I
As daar nou werklik een reeks is waaroor ‘n mens eindeloos kan lag, is dit Vetkoekpaleis. Boonop is hier baie om oor na te dink.
Wyle Zack du Plessis Frikkadel in hierdie reeks en as Hendrik van Tonder in Orkney snork nie. Alles onder die bekwame leiding van Willie Esterhuizen, ook bekend as Worsie, die domme stommerik in die reeks.
Woordspeletjies rondom die woord vetkoek (en al die subliminale assosiasies) is die ondergrond van hierdie sitkom wat skuins klappe uitdeel en aweregse sosiale kommentaar lewer op regstellende aksie, wit-heid, Nigel (Naaigel), stereotipes, Afrikaner-angst en die hele burgerlike wit bevoorregting.
Ou Frik wat sy eie besigheid uit nood moet begin en onder druk Worsie moet aanstel.
Dis ‘n lag per sekonde. Dis alles heerlike dialoog en uitstekend vertolk deur die reeds genoemde Du Plessis, Hélène Truter (Poppie), Alvin Bruinders (Sheridan), Willie Esterhuizen (Worsie), Liane Heyl de Villiers (Boeboe) en Marga van Rooy (Ella). Ensemble-spel uit die boonste rakke en veral wyle Marga van Rooy as Worsie se ma, lewer uitmuntende spel.
Ons onthou haar uit Die drie Van der Walts en hierdie soort humoristiese aanslag het te make met tydsberekening: oë word gerol, hande word saamgeslaan. En uiteraard misverstande rondom sosiale kwessies. Drank. Seks. Vrese. (Sy vra petrolgeld by Frikkadel, maar bely dadelik dat haar man se petrol geborg is.)
Wanneer Tobie Cronje die rol vertolk van die hoender-verkoper as konkurrent, lyk hy soos Spiros Takanaki’s op die hoek. Hy word verdink dat hy hul resep wil steel. En dan word die vetkoeke wat hulle vir hom gee gedokter …
Og. Die abjekte vier hoogty. Die toilage word druk besoek (Vetkoekpaleis, S1E3).
Dieselfde geld Lizz Meiring in ‘n kameevertolking as Boeboe se niggie, Sue-Ellen. Sy hou van ‘n man in ‘n uniform en die polisieman, ene Gawie de Villiers, en sy klou soos twee vars magnete aanmekaar. En hulle lyk na mekaar die twee niggies, meen die polisieman, wanneer sy buk.
En die beste uniform is ‘n spietkop.
Die bloubul-verering in die Vetkoekpaleis met Naas Botha teen die muur, ‘n vuil rugby-broekie en ander rugby memorabilia is spot on. (In ‘n onderhoud nou onlangs op RSG het Du Plessis se vrou, Magda van Biljon, haar oorlede man se obsessie met die Blou Bulle bely.)
II
Die verwysing na ander TV-produksies – Sue Ellen is in Dallas – maak hiervan ‘n sitkom met in-grappies. Ons is werklik. Die ander is ‘n TV-reeks. En dis hierdie werklikheidsdimensie wat die reeks so goed maak.
Die badkamers heet itettie en itottie.
Poppie en Frik Delport. Ella Visagie. Boeboe Botha. Worsie Visagie … en tipies ou-Suid-Afrika het Sheridan, die bruin man nie ‘n van nie.
Uiteraard sou hierdie reeks vandag in 2022 nie uitgesaai kon word nie, weens “ontoepaslike” grappe, double entendres en skurwe toespelings.
Die snelvuur-humor is vol in die kol. ‘n Mens lag omdat die reeks ontmasker en aan die kaak stel. Satire werk immers altyd met ironie en, of sarkasme.
En altyd met oordrywing. Die spotspraak moet vergroot sodat die dwaasheid duideliker belig kan word.
Wat hierdie reeks verder heerlike kykmateriaal maak, is dat die akteurs ook hulleself opstuur. Wyle Marga van Rooy se foutlose tydsberekening, haar mond en oogknippe wat al elders gesien is, word hier haar handtekening. ‘n Bekroonde aktrise wat van Shakespeare tot Tsjekof kon vertolk.
Dieselfde geld Lizz Meiring wat eweneens haar manier-van-doen dekonstrueer.
III
Die humor in die reeks word opgevang in die wonderlike dialoog. ‘n Mens lag omdat hulle herkenbaar is en jy lag vir die simpel manewales róndom seks, leuens (byvoorbeeld Frikkadel wat perde wil speel), Worsie wat vir sy ma moet lieg oor sy sekskapades.
Komedie het altyd ‘n grinterige, swart ondergrond. ‘n Mens lag, maar vir wie of wat lag jy presies?
Vir jouself? Of vir die sosiale kodes en strukture en voorskrifte? Of vir die ontmaskering?
Pedro Almodóvar, die Spaanse filmmaker, ondersoek dikwels die donker kontoere van humor. Kyk onder andere na Tie me up! Tie me down! (1989) waar die humor grensoorskrydend en gevaarlik is.
In Vetkoek Paleis is die satire minder gevaarlik.
Die “ridicule” is deel van die satire soos H.J. Snyman uitwys in Mirakel en Muse (1983: 183).
Ook dat daar gedeelde waarnemings of idees bestaan oor dít wat gesatiriseer word. Die kyker van hierdie reeks weet presies wat die “graad van verspotheid” behels.
Die satire plaas die norm langs die oortreding of verkeerde (181). Poppie en Ella verteenwoordig die goeie; die mans en Boeboe oortree die reëls en tussen hierdie twee dimensies vind die humor plaas.
Disjunksie, aan die kaak stel; maar sonder bytende sinisme of sarkasme.
En presies vir wie of wat lag jy?
Regstellende aksie?
Daar is grappe rondom Boeboe wat in ‘n struggle-film gaan optree en al die politiek-korrekte dinge doen soos wesies oppas. Maar die politieke-satire is hier met ‘n ligte aanslag (Vetkoekpaleis, S2E7).
IV
Die humor (en domheid) kry die oorhand met verkeerde idiome en taalfoute. (Hy weet nie hoe die lepel in die dak steek nie …)
“I is him?”, seg ou Worsie. Sy moeder se “ondankbare spelfout”.
Juwele is daar. Worsie se pram was sonder wiele, want sy pa het dit vir sy kaskar gebruik.
In ‘n gastehuis het hierdie kyker elke dag twee ure lank gelag op ‘n wonderlike herinneringsreis.
Inderdaad het sekere grappe gedateer (soos oor selfone), maar die essensie is wonderlik.
© Joan Hambidge