Wednesday, February 5, 2020

Filmrubriek | Terrence Malick se A hidden life (2019)

I

A hidden life is die verhaal van ene Franz Jägerstätte  (vertolk deur August Diehl) in Terrence Malick se jongste film. Die storie is voorspelbaar: 'n jong Oostenrykse boer en gelowige weier om te veg tydens die WOII. Hy is 'n gelowige Rooms-Katoliek.

Die titel, weet ons, verwys na George Eliot se beroemde opmerking in Middlemarch (171 - 1872) oor al die onbesoekte én ongemerkte grafstene op aarde van mense wat hulself geoffer het vir 'n saak. Só 'n man is Franz.

En die kyker weet van meet af aan wat met hom gaan gebeur. Malick se kamerawerk is die eintlike verhaal. Daar is duidelike simbole: 'n lig wat verdof, wolke wat aanvanklik die idille weergee en later verdonker. 

Ons kyk na die film en skielik is dit donker.

Wanneer sake begin skeef loop, sit die vrou met geknoopte toue op haar skoot. Ons weet wat dit simboliseer.

Boonop stel hy die man en vrou aan die woord in 'n voice over. Agter hulle Engelse stemme hoor ons Duits. In die tronk staan daar teen die muur: Sprechen Verboten!  Ons sien hoe 'n vrou 'n appel skil en langsaam daaraan eet. 'n Skoot van bo in die tronk verklap geweldig baie. Die geweld word dikwels deur insinuasie meegedeel as blantant vertel. 'n Geslagte vark wanneer die vader in die tronk is, laat 'n jong kind gril.

Die tronke in Enns en Berlyn is die hel. Die tronkbewaarders is grusame, aaklige figure wat nie weifel om te mishandel nie. Franz se vrou word deur owerhede sleg behandel. Die priester is simpatiek, maar sy hande is afgekap.

Briewe word versend en voorgelees tussen man en vrou. Skielik met hierdie slegte nuus is ons in die donker. Asof die kamera ons dwing om na te dink ...

Die kamera fokus op die wonderskone natuur wat later onstuimig raak. Ons sien vuil naels en geel tande van 'n ou man. Tussen 1939 en 1943 word die verhaal uitgespeel in bykans drie ure. Dit begin met bekende wit-en-swart-footage van Hitler wat later selfs kleurskote bevat van hoe hy 'n jong kind in sy politieke loopbaan gebruik. Dan vrolike musiek met Hitler in kleur. Slavoj Žižek beweer dat Stalin gaande oor musicals was in The pervert's guide to the cinema bykans om sy aandag af te trek van sy booshede.

En hierdie film verwys tersluiks na The sound of music waar die einde grimmig is na die idilliese begin.

Hoe 'n hele gemeenskap teen 'n man met gewetensbesware draai en later sy vrou en kinders viktimiseer, word uitstekend weergegee.

Valerie Pachner as Franziska Jägerstätter, die eggenote van die man, se lot ruk 'n mens aan die hart. Selfs haar skoonmoeder neem háár kwalik vir haar man se besluit. Die bure is mislik. Die klein gemeenskap verwerp haar en selfs met 'n kerkbesoek, is die kinders aaklig met haar drie dogtertjies.

Sy sukkel om te oorleef en sy en haar suster ploeg met 'n koei. Haar buurman steel haar beet.

Bruno Ganz vertolk die rol van die Regter. Hy probeer alles in sy vermoë om Franz te oortuig om sy sienings te laat vaar, maar dit slaag nie.  Die einde is doodstraf.

Hy was laas in Wings of desire (Wim Wenders se voortreflike film) so goed! Hierdie rol speel in op sy vertolking as die professor in The reader.

'n Argetipiese verhaal van hoé mense se vrese werk en die implikasie van outsiderskap. Die grootste karakter in hierdie film is die kamera wat fokus op ligene teen 'n boom. Hiermee word gesuggereer dat die bome ouer en wyser is as mense.

Die klankbaan is verruklik. Kerkklokke, Bach, Beethoven ...

Erna Putz, die biograaf van Jägerstätter was diep geraak deur die spiritualiteit van die film. Juistemint. Malick het immers Days of heaven en The tree of life gemaak.

Teen die slot fokus die kamera op 'n berg en 'n waterstroom en die vrou wat opmerk dat hulle weer sal ontmoet. Eendag.

Dit is 'n stadig-bewegende film wat baie geduld opeis. Maar dit is bepaald die moeite werd. En dit resoneer met ons geskiedenis waar jong mense in 'n grensoorlog gesterf het.

II

Hierdie film werk met bekende gegewens. Die kyker weet presies hoe sake gaan afloop. So dit nie hier om die wat nie, maar die hoe. Hoe word die film vertel sodat dat die kyker enduit geboei bly; veral in 'n film wat lank is, want die moderne filmkyker wil vinnig kyk en 'n oplossing kry.

"Works are created by works, texts are created by texts, all together they speak to each other independently of the intention of their authors ..." Aan die woord hier is Umberto Eco in sy klassieke analise van Casablanca, opgeneem in Faith in fakes wat by Secker & Warburg in 1986 verskyn het. Dit heet "Casablanca: Cult movies and intertextual collage".

En presies dit is wat die kyker ervaar wanneer 'n mens kyk na A hidden life. Jy sien die argetipes en intertekste na ander oorlogfilms.

Eco meen dat 'n kultusfilm juis tot gevolg het dat 'n mens net gedeeltes onthou. Jy breek ("unhinge") dit van die oorspronklike narratief.

Die dinamiese en statiese motiewe in A hidden life is opvallend. Die natuur, ten spyte van siklusse, sal altyd daar wees. Die geskiedenis verander en die kyker weet dat hierdie film inplisiet kommentaar lewer op goedheid en spiritualiteit.

Jung se kollektiewe onbewuste word geaktiveer: ons keer terug na die aarde waaruit ons spruit. Stof tot stof.

Casablanca, aldus Eco gebruik al die argetipes. En dieselfde geld A hidden life

Politiek, geskiedenis, familie, liefde, dood, verraad, opoffering kom aan bod. Die man kan in A hidden life die opoffering maak, want sy vrou glo dat hy die regte besluit maak ten spyte van die ellende wat die meebring.

Eco verwys na die metasemiotiese kultuur van vandag. A hidden life wil verby hierdie tekensisteme beweeg en argetipes ontbloot en jou onbewuste onrustig maak.

Sou jy bereid wees om standpunt in te neem teen onregverdigheid al sou dit geen duit aan die geskiedenis maak nie soos die Regter vir Franz waarsku?

© Joan Hambidge