Monday, May 1, 2023

Resensie | Peter Anderson - Night Transit | Dryad Press, 2023

Peter Anderson - Night Transit. Dryad Press, 2023. 

Resensent: Joan Hambidge



I  Vooraf


Peter Anderson is tereg ‘n bekroonde én gerekende digter. Die Thomas Pringle- en die Sanlam-pryse is aan hom toegeken. Sy vorige bundels heet Litany Bird, Foundling’s Island en In a Free State: A Music.

 

Vanaf sy debuut in 2000 het hy die landskap van die digkuns verryk. Sy gedigte dra ryk verwysings vir die leser wat die tegelykertydsaspek van hierdie gedigte begryp: voëls en sterre. Larwes en seediere soos die krill of dugong. Reise oorsee of na die Oos-Kaap. Rome teenoor België. Die Rwenzori gebergtes. Kareedouw versus die Witwatersrand.

 

Catullus teenoor Coleridge. Suid-Afrikaanse geskiedenis teenoor die groter geskiedenis. Karl Marx versus die bevryding in vele lande …

 

Herinneringsreise en reise in die geskiedenis terug en verskillende tale word ook aan bod gebring: Xhosa, Afrikaans, Iers, Italiaans, Latyn …

 

Stilte teenoor geraas.

 

Die geskiedenis van die hede soos die verwydering (en verbranding) van skildery by UCT (“Take Art (Burning the Pictures)”) teenoor die Kristallnacht. Die figuur Heinz Guderian word eweneens betrek waar hy Tolstoi se landgoed beset het tydens die WOII.

 

Hierdie omstrede generaal word ook onthou vir sy memoir geskryf ná die oorlog.

 

Kolonies en gedekoloniseerde ruimtes (soos Maputo).

 

And My Heart, Maputo


Nights almost pass while the bay
fails again, the pipes chafe, the sewers
smirch the air and we climb
up through leagues of breath but never
breach, and somehow sleep.

(…)


(76)

 

Orals is daar beweging want die titel Night Transit aktiveer die begrip in transit teenoor situ.

 

 

II  Die digter as akrobaat

 

Die tegniese beheer van die digter is opvallend. Soos in die vers “Cutting” (87) waar die mes as geskenk van die geliefde vriend die “cutting edge” van hierdie digter se werkswyse illustreer.

 

Die mes – waarvoor hy betaal hy sodat hy nie in die skuld by die vriend sal wees nie – is ironies genoeg die simbool van húl vriendskap. Vol aanpaksels en die woord ligeen waarsku die leser dat die vriend oorlede is.

 

“Quagga Foal” (66 – 68) is klein wyshede oor die Suid-Afrikaanse museum, iewers tussen die haikoe en die Taoïstiese wyshede te vinde in die Tao Te Ching. Met ‘n kopknik na Ezra Pound.

 

10

In the species of the dead. We are

scarce alive, we are the smallest dust,

and though the stats are stacked in strata

(67)

 

“Deposition of Marsyas” (44) speel met die sonnetvorm (selfs genommer) en word opsetlik ‘n mislukte een.

 

3. My music cut both ways.

 

Daar is kodas en selfs ‘n skitter prosagedig “The Nativity” (31).

 

Die klankmatige aspek van hierdie bundel is eweneens opvallend.

 

 

III  Fokalisasie

 

“Equator” (55) is ‘n sentrale vers waar al die temas van die bundel saamgesnoer word: die kykende, ervarende digter teenoor die twee vroue wat stap na Lesotho.

 

Die reiservaring en die gevoel (via Auden) dat die digkuns niks verander nie. Hierom dat die gedigte vir die afstandelike geliefde (van wie hy nooit weer sal hoor nie) op die piazza gelaat word. Dit speel terug op die gedigte oor Catullus en sy geliefde Lesbia: odi et amo (“On the Beaks of Finches”, 29).

 

Die liefdesverse is boeiend – soms met die werklike geliefde; ander kere afwesig. Die groot liefdesverhouding in hierdie bundel is met taal. Die soeke na die perfekte, afgemete woord wat die leser dwing na woordeboeke om sinonieme (en antonieme) op te soek, is tersaaklik.

 

 

IV  Opperman en verder terug …

 

William Shakespeare:

 

It's not in the stars to hold our destiny but in ourselves …

D.J. Opperman: Negester oor Ninevé (1947) 

 

Jungiaanse sinchronisiteit in hierdie bundel is opvallend: Johann de Lange se Die meeste sterre is lankal dood (2020); Joan Hambidge Nomadiese sterre (2021); Linda Ann Strang Star Reverse (2023) bewys Jung reg. Waarom is digters tans so geobsedeer met die sterre? Dalk ‘n soeke na primordiale waarhede?

 

In die vyfde afdeling word dit voltrek in “Little Poem of the Hare and the Stars” (103):

 

Under an astonishment of stars,

as a hare leaves its form, so

stood the matter: desire, of yours -

 

In die afskeidsvers vir sy vriend Stephen Watson wat “Skies” (88) heet, sluit die vers:


The cormorants whittle each other’s necks

to love-spoons. Planets begin their thing. 

 

Die voorblad van Hanien Conradie heet dan ook Die Hart van Dagbreek en die agterplat: Tankwa Dawn begelei binne met Die Groot Verlange en Silence Behind the Sound.

 

Alles temas in Anderson se bundel wat hierdie kunstenaar ook vertolk. Haar kunswerke is uit 2021.

 

 

V  Die digter as sterrewiggelaar

 

Veral, soos reeds vermeld, is die primordialiteit van hierdie bundel uitsonderlik. Klippe word ‘n soort tarok wat die leser begelei om dieper betekenissse te vind. In “Llanelieu” (94) in Powys,  Wallis aktiveer die Keltiese wêreld. Iets oers word geaktiveer, want kerke is gestig in die 13e eeu. En Wallies, die Keltiese taal, word ook ingebed in hierdie komplekse gedig.

 

Tale oorleef soos klippe en graniet.

 

Onvermydelik aktiveer hierdie gedig Opperman se gedigte soos “Dennebol”. 

 

‘n Gedig waarin premonisie, die geskiedenis en verskillende vlakke van bestaan saamgesnoer word in een verbluffende gedig.

 

 

VI  Die politieke dimensie soos Fredric Jameson dit artikuleer in The political unconscious (1981)

 

Dit word na vore gebring in “Take Art (Burning the Pictures)” (50) rondom die omstredenheid van kuns wat verwyder moes word (en selfs verbrand is) by UCT. Hierteenoor die sterk gedig:”The War of Makhanda” (61).

 

Maar politiek het kompleks geraak, anders as in die struggle-jare toe vyand gedefinieer was as die Vyand. 

 

 

VII  Die sintuiglike digter

 

Die digter gee  vir ons ‘n ryke wêreld van insekte en plante en oerdiere (krille en die dugong) en seediere.

 

Te midde van slim, ingebedde verwysings – ek dink hier veral aan Coleridge en waarskynlik ook Seamus Heaney – is die gedigte op ‘n eerste vlak genietlik juis omdat die digter op die musikaliteit van die digkuns fokus.

 

 

VIII  Liminaliteite

 

Dit is ‘n bundel van oorgange, letterlik van een epog na ‘n ander, een digterlike konvensie na ‘n volgende. Besoeke van die dooies (in herinnering). Sterre. Equinox. Tydsones. Littorale ruimtes. Landskappe wat verskil (en ooreenstem). Handtekeninge van stiltes …

 

 

IX Derrida / Lacan

 

Hierdie leser lees ook die snit (cut) raak teenoor (of dalk weens) die asperiteit van die onbewuste. Die onbewuste wat sig laat geld (dwingend) in drome en in gedigte. (Die gedig as cicatrice of litteken.)

 

Of die Derrideaanse grammé (teken) en die verskil tussen spraak en skrif soos hy dit poneer in Of Grammatology (1976).

 

In verskeie gedigte is die snit (cut) opvallend. Die sogenaamde split-subject.

 

Ons kan ons-self nie sien nie – hierom die méconnaissance van die self.

 

In nabootsing lê ook méconnaissance opgesluit en die self se belewenis van sigself as brokstukke. Lacan onderskei tussen die verbeelde (imaginaire), simboliese (symbolique) en die reële (réel) wat deur die sinthome ('n begrip wat inspeel op simptoom, Sint Thomas en saint, oftewel heilige) verbind word. Die drie vlakke konstitueer betekenis, te wete die pre-linguistiese of verbeelde fase wat beweeg na die simboliese fase.

 

In die knoop (knot) van psigose of neurose word die pre-linguistiese, simboliese en die reële saamgeknoop. 

 

Lacan verwys ook na die manqué à être wat aan die basis van betekenisgewing lê, die gevoel dat iets ontbreek en hierom moet die ego altyd uitbeweeg en na sin soek buite sigself. Die ego egter is vasgevang in 'n doolhof van spieëls oftewel méconnaissance. 

 

(So het hierdie leser indertyd, in 2000, hieroor geteoretiseer. )

 

Maar die gedig verklap wel iets van ons aard. Net soos die leser eweneens iets weggee van lees as ‘n kwanderie.

Ewig onseker.


 

X Ten Slotte

 

‘n Manjifieke bundel wat sowel met die kop as die hart smokkel. En jou terugneem na woorde. 


Die gedigte gee stadig hul geheime prys soos ‘n mens ‘n Spaanse artisjok afskil …

 

 

Bronne:

 

Derrida, Jacques. 1976. Of Grammatology. Vertaal deur Gayatri Chakravorty Spivak. Baltimore. Johns Hopkins University Press.

Derrida, Jacques. 1978. Writing and difference. Vertaal deur Alan Bass. Londen: Routledge & Kegan Paul.

 

Hambidge, Joan. 2000.  Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. UCT: PhD.

 

Lacan, Jacques. 1966/1977. Écrits. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Tavistock 

Lacan, Jacques. 1973/1977. The four fundamental concepts of psycho-analysis. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Penguin. 

 

 

 

 

Thursday, April 6, 2023

Gedig | Joan Hambidge - Don’t look now | 2023

Sielskerwe glo hierdie besoeke

van die dooies aan ons,

vertel ek vir my digtersvriend

 

vanoggend ná ‘n droom

oor geliefdes en dooies

roepend na ons.

 

Sedert die mees onlangse

vertrekkende roep ‘n swart kraai

voor my venster nie in Venesië nie.

 

Verbeelding of fausse reconnaissance?

Op die beginsel van cui prodest

is ons almal skuldig

 

aan verlange en fantasie

en weier ons om die dooies

‘n ruskans te gun.

 

Ek het die sleutel toegesluit

in die kluis waar jy rus,

Monsieur Joyeux,

 

sibariet, skeptikus, regsman:

met hierdie vers bewys

ek jou tog verkeerd oor

 

die Anderkant.


© Joan Hambidge 

Resensie | Pieter Marais – Konkel | Protea, 2023

Pieter Marais – Konkel. Protea, 2023. ISBN: 978-1-4853-1447-9

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Konkel van Pieter Marais is satiries in aanbod. En satire is een van die moeilikste genres binne die kunste, omdat die teiken van die satirikus dikwels verdwyn of verouder. Ander kwessies bly egter konstantes. Die selfwaan, -oorskatting en belaglikhede van persone (of gemeenskappe) word ontmasker in oordrywing.

 

Archilochus (700 V.C) was die eerste satyros-skrywer met aanvalle op Lycambes. In Afrikaans is Etienne Leroux die meester.

 

In Konkel vind ons reeds in die name ‘n satiriese blik (Jurida, Giel – ons ken almal die ou grappie –, Laetitia Snoek,  Peester Pienaar, Oom Stywelyne, Goebbels von Messerschmitt, Vrede Volmoed …). Bennie Griessel is hier ‘n karakter, ‘n afgetrede speurder van die Kaap, en só word dus ‘n stekie uitgedeel na ‘n medeskrywer. Boonop is daar ‘n sepie Lawaaiwater, wat veral op manlike kykers gerig is (115).

 

Die ruimte is Joegaai en daar is ‘n verwysing na Lexington-sigarette en ons ken die meme van die meisie wat die sigaret rook (onpoets) en hier sterf ‘n karakter (vrou) onverwags. En daar is verwysings na ‘n dildo. NEST (‘n knipoog na James Bond) en samesweringsteorieë. Paranoia en Elon Musk wat meen dat gevorderde kunsmatige intelligensie gevaarliker as kernwapens kan wees (125). Die leerstellings van die Ma’at teenoor New Age-gelowe. Khoi-Renaissance-olies is ook in die opstuur-mengsel. Soos die leuse IbaLapha en huise in die buitenste ruimte. 

 

Vuige taal en die abjekte kenmerk ook die satire.

 

Douglas Adams lei ook die leser verder nes Aucamp.

 

Die Dwerg is ‘n reus van ‘n man. By Etienne Leroux is dit natuurlik die reus in Een vir Azazel.

 

II

Alles tersaaklik om by die eintlike punt uit te kom: maskuliniteite en die manlike fantasie. Hierdie roman moet saamgelees word met Jaco Alant se Is mos oos; Piet van Rooyen se Antraks en Ruan Kemp se Wit leuen. 

 

Joegaai by Marais; Uiopa, die nuwe unitêre staat, met Tempelbult as hoofstad by Kemp.

 

Piet van Rooyen steek die draak met die krimi-kultuur en Ruan Kemp wys op hoe leuens ons lewe reguleer. En manlikheid word vanuit verskillende hoeke belig in hierdie romans.

 

In die tagtigerjare het verskillende manlike skrywers oor die grensoorlog geskryf. Nou het ons hierdie satiriese aanbod met die suffering joker, soos in Malcolm Bradbury se The History Man (1975), hierdie soort karakters en vertellers tipeer. Bradbury se roman bly ‘n baken in satires oor die kampuslewe.

 

Indien vroueskrywers alles mag oopskryf, is die manlike blik eweneens tersaaklik. Gay en straight.


Al hierdie romans vra vrae oor toksiese manlikheid. By Marais is daar ‘n kritiese blik met satire se handlangers: parodie, sarkasme en ironie.

 

Is hierdie roman ‘n korrektief op dit wat dit kritiseer of satiriseer? Die satirikus hou immers ‘n spieël voor die leser. Agter dit is daar immers die implisiete norm van hoe alles kon wees. En dit wil alles in die bek ruk.

 

En die slot lees: “Hy ry met vlieënde vaandels; galop selfs met die branders se perdjies sodat sy hare in die wind waai en seesproei op sy arms en gesig spat. Hy kyk in die truspieëltjie en sien ’n fees.” Dis Vrede Volmoed se binnespraak.

 

Ten spyte van die feit dat die e-pos aan Bielefeld se munisipaliteit terugkeer.

 

Die werklikheid en die beheptheid met maklik-toeganklike literatuur word opgestuur. En hoe ons steeds deur RP-publikasies (Antraks) en sepies (Konkel) beheer word.

 

III

So tussen die Meisie van Avignon en Assegaai is daar lekker grappies soos “hy voel gestroop. Soos ’n kaalgeëete sosatiestokkie …” in Konkel.

 

Identiteitsverandering is hier die belangrikste sleutel, eweneens ‘n verpesting van ons moderne tyd.

 

Inderdaad lees ons: “Jy leef net twee keer – jou eie lewe en die lewe waarvan jy droom.”

 

Inderdaad. Die Utopia bestaan nie. Dis distopia en die harde werklikheid.

 

Die skerp assegaaipunt van die satirikus begelei die afdelings

 

Is daar ‘n konkel of kinkel in die kabel?

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Tuesday, March 28, 2023

Resensie | Nick Mulgrew - The Book of Unrest | uHlanga, 2022

Nick Mulgrew - The Book of Unrest. uHlanga, 2022. ISBN: 978-0-620-98690-8

Resensent: Joan Hambidge

 

Receding now, the floodwater masquerades as ocean.

Every day the intertide rises further, approaching 

the horizon in a parallel band: the coast is leaking grey;

even the dullest shades of blue desert the ruined bay.

 

Hierdie is die tweede bundel van Nick Mulgrew, uitgewer en bekroonde skrywer. The First Law of Sadness ontvang die 2018 Nadine Gordimer-prys en sy roman A Hibiscus Coast, was op die langlys van die 2022 Sunday Times Fiction Prize. In 2016 ontvang hy die  gesogte Thomas Pringle Award en was hy ‘n finalis vir die National Poetry Prize.

 

The Book of Unrest is ‘n bundel waarin die digter deur ander Durban-skrywers sy eie ervarings karteer: elegies, melancholies met ‘n besinning van die plek van die digkuns in turbulente tye. Bekendes soos Imraan Coovadia, Sally-Ann Murray, Richard Turner, Ronnie Govender, Douglas Livingstone word aangespreek.

 

Fernando Pessoa is ‘n belangrike kode vir hierdie bundel. Hierdie digter het verskillende personas geskep soos Alberto Caeiro, Álvaro de Campos and Ricardo Reis. Die Portugees-gebore digter Fernando Pessoa (1888 -1935) het van ouderdom sewe in Durban gewoon waar sy vader konsul was.


Deur ander digters uit Durban te betrek, word ‘n komplekse diskoers uitgestal. Die leser wat bekend is met die digters waarop hy steun in sy reaksies, word gekonfronteer met ‘n ryk skat van verwysings en palinodes soos “Dramatis personae” (11) dan bevestig.

 

Dit word ‘n bestekopname van jeugervarings waar die ouers aangespreek word en die dood van ‘n kind wat hom in die herinnering agtervolg. Hierom dan ook ‘n reeks waar die getalle van agter na voor werk met skerp politieke kommentaar. “Dogma” – in gesprek met Douglas Livingstone – hanteer die religieuse en politieke dimensies en word ‘n aangrypende ars poetica. Een waarin die digter konstateer: dit is soos dit is …

 

Hy skryf oor die “littoral zone”, ‘n belangrike metafoor vir die begryp van die gedigte, omdat die spreker afduik in die onthoue wat deur die onbewuste na vore gebring word. Dit is dan ook die titel van Douglas Livingstone se bundel van 1991.

 

Daar is pragtige, onthoubare beelde soos “The sun is a cartouche without graven name or image” (15) 

 

Teenoor Afrika-woorde soos umlungu, dala, gwaai is daar die litanie van pyn binne ‘n Westerse mens wat al die teenstrydighede van hierdie vasteland probeer versoen.

 

“Rewriting is unwriting” en later: “writing is unwriting” (55) aktiveer die werkswyse van Roland Barthes in sy poststrukturalistiese periode soos in S/Z (1970/1974).

 

Barthes se lisible (leesbare) versus scriptible (skryflike) leesaksies is hier tersaaklik. Die leser in The Book of Unrestword uitgenooi tot ‘n skryflike leesaksie waar jy ander tekste saam-lees en oopmaak. Soos Pessoa met sy verskillende gedaantes en maskers geplaas teenoor Douglas Livingstone, die Durbanse marine bioloog, gebore in Kuala Lampur. En ágter hom skuil Roy Campbell, nog ‘n magistrale Engelse digter, vereer deur D.J. Opperman in ‘n lykdig “By die dood van Roy Campbell”.

 

Met daardie ongelooflike reël:

 

ek ken die brons krisante van die pyn.

 

Die digter is tegnies bedrewe en veral sy jeugherinneringe gryp aan die hart. Die dood van ‘n kind – ‘n soort politieke metafoor – vir weerloses en verskoppelinge is treffend.

 

Die bundel bevat odes, ‘n aubade (oggendlied), ‘n gebed en ‘n spel met spreekwoordelike draaivers (“Home poem”, 23) of pantoem. Hierdie vorm uit Maleisië bevat 4 kwatryne met herhalings van reëls wat oorloop van een strofe na die volgende.

 

Die leser vind dikwels ook die lament in hierdie bundel. 

IV

 

I too left that coast at seventeen, but I am not Fernando.

But neither was he. Nor Ricardo, Ālvaro, Alberto.

Oh, to be the elderly child stuck in the city of their mother,

dreaming only the dreams they dream; only the dreams of others.

(54)

Met die wete dat die verskillende digterlike selwe of personas geskep is uit herinneringe en mites.

 

Genoeglik die vers wat ‘n ode is aan ‘n tyd buite tyd en ruimte. Hiermee wil die digter die kwessie van herinnering aanspreek wanneer hy nie in die trope is nie (12). Die digter is tans woonagtig in Edinburgh met nagraadse studies aan die Universiteit van Dundee. ‘n Veraf blik dus.

 

‘n Klein bundel, maar die gedigte is verpak soos dinamiet.

 

Bestel van Uhlanga press http://uhlangapress.co.za/

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Sunday, March 19, 2023

Resensie | Jerzy Koch | Polkadraai | Turskvy, 2022

Jerzy Koch – Polkadraai. Turskvy, 2022. 110 bladsye, R250. ISBN: 978-0-6397-2418-8

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Die vertaler, digter, bloemleser en literatuurgeskiedskrywer se tweede bundel, Polkadraai, gepubliseer deur Turksvy Publikasies, is ‘n beduidende en aangrypende teks.

 

Hierdie digter – verbonde aan die Mickiewicz Universiteit in Poznań, Pole – is ook navorsingsgenoot aan sowel Stellenbosch as Vrystaat Universiteite. Vir sy vertalings is hy bekroon met die M. Nijhoff-prys.

 

Die digter beskryf homself as olea europaea / subspecie africana.

 

Alles relevante inligting oor ‘n digter wat hom op verskillende vlakke met Afrikaans bemoei. Sowel leermeester as kanoniseerder wat skryf oor die verhouding tussen die sentrum en die antwoorde hierop. Hy hou hom besig met zenofanie.

 

Een van die beste artikels oor Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan is deur Koch geskryf.

 

Hierdie leser het die tweede bundel as ‘n soort alternatiewe literatuurgeskiendenis in digvorm benader. Die digter wat van buite kyk na Afrikaans, maar ook die landskap en mense van binne beleef. Van die mooiste en mees aangrypende natuurgedigte is hier te lese, omdat die reisende digter met ‘n onbevange blik waarneem. Denne, naaldbome, pere, fynbos, ‘n bergpas, die polkadraai in Stellenbosch, Jonkershoekweg teenoor die Poolse landskap o.a.



II


Die blik van buite versus die blik van binne is opvallend in hierdie bundel wat reeds in die epiteks (dit wil sê, die buitekennis) saamspeel met die buiteblad: woorde wat vir die leser sleutels gee om die bundel mee te benader of oop te maak. Boegoe, kamma, kierie teenoor decrescit, assumptio, interludium (o.a.). Ek kyk vas in glissandi. ‘n Glissando in musiek beteken ‘n opwaartse en afwaartse beweging. ‘n Verandering van “pitch” of toonhoogte. En die vreemdeling praat dikwels ‘n nuwe taal in ‘n ander tongval. Koch is sowel vlot in Nederlands as in Afrikaans en in Polkadraai is hy soos ‘n musikant besig om musiek te maak, terwyl sy lesers ‘n polka dans of ‘n outydse wals uitvoer. Soms selfs jazz.

 

Daar is drie afdelings: Literatuurgeskiedenis, Grendeltyd en Onder Andere.

 

Die skryfproses is deurgaans ‘n belangrike motief in hierdie bundel nes die ontginning van die klankmatige aspek. Die digter maak aanspraak op die leser se kennis soos in die gedig “wakker word in afrikaans” (92, 93) waar die refrein hier verander anders as in die volmaakte rondeel. Hy vertaal ook Wisława Szymborska impromptu in die gedig “voordrag” (24).

 

In die eerste afdeling is daar besinnings oor die dubbele negatief wat ‘n digter kan pootjie, en daar is pragverse oor Olga Kirsch en Boerneef wat tans deur vele digters besing word. In die tweede afdeling word die verskillende seisoene beskryf en weer eens bly die leser bewys van hoe die digter die klank-aspek ontgin. Maar daar word ook gekyk na ‘n Escheriaanse universum met ‘n oog en oor wat versadig is (36). Dit is ‘n belangrike kode vir hierdie bundel: twee wêrelde wat saam bestaan.


Die Slawiese wêreld is hier aanwesig. In “hoekom poësie” (94), speelse grammatika-les, neem hy die leser na die verskille tussen sý taal en Afrikaans. Die sewe naamvalle (met nominatief, genitief, datief, akkusatief, instrumentalis, lokatief en vokatief) word hier in sy taal voorgestel – in Afrikaans loop dit elke keer uit op dieselfde woord poësie; in sy taal is die uitgange anders.

 

Pools is skynbaar die enigste Slawiese taal waar nasale of neusklanke nog voorkom. So beskou, fokus hierdie leser juis dieper op hoe sy gedigte se klankspel werk.

 

Hy dwing jou dus om stip te lees in hierdie bundel wat ook her-kanoniseer.



III

 

As literatuurhistorikus is daar ‘n parateks. Endnote en verwysings na bekende gedigte waarop ingespeel word. ‘n Implisiete verwysing na Peter Blum en vir my, ‘n andersoortige Die grammatika van liefhê.

 

Anders as by Steyn, steek hy dikwels die grammatika-speletjies weg, maar dwing jou om op te soek.


Die impak van die oorlog en die Russiese wêreld word beskou. Ook in die skrynende “truitjie” (57) die weefwerk van die geskiedenis wat in die herinnering ‘n trompe-l’oeil word.

 

Die oog wat kyk; die oog soos by Escher wat na verskillende vlakke geneem word.

 

Visuele illusies wat in “droom” (99) ‘n pynlike besinning is oor die dood.

 

Van Wyk Louw is is die digter wat die Afrikaanse leser hier sal hoor onder die oppervlak van ‘n gedig.

 

Koch is die meester van grensoorgange tussen tale en verskillende ars poeticas.



IV

 

Soos hy dig in die tweede strofe van “ferweelskrif” (102) hoor ons Anjie Krog se Verweerskrif:

 

…

die nag is die weduwee

van die dag, sê die ou digter

en sien, in daardie lanferdonker

sweef jy tussen die sterrebeelde

en die supersoniese vliegtuig

bring jou anderkant

die berge

na vreemde landskappe

verre strande en

ander tale

 

Dis ‘n bundel vir die egte poësieliefhebber. Slim, maar ook hartgrypend. Speels en ernstig. ‘n Groot sprong na Pleks van plaas (2020).

 

Joan Hambidge is ‘n navorsingsgenoot (Fellow) aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste bundel heet Sanctum.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Tuesday, March 7, 2023

Resensie | Salman Rushdie – Victory City | 2023

Salman Rushdie – Victory City. Jonathan Cape, Londen: 2023. ISBN 978 1 787 3345 1

Resensent: Joan Hambidge

 

Die omstrede Salman Rushdie is onlangs aangeval en met ‘n mes gesteek in die oog. Gelukkig verskyn daar ‘n  roman Victory City, ‘n komplekse en aangrypende roman van hierdie skrywer, wat al vele storms beleef het. The Satanic Verses het ‘n fatwa tot gevolg gehad en Rushdie moes skuil. Selfs ‘n vertaler van hierdie roman is om die lewe gebring. Dit het begin 1989 toe die Ayatollah Ruhollah Khomeini hom beskuldig het van blasfemiese uitsprake.


Oor hierdie kwessie is daar baie sieninge. Diegene wat meen dat hy onsensitief, selfs moedswillig,  was oor die Moslem-kultuur; ander wat beweer die spel tussen fiksie en werklikheid is nie genoegsaam verdiskonteer nie. Ook nie die magies-realistiese aspek en opsetlike verdraaiing van feite is in ag geneem nie.

 

Sekere boeke het wél ‘n politieke of sosiale impak en skrywers kan dit nie altyd voorspel of navigeer nie.

 

Verlede jaar in Chautauqua, New York word hy weer aangeval, wat beteken daar word steeds jag gemaak op hom. In alle waarskynlikheid deur mense wat nie eens die boek gelees het nie. Rushdie, 'n gebore Moslem, is nou egter ‘n uitgesproke ateïs. ‘n Man met verskillende “identiteite” en wat die moderne romankuns verryk het met sy verskillende stylsoorte.


Met sy jongste roman Victory City sien ons weer Rushdie op vol toere. Enorme taalbeheer, kennis van die geskiedenis en natuurlik, sy reeds bekende fantasie. Hierdie roman sou ‘n mens ten beste as historiografiese fiksie kan beskryf, in terme van Linda Hutcheon in A Poetics of Postmodernism (1988): ‘n vermenging van metafiksie (of selfbewuste vertelling) geplaas binne ‘n herkenbare historiese ruimte(s). Hutcheon se studie verwys na History, Theory, Fiction en J.M. Coetzee maak ook etlike spronge in sy roman The Master of Petersburg (1994) wat Dostojefksi as gegewe gebruik waarop die skrywer verder uitbrei en verander. Die dood van Dostojefski se stiefseun Pavel wat verander en aangepas word teenoor die lotgevalle van die werklike outeur.

 

En bekend aan historiografiese fiksie is dat die geskiedkundige dikwels frons oor die skrywer wat die gebeure aanpas en selfs opsetlik verdraai. Die leser moet die oomblikke of oorgange snap tussen werklike gebeure en fantasmagoriese inkleding. Die skrywer speel met die leser en Umberto Eco se Baudolino (2000) is so ‘n teks oor die Middeleeue. Christoffel Coetzee se Op soek na Generaal Mannetjies Mentz (1998) verander die Anglo-Boereoorlog en historiese feite.

 

Daar is vier afdelings in Victory City: Birth; Excile; Glory; Fall. Haar laaste woorde word in ‘n gedig weergegee op die ouderdom van 247 jaar.

 

Die storie handel oor Pampa Kampana, digter, profeet en moeder van die Ryk van Bisnaga, wie se lewe met vuur begin. Sy lewe om 247 jaar oud te word en berg ongeveer 24 000 van haar gedigte wat later ontdek word. Gedigte oor die geskiedenis van die stad en die Ryk. Op negejarige ouderdom sien sy hoe soldate hul stad vernietig en sy word deur ‘n godin met bo-natuurlike kragte vereer.

 

Met die soldate se beleg sterf al die vroue aan selfverbranding.

 

Maar dis ook die verhaal van Hakka en Bukka, konings van Vijayanagar.

 

Hulle ontmoet Pampa Kampana en sy gee aan hul opdrag om die sade wat hulle as ‘n geskenk gebring het, te saai sodat daar ‘n gelukkige stad kan ontstaan met vryhede op alle vlakke waar vroue veilig sal wees. Die feministiese aspek is opvallend. Soveel manlike skrywers gee tans uiting aan vroue se lot en maak hulle stemhebbend.

 

Die veertiende-eeuse ryk word deur Rushdie herbesoek in ’n vertelling wat tussen werklikheid en mite beweeg. Twee vertellers. Pienk apies en slange en ongediertes bevolk hierdie boek. Daar is ‘n bronnelys wat die speurende leser kan gebruik om vas te stel wat hy verander en behou het. City of Victory deur Ratnakar Sadasyula, ‘n amateur-geskiedkundige, is tersaaklik.

 

Hierdie roman moet saamgelees word met The Peacock Throne (1984) van Sujit Saraf en Vikram Seth se An Equal Music (1999), treffende boeke wat al die fasette van ‘n meervlakkige gemeenskap aanspreek. Dit is ‘n teks wat verder resoneer met V.S. Naipaul se Bend in the River (1979) en Arundhati Roy se The God of Small Things (1996).

 

Die lewe en romans van Rushdie – wat buite Indië leef – neem ‘n mens immer terug na E.M. Forster se A Passage to India (1924). ‘n Buiteblik teenoor diegene wat van binne skryf oor ‘n meervoudige gemeenskap.

 

Op 14 jarige ouderdom gaan Salman Rushdie na Rugby waar hy skoolgaan. Hierom is sy Engels absoluut uitstekend.

 

Hy woon eers in Londen en nou in New York.

 

Die impak van die Iranese doodsvonnis kan geen leser van hierdie teks miskyk nie. Met ‘n reis deur Indië was hierdie leser voortdurend bewus van subtiliteite wat jy as Westerling nie begryp nie. Boonop is die outeur Indies-Brits-Amerikaans met ‘n hibridiese identiteit. Só word hy op die internet beskryf:

Sir Ahmed Salman Rushdie (Hindi: अहमद सलमान रुशदी (Devanagari), lanati احمد سلمان رشدی (Nastaʿlīq); born 19 Juin 1947) is a Breetish Indie novelist an essayist. 

‘n Mens benader hierdie roman as buiteleser: die wêreld wat hy skep in fiksie met al die verwysings vra vir dieper lees en bestudering.

 

Nietemin, ‘n hoogs tersaaklike roman van ‘n skrywer wat bewonder word nie alleen om sy fantasmagoriese verbeelding nie, maar veral om sy vermoë om te oorleef.

 

‘n Skrywer wat magies-realistiese tekste lewer en ook postmodernistiese romans met verskillende narratiewe wat mekaar ondermyn en weerspreek. Hierdie een behoort tot die sub-genre van historiografiese fiksie.

 

Die slotwoorde van die gedig van Pampa is belangrik:

All that remains is this city of words. Words are the only victors (338).

Al is Rushdie blind in sy regteroog, kyk hy diep in die lotgevalle van die mensdom in.

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Sunday, February 19, 2023

Rubriek | Hikikomori | 2023


I

Tamaki Saito benaam hikikomori ( ひきこもり of 引きこもり) in 1998. ‘n Toestand van totale sosiale onttrekking of isolasie.

 

‘n Persoon wat dikwels vir langer as ses maande wegbly van enige vorm van werklike sosiale interaksie, ly aan hierdie kondisie. So verduidelik die uitsonderlike musikant Coenie de Villiers die term aan my. Hy is ook kommunikasiekundige en begryp modes en veranderlikes.

 

Wat veroorsaak dit? Nog ‘n Post-Covid-simptoom? Of dalk, soos Saito meen, die impak internet en sosiale media blootstelling?

 

Ons lewens word bevolk deur sosiale media in verskillende gedaantes en die internet verswelg ons.

 

Soveel e-posse per dag wat psigiese energie opvreet. Selfs om net ‘n e-pos te verwyder (delete) beteken jy moes dit lees …

 

Vir ‘n dooie rot in jou huis is daar vele boererate: wit asyn, knoffel en steenkool wat reuke neutraliseer.

 

Hoe nou gemaak met die nuwe realiteit?



II


Is onttrekking werklik so sleg as wat mense dink?  Behalwe vir die media wat ons lewens oorheers en dikteer, is daar ander werklikhede.

 

Hierdie skrywer woon nou al 30 jaar lank in Tamboerskloof en die verloedering van hierdie eens gesogte woonbuurt is opmerklik. Bedelaars wat jou om elke hoek en draai oorrompel met haweloses wat tente opslaan op Bo-Buitengrachtstraat. Weekliks word hierdie verskoppelinge verwyder, maar helaas is dit weer sokke tyd. Terug met die ou blikkantien.


Snags vloekwoorde van hierdie mense wat die kop laat duisel.

 

En dis nie net hier te lande wat dit so gaan nie. Gaan kyk na Los Angeles en San Francisco. Daar is skrikwekkende inligting op die internet.

 

In onse land alles vererger met beurtkrag wat klein ondernemings lam lê.

 

Oor RSG ‘n onderhoud met ‘n jong swart man in Khayelitsha  wat vertel hoe hy ‘n koffiewinkel begin het, maar waarskynlik dit nou sal moet sluit – weens beurtkrag. Hy sal waarskynlik ook nie die lening kan terugbetaal nie.

 

 

III

 

Hoe skryf ‘n mens ‘n verhaal oor die soeke na ‘n stilte binne al hierdie letterlike en figuurlike lawaai?

 

Die skrif is aan die muur

 

Orals druis die geweld binne, dink die vrou.

 

Waar kan ‘n mens nog stilte vind? Soos daardie lied lui: ver van die stad se geluide en die klinkende klank van geld …

 

Te veel boodskappe per sel, per komputer, per whatsapp.

 

Voorheen was haar tuiste ‘n plek van stilte en afsondering. Haar sanctum. Helaas nie meer nie.

 

Mense wat rusie maak in die kompleks (dikwels oor onbenullighede). Die aangrensende Bed & Breakfast stuur woedende e-posse oor haweloses wat agter ons kompleks vuil maak en hulle gaste bedreig. Die swembad van die hotel naby die kompleks is gesluit vir buite-gaste.

 

Pryse van kos styg die hoogte in. Restaurantpryse word vir die meeste mense onbekostigbaar. Dikwels vind ‘n mens dat eens gesogte plekke se vleis taaier is as wat aanvaarbaar (of eetbaar) is. Porsies word kleiner. 

 

Kelners is nurks. Soms is een afwesig – waarskynlik deur die eienaar in die pad gesteek.


Winkelrakke staan al hoe leër. Pryse van melk en eiers is skrikwekkend hoog. Hoe oorleef ‘n gesin tans?

 

Beurtkrag val almal in die rede. Die hele dag word beplan róndom Eskom se skedule. Batterye vir skuifhekke word vervang en die eienaars mor dat die heffings nog duurder gaan word om dit waarvoor nie begroot is nie, te kan betaal.

 

‘n Vriendin vrees ‘n totale duisternis mag ons binnekort oorval. Inmiddels word elektrisiteit duurder. 

 

Ironie-der-ironieë: miskien betaal ons nou vir die donker.

 

‘n Hond val die skoonmaker aan by sy huis. Sy gee vir hom salf vir die wond. 

 

‘n Rotplaag word in toom gehou deur ‘n buitemaatskappy. Rotte so groot soos katte wat nonchalant vrugte in die buurvrou se woonstel vreet.

 

Misverstande en konflik tussen vriende. Die oorlog in die Ukraïne wat wêreldwyd sy letsels laat.

 

Sy ontdek ‘n hotelletjie met ‘n swembad op die dak. Terwyl sy probeer ontspan, woed daar ‘n brand op die berg met helikopters wat freneties water opskep uit die dam in Oranjezicht. Die water spat uit die bakke en kondenseer, word dan flertsies wolke, terwyl sy wonder of mense hul huise sal moet ontruim.

 

Robert Altman se film Short Cuts word in die herinnering geroep. Die verskillende karakters verbind met mekaar met alles wat in ‘n moord eindig. Onverwags-verwags.

 

Na twee ure se lawaai is die brand geblus en daar hang rook oor die stad.

 

Die stad as krematorium, dink sy wrang.

 

Papiere waai oor die stad met onleesbare boodskappe. Sy vermy koerantlees voor ses in die aand.

 

Na twee ure ry sy uit die stad en sien ‘n bedelaar. ‘n Wit man sonder tande en sy wonder hoe het hy hier beland. 

 

Sy besef dat sy hom herken. Hy het vroeër by ‘n koffiewinkel in die dag gewerk waar daar afleggings was. ‘n Blote statistiek het hy geword.

 

Nog ‘n mens met verlore drome en kanse op straat. Onopgeloste moorde en onrus blaker koerantopskrifte. Geen wonder daar verskyn soveel krimies tans nie. Geweld teen vroue. ‘n Vrou wat ‘n klag teen haar man terugtrek word kort hierna vermoor. Deur die einste man.

 

‘n Polisieman word aangekla dat hy ‘n vermeende moordenaar uit sy tronksel gelaat het. Wat weer verbind word aan ‘n sinnelose moord.

 

Is moord ooit iets anders as sinne-loos?

 

Sy sien hoe die stad se skoonmakers en vullisverwyderaars ou klere uit die mangate haal. Hoe lyk die ondergrond van die stad? Is daar dalk mense wat hier skuil soos in die New York / Londen underground?

 

Hoeveel vreemde tale word daar nie tans in hierdie stad gepraat nie. ‘n Regte Toring van Babel.

 

Die universele taal van dit kon so anders wees. ‘n Vriend maan ‘n mens moet net dit wat jy kan verander, jou laat ontstel. Leef eerder in die hier en nou.

 

Implosie en eksplosie. Gaan ons in hierdie land bly dool soos die Israeliete in die woestyn?

Ek slaan my oë op na Tafelberg. Ek kan nie my storie pos nie. Daar is nie meer ‘n Poskantoor nie

 

Hikikomori klink na die enigste opsie. As dit net moontlik was.

 

© Joan Hambidge

 

 

Bronne:

Are Hikikomori Just a Japanese Problem? | Alexander Krieg (Besoek 28 Januarie 2023)

 

A Day in the Life of a Japanese Hikikomori (Shut In) - YouTube (Besoek 28 Januarie 2023)