Monday, October 5, 2020

Resensie | Johann van der Walt – Parlement van uile | Naledi, 2020

Johann van der Walt - Parlement van uile. Naledi, 2020. ISBN 978 1928 518310

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie debuut van die digter Johann van der Walt (uitgegee deur Naledi) heet Parlement van uile wat uiteraard Jeanne Goosen se 'n Uil vlieg weg (1971) oproep. En Sarina Dönges se In die tyd van uile (2004). Dit is 'n bundel wat getuig van baie lees en nadink oor die poësie. Uile as draers van wysheid; as aankondigers van die dood.

 

Dit is bekroon met die Ingrid Jonker L'Art Poétique-kompetisie van 2019, wat helaas iets anders as die gesogte Ingrid Jonker-prys is. Op die agterblad word ons ingelig dat dit "moderne benadering" gee tot die poësie en gedigte word "op 'n oorspronklike en teatrale wyse deurgegee". Ons word uitgedaag tot introspeksie en dan: die bundel daag die grense van die Afrikaanse poësie uit ...

 

Verder ignoreer dit reëls en "kloof sy unieke plek in die spektrum oop".

 

Met hierdie groot basuinwoorde tel jy die bundel op en wonder: wié het hierdie blakerteks geskryf?

 

Met 'n eerste lees het hierdie leser baie kanttekeninge gemaak en mooi beelde en pragtige flitse aangestip. Maar as geheel raak die meeste verse nog kant nog wal. Dit kort vormtug en gedigte beweeg alte dikwels verby die slot wat moet sluit. En terloops: die vrye vers het ánder bindmiddele wat die gedig laat "werk" soos klank, herhalende beelde, ensomeer.

 

En dis jammer dat 'n keurder of werkswinkel nie die verse wat ontspoor, kon regruk nie. 'n Digter met talent word bepaald nie 'n guns bewys met só 'n debuut nie.


Poësie breek reëls (kyk maar na gert vlok nel of Gilbert Gibson of verder terug na e.e. cummings), maar bittermin hiervan vind 'n mens aanwesig in hierdie gedigte. Johann van der Walt hét talent, maar bly weg van die uitgesponne beeld wat jy vir die leser verduidelik.

 

En daardie foefieslaaid-triek soos in "hoe om 'n digter te vermoor" waar die reël oor die bladsy afwentel, werk nie. 

 

'n Handvol mooi verse is daar wel. Beelde wat bly woeker in die onthou: 


toekoms lê kompak soos 'n sigaretboks in my hempsak


die groot maluti's staan spookagtig op die einder

argaïese pieke onder versiersuiker toegestrooi


hulle eet die winter uit leë potte


die verf gerasper tot vaalgroen parmesaanskilfers


bo my spoeg die son sy siklus


"die laaste dans" is goed soos "skoolverlaterskamp". Nes "sneeu" en "waar ek ook al gaan" en "sy dra die somer waar sy ook al gaan". Netjies en kompak.

 

Op bladsy 37 is 'n spasiefout.

 

Daar woed telkemale 'n polemiek op Facebook van diegene wat meen hoofstroomdigters is nydig en poësie moet toeganklik wees vir almal. Daarvoor gaan lees ons Boerneef of "Klipwerk".

 

Naledi speel 'n belangrike rol om digters wat nie by die hoofstroom kan uitgee nie, te publiseer.  Dis net jammer dat met elke goeie bundel daar drie minderes volg. Hierdie jong digter kán 'n bundel saamstel, maar hopelik sal hierdie aanwysings leiding gee vir 'n volgende een. Dis nooit lekker om 'n bespreking te skryf en iemand te ontmoedig nie, maar 'n gedig is nie net 'n stuk uitgesponne emosie nie.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)