Gisela Ullyatt (1977 - 2020)
In jou eerste en laaste bundel myn
jy die vibrocrete dae van jou jeug.
Op 'n Saterdagmiddag ná jou vertrek
word die digkuns meer as die waarheid
van duiwe of sprokies se wonde en letsels:
"Ons harte is vol van gemors en verdriet".
Vir oulaas stuur ek 'n vers vir jou as redakteur
oor die laaste grenspos wat alle pyn óphef:
soos die afdruk van 'n bees in restaurant
om snitte konkreet voor te stel vir die besoeker
wat presies kan kies en weeg die rugstring
van die familieskap of die hart afwesig
vol verlore liefdes en verbintenisse
tot die dermkanaal elders opgestop
met 'n karmenaadjie vir die afwesige leser
wat wónder oor 'n lykdig as consolatio?