Sunday, October 21, 2018

Resensie | Ingrid Winterbach - Die troebel tyd (2018)

Ingrid Winterbach - Die troebel tyd. Human & Rousseau, 2108. ISBN 978 0 7981 77 66 5

Resensent: Joan Hambidge

Winterbach het die Groot romanwedstryd in 2018 gewen met Die troebel tyd. Hierdie roman neem sy plek in langs die lang galery van akademiese romans: Mary McCarthy se The Grove’s of Academe (1952); Saul Bellow se The Dean’s December (1982); Philip Roth se The Human Stain (2000); en natuurlik David Lodge se parodiese romans oor die akademie. 
In ons tydsgewrig beleef die akademie ‘n tyd van onrus en politieke verandering. En politieke korrektheid. Maar al hierdie veranderinge resoneer met die studenteopstande van 1968 in Parys waar groot intellektuele hul merk gemaak het in die sosiologie, linguistiek, literêre teorie en psigoanalise. In hierdie roman onder andere opgemerk hoe akademici hulle wêreldjies en insigte verdedig.

In die radioprogram U eie keuse luister die hoofkarater na die Akademiese Fees Ouverture, ofskoon die roman buite die grense van die konvensionele akademiese roman beweeg.

Magrieta Prinsloo, 'n soöloog, beleef ‘n krisis. Sy beledig haar departmentshoof en raak vervreem van haar kollegas. Sy aanvaar ‘n pos by die Buro vir Voortgesette Onderrig. (In laasgenoemde moet die leser dus alreeds iets satiries vermoed. Studente word aanlyn onderrig.) Die snydende opmerkings oor die akademie, oor taal, oor Afrikaanse musiek is uiters belangrik. Net soos haar herinneringe aan haar rebelse jeug, haar moeder wat haar met stilte straf; haar vader, die biologieonderwyser en amateurfotograaf, by wie sy leer om stip na die natuur te kyk. Daar word na walvisse en erdwurms gekyk wat simboliese betekenis het vir die roman. Jona was immers in die walvis; Jung en Harold Bloom het hieroor geskryf. J. Hillis Miller gebruik die erdwurm as 'n troop vir tekste wat nuwe, ondergrondse lewens kan vind.

Die leser vind bekende stylgrepe van Winterbach in hierdie roman: die gebruik van boerename; die blik op die absurde; die oog vir die litteken of afwykende; die meegevoel met die lot van die ontheemdes; ewolusie; moderne wetenskap; kunsmatige intelligensie; kwarks; ingebedde intertekste soos William Blake, Benjamin Britten, Beckett, graffiti met boodskappe ('n tersluikse spel met Thomas Pynchon se The Crying of Lot 49 van 1966), Moritz Rugendas, die kunstenaar en etnograaf oor wie César Aira's in 2000 'n roman geskryf het An Episode in the Life of a Landscape Painter, Von Humboldt,  Houellebecq, Pascal, Quignard, Sjiva, Kali, ensoaan.

Die boek is ook 'n satire van speurverhale en soeke na oplossings. (Kyk na die bom in 'n hotel.) Oor ongeleefde lewens. Potsdam het aan Cambridge studeer, maar sy belowende akademiese loopbaan onderbreek. (Die redes word later in die roman onthul.)

In daardie beroemde film Magnolia (1999) van Paul Thomas Anderson, word die rol van toeval ondersoek en hoe mense se lotgevalle met mekaar verweef word. Soms snaaks; soms pynlik. Winterbach doen dit ook: ‘n karakter word onder meer gesien as ‘n dubbelganger vir Billy Bob Thornton in die televisiereeks Fargo. Noah Hawley is die hoofskrywer vir die reeks gebaseer op die film van die Coen-broers uit 1996. Dubbelgangers is eweneens ‘n belangrike kode in hierdie teks en karakters verwys na figurante uit vorige romans. 'n Ander karakter lyk soos 'n Nana Mouskouri gone wrong. Of op Björk. Potsdam is 'n Joodse teenspeler, net soos Mogoerane dit is. Haar man Willem probeer haar uitbarstings hanteer, want haar depressie-pille faal haar. Die naamlose vrou vergestalt haar verdriet. Bestaan sy of is sy 'n blote opgeefsel uit die fantasie van Magrieta? Die toevalselement is iets wat hierdie roman ondersoek (154) en die Vereniging vir die Bewaring van Walvisse en die Genootskap van die Vriende van die Walvis is 'n satiriese dwarsklap!

Droefheid, weemoed, melancholie is die grys draad in hierdie roman wat Julia Kristeva se Black Sun: Depression and Melancholia (1992) aktiveer. Vroulike depressie is kannibalisties, aldus Kristeva en gaan altyd gepaard met ‘n verlies aan identiteit. Magrieta het immers van beroep verander en in haar werk by die Buro ontmoet sy “agente". Haar depressie word in sterk en woedende passasies beskryf in haar verhouding met haar moeder en rebelsheid as aweregse kind.

Die beskrywings van 'n walviskarkas en die simboliek is kragtige prosa. Verlatenheid (die Engelse woord abandonment verwoord dit beter) en stilte word in alles verweef.

Dis ‘n moderne  quest-roman wat praat met The Adventures of Augie March (1953) daardie unieke pikareske roman, geskryf deur die onbesonge meester Saul Bellow.

Daar is ook 'n selfgesprek met Klaaglied vir Koos (1984) en my gunstelingroman Die aanspraak van lewende wesens (2012). Skulpe aktiveer weer Die boek van toeval en toeverlaat (2006).

Sinne sit vol poësie: "Die skedel is haar banier, die dood se oppermag haar wapenskild."

Don de Lillo se Underworld (1997) is eweneens ter sake.

Die dubbelganger-aard is die belangrikste kode: ágter alles skuil daar iets anders.

Die verteller lewer soms kommentaar op die karakter wat narratoloë ook sal besighou: van personaal na ouktoriaal. Laasgenoemde sort verteller lewer dan ook kommentaar op Magrieta se sieninge.

Soos die slot met die godin, Kali wat aansluit by die begin. 

In hierdie uitstekende, weemoedige en pynlike roman draai die duiwels (en die walvisse) onder rond wat onse letterkundige agente moet naspeur; ook oor die kwessie van die apokalips-fatigue.

'n Boek van ontstemmenis wat Winterbach-lesers sal bekoor.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)