Resensent: Joan Hambidge
I
Triangle of Sadness (Frans: Sans filtre: Sonder filters) het sopas die loket getref. Ruben Östlund se debuut as Engelse filmmaker.
Die film het by Cannes die gesogte Palme D’Or verower en is, wat my betref, sover die film van die jaar. Die regisseur is Sweeds en sy aweregse blik op die mensdom het ons reeds beleef in The Square (2017) en Force Majeure (2014).
Nou ja, Sweeds maak jou bewus van die ander meester: Ingmar Bergman wat filmtaal absoluut kon beheer. Nes Tarkofski, die Rus.
Die “triangle of sadness” is letterlik die vel tussen jou wenkbroue wat ‘n model kan manipuleer met emosie. (Of wat Botox mag onderdruk.) En regdeur die film word daar gefokus op gesigsuitdrukkings.
Hierdie film praat duidelik met Robert Altman se satire van die modewêreld Prêt-à-Porter (1994) met ‘n kopknik na Fellini. Marcello Mastroianni, Anouk Aimée is in Altman se film.
Met Kim Basinger, Julia Roberts, Sophia Loren en Stephen Rea.
En hierdie niksheid (en doelloosheid) vind ons in Triangle of Sadness.
II
Ryk mense word hier gesatiriseer. Die verhaal word in drie dele vertel wat duidelik waarsku dat jy in die hande is van ‘n filmmaker wat beheer en orkestreer. Eers in die modelle-bestaan; dan op die rykmanskip wat die twee jongelinge “gewen” het, en dan met die skip se Titanic-agtige einde en ‘n eiland waar net ‘n handvol van die passasiers oorleef.
Die begin: Yaya (Charlbi Dean Kriek) en haar vriend Carl (Harris Dickinson) maak rusie oor ‘n rekening in ‘n duur restaurant.
Dit gaan nie vir hom om die geld nie, maar genderkwessies. Hoekom moet hy betaal as hulle gelykes is? En sy vra weer: wat maak jy in my hotel op my rekening?
Die middel: Dan die bootreis. Dit ontspoor vinnig en die klassestryd word hier uitgewerk met die hoofvrou-oor-die-kelners, Paula (Vicki Berlin) wat met ‘n dronk skeepskaptein opgeskeep sit: Woody Harrelson op sy beste as Captain Thomas. Veral as hy saam met die Rus, Dmitri (wat kunsmis verkoop) oor die mikrofoon politieke wyshede uitslinger, terwyl die ship of fools deur die stormwaters woed. Met ‘n kaartspel waarin albei dronker word.
Wanneer die skeepskaptein onder andere uit Noam Chomsky aanhaal, is die vet in die vuur. Kaptein en Rus troef mekaar met al die clichés. Van Lenin tot Ronald Reagan.
Jy beleef kotsende en skytende passiers. ‘n Kopknik na Julia Kristeva se Powers of Horror (1980) en ons vrese vir die abjekte. Of die grillige.
Hier word almal gelyk.
Die einde: En op die eiland word alles op sy kop gekeer wanneer Abigail (Donny de Leon) agentskap kry.
Sy is nie langer in beheer van toilette nie. Sy is nou baas want sy besluit wie kry kos en water. En manipuleer die jonge Carl met seksuele afpersing. Vir kos.
Daar is lieflike vinjette. Die Rus, vertolk deur Zlatko Buriċ, wat oorleef en sy vrou se juwele van haar lyk afhaal. ‘n Lykskleed het nie sakke nie, weet ons.
Die doodmaak van ‘n donkie word ‘n woke-gesprek. Daar is analises van die swart-blik versus die witte. En ‘n tekening van die donkie op die rots met al die implikasies van grottekeninge.
En die vrees dat jy mag aanstoot gee. Ge-cancel mag word.
Visvang teenoor die diefstal van Pretzels.
III
En ironie is ook volop hier. Die twee rykgatte, Winston en sy vrou, vervaardig handgranate. En sterf aan hulle eie huishoudelike “brand”.
Carl lees Ulysses, terwyl hy in die son baai.
Die bekwame regisseur beheer alles met slim intertekste en toespelings na ander films (en modegiere).
Hy dolwe die leegheid van ons bestaan om. Uiteindelik blyk die gevaarlike eilandbestaan 'n illusie te wees. Daar is ‘n luukse hotel net om die draai; so al die leed, honger en ellende was verniet.
Jy kan die hyser van die strand neem na bó. Soos in ‘n James Bond-movie.
Charlbi Dean Kriek, wat een van die hoofrolle vertolk, is ‘n Suid-Afrikaner en vroeër vanjaar oorlede. Wanneer sy op die dek lê, sien die kyker ‘n operasieletsel.
Toevallig uitgestal? Of ‘n verdere kommentaar dat ons almal verwond is deur die vreemde tye waarbinne ons leef?
Satire werk met oordrywing (of hiberbole) en die uitwys van sothede met sarkasme en ironie. Ons lag in (h)erkenning en besweer tydelik ons vrese met die ervaring van so ‘n film wat my weer terugneem na Stanley Kramer se Ship of Fools (1965).
Satire stel altyd die norm teenoor die verkeerde en in die uitwys van die onaanneemlike, moet die norm sigbaar wees, aldus Henning Snyman in Mirakel en muse (Perskor, 1983: 181).
Al dra ‘n aap ‘n goue ring …
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)