Elizabeth Lowry - The Chosen. Riverrun / Versprei: Jonathan Ball, 2022. ISBN-13: 9781529410686
Resensent: Joan Hambidge
Elizabeth Lowry debuteer in 2008 met The Bellini Madonna en hierop volg Dark Water (2018). The Chosen word op die buiteblad aangeprys deur die skrywer Hilary Mantel. En tereg so. Dit is ‘n besonderse, evokatiewe en meesleurende boek oor die skrywer Thomas Hardy.
Hy ontdek ná sy vrou se dood briewe en ‘n memoir wat ‘n ander lig op hul verhouding werp. Die skrywer van gedigte en die belangrike roman Tess of the d’Ubervilles (1891) wat deur Roman Polanski verfilm is in 1979. Met ‘n smeulende Nastassja Kinski as Tess.
Daar word ook oor Tess en genderkwessies geskryf. Armoede en ‘n kind …
Lowry gee ‘n stem aan sowel die man, die digter en romanskrywer Thomas Hardy as sy vrou. ‘n Mens dink hier aan Gilbert & Gubar se belangrike teks The Madwoman in the Attic (1979) en hoe die vrou in die Victoriaanse tydperk die stilgemaakte een was.
Die skrywer Hardy hoor die “splinters of female conversation coming from the kitchen” (45). In hierdie roman gebeur iets anders. Daar is verskillende hoofstukafdelings wat ‘n ordende, gedistansieerde ouktoriale verteller impliseer wat alles soos ‘n poppemeester beheer: “The Going” tot “The Chosen”.
Hierdie roman se storie word op die agterblad verklap. En dis die hele punt van hierdie roman: dit gaan nie om die plot-gedrewe teks nie, maar fokus op die emosionele binnespraak en onrus van Hardy. Dit word in poëtiese taal gedoen en hierdie leser het telkemale teruggekeer na besonderse, evokatiewe passasies.
Ziggurat is ‘n kode in die teks te vinde, te wete die verskillende vlakke in antieke Mesopotamiese strukture. En dis presies hoe hierdie roman werk: daar is vlakke (Die Bybelverwysings word reeds aangespreek met die titel). Die werklike outeur verwys ons ook na studies soos die verskillende biografieë oor sowel Thomas Hardy as Emma. Verder is Hardy se woorde gelig uit sy fiksie, poësie, notaboeke, onderhoude, briewe en nota bene: “his self-authored biography” (295). Maar alles uiteraard deur die buikspreker vir Hardy, Elizabeth Lowry, in verskillende dimensies verpak. Bykans soos ‘n pligsgetroue manuskripversamelaar wat orden en liasseer.
Lowry se roman vra belangrike vrae oor die verhouding tussen kuns en lewe en hoé ‘n eggenoot reageer op ‘n skrywer se werk. Woensdagoggend in November 1912 vind Hardy sy sterwende vrou. Haar dood laat hom verpletter en alleen. ‘n Dag voor haar dood was daar ‘n rusie wat uiteraard die verlies verder kleur. Die dagboeke What I Think of My Husband gee ‘n ander blik van hul huwelik. Veertig jaar saam, maar eintlik apart. En dan begin Hardy nadink oor hierdie verhouding. En dikwels ná die dood van ‘n geliefde kan ‘n mens hul eers in volledigheid sien; hier dan met ontnugtering en pyn. En selfverwyt.
Dis ‘n boek van verlies, ónherroeplike verlies. Dit word op ‘n manier ook ‘n studie van verraad asof dit bedoel was om gevind te word. Die stemlose word dus stemhebbend.
Die roman ondersoek die komplekse verhouding tussen ‘n skrywer en sy genoot. Daar word gekyk na die familie en die eks-geliefde. Veral relevant oor die jeug en die ouers se reaksie op die jong skrywer.
Soms word die vrou een met die skrywende eggenoot soveel so dat sy namens hom besluite neem. Ons dink byvoorbeeld aan die rol wat Mevrou Nabokof gespeel het in onderhoude of waar ‘n bloemleser en groot digter se vrou nadoods geraadpleeg word asof sy ‘n eweknie is.
Ons lees ook hoe snedig daar gereageer is op sy romans en die Biskop van Wakefield sy eksemplaar van Jude The Obscure (1895) in die vuur gegegooi het. Met die publikasie van sy eerste volume van poësie sien sy haarself in die gedig “The Ivy-Wife”. En ten spyte van die feit dat hy verduidelik dat dit oor plante handel, meen sy dit handel oor hul ongelukkigheid (15 Desember 1898, 208). Hier word die oeroue probleem tussen skrywer en geliefdes uitgewys: dat mense húlself inlees al staan hulle nie in ‘n gedig nie.
Hardy tob oor die feit dat hy haar telkens al die verkeerde geskenke gegee het – en nie wat sy verwag het nie. Biografieë word deur sy vrou gesien as fiksie en hier het ons uiteraard ‘n skaduteks: The Biographer’s Tale van A.S. Byatt uit 2000. Op háár beurt weet Emma dat hy haar skryfwerk as minderwaardig ag (2 Desember 1910, 97).
The Chosen skep dieselfde dramas wat al beleef is róndom ‘n testament. Die onverwagsheid van ‘n kodosil of bemaking. Hy besef sy was twee mense; net soos hy: die skrywer en die mens. Uiteindelik oorwin die skrywerskap.
Die skryfproses word ontmasker as een wat die outeur beheer en manipuleer; daar is geen ondersteuning hierin nie. Klein vinjette – soos ‘n haarnaald, ‘n spieëlglas wat breek – word bykans totems in hierdie roman met sterk digterlike passasies. Die Bybel is ‘n sterk interteks wat reeds in die titel aangedui word en die Riviere van Babilon is ook hier (76).
Uiteraard stel hierdie roman belangrike feministiese vrae: die vrou as stilgemaakte wat deur ‘n moderne vrou nuut bekyk word. Hermione Lee se belangrike biografie oor Virginia Woolf (1996) is opnuut bekyk.
‘n Belangrike roman: beeldskoon geskryf en nêrens word die navorsing net uitgestal nie. Die verwyt wat Byatt moes verduur van Hermione Lee oor The Biographer’s Tale is nie hier geldig nie.
In ‘n tyd waar romans – veral hier te lande as bakens beskou word – neem hierdie roman ‘n regmatige plek in langs belangrike tekste in die lang galery van Britse fiksie.
Elizabeth Lowry is ‘n moderne Iris Murdoch.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)