I
Tamaki Saito benaam hikikomori ( ひきこもり of 引きこもり) in 1998. ‘n Toestand van totale sosiale onttrekking of isolasie.
‘n Persoon wat dikwels vir langer as ses maande wegbly van enige vorm van werklike sosiale interaksie, ly aan hierdie kondisie. So verduidelik die uitsonderlike musikant Coenie de Villiers die term aan my. Hy is ook kommunikasiekundige en begryp modes en veranderlikes.
Wat veroorsaak dit? Nog ‘n Post-Covid-simptoom? Of dalk, soos Saito meen, die impak internet en sosiale media blootstelling?
Ons lewens word bevolk deur sosiale media in verskillende gedaantes en die internet verswelg ons.
Soveel e-posse per dag wat psigiese energie opvreet. Selfs om net ‘n e-pos te verwyder (delete) beteken jy moes dit lees …
Vir ‘n dooie rot in jou huis is daar vele boererate: wit asyn, knoffel en steenkool wat reuke neutraliseer.
Hoe nou gemaak met die nuwe realiteit?
II
Is onttrekking werklik so sleg as wat mense dink? Behalwe vir die media wat ons lewens oorheers en dikteer, is daar ander werklikhede.
Hierdie skrywer woon nou al 30 jaar lank in Tamboerskloof en die verloedering van hierdie eens gesogte woonbuurt is opmerklik. Bedelaars wat jou om elke hoek en draai oorrompel met haweloses wat tente opslaan op Bo-Buitengrachtstraat. Weekliks word hierdie verskoppelinge verwyder, maar helaas is dit weer sokke tyd. Terug met die ou blikkantien.
Snags vloekwoorde van hierdie mense wat die kop laat duisel.
En dis nie net hier te lande wat dit so gaan nie. Gaan kyk na Los Angeles en San Francisco. Daar is skrikwekkende inligting op die internet.
In onse land alles vererger met beurtkrag wat klein ondernemings lam lê.
Oor RSG ‘n onderhoud met ‘n jong swart man in Khayelitsha wat vertel hoe hy ‘n koffiewinkel begin het, maar waarskynlik dit nou sal moet sluit – weens beurtkrag. Hy sal waarskynlik ook nie die lening kan terugbetaal nie.
III
Hoe skryf ‘n mens ‘n verhaal oor die soeke na ‘n stilte binne al hierdie letterlike en figuurlike lawaai?
Die skrif is aan die muur
Orals druis die geweld binne, dink die vrou.
Waar kan ‘n mens nog stilte vind? Soos daardie lied lui: ver van die stad se geluide en die klinkende klank van geld …
Te veel boodskappe per sel, per komputer, per whatsapp.
Voorheen was haar tuiste ‘n plek van stilte en afsondering. Haar sanctum. Helaas nie meer nie.
Mense wat rusie maak in die kompleks (dikwels oor onbenullighede). Die aangrensende Bed & Breakfast stuur woedende e-posse oor haweloses wat agter ons kompleks vuil maak en hulle gaste bedreig. Die swembad van die hotel naby die kompleks is gesluit vir buite-gaste.
Pryse van kos styg die hoogte in. Restaurantpryse word vir die meeste mense onbekostigbaar. Dikwels vind ‘n mens dat eens gesogte plekke se vleis taaier is as wat aanvaarbaar (of eetbaar) is. Porsies word kleiner.
Kelners is nurks. Soms is een afwesig – waarskynlik deur die eienaar in die pad gesteek.
Winkelrakke staan al hoe leër. Pryse van melk en eiers is skrikwekkend hoog. Hoe oorleef ‘n gesin tans?
Beurtkrag val almal in die rede. Die hele dag word beplan róndom Eskom se skedule. Batterye vir skuifhekke word vervang en die eienaars mor dat die heffings nog duurder gaan word om dit waarvoor nie begroot is nie, te kan betaal.
‘n Vriendin vrees ‘n totale duisternis mag ons binnekort oorval. Inmiddels word elektrisiteit duurder.
Ironie-der-ironieë: miskien betaal ons nou vir die donker.
‘n Hond val die skoonmaker aan by sy huis. Sy gee vir hom salf vir die wond.
‘n Rotplaag word in toom gehou deur ‘n buitemaatskappy. Rotte so groot soos katte wat nonchalant vrugte in die buurvrou se woonstel vreet.
Misverstande en konflik tussen vriende. Die oorlog in die Ukraïne wat wêreldwyd sy letsels laat.
Sy ontdek ‘n hotelletjie met ‘n swembad op die dak. Terwyl sy probeer ontspan, woed daar ‘n brand op die berg met helikopters wat freneties water opskep uit die dam in Oranjezicht. Die water spat uit die bakke en kondenseer, word dan flertsies wolke, terwyl sy wonder of mense hul huise sal moet ontruim.
Robert Altman se film Short Cuts word in die herinnering geroep. Die verskillende karakters verbind met mekaar met alles wat in ‘n moord eindig. Onverwags-verwags.
Na twee ure se lawaai is die brand geblus en daar hang rook oor die stad.
Die stad as krematorium, dink sy wrang.
Papiere waai oor die stad met onleesbare boodskappe. Sy vermy koerantlees voor ses in die aand.
Na twee ure ry sy uit die stad en sien ‘n bedelaar. ‘n Wit man sonder tande en sy wonder hoe het hy hier beland.
Sy besef dat sy hom herken. Hy het vroeër by ‘n koffiewinkel in die dag gewerk waar daar afleggings was. ‘n Blote statistiek het hy geword.
Nog ‘n mens met verlore drome en kanse op straat. Onopgeloste moorde en onrus blaker koerantopskrifte. Geen wonder daar verskyn soveel krimies tans nie. Geweld teen vroue. ‘n Vrou wat ‘n klag teen haar man terugtrek word kort hierna vermoor. Deur die einste man.
‘n Polisieman word aangekla dat hy ‘n vermeende moordenaar uit sy tronksel gelaat het. Wat weer verbind word aan ‘n sinnelose moord.
Is moord ooit iets anders as sinne-loos?
Sy sien hoe die stad se skoonmakers en vullisverwyderaars ou klere uit die mangate haal. Hoe lyk die ondergrond van die stad? Is daar dalk mense wat hier skuil soos in die New York / Londen underground?
Hoeveel vreemde tale word daar nie tans in hierdie stad gepraat nie. ‘n Regte Toring van Babel.
Die universele taal van dit kon so anders wees. ‘n Vriend maan ‘n mens moet net dit wat jy kan verander, jou laat ontstel. Leef eerder in die hier en nou.
Implosie en eksplosie. Gaan ons in hierdie land bly dool soos die Israeliete in die woestyn?
Ek slaan my oë op na Tafelberg. Ek kan nie my storie pos nie. Daar is nie meer ‘n Poskantoor nie
Hikikomori klink na die enigste opsie. As dit net moontlik was.
© Joan Hambidge
Bronne:
Are Hikikomori Just a Japanese Problem? | Alexander Krieg (Besoek 28 Januarie 2023)
A Day in the Life of a Japanese Hikikomori (Shut In) - YouTube (Besoek 28 Januarie 2023)