Johann Lodewyk Marais – Insektarium en ander gedigte. Imprimatur, 2018. ISBN: 978-0-620-77582-3
Resensent: Joan Hambidge
Johann Lodewyk Marais se bloemlesings Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) en Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, medesamesteller Ad Zuiderent) kan as belangrike wegwysers gelees word vir sy jongste bundel. Sy doktorale studie oor die wetenskaplike prosa van Eugène N. Marais is eweneens ‘n baken nes sy antologie Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Maraisse “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006).
“Pilduisendpoot” het oorspronklik onder die titel “Mont Pelaan” in Palimpses (1987) verskyn en word met die toestemming van Human & Rousseau heropgeneem. Ons vind dus in hierdie bundel ‘n soort laatwerk: ‘n digter wat terugkyk na sy jeug in ‘n idilliese Vrystaatse plaasbestaan en gedigte word dan ook in daardie tyd gesitueer, o.a. 1966. Die digter se debuut Die somer is ’n dag oud (1983, bekroon met die Ingrid Jonker-prys 1985) bly steeds staan as ‘n besónderse debuut met onthoubare gedigte, onder andere oor Pablo Neruda.
Hierna volg: Palimpses (1987), By die dinge (1989), Verweerde aardbol (1992), Aves (2002), Plaaslike kennis (2004), Diorama (2010,bekroon met die SALA-toekenning vir Afrikaanse Poësie 2012), In die bloute (2012) en Nomade (2014).
Marais is ‘n digter wat hom besig hou met dinge. Hy lees Heidegger en die fenomenologie. Hy kyk na die wonder van die natuur en aanvanklik is daar ‘n baie belangrike gesprek met Van Wyk Louw; later, in die volwasse jare, is dit die natuurkundige en digter Eugène Marais wat hom boei en begelei.
Die oënskynlike eenvoud van sy gedigte is uiters bedrieglik. Onder draai die duiwels rond van komplekse verwysings en intertekste. Hierom word ‘n bundel ‘n palimpses genoem.
Die vers “Ongerepte aarde” dra die sub-titel palimpses.
Hy is by-die-dinge, maar deurgaans besig met ‘n diorama. Met ‘n afbakening van sý plek binne die Afrikaanse digkuns.
Die pas verskene bundel by ‘n nuwe uitgewery Imprimatur (veels geluk!) is fyn afgewerk. Dit is ‘n digter wat sonder ‘n groot gebaar dig. Hy is die digter van die onderstelling en van fyn taalspel.
Dikwels keer jy terug na ‘n vers en besef hoe netjies alles inmekaar pas. Daar is nie bloed en harsings nie. Hy luister fyn na die “dialek van insekte” en die motto van Thabo Mbeki verklap reeds iets:
At times, and in fear, I have wondered whether I should concede equal citizenship of our country to the leopard and the lion, the elephant and the springbok, the hyena, the black mamba and the pestilential mosquito.
Marais gee stem aan hierdie zoemers en naglawaaiers.
Hy kyk besonder fyn na hulle. Die boorkewer (vernoem na Eugène Marais) het hierdie digter se oog ontglip. Sy slurpie lyk nes ‘n olifant s’n.
Behalwe vir die skerp oog op die natuur én kleiner, wriemelende insekte, is daar ‘n duidelike politieke dimensie in hierdie bundel aanwesig. Ons verneem van die digter se weermagjare (“Hondsdolheid”, 62), die impak van die Ebola-virus, inenting teen polio, griep, ensomeer.
Griep
Bacillus influenzae
In die soetgras van hierdie ver distrik
lê die verlate grafte van sterftes
van 1918, so voorbeskik.
By die afdraai na Toronto sien ek
die klippe nog regop staan met datums
dof en roesrooi deur ligene gevlek.
Van Jerusalem en Manila weet ek;
waar die doodsengel mense besoek het
op Santiago, Montreal en Quebec.
My pa het soms vertel van die virus
wat jonges in hul fleur platgetrek het,
die pandemie wat hier swaar gevoel is.
Gerhardus … Philippina … Frederick …
Johannes … Robert … Nomvula …
Ma-Christmas … Peoti … Johanna …
Nou dink ek oor die vergete lewe
waar seerooglelies in Oktober blom
en swerms Europese swaels swewe.
Van die akute slymvliesontsteking
en koors van lank gelede is dié bakens
die onvaste skrif van ’n eeu tevore. (59)
*
Dit is egter nie net ‘n bundel oor insekte nie; daar is by hierdie digter terselfdertyd (soos by Ernst van Heerden in sy natuurverse) ‘n besinning oor die digterskap. Wanneer hy oor ‘n skerpioen skryf, wonder hy:
Het ek nie dalk op die verkeerde bladsy
van hierdie bundel verse beland nie? (55)
Die digkuns as ‘n gevaarlike bedryf, kom hier aan bod. Dit is ‘n bundel wat ‘n mens terugneem na daardie belangrike studie van Cleanth Brooks wat heet A Shaping of Joy (Methuen, 1971) waarin hy vra of ‘n teks ‘n spieël, ‘n lens of ‘n prisma is. Dalk ook ‘n diaroma?
Brooks waarku dat, sélfs al is ‘n teks ‘n refleksie van die werklikheid, gee die bepaalde digter of skrywer sy/haar unieke blik. Hierom is dit onder andere tersaaklik om te kyk hoe twee tydgenootlike digters, Johann Lodewyk Marais hier en Daniel Hugo in Openbare domein (Naledi), besig is met ‘n bestekopname van húl lewenservarings, die natuur en die kosmos.
Beide kyk terug op hul unieke digterlike bydraes en lig die klippe op: sien skerpioene en ander vreesaanjaende bedreigings. Beide is vakmanne wat bekoor om die spesifieke blik. Beide uitgegee deur randuitgewers wat hul talent waardeer.
Duitse kakkerlak
Blatella germanica
Die bleek kakkerlak op my lessenaar
maak vlugtig sy verskyning
agter ’n woordeboek, ’n tesourus
en die hopie gedigte in die hoek.
Ek mik om hom dood te slaan,
gaan koop by die Chinese winkel
’n stafie Twin Luck-insektekryt
en trek ’n streep agter sy bestaan.
Maar: Skielik loop hy oor ’n boek
en dae lank soek ek hom vergeefs
tot vandag toe ek ’n gedig druk
en hy hom op die spierwit bladsy
afsmeer met alles, alles wat hy is.
(47)
Dit is ‘n bundel uit die hand van ‘n bestendige én belangrike digterskap. En hoe wonderlik dat hy die eerste digter is by nuwe ‘n uitgewery!
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)