Resensent: Joan Hambidge
In begeleidende motto word C.A. Conrad aangehaal: Poetry is a blueprint of who we are at the time of writing it.
Die digkuns as bloudruk en afdruk word op verskillende maniere in hierdie bundel ondersoek. Hoe verwoord die digter die dood? Hoe neem 'n mens afskeid van 'n moeder of 'n geliefde? Hoe kan die woordelose taal van die musiek opgevang word in woorde? En kan gedigte troos? Hoe beskryf 'n mens grensoorskrydende betredings?
Die digkuns as bloudruk en afdruk word op verskillende maniere in hierdie bundel ondersoek. Hoe verwoord die digter die dood? Hoe neem 'n mens afskeid van 'n moeder of 'n geliefde? Hoe kan die woordelose taal van die musiek opgevang word in woorde? En kan gedigte troos? Hoe beskryf 'n mens grensoorskrydende betredings?
Crous se bundels besoek - soos in die digkuns van Johann de Lange - die gevaarlike ruimtes van die manlike of queer-identiteit. Die kompromislose ondersoek van die ruimtes van die abjekte en cruising; die dood wat loer om elke draai, hetsy fisies of deur siekte is waaroor hierdie bundel handel, onder andere.
'n Tussenganger is 'n bemiddelaar, 'n middelman; dit aktiveer ook die woord tussenspraak. En die gedig speel immers in op die bekende idiome en woorde en draai dit metafories op sy kop. Hierom heet 'n bundel vol draadwerk: om ingewikkeld te wees, maar ook skérp verweef.
Hierdie bundel tree in gesprek met Marlene van Niekerk se Kaar wat woorde ontgin en Johann de Lange se Stil punt van die aarde. Crous is egter 'n eiesoortige tussenganger en buikspreker.
Hierdie bundel neem 'n mens terug na Umberto Eco se Faith in fakes (Secker & Warburg, 1986) en hoe tradisies van die Middeleeue tot nou verander het. Eco wys op die aspek van "living textuality" en sinkretisme.
Daar word gekyk na klassieke mitologie, Die Iliad, moderne mites en dis 'n meedoënlose ontginning van eensaamheid. Hekabe word aan die woord gestel soos Helena van Troje ("In drie weeklae vir Hektor").
Daar is verskillende registers in hierdie bundel. Ernstig en parodies. Pynlik en afwysend. Selfs Jimi Hendrix is hier.
In die lykdig vir Wisława Szymborska, die Poolse Nobelpryswenner, praat hy van haar tannie-perm en lornjet. En dan gaan die gedig oor in verdriet in sy smartlap:
die dood maak van almal digtendes
broers en susters in die rym:
gaan jy my stem herken as ons mekaar
raakloop in die hiernamaals
gaan jy my hand vashou
die tyd sal leer die tyd sal jou op jou knieë dwing
jou hart breek my hart breek (117)
Daar is eindelose humor in hierdie bundel. Soos die beelddig (amper 'n dansende villanelle) oor Jeff Koons:
“Koons really does think he’s Michelangelo
and is not shy to say so”
uitgestalde oopgevlekte pornosmet
varkpienk geslagsgleuwe
pastelpenis geskeurde kousband
kommin soos fake gras
die messias vir die massas gevoed op kitsch (99)
In "Las Meninas" van Diego Vélasquez word 'n dwerg aan die woord gestel. Foucault en Wittgenstein het insigryk oor hierdie betowerende skildery geskryf:
ek is ’n dwerg
kruip weg vir my oë
in die spieël
skuil teen die skilder
wat kom esel opsit
sy puntskoene op die tapyt
die prinses se hakies
die hofdames se sis
in ’n hopie onder die sofa
tot die poeslekkertjies
my kom uitsnuffel
saam met houtperde
soldaatlose harnasse
prinsesse en dwerge
op te stel voor sy blik
soos voor ’n spieël (89)
Daar word gedig oor die spirituele en heiliges. Oor die prolifieke Rubert von Dreutz tot Piers Gaveston. Die reisskrywer oor die Polinisiese wêreld is hier, Charles Warren Stoddard (1843–1909). Koimisis tot Suid-Amerikaanse heiliges tot Anatta, die Pali-begrip vir non-self of substansieloosheid. Selfs die Noord-Koreaanse Juche of die idee dat jy die skepper van jou eie lot is, word hier ondersoek. Pelgrimsruimtes - soos Kushinagar - gee dan uiteraard iets konkreets aan hierdie soeke na sin.
Oos-wes-tuis-bes? Helaas nie.
#FMF kom aan bod en hoe die wit-manlike akademikus maar eerder moet stilbly, oorlewing ontwille. En hoe studente agentskap gekry het sonder genoegsame kennis, word skerp ondersoek in hierdie gedig. 'n Sentrale vers waarin die spanning tussen liggaamlikheid en denke ondersoek word is Marina Abramović oor die Serbiese perfomance-kunstenaar:
sny diep in jou middelvinger in met ’n mes eet jou pyn
spoeg in jou eie naeltjie
luister na jou hond se hartklop
meng borsmelk vars sperm
drink in die nag terwyl die aarde bewe (92)
Haar tattoes is letsels; 'n belangstelling in verwonding en abjeksie is bekend aan Crous se werk.
ORLAN, die kunstenaar wat werk met liggaammodifikasie en plastiese sjirurgie bewys weer eens hoe die portretverse oor kunstenaar terselfdertyd gelees kan word as ars poëtiese verse.
Die vers dus as parallellogram.
Hier is baie oorgange. Hartverskeurend mooi oor die dood van die moeder wat antarabhāva,chūu (中有) en die bardo aktiveer: die staat tussen dood en hergeboorte.
Nibiru-kataklisme, androïedes (soos Pris Stratton) vra uiteraard vrae oor fantasie én hoeveel gelowe en oortuigings nie dalk werk soos fiksie nie.
Tussenganger is nie 'n maklike bundel nie. Daar is baie verwysings na kunstenaars en musiek; na verre plekke en ruimtes. Na hoé verskillende kulture eiesoortig met identiteitspolitiek werk. Die abjekte en gebruik van plat woorde wil die idee van poësie as 'n skoonheidstroos bevraagteken.
Lykdigte, portretverse, spirituele gedigte, reisverse, kunsteoretiese analises, ekfrastiese verse; dit staan alles hier met 'n verwysing na Kenneth Goldsmith: hoe word taal in 'n digitale era bestuur of beheer?
Van Karl Jenkins tot die Vistula. Van die Piz Palü tot die Bardo Thödol. Van 'n boerebegrafnis tot Andromache se geweeklaag. Malochio (die evil eye) wat waarsku. Is die gedig dan uiteindelik 'n nazar?
'n Mens mis 'n parodiese vers oor Florence Foster Jenkins, die vrou met die aaklige stem wat dag sy kon sing so onder die kritiese verse oor vreemde kunstenaars.
Mĕsičku na nebi hlubokém: Anna Neterebko of Renée Fleming se vertolking? Vir my laasgenoemde, maar dis waarheen 'n gedig jou neem.
Dit tree in verset teen die jongste modegier dat poësie toeganklik moet wees. Daar is immers plek vir verskillende stylsoorte.
Tussenganger is 'n uitdagende bundel vir naspeur en nadink. Jy moet lees met 'n vergrootglas of lornjet.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)