Monday, May 29, 2017

Pieter Fourie – Knapsekêrels (2017)



Pieter Fourie – Knapsekêrels. Naledi, 2017. ISBN 978-0-928316-47-6

Resensent: Joan Hambidge

Pieter Fourie is 'n gesiene Afrikaanse dramaturg en een van die grotes. Die mees gepubliseerde en bekroonde dramaturg, dié is hy.

Hy debuteer onverwags met 'n pragbundel Knapsekêrels met kontreiverse wat sterk herinner in stylaard aan Van Wyk Louw se Klipwerk-reeks. Louise Viljoen se bekende artikel "Digterlike gesprekke met N.P.Van Wyk Louw" (2008; Besoek 20 Mei 2017) wys op al die gesprekke met Louw. Ook hierdie digbundel is dan 'n belangrike wederwoord of voltooiing.

Hierdie bundel neem 'n mens vérder terug na Ezra Pound se vers "In a Station of the Metro" (1913):

The apparition of these faces in a crowd;
Petals on a wet, black bough.

Hierdie kort kriptiese vers (wat net 14 woorde het) is al beskou as 'n mini-sonnet.

Dan is daar TT Cloete se briljante analise van Van Wyk Louw se vers "dat akkers op die sinkdak val/ en vye op die ringmuur breek" wat die leser attent maak op die kompleksiteite wat opgesluit lê in sulke skerfies gedigte. Cloete beklemtoon dat jy as leser die gedigte moet "voltooi". (Een gedig is meer as een | T T Cloete | Literator. Besoek 16 Mei 2017).

Boerneef, ons ander groot volksdigter, staan skielik op uit die dode, o.a. in  Breytenbach se Die na-dood en Johann de Lange se ‘n Hunkering se grein.

Fourie praat dus met gekanoniseerders, hier te lande en buitelands. Die handige woordelys agterin die bundel maak die gedigte "oop" vir die leser onbekend met streekgebonde woorde, en help om die gedigte beter te begryp. Fourie, soos wyle Anton Prinsloo, een van my helde, bewaar "annerlike" Afrikaans.

Hierdie soort skerf-gedig, soos hierdie leser dit tipeer, word dikwels geskryf deur ‘n volwasse digter wat terugkyk op sy jeug. Dis verse gevul met nostalgie, verlange en pyn; van ‘n wêreld wat vir ewig verby is. Johann de Lange skryf tereg in die blakerteks dat sowel die taal- as die emosionele register wyd is. Kortom, dit is nie die soort gedig wat ‘n jongeling sal kan skryf oor sy jeug nie. Fourie is 77, wat hom ‘n ou-debutant maak en die oudste in Afrikaans. Maar sy ouderdom is net tersaaklik wat die terugkyk-aksie betref. Gebore en getoë in Philippolis, gee hy vir ons sy “hardnekkige knapsekêrels” digterlik weer. Pound se gedig aktiveer die dood van mense tydens die Eerste Wêreldoorlog en sy kennis van die Japannese digvorms (soos die haiku), word ‘n wrang-ironiese kommentaar op die oorlog.

Fourie skryf boere-haikoes. Punt-digte. Onvoltooide verse wat wag vir invul en klaarskryf. Die gedig as blokkiesraaisel vir die leser.

Van Wyk Louw se “Klipwerk”-reeks is volksliedjies en guitighede wat hy aangepas en verdigterlik het. Pieter Fourie se gedig “voorbode” (111) het dieselfde ingeboude premonisie as Pound se vers:

voorbode 

’n ouvolk sit
op dophouklip 

skielik gil
tinktinkie skril

 in huisnok skuil
die nonnetjie-uil 

dan kou die lam
aan doodsnot van 
witappeltjie 

Witappeltjie as die giftige karoobossie wat die gevreesde gousiekte by skape veroorsaak, word hier met die ouvolk, ‘n primordiale dier verbind. Die uil is eweneens ‘n simbool van die dood wat die leser wat moet voltooi en neem na Jeanne Goosen se ‘n Uil vlieg weg (1971).

Maar dis alles net dood en ellende nie. Daar is ook humor – soos by Louw – met verwysings na idiome soos “die swart varkie skrou”, oftewel die drang na drank (of onttrekkingsimptome) of ‘n “lekmy” wat ‘n oorvol bottel wyn beteken. Of “ou snuif” vir die vroulike jy-weet-wat.

By Louw is die skunnige eweneens aanwesig. Kyk hoe laai Fourie ‘n varkblom met seksuele innuendo (103). Die reeks “los kraletjies” (59) is ‘n hoogtepunt in hierdie bundel met sy speelse aanslag:

2 

tietermantollie
tonteldosie
in knippievlam
kring ons krosie

En hoe pragtig om te verneem van die “bokwagter” (39) se kaviaar in die diep Tankwa.

Wingerdgriep 

my baaisiekel se naam
nugter-en-dronk
dorp toe nugter, huis toe dronk 

ai, toggie, ai
swerkater
ou swartmaraai 

tortel kan buite koer
maar my tessie
kom deur tralies loer (86)

Die verskillende afdelings snoer die gedigte saam: kiekie, knelter, oumeidsoen, veervolk, goljaartjie, duwweltjie, stilte. (Goljaartjie beteken vrolikheid!)

Die "kartetsies son" in hierdie gedigte dra jy met jou saam met groot plesier. Die gedigte is dikwels klein dramas met 'n poelpetaanjol. (Dit verwys na die tarentaal.)

Die gedig "voorland" (134) is weer 'n besinning van verskillende landskappe en die wete dat ons uiteindelik beweeg van verneukpan, na buitepos tot by bokveld.

Bekende akteurs word aangespreek en die digter-literator Merwe Scholtz wat op sy dag besinnende essays oor Louw geskryf het. "gebed" (116), 'n pynlike lykdig, word aan Chris Louw opgedra.

‘n Man wat só kan dig, verdien al die akkolades. Om so ‘n “geurtjie in gebeurtjie” om te sit, vereis ‘n vaste hand én oor. Pieter Fourie het met hierdie digterlike oes iets presteer: min woorde, maar baie implikasie én nadink. Die digkuns as klokhelder stilte.

Naledi uitgewers het hier 'n belangrike bundel gepubliseer en hiermee ou woorde aan die vergetelheid ontruk.

Pieter Fourie (Foto: Conrad Bornman)

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)