Monday, April 27, 2020

Reisrubriek | Life: A survivor's manual | 2020


Woensdag 22 April 2020 | Dag 27

'n Pragtige dag na die president se toespraak oor ekonomiese verligting.

Luister eerder musiek as om vérder opgewerk te raak oor 'n as/indien-paradigma. Skaars is die toespraak verby of die selfoon begin oortyd werk met scenarios. Die emosionele weervoorspellers van ons tyd wat elke wolkie probeer raaklees.

Die inwaartse reis word 'n ervaring van sublimasie. Boeke lees, terugkyk en geweldig baie herinneringe van toeka se dae voor die inperking. Wilhelm Jordaan skryf tereg van die pre- en post-koronatyd.

En drome. Helder en aanskoulik.

My vesting is soos 'n hotelkamer ingerig - hier is geen room service nie, behalwe vir my bure wat soms iets voor die deur laat. Dus self kook, wasgoed was, koffie maak ...

Musiek en boeke en die internet maak die dae plesierig. 

Strange Hotel deur Eimear McBride is 'n boek wat ek graag sou wou lees. 'n Vrou wat verskillende hotelle besoek en in die woorde van die resensent Holly Williams:
Hotel rooms are strange – and McBride captures brilliantly the uncanny feeling of replication across cities and continents they give, how they seem to exist out of time, and how an abstract, untethered version of the self stacks up whenever you check in. But Strange Hotel’s view is also limited, always turning inwards rather than outwards. There’s a stuffy, airless claustrophobia to the character’s solipsism (Strange Hotel by Eimear McBride review – evasive and claustrophobic | Books | The Guardian. Besoek 22 April 2020).
'n Hotelkamer is aanvanklik 'n vreemde ruimte wat jy besoek en na 'n paar dae word dit jou ruimte. En die dag wanneer jy vertrek en alles is ingepak, is dit nie meer joune nie. So iets van jou persoonlikheid het jy (tydelik) laat intrek in die ruimte.

Salida

In die vele hotelkamers van die liefde
my bagasie in- en uitgepak.

In die vele hotelkamers van die liefde
die hotelkaart noukeurig ingevul

In hierdie hotelkamers
is alles eers klinies – later morsig.

In die hotelkamers van die wanhoop
soms ‘n soewenier geneem – niks agtergelaat.

In hierdie vele hotelkamers
nimmer lank vertoef.

Sommige hotelkamers was vyfster;
party minder goed.

Nou onthou ek net my geliefdes
soos die kamernommers in dié hotelle.

Santiago

(Uit: Verdraaide raaisels, 1990).

Salida soos in uitgang / exit.

*

En Seinfeld. Amper klaar met Seisoen 3.

Skitter oomblikke:

Elaine op pad na 'n lesbiese troue. Wie is die man? Wie is die vrou?

“Flip a coin!”

En ja, was buite myself van die lag toe Elaine neffens 'n ou oom sit wat vir haar 'n lesing gee oor kangaroos. Volgens hom ly die mannetjies aan “pouch envy”. Lekker Papa Freud.

George se manewales rondom werk soek word in 'n hoogtepunt uitgespeel voor Mevrou Sokol, 'n streng butch tante wat nie nonsies vat nie en regdeur sy leuens kyk. Die werkloosheidskantoor word perfek uitgebeeld.

Deurmekaar lessenaar. Wagtende mense agter George ...

Dan sien hy 'n foto van haar dogter op die lessenaar. Hy komplimenteer die skoonheid; die tante versag. En nou? George moet met haar uitgaan om sy werkloosheidsgeld te kry!

Nodeloos om te sê: die dogter is skreeulelik, die uitgaan 'n nagmerrie en so boemerang die plan. Net soos die vals nommer van Vandaloo ('n latex maatskappy) waar hy sou aansoek gedoen het met Jerry se huisnommer. Natuurlik met Kramer wat alles laat uitbom wanneer hý die foon antwoord.

Jerry apploudiseer George vir sy tegnieke om telkens nie werk te kry nie en tog aan te hou lewe.

Soos 'n Franse klug loop daar altyd iets verkeerd met die planne. En die slim tydsberekening laat dit werk. Soms sien jy hoe wel dat Jerry nie sy lag kanhou nie.

“I love the smell of boxes in the morning,” sê hy in 'n solo-vertoning. Apocalypse now luier in die agtergrond. Dit gaan oor trek (move) en hoe ons altyd op soek is na genoeg bokse vir die trekproses. Tot ons die finale boks kry wanneer ons sterf.

'n Komediereeks wat beweeg van slapstick tot swart humor.

*

Gunsteling-komediante: Buster Keaton, Charlie Chaplin, Peter Sellers, Mr. Bean...

Oor Peter Sellers het T.T. Cloete hierdie aangrypende gedig geskryf waar hy inspeel op Sellers se belangstelling in die okkulte (Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge - ‘n Nota by T. T. Cloete se “Alle grappies op ‘n stokkie” (uit Jukstaposisie, 1982)Besoek 22 April 2020).

Alle grappies op 'n stokkie

Die ektoplasma maak mislik.
Alle vlae hang stigtelik
by alle teaters halfmas.
Peter Sellers is vandag veras
by Golder's Green. Wat mens afkerig maak
is dat die dooie vertrek en ander moet ontslae raak
van sy lyk. Die diens vir die lastige rou
en konvensie is deur John Hester gehou,
Peter se vriend, 'n kannunik.
Maak dit vrolik
om van die walglike oorlas
verlos te word. Slegs vriende uit die vermaak, kollegas
uit The Goon Show
sy eerste, sy derde en vierde vrou
mog die diens bywoon: Britt Ekland die seksbom
het ongenooid daar aangekom,
sy't vermetel met Spike Milligan opgedaag.
Sy is kywende weggejaag
deur Michael. Vir die groot
mededinging met die lastige dood
was Lynn Frederick
heel paslik
geklee in 'n rok wat inderhaas
spesiaal ontwerp is deur die modebaas
Yves St. Laurent. Terwyl hulle die lyk veras
vrolike musiek pas
immers by die toneel
is Glenn Miller se In The Mood gespeel
op Peter se versoek. 'n Lyk is darem 'n verleë ding.
Laat die poppe speel, laat hulle hom wegsing.
Tog het iets vreemds gebeur:
'n donderstorm wat ineens losbars versteur
en oorstem In The Mood. Dis nes Peter dit wou he,
dit pas by sy humor, het die kanunnik vroom gesê.
Wat pla
bedink agterna
in terme van tooneelspel: is dit deus ex machina
of is die grap bygedra
deur die baaslykverbrander?
To steal one's thunder
Pas by die toneel. Behoort die oorskot
aan die duiwel, aan God?
behoort die donder

aan God, aan die duiwel? I wonder …

*

Nou verder lees aan Perec.


Donderdag 23 April 2020 | Dag 28

Vanoggend moeg; eintlik uitgeput. 'n Mens word emosioneel gedreineer deur hierdie ingryp met sy cabin fever. Elke dag se buite wees en op die balkon staan om na die see te tuur, helaas nie genoeg nie. Wens ek kon nou gaan stap langs die see ...

Tafelberg hou stil die wag na links, terwyl ek skryf kyk ek na die berg.

Vanoggend 'n bruisende rusie onder my. Gille van frustrasie. Laat dit begaan. Met kompassie.

Navorsers sal waarskynlik hierna studies die lig laat sien oor hoe mense oorreageer het: hoe jy spook om waar van wolhaar te skei. Nie meer tyd vir ambivalensies het nie. En hoe onsekerheid mense se gedrag aantas.

My buurman bring 'n bakkie sop. Ek gee biltong en sjokolade. En een sigaret omdat hy probeer ophou rook.

*

Die Psalms se konkrete beelde is opvallend. Die kinders sit soos olyfbome om die tafel. En ons ingang en uitgang wat bewaar word (Psalm 121) en hoe ons moet waak teen valse lippe en die die bedrieglike tong (120). Plaas 'n wag voor die mond (141).

Die lees van die Groot Boek is 'n nostalgiese reis. As jong kind het ek gedeeltes onderstreep en daardie kind het nie geloof bevraagteken nie. Dit was 'n gegewe. En wonderbaarlik hoe hierdie boek waarhede oordra wat ook in die Boeddhisme staan.

*

En my groot rasieleier Crito staan al weer voor my deur met 'n koekblik in die hand. 
Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels: Koffietafelboek vir ganjamense en ander fragmentlesers, deur Kleinboer. Resensie: Joan Hambidge. (Rapport Boeke) Litnet 23 April 2020
 Joan Hambidge sê nie veel oor Kleinboer se bundel nie, maar gee hom kans om ons self te oortuig deur die aanhaling van ses gedigte uit die bundel. 
Crito kan beslis nie lees nie. Dit staan daar: humor, grensoorskrydende ervarings, taalspel.

En:
Die ouers – en die tweelingbroer – loop deur sy werk. En Kleinboer se tekste problematiseer telkens die outobiografie. In Kontrei het hy dit so effektief geproblematiseer dat dit meer word as die teks = Fanie de Villiers (Kleinboer). Dis 'n lywige digbundel vol praatverse waarin die digter dikwels in 'n selfgesprek gewikkel is. Dit wat oënskynlik maklik lyk, sit vol woordspeletjies. Miskien kon die digter minder verse opgeneem het (daar is sekere herhalings soos die luister na musiek of gedrinkery), maar in die geheel is dit 'n pretensielose, eerlike, sjarmante digbundel van ons Boere-Bukowski. Lesers en liefhebbers van sy prosatekste sal dit geniet. Hopelik soveel as wat hierdie leser dit geniet het! 
Crito laat my dink aan die man wat met Monopoly-geld 'n hoer wou betaal en boonop kleingeld verwag het.

*

Seinfeld.

Og, dit dreun voort. Kramer wat op 'n vrou kots (per ongeluk) omdat hy van Jerry se melk gedrink het wat al rens was.

En dan die heerlike wonderwerk: Jerry wat meen daar is geen simpatie-kaart vir hierdie soort ding nie.

Die humor word al hoe swarter hoe langer 'n mens kyk. Reeksmoordenaars en selfmoord kom ook aan bod.

Met 'n sekerlik een van die beste send-ups wanneer Kramer en buurman Newman in die hof is. Lg. speel prokureur wat moet verdedig.

Dit speel so perfek in op die hele genre van L.A. Law en al die hofdramas dat 'n mens skreeu van die lag. Met Kramer wat - soos gewoonlik - die emmer laat val met sy onnoselheid.

En waarom is Julia met vakansie in Frankryk? Die internet verklap die geheim ...

*

Perec se Life: A user's manual kan jy lees as een groot roman of die verskillende verhale afsonderlik benader. Die een oor die kinderoppasser, Elizabeth de Beaumont, wat per ongeluk die kindjie wat sy oppas, laat verdrink. Die ma pleeg selfmoord en sy word agtervolg deur die pa.

Sy raak verlief op 'n man, het twee dogters en hulle storie word later vertel in die roman en rekonstrueer deur die prokureur en haar man.

Die vrou se ellende en paranoia is van die mees aangrypende skryfwerk wat hierdie leser ken.

In die agtergrond speel Mozart op FMR – vanuit die Concertgebouw.


Vrydag 24 April 2020 | Dag 29

Op reis deur Turkye so nege jaar terug – op 'n luukse bustoer vol grimmige persoonlikhede – reis ons in 'n sirkel deur hierdie land. Van Istanbul tot terug by Istanbul.

Istanbul, Izmir, Antalya, Ankara ... lieflike bakens.

Om net buite die hoofstad te stap, is 'n reis deur die Nuwe testament met Paulus se staptog 47 - 49 v.C.

Maar een aspek sal ek nooit vergeet nie. Die ongelooflike lang, uitmergelende afstande: tussen hoofstede is soos van Kaapstad tot Beaufort-Wes; of Johannesburg tot in Louis Trichardt.

Elke dag tussen 5 - 6 ure op die bus. 

En elke keer – laatmiddag – vra ons vir die gids: hoe lank nog? Hoe lank nog voor ons by die hotel sal wees?

“Ons is amper daar.” Sy amper daar was gewoonlik nog twee ure weg. En so voel ons almal oor die ingrendeling wat nou fase 4 binnegaan.

Is ons amper daar?

Definieer amper, definieer daar...

“Saggies ontwaak my hart ...” – hoor hoe goed vertolk Marilyn Horne hierdie lied (Marilyn Horne - "Mon coeur s'ouvre a ta voix" - Saint Saens - YouTube. Besoek 24 April 2020).

Marilyn Horne (1934 - )

Die laagste note
skep sy uit ‘n diep, donker put,
of laat dit rommel soos swaar onweer;
die hoogstes ruk sy terug, terug,
om weer rus te vind in ‘n skuiling. 
Sy is soos, nee, ís ‘n groot storm
waar voor ‘n mens vol bewondering
én met iets soos vrees staan.
Behalwe hier die volledige beheer,
asem, diksie, frasering.
Almal sweer hoog en laag,
niemand kan ‘n hart só laat ontwaak,
soos hierdie mezzo uit Bradford, Pennsylvania.

(Uit: Lot se vrou, 2012).

*

Vanmiddag oorspoel deur ennui, ry ek deur die strate van Kaapstad.

Kaapstad se geboue is leeg. Al die plekke waar ek gereeld gekom het, is toe. 'n Sekuriteitswag staan voor Haiku. Distopia-in-aksie. Dit lyk soos 'n Sondag.

Die kerk waar die verskoppelinge vir 'n tydlank gebly het, is toe. Die strate is skoon.

Elke dag is daar meer bedelaars op straat. Vanoggend word al die ou kos in sakkies gepak en by elke stoppunt gee ek 'n aalmoes.

Die ingrendeling het sosiale ongelykhede soos 'n pitsweer oopgesteek.

“Al kan jy nie iets gee nie; groet ten minste. Gee erkenning,” is my buurman, 'n diaken, se raad. Hy het altyd Maandagaande by 'n koffiekroeg vir haweloses gewerk. “Dis 'n mens. Erken net sy ménsheid.”

*

By die Duitse slaghuis koop ek vir my en die bure osstert vir Sondag. Stuur vir my buurvrou, 'n voortreflike kok, 'n Jamy Oliver-resep. Wanneer sal ons weer Saigon se osstert met 'n donker Thai-sous op geel rys eet?

Ondertussen is restaurante steeds toe. En kroeë ook. Ons mag darem sigarette koop, maar geen drank nie. Eers tydens fase 3 glo.


Die ergste is die roetine. Elke dag opstaan, skryf, lees, kosmaak, kos koop, terug om te skryf – musiek, films.

'n Dodelike sirkelgang. Soos op daardie bus deur Turkye ... met 'n klippie onder die tong teen die dors.

Vanoggend slaan ek die Groot Boek oop en sien my aantekeninge as jong kind en geparste blomme. En daardie louheid waaroor Paulus skryf, ontdek in die lou water van Laodicea en nou weer:

My Bybel

‘n Geparste blom
stingel langs die woorde
ek het jou by die naam geroep;
‘n Sondagskoolboekmerk
vou by louheid as ‘n sonde oop,
en ‘n hart van sywurm-sy
wys die weg ritselend na Eden aan.
Onderstrepings met ‘n balpuntpen
rig my jong geloofslewe
in hierdie geskenk van my ouers.
In my middeljare verloor ek my geloof,
verwerp hulle Bybel en veral hulle waardes,
ontdek die hel is beslis ander mense,
die lewe ‘n absurde, hier-en-nou.
Voetjie-vir-voetjie word jy on-gelowig,
agnosties, skepties…:
‘n andersoortige Bybel, die Bardo Thödol,
word ‘n meetsnoer toe die lewe
nie in lieflike plekke vir my val.
Vanoggend gaan die cadeau oop
by ‘n ander openbaring:
woorde, soos geloof,
nie meer ‘n Toring van Babel.

(Uit: Lot se vrou, 2012).

*

Gelukkig is daar darem ook heelwat humor soos Margaret Atwood se verslag – aangestuur deur die digter Juanita Louw uit die Midde-Ooste – van hoe sy hierdie tyd hanteer (Margaret Atwood’s lockdown diary/ life as an eccentric self-isolationist | Books | The GuardianBesoek 24 April 2020).

*

Nou vir die daaglikse ruilhandel. Sigaret en koerant van hier tot sop en melktert van daar.

Soos Jan van Riebeeck destyds moes onderhandel met die inwoners van hier.

Voorheen hierdie stad bykans toeristies beleef. Elke aand elders besig, aan die beweeg, mense ontmoet, uiteet asof ek 'n besoeker hier is.

Nou kyk ek anders na die stad: van binne na buite.

Uit my venster wat Tafelberg raam; op my balkon wat tot vér by die hawe staan.

Ag, hoe lekker om na Jim Reeves se Engelse aksent te luister in  ”Die blonde matroos” (Die Blonde Matroos - Jim Reeves - YouTube. Besoek 24 April 2020). Hier is die lirieke:

Sy staan op die hawe van Tafelbaai strand
Haar seemans-geliefde hou sy by die hand;
Sy kla oor haar noodlot, haar hartjie is te seer -
Sy het glad geen tuiste en Moederlief meer...

Neem my, O matroos, neem my saam as jy swerwe;
By jou wil ek ween, wil ek lag, wil ek sterwe
Ons hoort mos tesame soos die wind en die see -
Ek gee jou my liefde, ag, wat meer kan ek gee?
Ons hoort mos tesame soos die wind en die see -
Ek gee jou my liefde, ag, wat meer kan ek gee?

Neem my, O matroos, neem my saam as jy swerwe;
Met jou wil ek ween, wil ek lag, wil ek sterwe
Ons hoort mos tesame soos die wind en die see -
Ek gee jou my liefde, ag, wat meer kan ek gee?
Ons hoort mos tesame soos die wind en die see -
Ek gee jou my liefde, ag, wat meer kan ek gee?

Inderdaad ween, lag en sterwe ...


Saterdag 24 April 2020 | Dag 30

Met elke reis is daar opwinding met die beplanning, die lang reis met jet lag en hierna die ontdekking van die vreemde landskap, die mense, die gewoontes, die kos, die wyn.

En dan een oggend: het jy genoeg gehad. Jy wil huis toe.

Met hierdie reis ook so. Behalwe jy ís by die huis.

Met my drie laaste reise: 'n bom in Tunis; 'n tas wat laat aankom in Bogóta; 'n vlugvertraging in Wene weens stakings in Parys.

Dramatiese reise, maar wat lank na die ervaring bly inwerk het. Hoe gaan hierdie inperking ons menswees verander?

“Irony is the hardest addiction of all,” beweer Seinfeld daar filosoof van die niksheid en menslike belaglikhede.

“Laat alles val wat pronk en sieraad was ...” die versugting van die digter Van Wyk Louw. 

In tye van nood word daar georden. Vensters gewas. Gestofsuig.

*

Die 8 uur handeklap dui op oorlewing. Nog 'n dag is die virus afgeweer. Maar dis ook uit dankbaarheid vir dié wat versorgers is in hospitale in hierdie tyd. Of na haweloses omsien in plekke soos The Arc in Kaapstad. Want die meetsnoere het nie vir almal in lieflike plekke geval nie.

The Tao is silent van Raymond M. Smullyan, sy gids tot Oosterse filosofie het in 1987 verskyn. Christene en ateïste stry dikwels oor die bestaan van God en die een moet die ander oortuig. Eersgenoemde wil mense se siele red; laasgenoemde dink dit is primitief wat ewolusie en die wetenskap ontken. Hierteenoor meen Smullyan is die Taoïs besig om die langs die stroom te sit met 'n boek of iets te drinke en geniet die lewe sonder om te wonder of die Tao bestaan.

*

Soos Seinfeld aanbeweeg raak die reeks al hoe meer self-refleksief. In die vierde seisoen moet Jerry en George 'n komedie-program voorlê. Hoe weet ons die baas hou nie daar van nie? Wel, hy gooi op ... (oënskynlik van 'n maagaandoening, maar nietemin).

“Ek het nog nooit iemand ontmoet wat so baie weet oor niks nie,” meen 'n model in 'n vliegtuig langs Jerry. En dis waar. Klein nietighede word tot monsteragtige hilariteite opgedoek. Soos neuskrappery wat 'n verhouding kan verongeluk; al was dit nie regtig so nie.

“If your body was a car, you wouldn't buy it – too much upkeep,” meen onse Jerry tereg.

George wil as porno-ster die naam Buck Naked gebruik (ou grappie) en bekendes word ingespan om verdere myle aan die reeks te gee. Wyle John-John Kennedy en selfs Calvin Klein. En Salman Rushdie met 'n gespottery oor sy naam wat soos vis klink.

Elaine jim saam met hom (o verrukking), maar weens 'n misverstand tussen haar en Jerry wat met 'n maagd uitgaan, dink ons dat John-John met die maagd in 'n geel cab verdwyn.

Die slot onthul die waarheid: dis Kramer met 'n woeste swart pruik wat haar ont-maagd.

En Calvin Klein? 

Hier word die spot gedryf met gay-wees en lyflikheid. So: Elaine word geterg omdat haar tepel wys op 'n verjaarsdagfoto op 'n kaartjie wat sy aan almal versend het, maar 'n ietsie van Kramer se oempabaloelie wys.

Masturbasie, gay-wees, neuskrappery, outing van 'n pa, 'n voor-op-die-wa 15-jarige, word in hierdie seisoen beloer.

Meer nog: gestremdheid en Kramer wat verlief raak op 'n vrou in die rolstoel wat in 'n ongeluk beland het, omdat hulle wederregtelik geparkeer het op háár plek. En dan om 'n tweedehandse een vir haar in die hande te kry en uiteindelik los sy hom.

Plastiekborste. Seksisties bepaald, maar snaaks.

Grensoorskrydend? Perdalks.

Elke keer met vlugvoetigheid word 'n grap op sy kop gekeer. En vooroordele ontmasker (van sowel die karakters as ons die kykers) wat opnuut bewys: die beste humor is wrééd.


Laataand laat weet 'n kollega dat ons in Kaapstad nog nie uit fase 5 kan beweeg nie. Gevaarsone. En dat die aanlyn-klasgee hom bó sy kragte beproef.

“Miskien moet ek jou skype dat ek jou ten minste kan sien,” stel hy voor.

Die Tao is stil.

In Psalm 150 word daar geloof met basuingeklank, harp, siter, tamboeryn, koorddans, snarespel, fluit, klinkende simbale.

Tel jou seëninge, dink ek. In stilte met Saterdag wat Sondag word. Jy het ten minste kos, boeke, beskutting, vriende, internet ... en musiek.

Nomaad

νομάδες

Gedagtig aan hulle wat nooit 'n staanplek 
onder die sterre vind vir die voet se holte
soos die Mbuti van die Ituri Reënwoud,
die Negrito's in Suid-Oos-Asië, die Adivasi
in Indië, die Nukuka-Makú in die Amasone:

eens op 'n tyd was hierdie nomaad flink
aan die reis van kontinent na kontinent
wég van ankers en vastighede aan die rinkink
in onveilige plekke ver van haard en huis
net met onrus as die dwingende kompas.

Te lank uit en tuis sodat die self soos die gedigte
altyd op soek was na nuwe, onbegonne weivelde.

(uit: Nomadiese sterre - onder rekonstruksie).

© Joan Hambidge