Elkarien
Fourie - Vat jou hele hart: Kom saam na
die Middelkoninkryk. Naledi, 2017. ISBN 9780928316469
Resensie: Joan Hambidge
I
Die Ooste het ek by verskeie
geleenthede meegemaak en verken. Altyd met Hong Kong as die deurgang of
toegang tot die Ooste. Ek het hierdie stad sien transformeer van 'n vuil,
stinkende Chinese stad (in die vroeë negentigs) tot 'n hoogs gesofistikeerde
wêreldstad waar geboue verdwyn en nuwes in hul plek staangemaak word. Ek
was tweekeer in Japan; een keer in China, en veral in Beijing rondgeloop en die
Groot Muur besoek.
Ek was net in die Ooste as
toeris: Korea, Thailand en Indië. Tibet. Later na Viëtnam. (Rusland en Kroasië
is weer nader aan ons.)
Elkarien Fourie het daar gewoon
en gewerk en hierom is haar waarnemings deegliker. Ek het op 'n reis om die
aarde oor die stede geskryf in Meditasies (Human & Rousseau, 2014):
Tafereel
‘n Diepgroen boom
lowerryk, vol voëls
wat sing,
staan in die
agtertuin van ‘n huisie beskeie
in Beijing. Die
oompies speel mahjong,
die tantes spoel al
skinderend die wasgoed,
mense fiets verby,
dis skoolkomuit-tyd.
Oor hierdie klein
tafereel van menslike bestaan
staan daar ‘n voël
opgesluit in ‘n hok. Sy kraalogies
draai soos ‘n arend
s’n reg om dié gedoente.
Hy droom van ‘n
ander bestaan, ‘n beter wêreld,
verby inperkings,
vérvandaan, oor groot mure
veel, veel langer as
sesduisend kilometer klip.
‘n Toevallige
besoeker sien dit alles, vou dit op
en knoop dit vas in
haar geheue. So vredig
om in hierdie
oomblik te wees, so ongelooflik eenmalig,
in hierdie
digterlike tuin.
Elkarien Fourie se Vat jou hele hart: Kom saam na
die Middelkoninkryk is 'n wonderlike
boek wat hierdie leser met groot plesier gelees het. In dieselfde tyd herlees
ek Karel Schoeman se Op 'n eiland (1971) na sy afsterwe. Waar Schoeman die
amper-bekende Griekse eiland weergee met sy gewoontes en hoe die reisigers
daarop reageer (onder andere die besoek aan die versonke eiland), gee Elkarien
Fourie 'n verslag van die Ooste en sy gewoontes.
Taalprobleme,
vreemde kos, en hoe mense mekaar verstaan ten spyte van taalverskille, word
goed beskryf. Hoe 'n mens verdwaal, omdat jy nie die kodes verstaan nie, of
erger nog, in Tokio se middestad sal verdwaal, omdat daar nie straatnommers is
nie. Gaan lees gerus weer Roland Barthes se Empire of signs, sy meditasie oor
Japan, gepubliseer in 1970 (vertaal: 1983). Veral die "emptiness of
language", is iets wat Barthes interesseer.
II
Ek het hierdie boek stadig
gelees. Dit het 'n rooi lint as boekmerk.
Daar is vinjette wat 'n mens sal
bybly: hoe sy in staat is om die enorme paradokse van hierdie ruimte raak te
sien. 'n Telraam langs 'n komputer; 'n vuil gebou wat vol kosreuke hang en
nooit skoongemaak is nie en iets sou kon verraai van 'n vervloë tyd.
'n Onthoubare oomblik is die
klere wat sy laat maak, 'n deposito betaal en met behulp van die kleremaker vir 'n
peditaxi betaal om haar terug te neem huis toe. (Later word sy wel verneuk of om om
die bos gelei in 'n snaakse tee-sessie.)
Vele skrywers het al op die
vreemde Engels in die Ooste gewys en die ongelooflike humor wat die
eiesoortige, vreemdklinkende Engels tot gevolg het.
Ons beleef ook haar lewe as
onderwyser, hoe sy as Westerling die Oosterse toilette ervaar (o.a. die gebrek
aan privaatheid) en daaglikse wel en wee wat sy reguit vertel in haar joernaal.
Soos Schoeman se roman word dit vanuit 'n agterna-perspektief vertel met 'n
spanning tussen belewenis en vertelling.
Die menslikheid van China sal ek
onthou. In Beijing sit ek in 'n klein township - ek drink 'n bier in die hitte.
Bied dit aan vir 'n Oubasie (van diep in die 90), terwyl sy vrou die paadjie
voor die huis skoonmaak. Uit haar stemtoon wat op en af beweeg, kan ek hoor sy
raas met hom. Hy wys die bier van die hand, maar sy ogies flikker van
dankbaarheid (en lus). (My bier was koud, anders as Fourie se ervaring!)
'n Ruk later raak iemand aan my
arm. Dis 'n ouma wat trots haar kleinkind vir my wys. 'n Vader stap met sy
mongoolkindjie voor my verby. En die oumense se dogter kom op haar fiets aan.
So word ek deel van hierdie
klein wêreldjie. (En later skryf ek dan die gedig "Tafereel".)
III
Elkarien Fourie reis ook na
Japan, 'n land wat ek twee keer meegemaak het:
Tokio 東京都
Op ’n oggend staan ek in die vismark,
sien hoe tuna, nori en aji uitgestal lê.
’n Bedrewe visserman, in geel rubberstewels,
vlerk ’n vis bek-oop met een haal.
Uit sy pens tuimel daar binnegoed
en ’n bloederige stank. Ook herinneringe
uit ’n diepsee-bestaan, volledig áfgesluit
van aardbewings of reënende bomme.
Berg Fuji ken hy nie en ’n ligte sneeuval
(nes sagte dons oor die oseaan) bly iets vreemds.
Edu se lugbesoedeling het hom nooit gekwel nie.
Hy was eens soos ’n vis in die water.
Nou word hy op ys gegooi vir sashimi.
Kort voor lank land hy weer in die oseaan,
in ’n opgebreekte vorm – volledig ont-vis –
reisend van die hand na die mond: tot uitskot.
(Visums by verstek. Human &
Rousseau, 2011.)
Onderhoudend en aangrypend is die gedeelte waar sy in Japan gehelp word toe
sy nie by 'n OTM kon geld trek nie. Ek het 'n soortgelyke ervaring gehad in Tokio toe ek
verdwaal en 'n man my na die hotel begelei het, en die gawe hotelbestuurder
my selfs 'n boekie gegee het met woorde en frases wat ek mag benodig. In Kyoto is ek
as professor Ham aangespreek in die hotelletjie: ek en die tantetjie het mekaar
sonder taal verstaan en saam na Barcelona geluister.
Want buite Tokio is daar bykans
geen Engels nie. En as jy die rituele nie begryp nie, kan jy in groot ellendes
beland. Daar is baie engele ...
Arthur Golden se Memoirs of a Geisha (2005) is weer deur Fourie se boek in die herinnering terug gebring.
IV
'n Paar indrukke rondom hierdie
ryk geskakeerde teks. Omdat Elkarien Fourie die land intens meegemaak het, is
sy bewus van die paradoks dat hoe langer jy in China vertoef, hoe moeiliker is
dit om 'n duidelike afleiding van hierdie komplekse gemeenskap te maak (81).
Chinese
skryfkarakters (logogramme) word al meer as 5 000 jaar opgeteken. In een van my mees
opwindende kursusse voorgraads het ek die geskiedenis van China bestudeer.
Die outeur help 'n mens om die verskillende oorgange te begryp.
Chinglish en verkeerde
taalgebruik, is iets wat sy humoristies aanbied. Ook die besoedeling van stede,
mense wat spoeg en gasse uitlaat, word behandel. Telkens hoe Westerlinge sterk
reageer op die gebrek aan ruimte tussen mense. Sy wys op die verskil tussen
Mandaryns en Chinees (44). Ook hoe mense luister na Edelweiss uit The Sound of
Music en patrioties daarmee identifiseer (45).
Sy verduidelik die betekenis van
lang pinkienaels by mans (52): 'n teken dat jy nie 'n werker is nie en dus nie
met jou hande hoef te werk nie. Maar, die pinkie kan ook "elders"
handig gebruik word ...
Die geskiedenis van Marco
Polo is uiters leersaam, nes vele historiese gegewens wat sy uiters verteerbaar
oordra.
Sy behandel die redes vir die
oop gleufies ágter in kleintjies se broekies (vir maklike ablusie). In Beijing het my hotelgids verduidelik dat
dit ook teruggaan na 'n tyd toe gesinne baie kinders gehad het en daar nie tyd
was om elkeen se boudjies af te vee nie.
Die vermindering van vroue in
die ou China: dogters het nie herkenbare name gehad nie. Name soos Tweede
Dogter, Bring-'n-Boetie ... Sy wys tereg daarop dat in die kommunistiese
oorgang is dit wel reggestel.
Elke hoofstuk begin met 'n
Chinese woord. In haar eie woorde:
Aspekte van die lang en roemryke geskiedenis van China is ingeweef in my ervarings soos ek dit teëgekom en nagevors het, maar die ontwikkeling van die skrif is veral fassinerend. Daarom het ek besluit om aan die begin van elke hoofstuk die etimologie van ’n woord of term wat in die hoofstuk voorkom, te wys soos dit sedert die Sjāng-dinastie, amper 2 000 jaar voor Christus, die eerste keer geskryf is op skilpaddoppe en os-sleutelbene wat dan in vuur gegooi is om die toekoms te voorspel na gelang van hoe die bene gekraak het.
(Vat jou hele hart deur Elkarien Fourie/ ’n onderhoud | LitNet. Besoek 11 Mei 2017)
Saigon en Haiku is twee Kaapse
restaurante wat iets van die kompleksiteite van Oosterse cuisine opvang.
Tereg is die leunstoelreisiger
vandag in staat om 'n foto af te laai van die internet van dit wat die werklike
reisiger intens beleef het.
Maar Elkarien Fourie is 'n
werklike reisiger, een wat vele uitdagings die hoof gebied het, ook 'n
onverwagse besoek aan 'n hospitaal! Die ervaring met die owerhede (toe sy
gemeen het haar paspoort en selfoon is gesteel) vertel iets van wat met jou kan
gebeur in so 'n landskap; ook as jy jou paspoort nie by jou het nie...
Peper klink soos paspoort! En as
jy nie toonhoogtes van die taal bemeester het nie, lei dit tot funeste gevolge.
Die geskiedenis van geloof en
die Christendom in China dui op baie navorsing. Haar bergklimekspedisies dwing
bewondering af. Sy wys op ons wanopvattings oor die afwesigheid van die
Christendom in hierdie lande. Máo se vrou, die impak van selfdood (seppuku) in
hierdie kultuur (Yukio Mishima), die bedeltradisie, Confusius, fietsry (en wat dit
eens gesimboliseer het), word onder die loep geneem.
'Millenia' op bladsy 180 moet wees 'millennia'. 'Op 'n stadium' moet lees 'in 'n stadium'.
My kreatiewe reaksie dui
inderdaad op my bewondering vir hierdie boek. Van kormorante wat gebruik word
om vis te vang tot die ellendes van die Kulturele rewolusie word beskryf.
Omdat sy dikwels alleen reis en in hostelle bly, maak sy met gewone mense
kennis. Hierdie boek resoneer ook met Erns Grundling se Elders, wat sopas
verskyn het. (Woorde Wat Weeg/ Erns Grundling – Elders (2017). Besoek 13 Mei 2017).
Haar ervaring van die impak van
diabetes word goed beskryf. Sy maak 'n mens nuuskierig oor 'n onopgeloste moord
en jy moet maar self gaan lees! (396)
Dit is 'n wonderlike boek wat
die idee van 'n homogene China vir altyd ophef. Dit het vir hierdie leser soveel herinneringe opgeroep.
Die slot van die groot voete waarmee die hele land haar hele hart deurgetrap het, som haar ervaring goed op.
Paul Theroux, eat your heart
out!
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike
vergunning van Fine Music Radio)