Nathan Trantraal: Alles het niet kom wôd. Kwela Boeke,
2017. ISBN 978-0-7957-0791-9
Resensent: Joan Hambidge
Met sy debuut Chokers en Survivors het die digter
Nathan Trantraal die Ingrid Jonker-prys in 2015 verower. Dit was ‘n besonderse
debuut geskryf in Kaaps met ‘n ongebreidelde aanslag en woede. Nou is die
tweede bundel sopas gepubliseer deur Kwela, met ons. Dit heet: Alles het niet kom wôd.
Die tweede bundel, so weet ons
al uit die kritiek, is die moeilike hekkie. Intussen het die digter, getroud met
Ronelda S. Kamfer, wat eweneens ‘n rubriek in Rapport het.
Trantraal herinner my sterk aan
die reaksie wat indertyd op Gert Vlok Nel se debuut uitgespreek is deur J.C.
Kannemeyer: die digter speel dom; hy maak asof hy nie van die kodes weet of dit
begryp nie. By Trantraal is daar dieselfde spel aanwesig, maar op ‘n ander
manier. Hy is ook poseur wat kwansuis minagtend staan teenoor die Afrikaanse
letterkundige sisteem, dit kritiseer en aanval, maar tog die pryse aanvaar. Hy
is eweneens bekroon met die ATKV-prys vir sy debuut.
Sy kritieke, en hiermee het ek
geen probleem nie, op Adam Small se hantering van Kaaps en sy belesenheid, soos
bely in onderhoude, vra dus vir ‘n ander lees as van kritici wat ‘n reaksie het
op die armoede en ellende van die digter. (En hét Kamfer dit nie goed getref met die groot Rabie-Wallace-prys nie?)
Cash for Gold
Ek kry respect en awards
wat vi genoeg mense baie beteken
en dan oppe Woensdag
wat niks beteken ie
staan ek innie voorhys en wieg
ie award in my hand
en vra my ma: “Wat dink Mammie,
is dié bronze of copper?”
Assit copper is issit ’n paar
dae se kos
assit bronze is beteken it niks
vi my nie.
(42)
Oor die eerste bundel het ek
soos volg geskryf ( Woorde wat weeg. Nathan Trantraal - Chokers en Survivors (2013). Besoek 15 Maart 2017):
Die belangrikste aspek van
hierdie bundel is die praattaal en in fonetiese Kaaps.
- Daar is humor.
- Daar is ‘n besliste afwysing
van enige nostalgie of sentimentaliteit. Die inhoudsopgawe met tydsaanduidings
lees soos grafskrifte. Hier is dus ‘n duidelike afskeid van ‘n pynlike,
verwonde jeug.
- Die gebruik van plat woorde is
opvallend. Cunt, poes, kak, befok, fokkol, piel, nai, fokof.
- Engelse woorde word ook
aangetref. Die digter gee ‘n weergawe van sy mense se spreektaal.
- Daar is ‘n ontmaskering van
die familie, en meer spesifiek die gesinsopset. Hy het immers by die moeder,
tradisioneel die versorger, om onsentimenteel te wees.
Hammie
My ma het my gelee
ommie sentimental te wiesie.
Die eeste ding wat sy gepawn et
was haa trouringe. (31)
- Hier is simboliese vadermoord.
Die vader word letterlik aangeval soos in ”Fifa 06” (52).
- Dit is gedigte wat ‘n storie
vertel.
- Dit wil duidelik on-poëties
wees. Teenoor al die veld is vrolik, vind ons ‘n “dywel het alwee al sy
pielhare afgeskeer” op die maat van “Die padda wou gaan opsit met sy nooi in
die vlei” (69).
- Daar is ‘n verwysing na drugs
(soos buttons byvoorbeeld), casette, porn, DVD’s, CD’s en karaoke. Dus
ondigterlike of tegniese woorde wat die gedig binnedring.
- Die private word ontmasker en
betree (masturbasie): “die Here wiet allien 1” (67).
- Die tronkbestaan / gangsters
versus ‘n godsdiens (geloof) word ontgin.
- Terselfdertyd is daar
genoegsame verwysings na ander digters wat ‘n bekendheid met die digkuns
aandui. Hier vind ons ‘n duidelike ambivalensie by die spreker, wat enersyds
ingelig is, maar andersyds soos gert vlok nel maak asof hy nie weet wat eintlik
aangaan nie.
- Die gedigte wil soos strips
toeganklik wees en soos in hierdie sub-genre die medium gebruik om sosiale kommentaar
te lewer. ‘n Mens dink hier o.a. aan Bitterkomix en die digter se eie werk as
kommentator in die Cape Times. Soos by Bitterkomix is die skokkende aspek die
dinamo van die teks.
- Die spel met die outobiografie
– o.a. deur verwysings na Ronelda, sy vrou en sy broer – neem ons terug na die
Beats se hantering van vriende wat as werklike mense in die gedigte beland het.
- ‘n Sterk satiriese aanslag
soos “Hard to kill trilogy (DVD Boxset)”, 23.
Dieselfde tegnieke is hier:
satire, ironie, platwoorde, die uitskryf van die armoedige bestaan, Kaaps,
gevaar, “living on a edge”, dus. ‘n Nuwe wending is die ontginning van die
religieuse dimensie en in die openingsgedig “Alles het niet kom wôd” (11), bely
die digter dat hy “minner dywels” in die water gegaan het as waarmee hy
uitgekom het.
Die ontmaskering en bespotting
van hierdie leefruimte is dus iets wat die leser moet aanvaar.
“S.o.b.” (38) striem die
politieke en klasverskille wat hierdie spreker intens beleef. Son of a bitch
word hier Silly old boer.
Daar is dus “gif” in “vegifnis”
(39)
Die bundel het nie die werklike
vuur en vreemdheid van die eerste een nie. Maar die toehoorders by Woordfeeste
waar die digter optree, is kennelik onder die indruk van die praataanslag en
fok-jou-houding. Hier lees hy "Cash for gold". Hy het bepaald ‘n groot aanhang onder jong lesers.
Hulle sal die ironie vang “soes
butterflies wattie / na my toe wil kommie” (59).
(Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.)