur dit wat hy raaksien.

 

In én om die spreekkamer word ons voorgestel aan mense en ontvangsdames. Die wyse waarop hulle beskryf word – in ongelooflike détail – is opmerklik.Die ligroos-bogie van afkeur, die talkpoeier-grimas van minagting, is hoe 'n vrou se reaksie beskryf word (41).

 

By 'n besoek aan 'n township fokus die verteller op die seksorgaan van die baba. Skoene word bekyk. Tekkies en drafskoene en hoe iemand die hoofkarakter uitgelag het as kind. Die roman lewer eweneens kommentaar op onverwerkte jeugpyn en hoe dit oorgedra word op volwasse verhoudings. Die asblik van die onbewuste, verneem ons (39).

 

Ons sien hoe 'n man reageer op sy jeug en waarom hy besluit het om medikus te word. Die menslike liggaam word klinies en in mediese terme beskryf. 

 

Alles is nie pluis met Schuin se doen en late nie. Is hy net hier omdat hy deur 'n bosluis gebyt is? Die dokter stel ondersoek in en die leser word op 'n reis geneem asof dit 'n speurverhaal is met 'n oplossing. Dit is helaas egter 'n soeke na presies waar hy homself bevind na die verlating deur sy vrou en 'n seun wat hy nie begryp nie. Die musiek van Mahler is 'n belangrike kode nes die begeleier, Thys Teise wat hom van raad bedien.

 

Waarom is sersant Portia se naam en nommer in Frans se Schuin se hand?

 

Wat maak die Kubaanse dokter, Ojeda presies hier? Hoekom word dit ingebed in die vertelling? Wil die skrywer hiermee die oorlog in die ou-Suid-Afrika aktiveer? Of dat Kubaanse dokters nou weer in ons midde is? Kyk hoe word 'n dominee op sy oefenfiets beskryf.

 

Smith speel met vele kodes: die konvensionele liefdesroman met die dokter op die dorp wat deur die vroue begeer word, word hier nek omgedraai; die speurverhaal wat afstuur op sluiting of closure: hier is 'n verdagte of 'n probleem wat van jou die leser 'n speurder maak. Hier implodeer die roman telkens en blyk elke leidraad of kode 'n vals een te wees.

 

Dis geskryf met sjirurgiese presisie en ou Afrikaanse woorde word lewend(ig) gemaak. Is dit 'n analise van hoé ons eens idilliese platteland daar uitgesien het en dat 'n besoek van 'n wit man aan die township onmiddellik gesien word as 'n soeke na die transgressiewe?

 

Dit is 'n boek van displacement. Van abandonment. 'n Reis ín die psige ín, geskryf in keurige en soms outydse Afrikaans. 'n Mens blaai telkens terug om Mahler-verwysings weer te ontleed. Visconti gebruik die musiek van Mahler in sy film Death in Venice (1971). Daardie pragfilm oor onbeantwoorde liefde, nee, eerder 'n fantasie in die ouer persoon, gebaseer op Thomas Mann se novelle Der Tod in Venedig (1912). Mahler se naam was immers Gustav; die hoofkarakter is Gustav van Aardt; van die aarde dus.

 

En Mahler het as komponis ook 'n brug geslaan tussen die 19e-eeuse Austro-Duitse musiek en die modernisme aan die begin 20e-eeu. Hierdie roman wil dalk eweneens 'n soort oorgang wees van hoe Afrikaanse prosaïste oor die platteland gaan skryf.

 

Francois Smith vang in hierdie ondergestemde roman die "irony's edge" (Linda Hutcheon) vas van wat ons weet vir ewig verby is.  

 

Dit is 'n roman vir stadiglees, vir terugkyk en terugblaai. Soos wat Mahler se musiek tot gevolg het. Of soos 'n mediese handleiding waar jy die verskillende plastieklae geplak oor organe moet afhaal om by die essensie uit te kom.

 

Die belewenis van die indertydse bykans idilliese bestaan teenoor die tyd van onrus en onsekerheid word helder verbeeld.

 

Die voorblad suggereer iets van die essensiële. Geraamtes dalk van ...

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Monday, July 27, 2020

Resensie | Karen de Wet (samest.) - Vers en Vrou | Human & Rousseau, 2020

Karen de Wet (samest.) - Vers en Vrou. Human & Rousseau, 2020. ISBN 978 0 7981 8066 5 

Resensent: Joan Hambidge

I
Hierdie is nie 'n resensie nie. Dit is 'n kanttekening van 'n medewerker aan hierdie besonderse boek. Die bloemlesing – saamgestel deur Karen de Wet – se bekendstelling is weens die grendeltyd gefnuik. Toe word ons genooi om elkeen 3 verse voor te lees via whatsapp en na Hélène Prinsloo by NB uitgewers te stuur. Gaan luister hier en deel gerus.

By die luister en lees van hierdie verse kom die luisteraar en leser onder die indruk van die veelkantigheid van die vroulike Afrikaanse digter – lankal nie meer 'n digteres nie  – hier te lande. Die vrou is nie meer 'n “aanvulling” nie of 'n 'n nie, om Ingrid Jonker buite konteks aan te haal. Sy het eweneens nie meer die goedkeuring van die manlike orde nodig nie. Wanneer vroue oor moederskap of die kombuis dig, is daar 'n kritiese diskoers. Sy is nie meer die tweede seks nie. En wanneer sy buite die orde van die normatiewe dig en as grensoorskrydend tipeer mag word – met woede of opstand – is dit relevant.

Geslagsdiskoers – genderdiskoers – is immers lankal besig om die hiërargie van die manlike orde bó die vroulike orde te dekonstrueer.

Die chronologie wat dikwels die uitgangspunt van 'n bloemlesing is, word hier vermy en die samesteller plaas die gedigte róndom temas. Of issues, soos die moderne uitspraak dit sou wou hê. Elisabeth Eybers beland langs Antjie Krog. Patricia Witz langs Olga Kirsch. Corné Coetzee langs Ronelda Kamfer wat vroue uit die Bybel eiesoortig beskou.

Minder bekende digters word aan ons voorgestel en verse kry in hierdie bloemlesing 'n kragtige nuwe betekenis. Of gedigte van Olga Kirsch oor haar vader staan neffens ander minder vertroude gedigte oor vaders.

Selfs die mees belese leser van die digkuns sal hier afkom op minder herkenbare gedigte.

II

In 'n bloemlesing of antologie kry gedigte 'n nuwe betekenis weens die plek wat dit inneem binne 'n onderafdeling of rubriek. Gedigte steun so op mekaar en leer mekaar as't ware beter ken. Die temas is eindeloos. Elke denkbare aspek van vrouwees word hier bekyk: die vrou en haar geliefdes, aborsie, verhoudings met minnaars en minnaresse, ontrouheid, gay-seks, die verhouding met die vader / moeder, die geboorte van 'n kind, die ervaring van die dood, die ervaring van 'n kind wat binne-in jou beweeg en by groot digters word dit alles beelde en inspirasie vir die skryfproses soos in Krog se “eerste teken van lewe” (216). Daar is gedigte oor ontmaagding, bloedskande en prostitusie. Dwelms en drank. Verlies aan taal.

Jelleke Wieringa se “Dit kan nie wees nie” (200) tree kindermolestering aan met die ouers se bekende reaksie dat “hierdie oom vark” dit nie kon doen nie:

en hy piesang 
met sy vingers
onder my broekie 
se rek in
...

Vrouens het agentskap, soos Martina Klopper se wrang “Date rape” (189) bewys. Die vrou weet dit is 'n dicey date, speel saam en verander dan van besluit:

Uit 'n vervelige afspraak
is daar geen gedig te maak nie.

Dan het jy weer Krog wat die man skaamteloos tot objek verklaar en wonder hoe hy sal vaar in die kooi:

sou  nie eens met mans gepraat het
as dit nie toefallus was (132)

Die male gaze word hier 'n vroulike blik wat oorneem en besit. Sý verklaar die man tot seksuele objek. Of die minnares se lyf en psige word bespied. En 'n straight-vrou kan dit ook deur fantasie beskou (en ondersoek) soos Krog op bladsy 129:

1.
ons is alleen in die sauna
jy dink ek is straight omdat ek getroud is
ek wéét jy is 'n taai straight suburban koekie
ek maak my bo-stuk los en draai op my maag
ineens peul jy uit jou eenstuk
jou ongetande gedeeltes highlights in die stoom
bobbel jou borste in 'n satynglans van sweet
my hele vagina ruk boontoe
ek lê sprakeloos toegeswel
argeloos tuimel jou cellulitelose bene oop
en ek voel of ek wil uitpass
soos my tong reeds
grondboontjiebotter op 'n heuningsny rondsmeer

So klink die opvolgvers wat nie opgeneem is nie:

2
jou tiete twee massiewe sampioene
hulle jol juggle juggle juggle
jy kyk gulsig na my lebberige maag
waarin binnegoed computergames skiet
ek slaan my vingers soos klou in jou dye
god! al taal wat hier geld is “ferm vlees”
en soos ek jou lyf oor die mat rol
en jou tong in duisende tonge rasperig my brandsteek
wens ek ek het, nee jy het, nee ek
wens ek iemand hier, het piel!

Greta Sauerman se liriese “Die fluitspeelster” (120) verwys inderdaad na die dubbele fluit wat sowel die skryfproses as die gesprek met die gode impliseer. En Rika Cloete se “afsêbrief aan 'n regsgeleerde” (104) praat in Latynse terme terug met die geliefde wat haar verniel en verminder het. Die gedig as litis contestatio. Inderdaad die waarneming van so 'n dispuut. Met die digter as die verweerder.

Wonderlike om weer van Sarina Dönges te hoor. “My arme susters” (156) kan gelees word as 'n kodeks vir die lot van vrouwees in hierdie bundel:

julle was peuselkos
aptytwekkers voor 'n maaltyd

Gelukkig nie meer so nie. Ons sien vroue nou met agentskap, met drif wat die orde van die patriargie binnegaan en beslis nie obiter dictum is nie.

In Julia Kristeva se Desire in language (1969/ 1980) verwys sy na die chora en waar die digterlike taal skuilhou. Sy skryf ook oor die matrioska en 'n mens sien met hierdie bloemlesing hoe daar in elke (moeder)gedig verskillende (dogter)digters skuil. En veral hoe Elisabeth Eybers stem gegee het aan verskillende vroue wat steeds werk in Afrikaans.

Marlene Dumas | Elisabeth Eybers

Elisabeth Eybers

Marlene Dumas 

Ek staan nie voor jou portret nie,
nee, dit afgetrek van ‘n webwerf
http://www.arttoday.be/dumas3-2.html
waar elke uiting, gedagte, kliek
opgevang en bewaar word:
selfs gedigte, moet jy weet,
word tans blitsig elektronies versend.
Anders as ‘n brief van jou aan my,
met ongebruikte posseëls
– vir hergebruik, maan jy ironies – 
in die koevert toegevou
teen ‘n slakkepas 
uit ‘n verre Amsterdam.
Nes die skilder wat langsaam
jou portretteer, beskilder en uitstal.
Hierdie is nie ‘n brief nie,
dis ‘n opname van ‘n kyker
wat ‘n gesprek tussen
 ‘n skilder en digter
opteken en verdraai. 
“Stil en helder en apart”
kon jy, predikantsdogter
uit die dorre Wes-Transvaal, 
jouself in woordportrette plaas.
Hoe raam ‘n mens tog ‘n vers?
Was die digkuns werklik
‘n onderdak of ‘n blote tussensang?
Hoe voel jy neffens Naomi Campbell
of Amy Winehouse? 
In my troebel halfjaar
is dit jou oë
stip, agtervolgend
wat iets verraai:
voetjie-vir-voetjie
word mens woordimmigrant,
bekyk jy die lewe
vanuit ‘n sobere afstand,
is dit kruis of munt,
immer immer ter wille
van die ander dors 
se hartritmiek.

Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Tuesday, July 21, 2020

Resensie | Eunice Basson - By die dag | Protea Boekehuis, 2020

Eunice Basson - By die dag. Protea Boekehuis, 2020. ISBN: 978-1-4853-1117-1 (Kunswerk op die omslag: Tipping point deur Frederik Eksteen)

Resensent: Joan Hambidge

By die dag is die tweede bundel van Eunice Basson. Die titel aktiveer 'n idiomatiese segging gelaai met iets van agteruitgang of verandering. Die bundel word ingelei deur 'n motto van Philip Larkin (Days are where we live),  'n digter van die melancholie en bekend vir sy herskrywings van sy eie verse.

Herinneringsverse en verse wat 'n bepaalde plek of ruimte afbaken, word hier aangebied. Daar is 'n sterk bemoeienis met die natuur en omgewing (“skryftekens geëts teen die lug”) en die lykdigte oor geliefdes – soos oor die vader, moeder, broer en Karen Skawran, o.a. – ruk aan die hart. Daarom kan 'n gedig begin met:

Ek sien haar steeds –

Hierdie lykdig som die ingehoue digaksie ten beste op:

Ek neem my ma se hand
Vir my ma (1912–2005)

My ma krimp ineen soos die jare
haar gereedkry en nommerpas
vir die laaste reis.
Oggendtee se ketel het te swaar geword
vir haar hande, moeg van knie en werskaf.
Gewoonte laat verknoopte vingers
steeds oor ’n tafelblad gly ingeval
stof oornag haar trots versand.
My ma word klein, tinktinkieklein,
onseker, broos, aanhanklik –
en ek vou haar hand in myne
waar ons wag op die agterdeur se klik.

All eternity is in the moment  waarsku Mary Oliver, daardie beroemde digter wat ook lewe kry in Johann de Lange se verse. Ofskoon iets verdwyn, of sal weggaan, word dit bewaar in die herinnering of in die gedig.

Vroue en hul ellendes word onder die loep geneem en 'n ongesiene minnares word helder beskryf in “Voorslag” met sy ironiese titel. Die stilte van vergete, ou vroue word pynlik weergegee in die gedig “In klein maat” waar die African violet stom op die vensterbank staan. Die vader se ellendes – 'n slagoffer van die geskiedenis – wag op sy skeppie oorskietkos. “Sien kom klaar” beskryf die Groot Griep en wat met mense gebeur het; dit resoneer nou met ons ervaringe van grendeltyd.

In klein momente vang die digter iets op soos in hierdie gedig:

Geel

Van Caledon tot by Riversdal
skitter die veld kanolageel.
Onder ’n oorhang in dié geweste
word ’n jag dowwerig in oker omlyn –
kameelperde en ’n string volstruise
wat kol-kol deur wind en water
tot skimme vergeel.

Hier is pragtige beeldverse oor huiswerkers en die lot van mense wat ongesiens verniel word deur 'n sisteem van politieke ongeregtigheid. Soos in alle feministiese en vrouebundels, word vernielsug en haatlikheid teenoor vroue uitgewys. Die moeder wat in die agtergrond moet bly en die hartverskeurende gedig oor die kind Poppie wat deur haar ouers verniel is en wat wye media-aandag geniet het. Hierom word die naam (soos) 'n rondomtalie wat steeds bly roep oor almal wat hieroor stilgebly het.  Hierom word die ellende van die Papawerbruid in Afganistan 'n vuishou in die maag. Die Suid-Afrikaanse landskap word ook teen Aleppo, Herat en Delhi geplaas.

In Hélène Cixous se beroemde essay Uitgange / Sorties wys sy op die spanninge in die verhoudinge van outoriteit, van voorreg en gesag. Hierteenoor is daar die meester en slaaf-verhouding, en die skryfdaad, volgens hierdie teoretikus, hef opposisies en konflik op. En bring uiteindelik herstel.  Cixous het eweneens die verskille tussen háár Franse en Algerynse landskappe beskryf in The writing notebooks (Contimuum, New York, 1974).

Die bundel vra: waar is jou hartlandskap? In die ervaring soos beleef of in die gedig soos agterna-beleef? Is die gedig 'n urne of skatkaart? Dalk duiwelsbrood?

As kunskenner en -teoretikus is Basson se ekfrastiese verse onthoubaar: Irma Stern, Nel Erasmus; en veral hierdie een oor Pierneef:

Pontdrif, Limpopo, Junie 1956
Na ’n potloodtekening deur JH Pierneef (1886–1957)

Sy hartland is hierdie boswêreld
waar hy vroegdag, in sy element,
met ’n leersak potlode en kryt gaan sit,
pyp stop, bewus van ’n kolonie muishonde
wat elke beweging uit die verte bespied
soos hy die veld in grafiet belyn,
met ’n seker hand nuwe lewe gee aan drie,
vier apiesdorings in ’n oopte, omring
deur grysappel, blouhaak en witsering.
Later sal hy nog hier en daar ’n tak ligweg arseer,
terugstaan, hom hierdie toneel bly indink,
moontlik in kleur, op ’n groter doek getransponeer
in sy stil ateljee waar hy die boskorhaan
en kwêvoëls van dié oggend weer wil hoor roep.

Hier is aangrypende lykdigte opgeteken en 'n afskeid aan die jeug en waarskynlik 'n verlore liefde:

Niks meer nie

Kom bly by my, al trek my oë deesdae water.
Hou my sonbevlekte hande vas –
net dit, niks meer nie.
Kom bly by my al sit ons net en peusel
aan dit wat was. Niks meer nie.
Al is my kraag deesdae hoog geknoop,
jou hande onbeholpe en skaam,
sit hier by my, net hier,
en lees ’n geliefde reël of twee.
Net dit, niks meer nie.
Wanneer ek soos ’n blaar lig word
en oor die tuin wegwaai, pluk soos altyd
dan ’n pot vol krismisrose, pienk en blou,
vir die voorportaal, oranjegeel
kappertjies vir geur.
Vir dit wat was. Niks meer nie.

By sommige verse voel hierdie leser dat die slotte dalk skerper kon wees of dalk meer vormgerig? Maar dit is 'n klein persoonlike kanttekening vanuit persoonlike smaak. 

Dit is 'n bundel met potloodsketse wat jou bybly. Jy keer terug na die delikate seggings en die mineurtoon van hierdie tweede bundel met 'n titel wat agteruitgang en verloedering impliseer. Niks is meer soos dit eens was nie.

In klein maat baken hierdie digter haar ruimte af.

Eunice Basson

Sunday, July 19, 2020

Resensie | Jakobus van der Riet - Die heimlike heiligdom | Protea, 2020

Jakobus van der Riet: Die heimlike heiligdom. Protea, 2020. ISBN 978 1 4 853 1022 8

Resensent: Joan Hambidge

Jakobus van der Riet se Die heimlike heiligdom is sy tweede bundel na Die onsienlike son (2012). Hierdie tweede bundel bestaan uit aangrypende sonnette oor heiliges. Die heimlike heiligdom soos in die kenbare, die sigbare, die aanvaarbare teenoor die “unheimliche”. Freud se bekend term Das Unheimliche roer dus in die ondergrond. 

Die bundel bevat 'n vyftigtal bepeinsings of meditasies oor heiliges wat deur die Oos-Ortodokse kerk gekanoniseer is. Die digter verskaf ook endnote vir die leser. Die digter is ’n geordende priester in die Griekse Ortodokse kerk. Ons verneem ook dat hy die grade behaal het in die Teologie en Klassieke Tale, en ’n doktorsgraad by Wits verwerf het oor die digkuns van Horatius, Catallus en Tibullus. Hy kombineer tans die Ortodokse priesterskap in die bisdom van Johannesburg en Pretoria. Verder verneem ons dat hy ook bibliotekaris is.

Dit is 'n bundel wat sterk tot hierdie leser gespreek het om 'n verskeie redes. Die beskrywing van die meditatiewe en religieuse dimensie – soos in die verse van Sheila Cussons – is boeiend. En terselfdertyd kom 'n mens onder die indruk van die digter se óngelooflike tegniese beheer.

Die religieuse lewe bring hy hier onder woorde byvoorbeeld in die “Die Heilige Evangelis Lukas” (14) waar hy hom so tipeer:

maar sin ná sin bly jy immer die selfbeheersde stilis

met 'n die pragslot:

Lukas, kyk hoe tref die litotes en onderbeklemtoning,
sodat die gegewens des te meer uit die boekrolle spring.

Boonop is Van der Riet se verse in oortuigende sonnette verpak. En wanneer hierdie vorm oortuig, beweeg die gedig moeiteloos. 'n Swak sonnet staan uit soos 'n pap wiel.

Die klinkdig is 'n strikte vorm hetsy die Petrarcaanse (Italiaanse) of Shakesperiaanse (Engelse) vorm. In Engels is daar ook die Spenseriaanse-vorm. En vele afwykings bestaan; o.a. die gebreekte sonnet so meesterlik uitgevoer deur Johann de Lange. Hennie Aucamp het puik sonnette geskryf en dikwels is beoefenaars van die sonnet ook liefhebbers van die kwatryn. Opperman en Eybers byvoorbeeld, en die reeds genoemde Aucamp en De Lange.

Die beoefenaar gee sy of haar interpretasie van die vorm.

Die Italiaanse sonnet (met die oktaaf en tersine) het 'n keerpunt (volta). Die Engelse sonnet volg die abab cdcd efef gg-patroon met 'n verdeling tussen drie kwatryne en 'n sluitende koeplet. In Break blow burn, daardie verruklike studie wat in 2005 verskyn het, sonder Camille Paglia tereg die sonnetvorm uit as 'n gunsteling. Met twee van Shakespeare. 

Emosie word in so 'n vorm gekristalliseer, verduidelik sy. En dis die essensie van Van der Riet se gedigte – die emosie word in beheer gehou deur die vorm waarin hy dit giet.

Van der Riet dig oor vele heiliges in Griekeland, Kappadosië, Kiëf, Konstantinopel en ander plekke. “Die heilige Kassiani die gesangdigter” het geleef tussen 834 en 867 N.C. Van haar gesange word steeds vandag nog gebruik. Sy het die ikonoklasme teengestaan met die bekende woorde: “Ek haat swye wanneer dit tyd is om uitgesproke te wees.”

Hier lees ons:

vir jou wat jou veer so diep kon doop in die psige se ravyn,
om ons die maanlose nag van selfverwyt en berou te toon? (38)

Hierdie bundel het my geneem na Helen Gardner se se antologie A Book of Religious Verse (1972) en hoé religieuse gedigte 'n bepaalde leser opeis, en ook haar eweneens beroemde studie oor John Donne: The Divine Poems of John Donne (1952).. Gardner was immers 'n Anglikaan en haar studies oor T.S. Eliot is uitstaande.

Hier is 'n gedig:

Die Heilige Paisios van die Heilige Berg

Jy vlieg verder, swerfvalk van God,
op jag na die tergende, lokkende prooi
wat skuil op Sinai se kruin of straks in ’n grot
aan Athos se hange, Tuin van die Nasaretnooi.

Vir jou, Paisios, bring die visarend vis,
in jou hand soek Walid, die rooiborsie, kos;
by jou luier die wesel, skilpad, slang en akkedis.

Jy sweef hoog, malmok van die Gees,
omsirkel die pole van ons gefolterde eeu
tot in jou verste vlerkveer gevoelig waar hees
die krete opklink, verwees soos dié van ’n roek of meeu.

Jy skrop nes, soos ’n bospatrys of ’n kelkiewyn;
naglank waak jy – hoe roep die uil, hoe huil die vos –
tot die lig deur die donker wolk van ons wanhoop skyn.

Dit is 'n pragtige, aangrypende bundel. En uiters leersaam.

Hierdie bundel neem sy plek in langs groot religieuse digters in Afrikaans, onder meer W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw (“Vier gebede by jaargetye in die Boland”), Sheila Cussons, I.L. de Villiers, T. T. Cloete. 'n Goeie balans tussen die konkrete en die abstrakte dimensies, opgevang in die die 14 reëls van die sonnet met sy metriese eise.

Dit word bemark as bepeinsinge of meditasies, maar dit sluit aan by die lang tradisie van die sonnet in alle tale. En hier is 'n moderne sonnet van een van my gunsteling-digters:

Sonnet

Afternoon sun on her back,
calm irregular slap
of water against a dock.
Thin pines clamber
over the hill’s top –
nothing to remember,
only the same lake
that keeps making the same
sounds under her cheek
and flashing the same color.
No one to say her name,
no need, no one to praise her,
only the lake’s voice — over
and over, to keep it before her.

Robert Pinsky


Jacobus van der Riet



(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)