Monday, October 8, 2018

Rubriek | The Talented Mr Ripley (1999)

I

Hierdie verbysterende film, uit 1999 van Anthony Minghella (ook die regisseur van The English Patient) neem 'n mens terug na hoé een leuen 'n volgende skep of genereer. Tom (Matt Damon) wat 'n vaal bestaan voer as 'n klavierbegeleier word deur 'n ryk man raakgesien by 'n party in New York. Hy dra as pianis 'n Princeton-baadjie en lieg dat hy daar studeer het. Meneer Herbert Greenleaf, 'n skeepsmagnaat vra hom om na Italië te gaan en sy seun, Dickie, wat aan Princeton studeer het, terug te bring huis toe.

Wat dan afspeel voor die kyker se oë is, hoe Tom Ripley, 'n swendelaar en bedrieër van formaat, hom inwurm in Dickie (vertolk deur Jude Law) se lewe op Mongibello.  

Ripley se talent is vervalsing. Vervalsings van identiteit, handtekeninge, stemme – wat hom al deur allerlei teenstand gedra het. (In 'n onderhoud erken Matt Damon hoe hy as kind gesukkel het met identiteit; hierom waarskynlik dat hy so goed oorkom in die film).

Die verhaal speel af in die Vyftigs, die naoorlogse jare, en in sy filmkommentaar wys die regisseur daarop dat hy veral die klasverskille tussen mense wou uitwys. So beskou, is dit 'n relevante film oor status. Tom wil ryk wees; hy begeer die lewe van Dickie wat in die klein Italiaanse dorpie 'n meisie swanger maak. Sy verdrink haarself om die skandaal van 'n buite-egtelike kind te vermy. Dickie voel skuldig, want hy het nie vir haar geld gegee toe sy hulp gesoek het nie. (Waarskynlik vir 'n aborsie.)

Die regisseur vertel hoe hy bekende Italiaanse akteurs gebruik. Kyk, hier stap sy seun oor die straat ...

Die regisseur wys tereg daarop dat net wanneer Tom "geluk" vind, daar 'n karakter is wat dit binnedring. Freddie (Philip Seymour Hoffman) daag onverwags in Rome op in Tom se nuwe geskepte lewe as Dickie, en besef hy is 'n indringer; of in die slottoneel op die skip Griekeland toe wanneer Meredith (Cate Blanchett) hom herken as Dickie, terwyl hy weer Tom is saam met sy nuwe homoseksuele lover, Peter Smith-Kingsley, met wie hy 'n liefde vir klassieke musiek deel.

Tom gee voor hy is 'n jazz-liefhebber om by Dickie uit te kom – maar hy is in wese 'n liefhebber van Bach. Die film gebruik ook musiek om die storie verder in te kleur en opposisies uit te wys.

Die Stabat Mater
Tu Vuo' Fa L'Americano
My Funny Valentine
Italia – Harry Rabinowitz
Lullaby for Cain
Crazy Tom– Instrumental - Harry Rabinowitz
Ko-Ko - Instrumental – Charlie Parke
Nature Boy – Instrumental – Miles Davis.

In 'n kroegtoneel is dit Tom wat improviseer en loslittig raak via musiek, nie Dickie nie. Tom ontwikkel van 'n lompe, bleek aankomeling met 'n groen swembroek tot 'n behendige man van die wêreld. 

Dis ook wanneer Freddie in Rome begin tokkel op Tom se klavier dat alle waansin losbars. Musiek is nou nie meer melodieus nie, maar disharmonies.

Wanneer hy in Dickie se klere voor 'n spieël op musiek dans, is Dickie verontrus; hy besef onbewustelik hoe sy identiteit gesteel word.

II

Die kommentaar van die regisseur is uiters insigryk vir begrip van hierdie film. Hoe daar onder andere gespook is om 'n mooi seetoneel te kry wanneer Dickie reeds dood is in die boot. Hiermee wil Minghella die onverskilligheid van die natuur beklemtoon. Ten spyte van die drama in die boot, is die natuur nié in simpatie nie. En 'n mens bewus raak van hoe goed Gwyneth Paltrow is as Marge in hierdie toneel. Met min dialoog en gebare, beklemtoon die regisseur, is haar toneelspel skitterend. Sy weet Tom het haar geliefde vermoor – sy ontdek immers die ringe in die badkamer in die nuwe huis in Rome. Dickie het beloof hy sou dit nooit afhaal nie.

Sy word ook amper vermoor – maar Tom bedink hom. As kyker vrees mens dit wanneer jy die bebloede skeermeslem in sy sak sien.

III

In sy regisseurskommentaar wys Minghella ook daarop dat Matt Damon, eweneens 'n skrywer, nie sy karakter wou uitbeeld as 'n verfoeide leuenaar nie, maar eerder as iemand wat deur één fout in ellende gedompel word. Die vertelling word geraam met Cate Blanchett as Meredith Logue, 'n ryk persoon wat nie wil ryk wees nie – terwyl dit presies is wat Tom begeer.

Omdat sy voel sy is die versaakte lover en Tom op sy finale bootreis raakloop, moet hy 'n keuse maak: gaan hy haar vermoor, of sy nuutgevonde gay lover? Hy besluit op laasgenoemde, omdat Meredith te veel mense om haar vergader het.

Daar is ook gesukkel om tonele in stede reg te verfilm. En telkens is ander stede gebruik. Die "leuen" van films maak.

IV

En Freddie, die onvergelyklike Philip Seymour Hoffman, is die eerste een wat lont ruik. Die film handel ook oor jaloesie. Wie mag die naaste aan Dickie wees, die een wat telkens moeg raak vir mense en nuwe aandag behoef? 

Dickie raak moeg van Tom se parasitisme en wanneer hy die vriendskap afwys, is Tom woedend. Dit lei dan tot die dood op die boot wanneer Tom beledig voel.

Die subtiele spel van erotiese gevoelens tussen mans word goed verbeeld. Met 'n badtoneel wanneer Tom saam met Dickie wil bad en laasgenoemde hom wegwys. (Hierdie badtoneel word weer openlik eroties gelaai met die twee minnaars in The English Patient.)

Die regisseur lewer ook hier kommentaar op die skote: die omgekeerde gesig van Tom in 'n spieël; 'n kamera wat vry en ongekondsioneerd beweeg wanneer Marge na Dickie soek in Tom se nuwe vesting. 

Hierna is die vervalser wat briewe skryf asof hy Dickie is en almal laat glo dat Dickie selfmoord gepleeg het. In 'n wending het die ryk vader 'n speurder aangestel. Dit blyk dat Dickie 'n aggressiewe jeug had in Princeton en hierom dink die vader dat Dickie Freddie vermoor het.

Marge weet egter wie haar geliefde vermoor het. Sy is openlik in haar woede, in haar vertrek uit Venesië.

Daar is immers nommerplate van die vermoorde Freddie in Dickie se huis gevind.

Die speurder bied hom 'n afkoopboete aan (namens die vader) en Tom sou letterlik met twee moorde wegkom, as dit nie was vir die toevallige terugkeer van Meredith nie. So word die begin en einde gesluit: die fata van Tom. Meredith is sy nemesis. Die een wat sy pret finaal bederf.

En hierom  moet hy 'n derde moord pleeg en die kyker besef: die derde keer is skeepsreg. Met hierdie moord sal hy nie wegkom nie.

Tu Vuo' Fa L'Americano klink dan uiters ironies op (Tu Vuo' Fa l'Americano - The Talented Mr. Ripley (HD) - YouTube. Besoek 7 Oktober 2018)
Tu vuo' fa' ll'americanoMericano, mericanoMa si' nato in ItalySient' a mme, nun ce sta niente 'a fa'Ok, napulitanTu vuo' fa' ll'americanTu vuo' fa' ll'american 
© Joan Hambidge