Tuesday, July 9, 2019

Filmrubriek | The Office (2001 - 2003), BBC


I

Wát is humor nou eintlik? En waarvoor lag ons?

The Office (2001 - 2003) verskaf verskeie antwoorde op die komplekse vraag oor humor. Hierdie BBC-reeks speel af in 'n kantoor waar people poisoning gedy. Kantoor-politiek word ondersoek en die allerbekende taktiek wanneer jy mense wil beheer, vertel jy negatiewe goed oor wat ander oor hulle sou gesê het ...

Plot-lyne word onderbreek met kommentaar van die baas David Brent of 'n dwanggenoot wat in die rookkamer iemand uitvra oor sy liefdeslewe. Presies daardie vrae wat die kyker sou wou vra.

Dis my soort humor: woordspelings, absurde toespelings, selfbedrog, 'n soeke na oplossings wat nie bestaan nie, en natuurlik: selfverheerliking. Met 'n besondere dekonstruksie van John Betjeman se gedig "Slough".

Rondom die baas wat homself as 'n comedy man sien en loodswaai, word die absurditeite opgedien. Brent is 'n selfgenoegsame, plomp idioot. Hy dink hy is gewild, maar is dit helaas nie. Wanneer hy sy voormalige span nooi vir 'n bier, reageer niemand nie. Hy laat hom egter nie onderkry nie. "Wat van moreaand?", is sy antwoord.

Hy is seksisties, baasspelerig en doen 'n dans wat 'n mens laat skaterlag.

Sy papiermaatskappy is egter in die verknorsing en 'n merger of samesnoering met die opposisie bring nog mense wat hom openlik verag.

Hy haal graag filosowe aan. Prysloos. Of versin uitsprake soos dat Dolly Parton sou gesê het 'n mens kan alleen die reënboog waardeer, omdat daar reën is.

Politiek inkorrekte opmerkings is aan die orde van die dag. Alles word net-net verkeerd aangebied. Sy hond heet Nelson, vernoem na Nelson Mandela wat 'n politieke gesprek uitlok. 

En: hy vertel vir die ontvangsdame by sy werk dat hy elke dag aan sy testikels voel en dat hy gelukkig is om te weet die knop was nie kwaadaardig nie.

Die grapjas word egter ge-retrench. Die nuwelinge lag nie vir sy grappies nie en aanvanklik vat hy dit soos 'n man. Hy sien dit as 'n nuwe uitdaging - soos Jesus Christus wat Betlehem moes verlaat, moet hy 'n ander plek vind. Sy woorde ...

Maar sy kordaatheid is kortstondig. Hy pleit by sy base ('n man en 'n vrou) om hom 'n tweede kans te gee.

Skielik is die humor wrang.

Hy keer telkens terug werk toe; kwansuis om almal op te beur, maar maak 'n oorlas van homself. Hierna soek hy vroue via internet-afsprake. En wat hy oor hulle te sê het, boemerang op hom. Hy is 'n emosieswendelaar en 'n regte loser.

Die reeks is 'n regte smoelneuker en die vervaardiging is puik. Ook die ekstra materiaal waar daar onderhoude gevoer word met die akteurs, is insigryk.

II

'n Episode word met regisseurkommentaar gegee. Goeie humor, leer ons uit hierdie reeks, is wrééd. Dit is 'n mocumentary en alles word aangebied asof dit 'n ernstige dokumentêr is.

Ricky Gervais en Stephen Merchant lewer kommentaar oor die produksie van Episode 2. Hoe die karakters niksseggend met mekaar kommunikeer, gesprekke wat gelaai is met seksuele innuendo, hier in Slough. Dit speel alles af in die papiermaatskappy Wernham Hogg (where "life is stationery"), Berkshire.

Op 'n blind date verwys David na Beethoven se hits. Hy verminder die vrou, omdat sy vet en middeljarig is; onbewus van hoe sleg hy self daar uitsien. Hy voel die foto het hom mislei; sy voel presies dieselfde.

The Office analiseer ten beste dit wat 'n mens as abuse kan beskryf. Om dit wat iemand nodig het, te weerhou. 

Wanneer Dawn 'n mooi skets van Tim maak, is die aaklige Anne dadelik reg om uit te wys dat dit nie mooi is nie. Sy neus is te groot.

Die hoofkarakters is: David Brent, Tim Canterbury, Gareth Keenan, Dawn Tinsley, Jennifer Taylor-Clarke, Ricky Howard, Chris Finch, Neil Godwin en Rachel Anne.

Tim Canterbury - vertolk deur Martin Freeman - het later 'n beroemde akteur geword. Groot-oog Gareth Keenan (MacKenzie Crook, eweneens later bekend) was in die army en hy is 'n volledige control freak. In een episode word hy in sy kantoor toegesluit. Sy gedrag teenoor kollegas - veral vroue - is grotesk. Op 'n keer versoek hy selfs 'n hand job!

'n Party sit vol dronk mense wat 'n swanger vrou beledig. Hier dink ek gaan dit te ver.

III

Terry Eagleton skryf in Humour (Yale UP 2019) die volgende: Om humor te analiseer, is om dit dood te maak.

Ek verskil. Wanneer 'n mens die gesprekke róndom die vervaardiging van hierdie uitstekende reeks bekyk, besef jy hoe fyn daar gespot word. Begrippe soos 'n brain jail of anti-laugh laat 'n mens nadink.

Politiek-korrektheid vang ons vas en humor verlos ons. Daar is momente in hierdie reeks wat jou absoluut van die stoel afgooi soos wanneer David Brent meen daar is meer suiker in 'n suurlemoen as in 'n bessie (dalk waar, maar dis hoe hy dit oordra) en dat koeie vier pense het. Dit is sy gesprek met 'n blind date.

Terwyl die sot in 'n motelkamer uitspan, bely hy dat whisky sy Radox is!

Of daardie oomblik wanneer hy iemand moet aflê, kroek hy. Hy bel die persoon, maar sy vrouebaas ontmasker hom: hy het die nommer om die tyd te hoor op sy foon geskakel.

In hierdie reeks het ons 'n laughter of hate, soos daar in 'n oorsig gesê word. Die akteurs besef ook dat 'n volgende produksie sal nie werk nie. 'n Mens kan immers nie grappe oor en oor herhaal nie.

En die model en inspirasie?  John Cleese se Fawlty towers. L'Hôtel en folie in Frans.
https://www.youtube.com/watch?v=jcEws7il4EY  Besoek 9 Julie 2019