Bladsye / Pages

Monday, April 30, 2018

Resensie | Footnotes for the Panther:Conversations Between William Kentridge and Denis Hirson (2018)

Resensie | Footnotes for the Panther:Conversations Between William Kentridge and Denis Hirson. Fourthwall Books, 2017. ISBN 978-0-9947009-3-3
Resensie: Joan Hambidge
William Kentridge is 'n besondere kunstenaar, filmmaker, librettis en kunstenaar wat sowel die beeldende en grafiese kuns uitbring by musiek en opera. 'n Paar jaar gelede had ek die voorreg om 'n show van hierdie merkwaardige kunstenaar mee te maak in Kaapstad. Verskillende vertrekke in die kunsgalery was ‘n representasie van sy grafika en animasiewerk met musiek, o.a. van Philip Miller daarby.
Kentridge se internasionale statuur is welbekend van die VSA tot in Europa as grensverskuiwer.
Denis Hirson is bekend vir die roman The Dancing and the Death on Lemon Street. Verder is hy 'n antalogis van onder andere Heat of Shadows: South African poetry 1996–2013Ma langue au chaten 'n studie in Frans oor oor die posisie van die anglofoon wat skryf, werk en vertaal in Frans.
Hier kan sy poësievoorlesings gehoor word (Denis Hirson. Poetry Readings. 2013 - YouTube): 
Nou bring jy twee figure wat sterk opinies het oor die kunste en hulle tree in gesprek met mekaar. Terselfdertyd is beide die mening toegedaan dat kuns 'n politieke rol het om te vervul. Die titel aktiveer 'n gesprek rondom Rilke se beroemde gedig "The Panther"  ("Der Panther") geskryf in 1902. Die sub-titel van die gedig is In Jardin des Plantes, Paris
Hierdie gedig is al deur vele vertalers aangepak:
Sein Blick ist vom Vorübergehn der Stäbe 
so müd geworden, daß er nichts mehr hält.
Wat 'n wonderbaarlike boek is hierdie gesprekke nie. Twee belese en intellektueel-opgeskerpte figure tree in gesprek met mekaar. Beide Joods en Joodsheid, anti-Semitisme kom uiteraard onder die loep. Nes wit bevoorregting.
Waarom die kunstenaar begeerte het tot uitstalling ("What is the need to impose oneself?", 110) sal jare se psigoanalise neem om dit te begrond, meen Kentridge. Die sirkelgang van die kunswerke (Borges is hier 'n belangrike kode) én die kunswerk as proses, word geplaas teen die gesprekke en annotasies van Pound en Eliot róndom die ontstaan van The Wasteland (134). 
Die Norton lesings te Harvard in 2012, 'n gesogte uitnodiging, gee 'n verdere blik op hierdie intellektuele kunstenaar. Dit is gepubliseer as Six Drawing Lessons (Harvard University Press, 2014).
Borges het dit gegee in 1967-68 en hierdie besondere skrywer en digter se werkswyse sluit aan by die self-representasie, mise-en-abîme, die labirint, biblioteek (by Kentridge die studio), ensomeer.
Die endnote is verdere sleutels vir die leser, soos The Life and Death of 9413 a Hollywood Extra (1928), 'n film deur Robert Floey en Slavko Vorkapich. E.L. Doctorow se siening van die skryfprojek word gesien as 'n reis per motor; soms moet jy terugkeer om agter te kom waar jy verkeerd afgedraai het.
Die bekende film Ready to Wear (Prêt-à-Porter) van Robert Altman uit 1994, 'n satiriese analise van die modebedryf wat in Parys afspeel, is presies wat Kentridge in sy boek doen. Party van die akteurs vertolk hulself – en Kentridge plaas homself pens en pootjies binne-in van sy kunswerke.
Die boek is pragtig uitgegee en is vir lank lees, nabetragting en herdink met pragtige afdrukke.
Kentridge is in Frankryk vereer met die titel Commandeur de l'Ordre des Arts et des Lettres. Welverdiend.
En die titel? Iets van die poging om die oorspronklike dier vas te vang of weer te gee.
Kuns as grensverskuiwings, die kunstenaar as akteur. Kentridge het Politieke Wetenskap en Afrika Studies aan Wits bestudeer en mimiekkuns bestudeer en mimiekkuns aan L'École Internationale de Théâtre Jacques Lecoq in Parys, met die hoop om ‘n akteur te word. Hy is ook die seun van gesiene aktivistiese regsgeleerdes. Sowel die moeder en vader het mense verdedig teen die ou apartheidstaat en Nadine Gordimer was ‘n huisvriend van sy ouers. Refleksies oor Joodsheid kom na vore. 
Hy erken prontuit sy bevoorregte wit grootwordjare en hoe hy die Perseus-mite as jong kind gehoor het. En hier reflekteer hy op die ingewikkelde verhouding wat ‘n mens met jou eie jong self beleef wanneer jy terugkyk (173). Ons het immers verskillende selwe en op bladsy 220 word Czeslaw Milosz aangehaal om dit te illustreer:
The purpose of poetry is to remind us 
how difficult it is to remain just one person, 
for our house is open, there are no keys in the doors, 
and invisible guests come in and out at will.
Die boek is duur, maar beslis aan te beveel. Baie van die uitsprake vra vir herdink en herbesinnings. 
Die endnote is reeds ‘n studie op sigself: van Tinus de Jongh tot die I Ching, verwysings na Herman Charles Bosman, Athol Fugard, David Goldblatt, Picasso, Jackson Hlungwani, Homi Bhabba (wat die vraag-en-antwoord-sessie gelei het tydens die Norton-lesings), Tadeusz Kantor, die Poolse dramaturg, om enkele bakens te noem, begelei hierdie studie. Thick timeLullaby for a House Alarm.
Laurie Anderson gooi ook ‘n draai hier: "I’m lying in the shade of my family tree / I’m a branch that broke off / What will become of me?” (“Beautiful Pea Green Boat”).
Met hierdie lees – wat ‘n voorreg was dit nie – kom ‘n mens onder die indruk van ‘n komplekse mens wat sy teenstrydighede ondersoek en blootlê. Sy obsessie met tyd en herinnering is eweneens opvallend. Nes die “binne-immigrasie” teenoor die werklike migrasie (294).
Soos die insekplaag wat “kunswerke” word met suikerwater. Is die insekte geleer om te teken? (36)
Fouth Wall Books lewer weer gehalte: ons dink hier aan Stephanus Muller se Nagmusiek, daardie kluif van ‘n opwindende en uitdagende biografiese roman oor Arnold van Wyk.
 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Resensie | The Road to Mecca - Fugard-teater (2018)

I

The Road to Mecca: Suggested by the life and work of Helen Martins of Nieu-Bethesda (1984) word tans in die Fugard-teater in Kaapstad opgevoer (regisseur: Greg Karvellas) met Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Emily Child in die rolverdeling. 

Ek het die opvoering tweekeer gaan kyk en elke keer tot nuwe insigte gekom. Eers regs voor; toe links voor gesit - elke keer vanuit 'n ander hoek gekyk en beleef, dus.

Fugard verstaan die psige van die Afrikaner en hoe mense wat "anders" is geviktimiseer of verstoot word.

Miss Helen, Dominee Marius Byleveld en Elsa Barlow is die drie karakters. Dit handel op 'n eerste vlak oor Elsa se besoek aan Miss Helen nadat sy 'n ontstellende brief ontvang het. 

Alles speel af in die herfs van 1974 in Nieu-Bethesda, waar die beroemde uilhuis staan.


Die huis waarin alles gebeur, word in die verhoogproduksie 'n uilhuis met objekte. This is my world staan bo die verhoog. Daar is 'n groen transistor-radio en Elsa was haarself in 'n skottel. Daar is brandende kerse, spieëls en 'n bed waarop Elsa sit. Soms is sy besig om opstelle te merk. Sy het twee jaar gelede Miss Helen ontmoet en was dadelik aangetrokke tot haar eiesinnige kreatiwiteit. Die gemeenskap egter sien Miss Helen as mal en jong kinders het selfs haar huis al met klippe bestook. Miss Helen is 'n weduwee wat nie van hierdie verlies kan herstel nie. (Dit word later 'n belangrike kwessie tussen haar en Byleveld: hoe sy vertroosting na die begrafnis presies die teenoorgestelde effek op haar gehad het.)

Elsa is ook eiewys. Sy leer haar bruin skoolkinders om gesag te bevraagteken. Daar mag selfs dissiplinêre stappe teen haar geneem word. Miss Helen verklap klein skinderverhale van die gemeenskap.

Miss Helen probeer die brief wat sy aan haar geskryf het, wegpraat. Soos die brandwonde aan haar hande. Ons hoor van Elsa se liefdesverhouding met 'n getroude man, 'n aborsie en hoe sy 'n jong swart vrou op pad na Miss Helen 'n geleentheid gegee het. Waar is daardie vrou en haar kind nou? Elsa weens haar afgelope geskiedenis van liefdespyn en verlies, identifiseer sterk met hierdie vrou se lot.


Die objekte (kamele, uile, piramides) wys na die heilige stad van Mekka.

Dominee Byleveld bring papiere wat Helen moet teken. Dit is 'n dokument vir aanvaarding tot die ouetehuis. 

Haar swart helper (Koos Malgas se vrou) gaan ook die dorp verlaat en hierom dwing hy haar, subtiel, om ouetehuis toe te gaan.

Byleveld wys op die brandwonde en die ongeluk - volgens hom kan sy nie meer na haarself kyk nie. Elsa is ontstoke hieroor; terselfdertyd besef sy dat hy werklik omgee vir Miss Helen en verlief is op haar.

Miss Helen met Elsa se bystand fnuik die ouetehuis. Sy bly in haar eie Mekka.

II

Daar is vinjette en vertolkings wat 'n mens vir altyd sal bybly.

Marius Weyers met 'n aartappel (pomme de terre) wat die aardsheid van Fugard se werk beklemtoon teenoor Sandra Prinsloo se aangrypende Mekka-monoloog.


Weyers, dit sien ek met die eerste besoek, sweet en is ten volle een met sy karakter; Prinsloo is 'n oumens met grimering op haar bene om spatare en merke te beklemtoon. Sy stap en praat soos 'n oumens.

Alles wentel rondom lig en donkerte en die soeke na selfverwesenliking.

Aldrie karakters is gefolterde mense - ook die predikant in sy beroep wat voorskriftelik moet optree binne 'n gemeenskap wat afwykendes en kunstenaars verstoot. 

Hy betig Helen vir haar "idolatry" en Fugard teken hier 'n rasegte Afrikaanse predikant. Hy dink haar lewe het so grotesk geraak as haar kreasies.

Met haar man se begrafnis het hy die vensters toegemaak - iets waarvoor Helen hom verwyt.

Die herinnering aan die begrafnis van Stephanus is dan die keerpunt vir Helen en Byleveld. Opgehoopte pyn en verwyte, kom na vore.

"There is more light in you than in all your candles together", troos Elsa vir Miss Helen. 

As jonger teenspeler is Emily Child vol in die kol: aanvallend, geopinieerd - en tog weerloos in die geselskap van twee akteurs wat al so dikwels saam op die verhoog opgetree het.

En die vertelling oor vertroue, bly ingeweef. Die vader wat die kind beveel om te spring, hom nie vang nie en dit dan gebruik as 'n les dat jy niemand moet vertrou nie, pas binne die opset van die drama.

III 


My notas is neergeskryf in 'n klein boekie (in die donker). 

In die werklike lewe het Helen Martins in 1976 selfmoord gepleeg. Fugard gebruik elemente van haar lewe en verpak dit in 'n aangrypende drama.

Jacques Lacan se se triadiese verhouding tussen die verbeelde (Miss Helen), die simboliese (Elsa) en die reële (ds Marius) dimensies kom ook in die spel.

Athol Fugard se sterk drama lewer kommentaar op kreatiwiteit, gesag en hoe die gemeenskap optree teen afwykende gedrag.


© Joan Hambidge

Monday, April 23, 2018

Resensie | Lodewyk G. du Plessis - Die Dao van Daan van der Walt (2018)

Lodewyk G. du Plessis – Die Dao van Daan van der Walt. Tafelberg, 2018. ISBN 9780624082521 

Resensent: Joan Hambidge

Bemarking is ‘n uiters belangrike aspek van ons moderne kultuur. Sekere boeke kry baie aandag vanweë buite-tekstuele opheldering of selfbemarking. Kyk na die ongelooflike pad wat Bibi Slippers se digbundel nou al loop.

En hiermee het hierdie leser geen probleem nie. Bemarking het egter ook 'n donker kant; dit skep naamlik 'n verwagtingshorison waaraan die tersaaklike boek of 'n tweede boek nie kan voldoen nie.

Sekere boeke of skrywers word leibokke of rigtinggewers - van die Middeleeuse praktyk om ‘n klokkie om die nek van ‘n gekastreerde ram te hang. So kon die boer dus weet waar sy skape is in digte mis deur die geluid van die klokkie te volg.

Sopas het daar ‘n roman verskyn, Die Dao van Daan van der Walt, en op die blakerteks voorspel Frederik de Jager: “Hierdie boek behoort ‘n golf deur die Afrikaanse letterkunde te stoot.”

En in Rapport van 15 April voer De Jager ‘n onderhoud met die skrywer (Daan dwaal | Netwerk24. Besoek 17 April 2018).

Die boek is geskryf onder ‘n skuilnaam Lodewyk G. du Plessis (wat glo streng bewaak word) en in die onderhoud het die skroomvallige skrywer baie te segge oor sy roman.

Is dit dalk Kerneels Breytenbach?, vra ‘n vriend.

Die briljante, skreeusnaakse Etienne Britz?

As jy wil Thomas Pynchon wil speel, hoekom media-onderhoude toestaan?

Boonop verklap hy volgens hierdie leser veels te veel van die roman se binnewerkinge! So hierdie onderhoud is iets van ‘n spoiler.

Die roman, wanneer 'n mens wegspring, is duidelik 'n "nuwe" stem. Dis 'n manlike Sy kom met die sekelmaan waar die leser voorgestel word aan ene Daan van der Walt, 'n eertydse Kalahari-boer wat 'n vertigo-aanval kry op besoek aan sy seun in China. Sy seun laai hom af by 'n monnikeklooster en hier, onder leiding van Meester Yan leer hy tai chi om sy letterlike en psigiese balans te herstel. 

Die roman is 'n brief-cum-belydenisroman. Briewe vanuit Die Tempel van Ewige Vrede (Longshan, China), gedateer 5 Maart (s.j.)  of van Ystervarkfontein aan die oorle' vrou, Magrieta, en gesprekke met die hond Kaspaas. (Kyk watter taal verstaan Kaspaas!) 

Calvinistiese skuldbesef oor gay-wees loop soos 'n swart draad deur die boek en die wel en wee van die (wit) Afrikanerman wat transgressiewe sekservarings in 'n koshuiskamer in Potch het, is die tema in die roman. Verder handel die boek oor taalstryde, oor die regte van Afrikaners (soos die gedig op bladsy 83) met vele verwysings na die Bybel en mitologie. Oosterse denke. Dwars en taai klappe word uitgedeel na moderne letterkunde wat nie die "kringkomposisie" (82) verstaan nie en word dus 'n soort rigtingwyser (vingerwysing?) van hoe die skrywende instansie wil hê ons sy boek moet lees. Die jargon van moderne literêre teorie word gekritiseer (80) en die grand narratives van Foucault ('n belangrike kode) word betrek. Die Sestigers het glo lesers vervreem met hul pogings om die Franse “onverstaanbaar" te laat klink (69).

Herodotus, Homeros, Adam, Eva en die hele santekraam van vader- en kindmoordernaars word betrek. Die Landboubouweekblad en doodsberigte in Die Burger word deel van die narratief.

Magrieta, weet die verteller, het vergeet om haar leesbril saam te neem na die ewigheid en hy vereis van haar (en dus van die leser), 'n noukeurige lees om sy geskiedenis te verstaan. Magrieta word sy alter-ego in hierdie roman.

Hier word 'n mens danksy die endnote ook verwys na daardie klassieke teks van die Amerikaner Francine Prose: Reading Like a Writer (Harper Collins, 2006). Veral haar liefde vir Tsjekof se kortverhale waarin hy reëls breek, is relevant.

Studies oor homoseksualiteit (o.a. Compton), die Chinese en Japannese letterkunde, is verdere ritingwysers in hierdie roman geskryf deur 'n gierige leser van 'n grappie oor 'n kaal vrou tot die Gilgamesj-epos, Brandaan, Blake, Yourcenar, Gabriel García Márquez, unsw.

Augustinus se worsteling met die seksdrang en erfsonde word betrek.

Skuldgevoelens oor homo-erotiese verhoudings en concupiscentia (wellustige drang) word beskryf. Met humor.

Is daar nog steeds mense wat in die jaar 2018 oor sulke gevoelens wroeg? Is dit werklik hoe mense ge-Ander is? Ja, dit is. Binne 'n samelewing waar beuselagtighede soos of jy 'n Sondagkoerant kan lees op die heilige dag 'n debat was, terwyl mense sonder kos buite die bevoorregte orde geleef het.

So beskou, is die roman 'n dokument van hoe 'n wit man wat tot die orde van die "annerster soort" behoort (het), gedwing was om te trou.

Soms is dit snaaks; ander kere pynlik. Die ek-verteller is wroegend, soekend.

Daar is skokkende tonele: ‘n plaasmoord; ‘n hofverskyning en ‘n aanhouding in ‘n sel; ‘n eis om in Afrikaans te getuig; ‘n konfrontasie tussen vader en seun oor laasgenoemde se liefde vir ‘n Chinese vrou, ensomeer.

Die beskrywing van China en ‘n druk lughawe word eg weergegee. Hoe Chinese eet en hul toiletgeriewe is vol in die kol. ‘n Skerp analise van die Mao se impak op China en die vernietiging van ou tradisies, ou kultuur, ou gebruike en onafhanklike denke, word weergegee in die ervaring van ‘n Chinese vrou (308 – 309).

Die roman beweeg in ‘n sirkelgang: agtertoe en vorentoe. Dit word ‘n psigiese bestekopname en soektog na innerlike vrede wat die meester vir Daan leer. Die krag van taiji  in sagtheid, in ontwyking – nie in konfrontasie nie. Die meester leer hom hoe om te oorleef deur sagtheid te erken (291).

Dit is dan uiteindelik ‘n boek van individuasie in Jungiaanse terme: ‘n versoening van jin en jang. Hierom word ryk verwysings uit die Weste en Ooste saamgesnoer in sy gemoed.

“Wat ons soek, is ons nie beskore nie; wat ons die minste verwag, is deur die gode vir ons voorberei”, lui ‘n aanhaling uit die Bacchae van Euripides.

Watter taal word in die hiernamaals gepraat? Is daar spieëls in die hemel? Vir die verteller ‘n bron van kommer dat dit dalk Engels of Mandaryns mag wees.

Daar is mooi oomblikke, aangrypende en skokkende vinjette van ‘n voormalige regsgeleerde wat Latyn onder die knie het en die klassieke tekste ken. Hy het dit na sy tweede jaar gelos. (70) Waarskynlik hierom kan hy hom oopstel vir ander kulture, al is dit soms moeilik.

Daar is hierdie pragvers:

Herinnering

Waarmee vergelyk ‘n mens sy lewe?
‘n Verbyvliegende gans.
‘n Spoor in vars sneeu,
voor hy op sy vlug in die ruimte verdwyn.

Su dong Po 1037 – 1101

Uiteindelik vind hy Songtao en in die brief van 20 November verneem ons van die ander karakters se doen en late (en sterwe). Met die wete dat dooie Afrikaners ‘n toeristeaantreklikheid geword het.

Alles opgeteken in Daan se Historia.

Met endnote en verwysings wat baie leersaam is.

Of die roman werklik 'n golf gaan stoot deur die Afrikaanse letterkunde, sal ons moet sien.  Daar was immers Etienne Leroux wat die kollektiewe skuld van die Afrikaner op verskillende wyses behandel het.

Wednesday, April 18, 2018

Rubriek | The devil is in the detail (2018)

The Fall is ‘n uiters relevante speurreeks wat, behalwe vir die analise van ‘n reeksmoordenaar se optrede in Belfast, belangrike gender-stellings maak.
Stella Gibson (vertolk deur Gillian Anderson) bely sy het antropologie bestudeer en telkens lewer sy kommentaar op menslike gedrag. Sy verwys na interne en eksterne selwe. Die kyker is ook bewus van ‘n doubling tussen haar en die reeksmoordenaar. Sy optrede word in jukstaposisie met hare geplaas.
In die film lewer Stella Gibson kommentaar op hoe die media vroue sien: òf as hoer òf as maagd. In die media-dekking van die soeke na die reeksmoordenaar, is sy krities oor uitsprake wat haar manlike kollegas maak oor vroue. Selfs al is ‘n vrou ‘n prostituut, gee dit niemand die reg om haar aan te val nie.
In haar verhoudings met manlike kollegas is sý die een wat die seksuele interaksie domineer. ‘n Jong speurder word haar kamernommer in die Hilton gegee. Wanneer hy wil stort voor die interaksie, verkies sy dat hy dit nie doen nie. Sy neem ook in ‘n dominerende posisie in tydens die seksaksie.
Terselfdertyd is Specter besig om sy slagoffer te bad, die lakens te was en haar naels te verf. (Water is ‘n simbool van reiniging, en die jong Paul het nie gebad in die weeshuis nie sodat hy nie gemolesteer sou word nie. Stella swem in die hotelswembad om te ontvlug of te ontspan.)
Agterna wys Stella die jong speurder af. Dit was vir haar gewoon ‘n one-night stand (soos sy dit tipeer: ‘n sweet night). Sy erken teenoor ‘n vroulike kollega dat sy Antropologie bestudeer het en hierom het sy onder andere kennis van Sjinese gebruike soos ‘n walking marriage (The walking marriage of Mosuo ethnic group - China - Chinadaily.com. Besoek 18 April 2018).
Vir haar is seksuele ervarings vir die oomblik en iets waaroor sy nie skuldig voel nie. Wanneer die jong speurder doodgeskiet word en haar manlike eweknie, ACC Jim Burns (vertolk deur Jim Lynch) vra of sy skuldig voel, reageer sy nie emosioneel nie. Eerder ontwykend. Ook nie op die bekentenis van die vroulike en gay-kollega dat sy kondome uit die badkamer van die Hilton hotel verwyder het om háár te beskerm nie.
Sy is eweneens aggressief wanneer sy gekritiseer word oor haar (altans vir ‘n manlike kollega) transgressiewe gedrag. Wanneer ‘n vrou met ‘n man (objek) seks het, is dit onaanvaarbaar, konstateer sy. Andersom mag dit: man fucks woman (object).
Wanneer ‘n joernalis ontoepaslike vrae vra, is haar reaksie: ”He doorstepped me.” Sy gebruik ook kragwoorde. Ook haar kollega Burns is verlief op haar, besoek haar een aand wederregtelik wanneer hy dronk is en word deur haar geklap wanneer hy toenadering soek.
Sowel Stella as die Specter hou dagboeke of joernale. Hierin stort sy haar gevoelens uit oor abandonment. Haar vader is dood toe sy op ‘n jong en dus gevoelige ouderdom was.
Sy skryf haar diepste gedagtes en gevoelens neer wat hy in haar hotelkamer lees. Sy joernaal bevat foto’s en inskrywings van sy slagoffers wat hy wegsteek bo sy kind se bed. Sy weet dat hy na die moord op ‘n jong vrou masturbeer en dat sy joernale – wat die kyker meemaak – sy eie geskepte pornografie is (The Fall/ Gillian Anderson’s BBC Series | The Feminist Spectator. Besoek 18 April 2018).
Die reeks is die omkeerde van die tradisonele whodunnit,omdat jy as’t ware saam met die moordenaar en die speurder beweeg. Jy sien hoe Stella die legkaart bou rondom Paul Spector (Jamie Dornan) se optrede. Sy besef hy voel minderwaardig en hierom vermoor hy jong professionele vrouens wat hy soos objekte hanteer. Vanweë haar kennis van mans, besef sy ook dat hy masturbeer nadat hy ‘n vrou vermoor het, omdat hy nie in staat is om werklike intimiteit te beleef nie.
Trouens, hy voel wel skuldig oor ‘n moord op ‘n jong swanger vrou. As hy bewus was dat sy ‘n kind verwag, sou hy haar nie doodgemaak het. Hy laat ook nartjieskille agter …
Hierdie reeks werk met die idee van sielkundige doubling. Die intelligente vroulike speurder verstaan die psige van die moordenaar. Hulle is immers beide verwonde kinders. 
Is Stella ‘n man in vroueklere? Of is sy ‘n werklik bevryde vrou met agentskap.
Ek meen sy is laasgenoemde. Hierdie reeks dekonstrueer stereotipes oor genderrolle, en hoe rolle aangeleer word.
© Joan Hambidge

Tuesday, April 10, 2018

Huldeblyk | Foute vergissings verskuiwings (2018)

I

In sy resensie van Carel Antonissen se Vuurvas op Litnet skryf Cas Vos:

Van Wyk Louw het gedig: “slotreëls is altyd meer as slotte”.

Ook Ampie Coetzee haal dit verkeerd aan. Hierdie aanhaling moet lees:

“slotreëls is altyd sleutels meer as slotte

(Gedig XIV b. Tristia, 1962/1975: 94)

Op Versindaba word daar in ʼn onderhoud verwys na Emily Dickenson (sic!) en Daniël Hugo in plaas van Daniel Hugo in ʼn resensie. Kan literatore lees?

II

Op RSG kweel ʼn vroulike aanbieder: “Dit vat die koek”, met die bedoeling dat dit gewen het. Sy is klaarblyklik salig onbewus van die feit dat dit ʼn negatiewe uitspraak is.

Wie sub deesdae by koerante? In ʼn onderhoud met Sol Kerzner word Liza Minnelli se naam verkeerd gespel.

Is die wêreld besig om so snel te verander dat Johannes Kerkorrel reeds ʼn onbekende naam is vir ʼn tweedejaarklas in 2018? Net een student het die gedig van Johann de Lange begryp.

Nou ja. Ons dosente het ook gekla oor hoe min ons weet. Hulle kon immers Latyn, Goties, Middelnederlands lees en Frans of Spaans vlot praat.

Ek lees woordeboeke in my vrye tyd – en ou idiome en waar hulle vandaan kom, fassineer my.

Soos:

Iemand aapstert gee beteken om iemand ʼn pak slae te gee.

Te veel ape aan jou stert hê, beteken meer onderneem as wat jy kan behartig.
(IdiomeBesoek 10 April 2018).

III

In Rondom eie werk(Tafelberg, 1970) skryf Van Wyk Louw oor die opmerkings en uitlatings wat kritici gemaak het oor sy “Klipwerk”-reeks. Kritici het dit tipeer as los flenters poësie, flenters waarmee die skrywer nie verder hoe-maak geweet het nie en wat dan maar as fragmente gepubliseer is – die sogenaamde “skerwe van blink woorde” (36).

Louw neem tereg standpunt in teen vooropgestelde sieninge van wat poësie is téén die veronderstelling dat ons wéét wat ʼn gedig behoort te wees.

Met die ryke skat van “Klipwerk” en Tristia weet ons: daar is verskillende soorte gedigte.

IV

In sy belangrike studie Mirakel en muse (Perskor, 1983) skryf wyle H.J. Snyman oor die rol van ironie en die konflik in die menslike gemoed. Ons mag sentimentele of goeie idees koester, maar dikwels is mense brutaal. Ironie red ons wel hieruit (154).

H.J. Snyman is op 31 Maart 2017 oorlede.

En in hierdie studie wys hy op die verskillende soorte poësie wat bestaan. Hy lees vanuit verskillende hoeke en die sub-titel rig die teks: ʼn Studie oor die funksie van die implikasie-verskynsels by die interpretasie van ʼn gedig.

In vele gesprekke met professor Snyman het ek opgeskerp geraak oor implikasie, sub-teks en essensies.

Min lesers kon die essensie van ʼn vers insien soos hy.

Wanneer ek my opgewerk het oor vergissings en foute, het hy droogweg opgemerk dat die tyd dit alles sal uitwys. Hy het my verwys na Frank Kermode se vele studies oor mislesings. An Appetite for Poetrywas ʼn laaste geskenk aan my.

Ek doseer sy werk en hy bly, wat my betref een van die grootste Opperman-lesers. Sy tersydes oor Leroux bly eweneens bakens. Sy aanhaling uit Na’va en die menslike poging om ʼn vonk van die ewigheid vas te vang, begrond hy teen Louw en Opperman.

Leroux se analise van die simptome van ons tyd, bly stééds staan.

Hierdie is ʼn verering van Henning se lewe as besondere intellektueel en tydens hierdie Pase was ek opnuut bewus van sy afsterwe en die enorme verlies van sy vertrek.

Ek sien hom glimlag oor hierdie rubriek en hoor hom sug: “Ag, die ou meninkies.”

*

Pase HJS

And poetry 
sluggish in the doldrums of what happens.
Seamus Heaney

In jou laaste brief aan Die Herder
skryf jy oor die Heilige Gees
as katalisator kort voor jy vertrek.
“Is jy bang vir die dood?” vra ek
jou op 'n dag in jou windstil kantoor.
Die rooi dagboek punteneurig
met take vir die dag: 1, 2, 3.
“Nee,” antwoord jy sonder omhaal.
“Parakleet is aanklaer, pleitbesorger én Trooster.”
Daar waar jy nou is, geliefde mentor,
is dit 'n perpetuum mobile
met musiek waarna jy luister?
Waardeer hulle jou polifoniese wysheid,
wyl ons monotoon treur en verlang?
An appetite for poetry, jou cadeau aan my.
Frank Kermode oor William Empson via Hamlet
resoneer en troos op hierdie Paassondag:
“We shall not look upon his like again.”

© Joan Hambidge

Sunday, April 8, 2018

Resensie | Daniel Hugo – Openbare Domein (2018)

Daniel Hugo – Openbare Domein. Naledi, 2018. ISBN 978-1-928426-07-3

Resensent: Joan Hambidge

In hierdie bundel Openbare domein is die digter Daniel Hugo besig met 'n kaart en transport. Dit is 'n bestekopname van die ouer digter wat terugkyk na sy jeug, sy sieninge oor geloof soos in “Stoepsermoen” (12), die natuur, die mens se bestaan op aarde (en hierby inbegrepe die misterie van lewe en dood). Onstlape digters word aangespreek soos Lorca, Opperman, Uys Krige, Hennie Aucamp, Barend J. Toerien, Phil du Plessis, Gerrit Komrij en Ina Rousseau. Daar is gesprekke met Van Wyk Louw, Breytenbach en Johann de Lange, 'n kopknik na M.M. Walters en Pieter Fourie. Op 'n keer land Totius, Marais en Trantraal in een gedig ("Winternag").

‘n Belangrike tema is die gesprek tussen Hugo en Pieter Fourie: ‘n gedig heet “Knapsekêrel” (55) en Fourie in sy Bidsnoer plaas daardie gedig op die flap. Bepaald speurwerk! 

Daar is 'n gesprek tussen twee digters in "Tantalus", te wete Van Wyk Louw en sy seun Peter. In “Suising” (74) word Louw direk aangespreek in sy bekende woorde “my land, my dor, verlate land: / iets wens olywe groei in jou:”

Daar is kritiek op die selfie-generasie en huldeblyke oor gestorwenes. Aangrypende gedigte oor huisdiere en selfspottende verse oor katers.

Die digter is telkens besig met 'n siening van die digkuns en watter belangrike plek dit in sy lewe neem:

Heem III

’n man met die naam 
Brett Bard het hulle gekweek:
ons tuinsipresse
daarom staan hulle 
so regop en attent gespits
soos skrywerspenne
daarom grif hulle
so soepel teen die hemel
haikoes in die wind

In die gedig “Dekonstruksie” (103) is daar iets wrangs te bespeur oor die rol van die digkuns wanneer Derrida se sous rature (under erasure) ingespan word om die nutteloosheid en terselfdertyd dwingendheid van hierdie private spel te illustreer. Weliswaar ‘n private spel wat deur publikasie in die openbare domein land. Hierdie klein vernufsvers is ‘n besliste sleutel vir hoe die leser die spel tussen die private / openbare moet ontsluit.

Die openbare en private word dus telkens teen mekaar gestel:

Woorde vir die binnekamer

liefdesverklarings hoort in die binnekamer
word gesê en ek stem saam: openbare reklame
is ’n verleentheid – daarom uiter ek dit graag, 
liefsteling, in die hermetiese ruimte van ’n gedig:
hier waar ek agter my lessenaar sit, kan ek dit waag
om te fluister wat ek van die dakke wil verkondig

As vertaler lewer hy kommentaar op taal soos in "Klaaglied” (61) waar Afrikaans se “agterlike grammatika” onder die loep geneem word. In “Die digter as wesp” (59) word Hugo verse oor ander as venynig bekyk word. Die vers word ten slotte ‘n slim self-aanklag: dit wat jy oor ander skryf, word ‘n boemerang.

Daar is vernuftige, speelse verse soos:

Goliardegebed

Here, vergeef my al my flaters
my wilde kapaters
saam met gewillige maters
en meisies – snoer tog die snaters
van jaloerse haters
en agterafpraters
daardie gefrustreerde ou saters
met verkrimpte knaters
Here, bewaar my van die paters
met hulle wywaters
en ná diep nagte met konfraters
Here, lawe my oggendkaters

Vir my is Hugo ‘n onbetwiste vakman. Hy is op sy beste wanneer hy speels dig en sy portretgedigte oor ander digters is onthoubaar. Die liefdesgedigte in hierdie bundel vind ek minder. Die beste liefdesgedigte word vanuit ‘n posisie van afstand geskryf – ons dink hier aan Carol-Ann Duffy se Rapture wat die volledige geskiedenis van ‘n liefdesverhouding karteer. Wanneer die digter nog die geliefde óm hom as toeskouer en binne-leser innooi, voel hierdie leser dat hierdie gedigte net vir die geliefde se oë bedoel was?

Die digter ondersoek dieselfde bekende temas in sy digkuns en die meeste digters keer telkens terug na dieselfde “scene of the crime”. Dit sou ‘n interessante studie wees vir die speurende leser om te sien hoe Hugo temas hérbesoek en ontwikkel.

Prins Albert word in mooi gedigte herken as ‘n ruimte van inspirasie.

Daar is wel in hierdie bundel ‘n groter bewustheid van die natuur en die mens se geringheid binne die groter opset van die kosmos.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Sunday, April 1, 2018

Resensie | Antoinette Olivier – Optelklippies (2018)

Antoinette Olivier - OptelklippiesKreativ SA (geborg deur Cordis trust), 2018. ISBN 978 1 928374

Resensent: Joan Hambidge 

Op die agterblad word hierdie debuut Optelklippies van Antoinette Olivier as haikoes beskryf, 'n digvorm wat 'n vlugtige natuurindruk weergee én suiwer wiskunde is. Die versvorm bestaan uit drie reëls met sillabetelling 5-7-5. Die haikoe, 'n Japannese versvorm, illustreer ten beste die tegelykertydsaspek van die digkuns. Sy pendant heet die senryu, oftewel 'n somberder, siniese vorm van die haikoe.

Oor klippe is daar al veel gedig in Afrikaans: Opperman se bekende "Te klip om te boom" en Maria Snyman het 'n belangrike MA-verhandeling (UNISA) geskryf oor klippe in die Afrikaanse digkuns. Daar is Ina Rousseau, Wilma Stockenström, Johann de Lange ...

Klippe, soos weet hulle te vertel, verraai iets van die bepaalde landskap en in Japan (by Hirosjima en Nagasaki) voel en lyk die klippe anders. Hulle was immers stil getuies van ‘n kernontploffing.

Olivier se bundel is nie rasegte haikoes nie. Trouens, min digters kry dit reg in Afrikaans (en hierom praat ons eerder van boere-haikoes), maar haar verse is bepaald genoeglik in die delikate waarnemings wat dit registreer.

Die essensie van hierdie soort gedig is die jukstaposisie tussen twee wêrelde of indrukke. In die tradisionele haikoe word dit 'n vertikale lyn waar die twee sieninge één word; in die Westerse tradisie vind ons dan die 17 sillabes (in 3 reëls) opgebreek met 'n sentrale woord wat die kireji of snypunt is in die gedig. Gewoonlik is dit in die slotreël van die gedig. Hierdie snypunt of draaipunt vind die leser en interpreteer dan die gedig róndom hierdie woord.

In tradisionele haikoes het 'n bepaalde woord 'n simboliese betekenis wat gewoonlik aan die natuur gekoppel is. Die leser lees dus assosiatief en laat die gedig in die gemoed gebeur. 

Die nuuskierige leser kan hier verder oor die haikoe lees:

herinneringe
uit 'n optelklippieboks
skiet in rotstuin uit 
(31)

Langs elke gedig word klippe opgestapel. Klein totempale?

geure en kleure
vars oor die tafel gestrooi
die ene monét 
(27)

Monet, die impressionis word hier geaktiveer, en sy siening van die plein-air-landskapskilderye wat ‘n reaksie was teen salonkuns.

Hiermee wil die digter Olivier dan ook die natuur-like beklemtoon, weg van die gedigte wat waarskynlik te “slim” en “geleerd’ aandoen …

wilgerboom skadu's
verf oë vir die gesigte
op die oorhangrots
(95)

vanoggend skielik
glip die somervenster oop
hoe rank die jasmyn
(87)

op een been staan hy
so probeer flamink flamink
in die vywer speel
(61)

Elke vers sal ‘n ander assosiasie oproep vir die leser.

Met hierdie bundel neem sy 'n plek in langs Eveleen Castelyn, meesteres van die haikoe en tanka. (Die tanka se vorm, terloops, lyk so: 5-7-5-7-7).

‘n Klassieke Castelyn-vers:

Roosblare bêre
hartvormig in die laaie
die as van liefde

(Uit: Minder as die engele uit 1990).

En Hélène Kesting in 'n "klein akkoord", moet eweneens nie vergeet word nie.

Kan bestel word van: Posbus 4404, George-Oos, 6539.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)