Tuesday, April 10, 2018

Huldeblyk | Foute vergissings verskuiwings (2018)

I

In sy resensie van Carel Antonissen se Vuurvas op Litnet skryf Cas Vos:

Van Wyk Louw het gedig: “slotreëls is altyd meer as slotte”.

Ook Ampie Coetzee haal dit verkeerd aan. Hierdie aanhaling moet lees:

“slotreëls is altyd sleutels meer as slotte

(Gedig XIV b. Tristia, 1962/1975: 94)

Op Versindaba word daar in ʼn onderhoud verwys na Emily Dickenson (sic!) en Daniël Hugo in plaas van Daniel Hugo in ʼn resensie. Kan literatore lees?

II

Op RSG kweel ʼn vroulike aanbieder: “Dit vat die koek”, met die bedoeling dat dit gewen het. Sy is klaarblyklik salig onbewus van die feit dat dit ʼn negatiewe uitspraak is.

Wie sub deesdae by koerante? In ʼn onderhoud met Sol Kerzner word Liza Minnelli se naam verkeerd gespel.

Is die wêreld besig om so snel te verander dat Johannes Kerkorrel reeds ʼn onbekende naam is vir ʼn tweedejaarklas in 2018? Net een student het die gedig van Johann de Lange begryp.

Nou ja. Ons dosente het ook gekla oor hoe min ons weet. Hulle kon immers Latyn, Goties, Middelnederlands lees en Frans of Spaans vlot praat.

Ek lees woordeboeke in my vrye tyd – en ou idiome en waar hulle vandaan kom, fassineer my.

Soos:

Iemand aapstert gee beteken om iemand ʼn pak slae te gee.

Te veel ape aan jou stert hê, beteken meer onderneem as wat jy kan behartig.
(IdiomeBesoek 10 April 2018).

III

In Rondom eie werk(Tafelberg, 1970) skryf Van Wyk Louw oor die opmerkings en uitlatings wat kritici gemaak het oor sy “Klipwerk”-reeks. Kritici het dit tipeer as los flenters poësie, flenters waarmee die skrywer nie verder hoe-maak geweet het nie en wat dan maar as fragmente gepubliseer is – die sogenaamde “skerwe van blink woorde” (36).

Louw neem tereg standpunt in teen vooropgestelde sieninge van wat poësie is téén die veronderstelling dat ons wéét wat ʼn gedig behoort te wees.

Met die ryke skat van “Klipwerk” en Tristia weet ons: daar is verskillende soorte gedigte.

IV

In sy belangrike studie Mirakel en muse (Perskor, 1983) skryf wyle H.J. Snyman oor die rol van ironie en die konflik in die menslike gemoed. Ons mag sentimentele of goeie idees koester, maar dikwels is mense brutaal. Ironie red ons wel hieruit (154).

H.J. Snyman is op 31 Maart 2017 oorlede.

En in hierdie studie wys hy op die verskillende soorte poësie wat bestaan. Hy lees vanuit verskillende hoeke en die sub-titel rig die teks: ʼn Studie oor die funksie van die implikasie-verskynsels by die interpretasie van ʼn gedig.

In vele gesprekke met professor Snyman het ek opgeskerp geraak oor implikasie, sub-teks en essensies.

Min lesers kon die essensie van ʼn vers insien soos hy.

Wanneer ek my opgewerk het oor vergissings en foute, het hy droogweg opgemerk dat die tyd dit alles sal uitwys. Hy het my verwys na Frank Kermode se vele studies oor mislesings. An Appetite for Poetrywas ʼn laaste geskenk aan my.

Ek doseer sy werk en hy bly, wat my betref een van die grootste Opperman-lesers. Sy tersydes oor Leroux bly eweneens bakens. Sy aanhaling uit Na’va en die menslike poging om ʼn vonk van die ewigheid vas te vang, begrond hy teen Louw en Opperman.

Leroux se analise van die simptome van ons tyd, bly stééds staan.

Hierdie is ʼn verering van Henning se lewe as besondere intellektueel en tydens hierdie Pase was ek opnuut bewus van sy afsterwe en die enorme verlies van sy vertrek.

Ek sien hom glimlag oor hierdie rubriek en hoor hom sug: “Ag, die ou meninkies.”

*

Pase HJS

And poetry 
sluggish in the doldrums of what happens.
Seamus Heaney

In jou laaste brief aan Die Herder
skryf jy oor die Heilige Gees
as katalisator kort voor jy vertrek.
“Is jy bang vir die dood?” vra ek
jou op 'n dag in jou windstil kantoor.
Die rooi dagboek punteneurig
met take vir die dag: 1, 2, 3.
“Nee,” antwoord jy sonder omhaal.
“Parakleet is aanklaer, pleitbesorger én Trooster.”
Daar waar jy nou is, geliefde mentor,
is dit 'n perpetuum mobile
met musiek waarna jy luister?
Waardeer hulle jou polifoniese wysheid,
wyl ons monotoon treur en verlang?
An appetite for poetry, jou cadeau aan my.
Frank Kermode oor William Empson via Hamlet
resoneer en troos op hierdie Paassondag:
“We shall not look upon his like again.”

© Joan Hambidge