Sunday, May 24, 2020

Reisrubriek | Rame | 2020


Donderdag, 21 Mei 2020 | Berigte te velde

Tel jou seëninge, tel hul een vir een.

'n Miswolk hang oor Tafelberg. Versluierd. Gisteraand het die wind gewaai; vanoggend sak die miswolke oor hierdie buierige stad.

“Vee ellende af aan jou?”, word daar gevra in Lars von Trier se The five obstructions (2003).

Die soeke is na 'n Pinter-kwaliteit. Met ander woorde: met min woorde en suggestie moet daar geweldig baie oorgedra word. In hierdie eksperimentele film is daar voortdurend 'n spel met die werklikheid en 'n framing of reality.

Die niks-heid van die akteur word geplaas teen die agtergrond van 'n bruisende, kokende Moembaai.

*

Vreemde uitsprake gedy in die letterkunde. So meen 'n kritikus en keurder van boeke op die Versindaba dat Uittogboek deur sy geslag gelees gaan word soos Tristia indertyd.

Myburg se boek is goed, maar om dit te loop staan en vergelyk met die ontvangs en impak van Tristia is voortydig.

Dit bewys weer eens: vergelykings is gevaarlik, lomp, ligtartend.

'n Mens kan hoogstens die gesprek tussen Tristia en Wilma Stockenström se Monsterverse aanstip, so van monumente gepraat. Of tussen Tristia en Sheila Cussons se Die swart kombuis.

Die tyd bly maar altyd die béste toets. Om in die oomblik te voorspel, is gewoon onsinnig. Daar gaan nog vele bundels verskyn in Afrikaans wat al sedert 1980 dood verklaar is.

*

Vroegaand is dit pizzas kry by my gunstelingplek.

Die Calzone met die gesmelte kaas en die Pizza met olywe en ansjovis is so lekker. 'n Ander een met avokadopeer en fetakaas met 'n tikseltjie porca.

Ons eet amper ons vingers af aan die dis. Met vars gekapte knoffel in olyfolie en vars rissies.

'n Wiel van geluk.

Die geskiedenis van hierdie dis is fassinerend. Dit gaan so ver terug as 7 000 jaar in Sardinië. Daar is glo verwysings na die pizza in die Aeneid (Boek II en Boek VII).

Celaeno voorspel in die derde boek dat die Trojane nie tot rus sal kom nie totdat honger hulle dwing om hulle tafels te eet. Dit word waar in die sewende boek wanneer hulle ronde brode eet en besef dit is die tafels waarna verwys is.

En die aakligste pizza nóg het die uwe in Chicago geëet. So 'n baksel in 'n pan. Urgh.

Soos 'n dik tert.


Vrydag, 22 Mei 2020

Die koerant gee 'n kaart van sterfgevalle per area in Kaapstad.

7 in my vallei, Tamboerskloof.

Hoé skole sal oopgaan, dit weet ons nog nie.

My bure se twee jaar oue kind mis haar maatjies in die dagsorg. Soggens net na 7 gaan stap die mammas en die kleintjies kry mekaar te siene. Met maskers op.

Ek lees vir haar van Tjoppie se avonture met Flapsie en Flopsie, die twee worshonde. Met verskillende stemme.

Die storie se boodskap: mededeelsaamheid, want Tjoppie is 'n enkelhondjie en hy moet leer om te deel. Liz de Villiers se Tjoppie-reeks is skitterend met illustrasies deur Vian Oelofsen. Human & Rousseau is die uitgewer.

En dis wat ons almal doen in hierdie tyd. Ons is mede-deelsaam. Ons ruil 'n bottel wyn vir 'n bottel beet.

'n Pakkie rookgoed vir 'n DVD.

'n Croissant vir 'n sigaret.


Laatmiddag raas een van die bure oor die blare in die tuin. Dit irriteer wanneer sy die plante moet natgooi. Neem 'n swart sak, en ek en buurman hark die blare op. Geduldig, gedienstig, gedwee ...

Buite help 'n Malawiese man met 'n hark. Hy tel die opgegaarde vullis op. Vir 'n geldjie. Hy het vandag sy smouskarretjie verloor en moes 'n stywe boete betaal.

Die stadsraad het laat weet ons vuilgoed word eers volgende Woensdag verwyder. Covid-19 het toegeslaan. 'n Boek van 'n uitgewershuis word eweneens vertraag weens die virus.

*

Fellini: Lies are fascinating for what they reveal about the liar.

Damian Pettigrew se dokumentêr oor Fellini uit 2002 red die aand. Fellini: I'm a Born Liar Fellini, je suis un grand menteur is in Frans, Italiaans en Engels met onderskrifte.

Manna uit die hemel! Met die uitpak van films uit my filmoteek ontdek ek hierdie film en die gesprek tussen Truffaut en Hitchcock.

Vir Fellini is kreatiwiteit 'n magiese proses waaroor hy geen of weinig beheer het. Iets / iemand neem oor. Hy herskep sy lewe en verlede. Die Rimini uit sy jeug het hy her-dink. Dis 'n konterfeitsel. In 'n besondere vinjet vertel hy van twee drome met Picasso as die hoofkarakter wat 'n omelet van twaalf eiers maak. In die tweede droom is hulle in die see met Picasso wat waarsku dat hy nie moet terugdraai nie. Tyd is vervleg tussen hede, toekoms en verlede. Met leuens wat nie van waarheid onderskei kan word nie.

Sy films sien hy soos volg: hy is 'n trein wat by verskillende stasies 'n idee pluk en saamneem. En films? Lig is belangrik. Dit dra die boodskap oor. Kyk na Kurosawa se Rashōmon en die lig wat op die swaard skyn, meen Federico.

Trouens, 'n film is eers 'n skildery; hierna letterkunde en drama. Met enorme presisie skep hy nabootsings van die see en bely sy kontak met die onbewuste.

En neuroses is belangrik: dis 'n skuur vol kreatiewe idees waaruit hy put. Soos die onsigbare psigiese wonde wat die psige voortdryf.

Italo Calvino, die skrywer, self 'n opskepper van formaat, meen leuens is belangriker as die waarheid. Trouens, hy wantrou die waarheid. (Calvino het eenkeer bely dat hy as jong kind eers moes huiswerk doen voor hy mog gaan fliek. Dan het hy die volgende keer die eerste helfte gesien nadat hy reeds die tweede gedeelte gesien het. En dis hoekom sy romans so terugspring in tyd.)

Pinelli, 'n vervaardiger, meen Fellini wil mense wat met hom saamwerk vernietig, omdat hy net kan werk as daar teenstand is.

Ofskoon Fellini teatraal bely dat hy gaande is oor akteurs, vertel húlle 'n ander storie. Donald Sutherland is uiters negatief oor die hantering van hom as akteur in Casanova met bykans geen aanwysings nie. 'n Diktator, 'n demoon wat skree as jy nie sy fantasie reg vertolk nie. Hy het net 5 minute gekry om nuwe dialoog te leer; en dit baasgeraak. Fellini is die poppemeester, die akteur is in sy hande.

Federico is soos Orson Welles wat 'n leuen geskep het en dit moeilik vind om vol te hou:
“Fellini is constantly threatened by his own superficiality, and is constantly running away from it, in the same sense as Orson Welles. Orson Welles created a lie about himself that was in fact the truth, but he knew that it was a lie he'd created – and once everybody believed it, he found it insupportable.” 
Terence Stamp boots hom perfek na. Met oë wat rek vol vraagtekens. En Marcello Mastroianni is glo die een wat sy non-aanwysings perfek kon uitvoer. En sy liggaamshouding ook kon naboots (Fellini/ I'm a Born Liar - WikipediaBesoek 23 Mei 2020).

*

Laatnag lees ek Media24 se nuus en die drogredenasies oor sigarette. Pasoppa! As hulle nou 'n skyf in jou kar kry, is jy in die moeilikheid.

En Jean Oosthuizen is steeds besig om goeie berigte weer te gee oor die stryd tussen waar en wolhaar oor die virus (Minister en dokter haaks oor COVID-19 - VoertaalBesoek 23 Mei 2020).

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, en ’n lid van die ministeriële advieskomitee oor COVID-19 en lid van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, Glenda Gray, is in 'n polemiek gewikkel. Gray meen die inperking behoort opgehef te word.

Ander maatreëls, soos gereelde hande was, die dra van maskers, veilige afstande en ’n verbod op byeenkomste is belangriker. Boonop is die uitfasering van inperkings onwetenskaplik. 

Luister ons regering na hierdie MIV-entstof-navorser? Sy is bekroon met die Orde van Mapungubwe. Oosthuizen wys daarop dat sy in 2017 deur Time as een van 100 mees invloedryke mense benoem.

Wanneer 'n mens hierdie berig volledig lees, word dit al hoe duideliker dat die regering nie ag slaan op kundige raad nie. Sowel mediese as ekonomiese raad word van die tafel gevee. Kundiges op laasgenoemde gebied waarsku al vir etlike weke.

Geen wonder mense is so negatief nie en vermoed 'n ekonomiese agenda om ons te kry by 'n nuwe sisteem wat alles en almal wil gelykmaak.

Inmiddels is daar elke dag meer bedelaars op straat. Meer ellende.

*

Die Franse woord vir die dag: menteur.



Saterdag 23 Mei 2020

Die gesprek tussen twee filmmakers te wete Francois Truffaut en Alfred Hitchcock word beskou as 'n baken in die filmkuns. Die een Frans, behorend tot die nouvelle vague-beweging; die ander een Brits, woonagtig in die VSA en die meester van angs en onsekerheid in die filmkuns.

Hitchcock / Truffaut (Kent Jones regisseur) is gebaseer op die gesprek in 1962.

Daar word vertel dat Alfred Hitchcock as jong kind deur sy pa met ‘n briefie na die polisiekantoor gestuur is. In die briefie het daar gestaan dat hy opgesluit moet word vir ‘n paar uur weens ‘n oortreding. Dit is o.a. ‘n rede vir die paranoia rondom die gereg in Hitchcock se films. Truffaut se werklike vader het hom na 'n diefstalklag laat opsluit in 'n verbeteringskool. Hierom sy obsessie met vryheid.

Hulle ontmoet in LA en gesels vir 'n week lank oor die filmkuns. Daar is 'n boek gepubliseer oor hierdie gesprek: 'n werkboek vir filmmakers en vir alle kreatiewe mense. In die onderhoud beklemtoon hy – soos Fellini – dat lig soveel verklap in 'n film.

Die film het onderskrifte. 'n Mens hoor die sekretaresse wat die Frans vertaal; Hitchcock praat Engels. Soms moet 'n mens terugkeer met die afstandbeheer om iets weer te beluister. Jy hoor die Frans en die Engels daaroor / daaragter.

Truffaut is op die jonge ouderdom van 52 oorlede aan breinkanker en hierdie film (en die gepubliseerde boek) het Hitchcock bevry van die algemene siening dat hy 'n populêre filmmaker was. Veral Scorcese beaam dit in 'n kommentaar. “Cinema is poetry,” meen hy. Kurosawa is eweneens vol lof vir die inspirasie wat uit Hitch se presisie gekry het.

Maar die twyfel bly knaag aan Hitch: het hy genoeg geëksperimenteer met die karakters en die narratief? Was hy nie 'n gevangene van sy eie vorm nie?

In die briefwisseling (gedeeltes opgevang in die film) word die wedersydse waardering gesien van twee groot filmmakers. Beide energiek, beide ongelooflik passievol oor hul kunsvorm. Later het hulle mekaar se draaiboeke gelees en raad gegee.

Hitchcock is uitgesproke oor akteurs: “Actors are cattle.”

Vir hom is die kyker (die ontvanger) allerbelangrik. En uit sy stilfilms het hy verder geput. Die fokus op oë, op hande. Trouens, meen 'n kommentator, jy kan sy films verstaan sonder enige dialoog. Hy is die teoretikus van ruimte en in Vertigo word San Francisco 'n karakter met die geboue wat die storie help vertel.

In hierdie dae gaan ek weer Vertigo bestudeer. Hitch was 'n opgeleide ingenieur wat kortstondig vir 'n advertensiemaatskappy gewerk het. Wat hy dáár geleer het, het hy ingespan. Die storttoneel in Psycho is gebaseer op sketse en dit is meer as 17 keer in slow motion verfilm om die regte effek te kry.

*

Hoogtepunte vir my by Hitchcock:

The 39 Steps (1935), The lady vanishes (1938), Rebecca (1940), Spellbound (1945), Notoriou(1946), Dial ‘M’ for murder (1954), Rear window (1954), The man who knew too much (1956), Vertigo (1958), North to Northwest (1959), Psycho (1960) en The birds (1963).

Hoogtepunte vir my by Truffaut:

Jules and Jim (1962 ), Stolen kisses (Baisers volés) uit 1968 ... The last metro (Le dernier métro) uit 1980 ... eintlik sy hele oeuvre!

In The woman next door (La femme d’à côté, 1981) – met die twee ikone uit die Franse filmtradisie, Gérard Depardieu en Fanny Ardant – ondersoek Truffaut obsessionele liefde. ‘n Egpaar woon in Grenoble, hulle kry nuwe bure en die man ontdek dis sy minnares van agt jaar terug.

Ons het hier ‘n raamvertelling: ‘n vrou geskend deur die liefde (sy wou selfmoord pleeg, maar het te lande gekom op ‘n glaspaneel) is die waarnemer van die verbintenis wat op ‘n ramp afstuur. Klein kodes – soos die vrou wat ‘n tekenprent maak van ‘n vrou in ‘n bloedplas – berei die kyker voor op die einde met sy loeiende sirenes.

In Bed and board (Domicile conjugal, 1970) ondersoek hy die verhouding tussen ‘n jong getroude paartjie: hy is ‘n floris wat blomme artifisieel bespuit om die regte kleur te kry; sy gee vioollesse. Hulle woon in ‘n afgeleefde woonstelblok waar die bure kommentaar lewer op die geboorte van hul kind en die verbrokkeling van hul huwelik wanneer hy verlief raak op ‘n Japannese vrou by sy nuwe werk. 

Die film is net na die studente-opstande in Parys gemaak en kenners meen dit is Truffaut se opstand teen die eis dat films net politieke kommentaar behoort te lewer. 

‘n Oomblik om te onthou: die Japannese vrou versend boodskappies in ‘n ruiker blomme vir hom. Hy gooi egter die blomme weg. ‘n Buurkind tel dit op en sy vrou sit dit op die tafel. En, voilà, wanneer die blomme oopgaan, weet sy hoe sake staan want die stukkies papier met haar liefdesverklarings val op die tafel.

The story of Adèle H. (L'Histoire d'Adèle H.) 1975. Die pragfilm had drama agter die skerms. Isabelle Adjani was nie aangetrokke tot die regisseur nie.

The films in my life (1975 / 1980) is 'n boek waarin hy verklap watter films hom beïnvloed het. Die rusie met Jean-Luc Godard is bekend. In 1973 was eersgenoemde krities oor Day for night waarop Truffaut se respons was: “The Ursula Andress of militancy – like Brando – a piece of shit on a pedestal.”

Ten spyte van Godard se pogings tot versoening, wou Truffaut niks weet nie.

Regdeur Truffaut se films is daar 'n soeke na vryheid – waarskynlik omdat hy as buite-egtelike kind soveel ellende moes verduur en rondgestuur is na pleegversorgers.

Hitchcock was bekend vir sy kamee verskynings in sy films. Truffaut weer was dikwels 'n akteur in ander se films soos in Spielberg se Close encounters of the third kind. In The story of Adèle H. is hy 'n offisier.


© Joan Hambidge