Wednesday, February 27, 2019

Rubriek | Pomo & Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey (2019)

Charl-Pierre Naudé - Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Tafelberg, 2018. ISBN 9780624084341

I

In die film Mamma Mia! (2008) is daar ‘n wonderlike oomblik wanneer Meryl Streep en mede-aktrises dans op “Dancing Queen”. Benny van Abba-faam tokkel hier die klavier en ‘n mens weet uit al die reklame én die regisseur se agterna-filmiese kommentaar dat hy betrokke was by die vervaardiging. Hy het ook hand bygesit met die stemafrigting.

Metakommentaar dus.

Patricia Waugh se Metafiction (2002), Linda Hutcheon se Irony’s Edge (Routledge, 1994) en Brian McHale se Postmodernist Fiction (Methuen, 1987) verklaar hoe die fiksionele wêreld hierdie ontologiese problematiek aanspreek. Die sogenaamde “world next door”.

Brian McHale in Postmodernist Fiction (1987) skryf ook insigryk oor die ontologiese probleme van fiksie teenoor werklikheid. Het ‘n karakter wat werklik lewe dieselfde status in ‘n roman as in die werklikheid? Is die “geskryfde” dus gelyk aan die mens van vlees en bloed?

II

Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey (Tafelberg) is ‘n roman wat die verskillende grense karteer en problematiseer.

Dis ‘n roman wat ‘n verbeeldingspel is, maar ook die leser op die tone hou oor wat in die Verneukpan van ‘n metafiksionele teks gebeur.

Die verhaal se dieptestruktuur wentel rondom waarheid en verdigsel. Die skrywende verteller ontken hy is die skrywer van die boek.

Dis eintlik Hermanus Verdomp s’n.

Dus wêrelde wat saam-bestaan. Die “moontlike wêrelde” van die filosoof Leibniz is hier die uitgangspunt, nes David Kellogg Lewis en Saul Kripke wat modale realisme of die filosofie van moontlike wêrelde die uitgangspunt is. Enigiets wat logies voorstelbaar is, bestaan dus iewers in die fisieke werklikheid.

Daar word ook verwys na kwantumfisika en die verskillende werklikhede wat tegelykertyd bestaan. Hugh Everett, die fisikus, meen dat kwartumpartikels weens hul kleinheid (en vinnige spoed) meer as een aard het. Hierom die bestaan van tallose, gelyksoortige kwantumwerklikhede.

So gesien, leef die indiwidu gelyktydig in meer as een werklikheid. (474).

Kyk maar net hoe sciencefiction die werklikheid vooruitloop en voorspel. Nou onlangs het ek met groot plesier hierdie gewaarwording gehad met die herbesoek aan die Star Wars-reeks.

III
Vraisemblance word gedefinieer as “verisimilitude; appearance of truth”. Vrai is waarheid; semblance is ooreenkoms in Frans.

Hierdie aspek van teksanalise is veral in die Strukturalisme deur teoretici as ‘n onmoontlikheid beskou waar tekste semiologies en volgens kodes ín die teks benader is. In “The Reality Effect” verwys Barthes na konkrete realiteit as die having-been-there of things.

Vraisemblable is imitasie. ‘n “Effet de réel” word geskep wat die basis vorm vir alle modernistiese tekste. 

Die teks is in die Strukturalisme gelees as artefak; as ‘n onafhanklike entiteit. Die “well wrought urn”, soos Cleanth Brooks dit defineer in 1947.

Post-Strukturalisme fokus egter op ál die aspekte wat ‘n teks vir die leser kan oopmaak.

Barthes se “The reality effect” word later in S/Z (1970/1974) gedekonstrueer. Die Strukturalisme in Frankryk het onder andere die tekste van Alain Robbe-Grillet, die skrywer en filmmaker, as uitgangspunt geneem om hul beginsels te staaf. Die film weergawe van Robbe-Grillet se L’Année dernière à Marienbad (Last year at Marienbad) van 1961 is volgens stip kodes geanaliseer.

Die film weergawe van Alain Resnais beweeg stadig en is bykans surrealisties.

Die teken as teiken - aldus Merwe Scholtz. Jy moet alles analiseer asof dit ‘n skaakspel is.

In die werk van Barthes word daar beweeg van die Strukturalisme tot die Post-Strukturalisme waar ander kodes in die spel kom. Barthes formuleer dit in S/Z as volg:  die hermeneutiese kode; proaieritiese kode of empiriese stem; die semiese kode of die stem van die persoon; die simboliese kode en die sogenaamde referensiële kode of die stem van die wetenskap.

Strukturaliste fokus op die reële in die teks; Post-Strukturaliste trek die grense wyer weens postmodernistiese tekste wat referensies maak na die werklikheid of werklike mense. Dit problematiseer eweneens oor wat werklikheid mag wees.

En dis wat ons in Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey aantref.

Eers ‘n nawoord, dan voetnote, dan bylae. En natuurlik met ‘n voorwoord.

Dubbelgangers, sinsbedrog, naamsverandering en s’n skrywer wat oorneem en namens ‘n amateur vertel.  Kamma ‘n dokumentêre roman.

Soos by Margaret Atwood se The Blind Assassin (2002) waar stories oorgeneem en oorvertel word en genres vermeng word: sciencefiction en pulpfiksie. ‘n Behendige storie-binne-in-’n-storie. Ook ‘n ongepubliseerde roman en ‘n nagelate “outobiografie”.

Ons is nou in die fase van metamodernisme wat vrae vra oor die postmodernistiese beweging se anything goes.

Kyk wat beweer Luke Turner (The Metamodernist Manifesto | Luke Turner (2011). Besoek 27 Februarie 2019).

Bronne:
Barthes, Roland. 1982. “The Reality Effect” in French Literary Theory Today: A Reader. Todorov, Tzvetan (red.). Cambridge: Cambridge University Press.  Vertaler R. Carter.
Barthes, Roland. 1974. S/Z. New York: Hill and Wang. Vertaler Richard Miller.

© Joan Hambidge