Azille Coetzee: In my vel (‘n reis). Tafelberg, 2019. ISBN: 978 0 624 087 29 8
Resensent: Joan Hambidge
In my vel se sub-titel lui: 'n reis.
En dit is sowel 'n letterlike reisverslag as 'n emosionele kartering van die verskille tussen Suid-Afrika en Holland deur die oë van 'n wit, intelligente jong vrou wat aan die Vrije Universiteit 'n PhD skryf. Sy het 'n visum vir 22 maande.
Lanklaas het ek 'n boek gelees wat soveel belangrike sake op so 'n toeganklike en eerlike wyse aanspreek. Gender, identiteit, ras - daardie drie belangrike aspekte wat die self bepaal, word hier ondersoek.
In Nederland waar alles werk en waar mense hulle vererg omdat jy indruk in 'n ry of jou voete op die tremsitplek sit, word geplaas teen Suid-Afrika waar groot politieke issues en sosiale onrus aan die orde van die dag is. Hier word jy betig met 'n "Doe even normaal".
Omdat ek nie die leser van sy of haar leesplesier wil ontneem nie, gaan ek net enkele aspekte toelig. Die skrywer het haar vinger op die pols oor die hele kwessie van postkolonialiteit en Afropolitanisme.
In die dekoloniseringdebat vloei alles inmekaar met die verwerping van maklike binariteite.
Die Nederlanders voel anders oor genadedood as ons en telkens word die leser bewus van die skrywer se skuldgevoelens. (Dis immers deel van ons Calvinistiese bestaan. Es ist in der Luft. Niemand ontkom dit nie.)
Antjie Krog se Begging to be black kom aan bod by 'n besprekingsgroep. En ja, velkleur is ons probleem. 'n Mens dink ook aan die digter se Kleur kom nie alleen nie.
Ons is in hierdie land kleurbesete, want dit is die shorthand wat soveel verskille insluit en stereotipes opsluit.
Oor rassisme skryf sy insigryk. En Trevor Noah se respons vanuit die buiteland op ons bestraffing van rassiste is eweneens belangrik.
Want dan kan ons tog voel: ons is nie almal so nie ...
Vreemd dat 'n feminis eers laat in haar lewe Thelma and Louise sien?
Dis 'n verhaal van terugkeer na haar moederland eerder as ontvlug in die ordelike Nederland.
Die verslag oor haar liefdeslewe karteer haar as eerlik. Die verhouding met 'n ouer man loop dood. Sy keer terug en werk 'n ou verhouding weer uit. Die beskrywing van partytjies en die verskille tussen hier en daar, is eweneens tersaaklik. Ook die vryheid rondom liggaamlikheid en seksuele voorkeure van vriende.
Dwelms daar, drank, dans, galerye en die simboliek van hoekom jy fietsry in Holland, word onder die loep geneem. Via Judith Butler (gender), Biko en Mbembe (ras), Virginia Woolf en J.M. Coetzee (skryf) , om enkele name uit te sonder, neem sy haar posisie in.
Lê die Afrikanerplaas werklik buite geskiedenis en tyd?, soos J.M. Coetzee skryf. Ek dink nie so nie.
Dit word verkeerd bewys deur die groot plaasromans in Afrikaans. En sommer ook in sy eie tekste.
Daar is 'n kopknik na Laura Windvogel. Oor taalsake veral Christo van Rensburg.
Oor taalverskille lag 'n mens lekker en hoe ons mekaar heerlik verkeerd verstaan.
Bekakt is aanstellerig. As jy iemand daar wil uitskel, is kankerhoer 'n mooi een!
Soos Rian Malan en Jonny Steinberg keer sy terug. Gewond maar onoorwonne.
Sy bedank haar feministiese mentors Amanda en Louise. Ons neem aan dit is Amanda Gouws?
Lees hierdie gevoelige en belangrike verslag van 'n postdoktorale navorser aan Stellenbosch.
Hoewel die wêreld plat geword het in ons tegnologiese epog ( in haar woorde) en ons vinniger kontak het, bly ons verskille staan.
Daar is poëtiese oomblikke (soos op bladsy 79) wanneer sy oor haar taal praat.
Suid-Afrikaners is tegendraads, lewe buite boksies en ons is kompleks, vol paradokse en pluraliteit (141). En sy vang dit so goed op.
Hierom spook ons met identiteitsverwarring en onsekerheid.
Net soos sy weet dat sekere verliese onverwerkbaar is.
Die boek word bemark as nie-fiksie. Dit is iewers tussen 'n outobiografie, verslag en reisbeskrywing.
Soos haar sieninge alle binariteite ontglip, kan 'n mens ook nie die teks finaal vaspen nie. Dalk iets soos "Creative Non Fiction".
Die boek word voorsien van 'n bibliografie.
Filosofiese kwessies word toeganklik en helder verwoord.