I
Die debat rondom Ben du Toit se God: Is daar 'n ander antwoord? herinner aan die polemiek tussen Terry Eagleton en Richard Dawkins. Eagleton, die bekende Marxis en ateïs, wys daarop dat 'n mens die geskiedenis van die kerk moet ken, alvorens jy uitsprake maak oor godsdiens. Op you tube kan 'n mens Eagleton beluister (Terry Eagleton | Richard Dawkins and The New Atheists – YouTube. Besoek 8 Desember 2020).
Du Toit se boek dra die sub-titel: 'n bevrydende reis, en die paleontoloog Jurie van den Heever verdedig sy boek téén fundamentalistiese besware (Rapport, 6 deser). En: die kerk moes dan eerder gesluit word weens teologiese bontpratery. Die kerk het egter ook 'n sterk sosiale funksie veral in hierdie dae met die verskaffing van kos en slaapplek vir armes tydens die pandemie.
Eerder as om al die argumente te herhaal sodat kompleksiteite dalk verlore mag gaan, wil hierdie skrywer eerder 'n addendum skryf. Vir sowel Van den Heever as Johann Rossouw, wat uit 'n ander invalshoek skryf, het ek enorme respek.
II
Hierdie debat bring relevante perspektiewe na vore. Word die basis van die Christendom aangeval of is dit nodig om wetenskaplik en rasioneel na alles te kyk? Is daar dalk iets soos 'n God-geen? The God delusion?
Hierdie stryd tussen geloof en wetenskap is alombekend. Die meerderwaardigheid van 'n wedergeborene is net so vervreemdend as die wetenskaplike, rasionele aanslag. Natuurlik is die Ou-Testament van 'n ander tyd en geskryf in 'n ander sleutel met wette en dogmas wat belaglik lyk wanneer 'n mens dit vandag letterlik probeer vertolk.
Vir my is geloof en wetenskap verskillende kante van dieselfde munt. Die wetenskap ontdek, dryf voort; geloof staan in verwondering en deemoed.
Die eerste gedigte op aarde was gebede, voer Ottone M. Riccio aan in The intimate art of writing poetry (1978). En indien jy nie die Bybel ken nie, kan jy nie Van Wyk Louw, Opperman, Breytenbach of Antjie Krog (om enkele name in Afrikaans te noem) begryp nie. Nog minder Elisabeth Eybers se stryd met geloof snap. Gaan kyk na Pieter Smit se Visum vir die vreemde (1977). Is NASA se boodskappe na Mars nie 'n tersaaklike voorbeeld van wáár wetenskap en geloof mekaar ontmoet nie?
Leonardo da Vinci se Vitruvian man, en Chuck Berry. Die geluid van 'n baba, en moreskodes, o.a. beweeg in die verre ruimte (Who Are We? The Golden Record 2.0 | The Edge of Yesterday. Besoek 8 Desember 2020).
Ek het al die munte van die maanlanding by die plaaslike garage versamel en in 'n boekie wat voorsien is, gehou. En oor Buzz Aldrin gedig jare later.
III
In my lewe had ek die voorreg om Machu Picchu driekeer te besoek (rondom al die mites van Erich von Däniken oor die bestaan van buitenissige wesens) en die piramides in Egipte gesien. Verskeie katedrale, tempels en ruïnes het ek eweneens meegemaak.
In my biblioteek staan die werk van groot teoloë soos J. Wentzel van Huyssteen en die spekulatiewe tekste van Colin Wilson wat heet The unexplained. Daar staan oerwyshede in die tarot opgeteken nes in die Kabbala waaroor die groot Amerikaanse kritikus Harold Bloom insigryk skryf.
Drie Bybels besit ek: die Afrikaanse Bybelvertaling van 1953, die Tibettaanse boek van lewe en dood en Tristia.
Tussen geloof en sekerheid navigeer ek tans gedigte in 'n bundel wat Sanctum heet.
Nou reis ons net in herinnering en verbeelding:
Apotropaïes
Vir Etienne Leroux
By watter kerk,
by watter tempel of katedraal
kon ek weer my geloof vind?
In watter kerk,
langs watter tempel of katedraal
my oopgemaak vir pleroma?
In Tokio by 'n wierookbakkie
roep ek na die kenners
van Gnostiek
soos jy en Harold Bloom
en by die Andes
ver en uitgestrek
wonder ek
oor jou derdeoog
en jou verskansing
agter 'n donker bril.
Met volmaan
spuit die fonteine uit
in die Chileense woestyn
genade
waar die bythos
my dualistiese-twyfelende aard
óphef.
IV
Hierdie debat sal altyd voortwoed. Om gelowig te wees, is 'n genade. Om ateïsties of agnosties te dink, is jou goeie reg. Te veel kerktoe-gaan as kind het Dawkins benadeel, het hy telkemale bely.
Maar om geloof wetenskaplik te probeer "bewys", is onmoontlik. Geloof is meer as die kerk of uitgediende reëls of voorskrifte, opgeskryf in die Ou-Testament.
Bythos, god van die see-dieptes, beteken dan diepte in die Gnostiek. Terry Eagleton verwys na Dawkins se "mispunching" in hul debat. Eagleton het sokker heel vermaaklik tipeer as die new opium of the people.
'n Teoretikus wat hierdie leser met groot plesier lees en een wat o.a. die postmodernisme al skerp gekritiseer het. Waarmee ek nie saamgestem het nie.
In 2008 het in 'n lesing aan Yale Universiteit het hy skerpsinnig opgemerk:
"All I can claim in this respect, alas, is that I think I may know just about enough theology to be able to spot when someone like Richard Dawkins or Christopher Hitchens – a couplet I shall henceforth reduce for convenience to the solitary signifier Ditchkins – is talking out of the back of his neck."
Reason, Faith, and Revolution: Reflections on the God Debate verskyn in 2009.
© Joan Hambidge
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport.)
No comments:
Post a Comment