Nathan Trantraal – Oolog. Kwela, 2020. ISBN 978 0 79571 7
Resensent: Joan Hambidge
I
Nathan Trantraal debuteer met Chokers en survivors wat bekroon is met die Ingrid Jonker-prys. Die digter het ook 'n ATKV-woordveertjie ontvang in 2014. Die tweede een heet: Alles het niet kom wôd. Oor sy jongste bundel, skryf twee lesers die volgende:
“Meesleurend, leersaam, waaghalsig, dapper, insiggewend, beeldryk, meevoerend, inyourface en nie ’n moment eendimensionaal nie.” – Alfred Schaffer.
“Trantraal is ’n belangrike teenvoeter vir ’n letterkunde wat te dikwels uit voeling is met ’n groot deel van die potensiële leserspubliek.” – Tertius Kapp.
Trantraal is deel van 'n hele galery van jong bruin stemme wat deur hoofstroom-uitgewers gepubliseer word. Die regstellende aksie is dus besig om te gebeur. Hy skryf eweneens resensies in Rapport in Kaaps. Azille Coetzee se gevoel op Litnet dat die Afrikaanse letterkunde 'n laer is, word helaas verkeerd bewys deur die feite. Skrywers word in Kaaps gepubliseer en nog nooit was die Afrikaanse letterkunde meer transglobaal en demokraties as nou nie (Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem/ ’n Paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa | Besoek 22 Februarie 2020).
II
Met enige digbundel word daar 'n kontrak met die leser gesluit. Jy moet as't ware “inkoop” in dit wat die skrywer vir jou weergee van sy of haar ervarings. Dit word van 'n kritikus verwag om die gedigte te beoordeel al sou die temas jou nie aanstaan nie.
Die bundel werk met die ondergrond van whiteness must fall en plaas die ervaring van die spreker op die voorgrond. Daar is iets van 'n superieure houding in hierdie bundel van wit mense se onkunde. “Petit Roux” (39) word in 'n gedig uitgehaal – saam met sy vrou – oor hul filosofiese onkunde. Jostein Gaarder is onbekend aan die vrou.
Waarskynlik is hierdie leser nie die teikenleser nie soos Annemarié van Niekerk wat dit tipeer as “eeu-oue fort van klip, fors en resoluut”, maar terselfdertyd “delikaat”. Sy gebruik die beeld van “'n vroegoggend spinnerak waaraan miniskule doutrane nog trillend hang.”
Behalwe vir die kritiese houding, is die gebruik van vuige woorde en praattaal kenmerkend van die digterlike aanslag in Kaaps. Die bundel tree in gesprek met Ronelda S. Kamfer se Chinatown, die digter se vrou. 'n Resensent het hulle liefdesverhouding as groter as dié tussen Cussons en Louw of Plath en Hughes beskou. Deborah Steinmair skryf in die Vrye Weekblad van 21 Februarie 2020 onder die opskrif ‘Oolog’ en die kruidenier van wanhoop soos volg:
Nathan en Ronelda s’n is ’n groot literêre liefdesverhaal, vergeet van Hughes en Plath, Van Wyk Louw en Sheila Cussons. Hulle is aangrypend verwond en as hulle oorleef, “sing ie wind koortjies/ en blaf ie honne tot laat toe”.
Die gedigte is verhalend in aanbod. Hy gee 'n blik – dikwels ontstellend – op die lot van sy bestaan in Kaaps. Hy tree in gesprek met wit skrywers waarteen hy dan sy lotgevalle plaas.
Is dit waar – soos wat Tertius Kapp op die agterblad skryf – dat Trantraal poësie vind waar ander digters te bang is om te soek? Ons het 'n hele galery van vreeslose digters in Afrikaans – Antjie Krog en Johann de Lange, om twee uit te sonder – en 'n digter moet immers skryf oor wat bekend is aan hom of haar.
III
In “Quantum physics” (23) verneem ons direk van ellendes: 'n taxibestuurder kan voortgaan met sy werk ten spyte van ongelukke. Moeiliker om te verstaan as kwantum-fisika. In “House-hunting” (91) word 'n konfrontasie met 'n semi-atomatic beskryf en posttraumatiese stres. En dit is hier waar 'n mens Wyn Roux gelyk moet gee dat dit 'n moeilike bundel is:
Ek herhaal: dis nie ’n maklike bundel om te lees nie – dis oolog op die tuisfront, buite die confines van ’n gemaklike lewe, wat al te dikwels vanuit 'n wit kyk (“White Gaze”) op 'n venynige, rassistiese wyse veroordeel word. (Versindaba » Blog Archive » RESENSIE/ OOLOG (NATHAN TRANTRAAL | Besoek 22 Februarie 2020).
Die motto “Getting on fine/ Catch the next wave/ Get the move right/ Darken the wave”, van Miki Dora, die branderplankryer-fenomeen is alreeds ironies, soos Roux tereg aantoon. Dora was rassisties; selfs op sy branderplank glo 'n swastika gehad.
“If you took James Dean’s cool, Muhammad Ali’s poetics, Harry Houdini’s slipperiness, James Bond’s jet-setting, George Carlin’s irony and Kwai Chang Caine’s Zen, and rolled them into one man with a longboard under his arm, you’d come up with something like Miki Dora, surfing’s mythical antihero, otherwise known as the Black Knight of Malibu.”
Waar Kamfer die wit vrou en skrywers teiken (soos Sylvia Plath) word wit manlike skrywers in hierdie bundel gekritiseer. Kom ons staan by twee voorbeelde stil.
Ted Hughes en J.M. Coetzee.
In “Lupercal” (13) word daar geintimeer dat Hughes se valk 'n imposter is (“'n ou Englishman geplak vol vere”) en in “Funny business” (45) word Coetzee verminder – via Buster Keaton. Vra hier: on who is the joke?
Vir hierdie digter is die digkuns beslis wat Pope of Walt Whitman daarvan dink nie. In “Gie vir my 'n baby” (56) is poetry vir hom 'n laitie “wie gan liewe en doodgan”.
Die gesprek tussen Chinatown en hierdie bundel is opvallend.
This Is Just To Say van William Carlos Williams (1883 - 1963) word geparodieer in “Die is net om te sê” (34):
Ek hettie laaste
cigarette geroek
wat innie
boksie was
en wat
jy probably
gehourit
vi venaan
Vergiewe my
it was delicious
soe bitter
en soe warm
Hier is die Engelse gedig:
I have eaten
the plums
that were in
the icebox
the plums
that were in
the icebox
and which
you were probably
saving
for breakfast
you were probably
saving
for breakfast
Forgive me
they were delicious
so sweet
and so cold
they were delicious
so sweet
and so cold
Dis nie 'n bundel vir weekhartiges nie. In “I've seen the future and it's hopeless” (84) word die volledige santekraam in jou gesig gesmyt.
Daar is uitstekende verse in hierdie bundel, maar die aanslag van die eerste bundel is nie getroef nie. Miskien is hier te veel probeer om te skok sodat die die leser toondoof raak?
Dalk het ek nie alles verstaan nie? Je ne comprend pas soos daar geskryf word ...
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)