Sunday, February 2, 2020

Resensie | Marc Tritsmans – Die singende wêreld (2019)

Marc Tritsmans - Die singende wêreld (uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo). Naledi, 2019. ISBN: 978-1-928518-25-9

Resensent: Joan Hambidge

Die singende wêreld  van Marc Tritsmans het verlede jaar by Naledi verskyn. Dis 'n bundel met vertalings deur Daniel Hugo.

Wat 'n wonderlike verrassing is die ontdekking van hierdie digter nie. 'n Boek oor die see en voëls en bome en die planete – en 'n besinning oor presies wat ons hier maak.

Reeds in die openingsgedig konstateer die digter dat hy 'n “oudmodiese kompas” in sy kop huisves en dat niemand sonder plekbepaling werklik kan bestaan nie. En dan neem hy sy leser op 'n fassinerende reis oor hoé hy homself hiér op die ondermaanse beleef.

Bekende konstellasies

ek is ’n man uit die noordelike halfrond
en wil nie my noorde van my laat afrokkel nie
waarskynlik deel ek tog iets met die duiwe

huisves ek ’n oudmodiese kompas in my kop
want waar ek ook al neerstryk begin ek in die donker
vasberade soek na bekende konstellasies

fluister stemme van verre voorouers – jagters
reisigers? – dringend in my oor dat niemand
sonder plekbepaling werklik kan bestaan nie

my voete wil altyd weet waar hulle hul presies
bevind: beveilig en geaard ook al dwaal ons
almal stuurloos te midde van ontelbare heelalle

Die leser vind sowel die oorspronklike gedig as die vertaling deur Daniel Hugo met 'n nawoord deur Yves T'Sjoen, van die Universiteit van Gent, waarin hy nuuskierig is oor hoe Afrikaanse lesers op hierdie gedigte gaan reageer. Wel: hierdie leser vind Die singende wêreld  'n pragboek. 

Dis gedigte wat oënskynlik maklik "lyk", maar vernuftig inmekaar pas. Die metriese -en klankpatrone pas by die gemaklik, oënskynlike praataanslag. Die digter gebruik dikwels personifikasie moeiteloos - een van die moeilikste tegnieke wat maklik 'n gedig kan beduiwel - om die spanning tussen mense en natuur aan te stip. Die son word (soos) 'n moeder; die liggaam kry kos soos 'n hond. En hierdie gedig "Die liggaam praat (ook vir 'n keer)" (31) gee 'n belangrike geheim weg van hierdie bundel waar alles tweeledig en dus op twee vlakke tegelykertyd afspeel.

En dan ook goed om die oorspronklike met die vertaling te vergelyk.

Gewoonlik die kenmerk van 'n geslaagde gedig juis hierdie vermoë om twee dinge één te maak.

Die mens se lot as onbenullig kom telkens na vore. Nou onlangs is daar 'n nuwe planeet ontdek en liefhebbers van programme soos Sterre en planete weet hoe klein en ontersaaklik ons "klein en silwerige planeet" maar is.

En dit "Zoem en gons" skryf hy:

die onstuitbare vliegwiel van die lewe stel vir ons dommes
wat eens gedink het ons is die heersers van die heelal
totaal willekeurig en onontrafelbaar al die bakens vas

In "Draers van lig" dig hy tereg:

oor die geboorte van verre newels en sterre
wat vandag, noudat ons oë hulle vir die eerste keer
mag sien, nogtans lank reeds gedoof verdwyn het

Boonop is ons almal irrelevant en eenmalig, meen hy in "See":

want ons het almal die lewe kortstondig eensellig
beoefen, dit toe as vis en amfibie uitprobeer
om ten slotte as mens op droë grond gespoeg te word

T'Sjoen beklemtoon die epifaniese moment en liminaliteite in sy digkuns. Die dagsoom impliseer breuke: "Epifanieë stel ons in staat om anders te kyk. Hulle bied in ’n efemere oomblik insig in die hoëre, die gans andere, die sublieme."

Daar is geen swak vers in hierdie bundel nie. Die leser lees met verstomming agter die tegniese beheer aan soos in die geval van Benno Barnard wie se Die trouservies
my ook geboei het. (En die tegnieke word verdoesel, nes die binneryme.)

Die digter spreek ekologiese kwessies aan nes onse Martjie Bosman en Johann Lodewyk Marais. Soos by hulle word dit gedigte wat dans en sing. Sommige gedigte herinner aan die gesprek met die natuur in Stil punt van die aarde deur Johann de Lange en Hennie Nortjé se In die skadu van soveel bome.

"Saadstorting" is 'n belangrike gedig waar die digter gekonfronteer word met 'n beukeboom se plantaardige klimaks.

De wetten van de zwaartekracht was sy debuut in 1992 en ek gaan beslis alles lees wat hy geskryf het. Komrij het sewe van sy verse in sy Nederlandse bloemlesing opgeneem - al 'n aanduiding dat hierdie ou guru baie gedink het van Tritsmans.

Dis 'n bundel vir George Claassen én predikers. Vir gewone lesers én poësieliefhebbers. Nog 'n bundel wat die vertaalskat vir Afrikaanse lesers verruim met dank aan die vertaler en Naledi.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)