Saturday, March 4, 2017

Namibië: land van sand en see en sterre (2017)

Die Namib ontmoet die Atlantiese oseaan

Douvoordag vertrek ek lughawe toe vir my Namibiese reis.

My belangrikste bestemming is die Namibwoestyn.

Op die lughawe is dit die gewone wag, brekfis eet by die Mug & Bean. Ek gesels met ‘n jongeling wat as sekuriteitsbeampte werk.

“Jy’s nes jou pa,” betig my moeder my speels op die lughawe, ‘n paar jaar gelede. “Julle praat met almal.”

Dis maar hoe ek gebek is. Uit die mond van gewone mense leer jy veel van die lewe. Soos die man op die lughawe op Windhoek wat uitroep toe ek hom groet: “Gaan goed met my. Ek skinder nie vandag oor myself nie.”

Of die gawe bestuurderes by die lodge wat meen: “Onder elke dak, is daar ‘n Ag!”.

Gocheganas chalet

Of Kris my gids tussen Windhoek en Gocheganas wat my vertel hoe Windhoek gemoderniseer is die afgelope paar jare. Die bruin FNB-gebou is trots Afrika!

Of die pragtige jong kinders van die Hoë Kommisaris uit Kenia wie se dogtertjie van twee-en-half, land en sand met my gesels, ‘n sonbril op die kop.

Of die swart gids Werner (sy Christen-naam) wat my vergesel deur die Namib-woestyn en saam stap oor die duine.

Hierdie reisjoernaal sal met ‘n begin-middel-einde werk. Maar soos met ‘n (post)modernistiese roman mag die leser enige plek begin.


Die Begin

Hosea Kutako Internasionale lughawe, Windhoek

Windhoek se lughawe is klein en beskeie.

‘n Mens beweeg flink deur die paspoort-kontrole en niemand is stug hier nie. Jy kry jou tjap en daar gaan jy.

GocheGanas (Damara woord: plek van die kameeldorings en akasias) is my eerste holte vir die voet. ‘n Luukse oord met ‘n swembad, Wellness Centre en dierepark. Die mense is vriendelik, behulpsaam en kan Afrikaans praat of verstaan. Dis ongeveer ‘n uur se ry van die lughawe met ‘n Kombi-bussie. Die vriendelike Kris is my bestuurder en elke keer wanneer hy net-net wil vetgee, gaan ‘n alarm af.

“Sodat ons nie te vinnig ry nie en ons gaste in gevaar stel nie!”

Die lug is helder. Die wolke vet en dragtig. ‘n Mens dink onmiddellik aan Karel Schoeman se ‘n Lug vol helder wolke.

GocheGanas oord

Daar is vele bobbejaantjies langs die pad. Die gras is groen, want dit het onlangs gereën. Die rivierlope is egter steeds leeg. (A warm Welcome to GocheGanas, Namibia, Windhoek. Besoek 26 Februarie 2017).

In my kamer is daar lys van voëls en groter diere wat ‘n mens op ‘n uitstappie kan besoek. Ek besluit om die tweede dag, om vyf nm, op so ‘n patrollie te gaan.

Elke chalet is na ‘n steen vernoem. Ek bly in Cat’s Eye. Hoe simbolies.

In die Hill Top-restaurant is die wynlys duur. Suid-Afrikaanse wyne se pryse word hier dubbel en dwars gelaai. Die kos is heerlik. Wildsvleis of vis. Op Sondag 26 Februarie eet ek ‘n egte Duitse kool en ertjie-sop as voorgereg. Dan die “game medallions” (glo eland) en ‘n “Lemon and lime syllabub met mixed berries”.

Skielik bars daar ‘n reënbui uit en ek is genoodsaak om in die warm binnenshuise swembad te gaan swem. Dit neem my terug na die hotel in Dubrovnik, ‘n paar jaar terug, waar ek vir oulaas swem voordat ek terugvlieg huistoe. (Woorde wat Weeg/ Reisjoernaal/ ‘n Sloweense en Kroasiese pelgrimstog (2014)Besoek 2 Maart 2017).

Alle spa’s by sulke hotelle is dieselfde: ruik dieselfde, klink dieselfde ... met sulke geblikte Oosterse musiek om ‘n mens te kalmeer. Maar ek voel Zen. Doen my borslag-oefeninge, trap my trappe en maak gereed vir die 5 nm ekspedisie om diere te besigtig om die lodge. Hier is glo ‘n renoster of twee te bespeur, maar geen olifante nie.

Oryx © Arno Meintjes

Ons word om vyf op ‘n Landrover gelaai vol bot Duitsers en twee laggende Hollanders. Ons gids, ene John gee lesings soos ons ry. Daar is die oryx (gemsbok), die nasionale bok van Namibië. (Gemsbok - Wikipedia. Besoek 27 Februarie 2017).

Ek sit tussen twee Duitsers uit München en hang soms oor om ‘n Springbokkie te kiek en ‘n waterbok of twee. Hierdie bok sal jy nie kan eet nie, vertel John, want as sy olierige vel aan die vleis raak, is dit kapoet! Hierom kry jy dit nooit te ete in restaurante nie.

Ons is gelukkig en sien twee renosters. ‘n Groot logge ou vader wandel met sy jongeling. Die ma is dragtig en daarom moet die tweejarige ouboet met sy vader wandel. Sy moet nou haar kragte spaar vir die nuweling en jaag hom nou weg.

Hulle bly vreet aan die gras, terwyl ons hulle afneem en na beraming is dit daagliks glo 50 kg gras wat verorber word.

In die droë tyd gee hulle die diere kos. Hulle kry dan gras uit Suid-Afrika.

Hierna is dit kameelperde, dansende volstruise, en vele klein jakkalsies. Ek sien ook ‘n grys vossie.

Nou bewonder ‘n mens die digter Johann Lodewyk Marais al hoe meer vir sy uitgebreide digterlike opnames van die natuur.

Vlakvark

“Ach so, ein Warzenschwein,” roep die Duitser langs my uit. “Oh, und ein Streifengu.” Die Hollanders mor oor die dierepark. Hulle het glo veel beter in die Etosha gesien.

Vir my is dit goed genoeg, ek is nie ‘n natuurkenner nie en maak klikgeluidjies wanneer iemand vir my ‘n verkyker aangee om ‘n eksotiese voël te sien.

Maar ek geniet tóg die uitstappie van meer as twee-en-half ure. Die Duitsers is verbaas dat ek Duits verstaan en kan terugpraat.

Die sonsondergang is rosig en onbeskryflik mooi.

Ons hou piekniek in die veld en elkeen kry ‘n gin & tonic.

Die aand is dit heerlike Duitse sop en ‘n keuse tussen eland of vark. Ek kies laasgenoemde: sag en onder ‘n bloukaassous wat smelt in die bek.

Ek e-pos die digter Kobus Lombard en nooi hom vir ete. Hy is ongelukkig op pad na ‘n werksverpligting.

Ek lees weer van sy gedigte en vind dié treffende vers wat tot my spreek, nou dat ek iets meer van die landskap begryp:

Uitsoeklê

in die skoot van hierdie dorsland
kan julle my neerlê en telkens
as die blare van ‘n geelhout ritsel
of ‘n jakkals roep na sy maat
agter die kam van die verste duin
sal ek knus my beendere omdraai

om verder te rus

(Uit: Tussen wysvinger en duim, Protea Boekhuis, 2005)

Daniel Hugo lees ook verse uit sy bloemlesing Land van sonlig en van sterre (2004) voor op RSG. Ek laai dit af van potgooi

Hy wys tereg op die oorweldigende lanskap. Hier is die natuur nog in beheer.

Hugo, George Weideman (met sy staning onder sterre), Gustav Preller, Marié Blomerus (met die beskrywing van sterre wat haar oorweldig), die Namibwoestyn word aan die woord gestel (in die oudste gedig oor hierdie land wat gesels met “Die vlakte”, hier kan ek die naam hoor nie), Piet van Rooyen, Abraham Fouché, Johann Lodewyk Marais (‘n nugter vers oor die oorlog) en natuurlik: Wilma Stockenström se die briljante “Die eland”, is hier te hore.

Hugo moes vele van die lang historiese verse uitlaat, maar daar is darem een van Doc Immelman, pragtig voorgelees deur Hugo.

Welwitschia mirabilis

Oor die worsteling met hierdie natuur, skryf Blomerus aangrypend in “Welwitschia mirabilis”:
...
‘n duisend jaar en meer
se worsteling met son en wind
het jou diep gewortel in hierdie oer-aarde
in hierdie suisende stilte
het die groenspaan blare tot dun repe verflerts
nogtans blom die geslagskeeltjies
rooi op stewige steeltjies

welwitschia mirabilis
jy’s ‘n gedig
in die oer-aarde se onaardse lig

(opgeneem in - as ek reg onthou in Fosforblom in 1984. My biblioteek staan tuis en die internet is onbetroubaar hier.)


Middel: Namib-woestyn

Vroegoggend brekfis en dan swem in die swembad. Ek groet almal in die lodge. Gawe mense wat altyd hulpvaardig is. Wanneer jy iets anders behoef as dit wat op die menu staan, maak hulle dit vir jou.

Gisteraand was ek lus vir koedoe - en die swart vrouesjef berei vir my die sagste koedoe voor.

Hilton Hotel, Windhoek

Nou wag ek in Windhoek se Hilton-hotel vir my lang trip (ongeveer vyf ure na die Namib-woestyn). Kris het my afgelaai. En Werner, ‘n Ovamboman, kom laai my op. Sy regte naam is Amutenya.

Ons ry vir ure lank na die lodge in die Namibwoestyn. Die 4-by-4 skud op die pad.

“Dit is ‘n Afrika-massering,” spot hy.

Naukluft Lodge

Dit is ‘n cliché om na hierdie landskap as beeldskoon te verwys. Ek sit in my nuwe lodge, in die Namib uitgeput, maar oorrompel na die reis. (Namib Naukluft Lodge. Besoek 28 Februarie 2017)

Die aand het die panoramiese aanskyn van ‘n Adolf Jentsch-skildery (Adolph Jentsch by Olga Levinson. Besoek 28 Februarie 2017).

Vroegoggend lui die wekker (4.30 vm) vir die besoek aan Sossusvlei.

Ek is nie ‘n oggendmens nie, en probeer met koffie en twee sigarette die dag te laat inskop. Verder is die afwagting groot om die Namib te sien. Jung het glo met sy eerste besoek aan Indië flou geword, omdat hy besef hy dat hierdie landskap gaan sy hele psige radikaal verander. Party meen hy moes selfs terugkeer en eers later weer gaan.

Vir my is hierdie oomblik groot.

Ons ry vir ongeveer ‘n uur tot by Sossusvlei.

Niks wat iemand ooit van dié woestyn vertel (verklaar tot monument in 2013), kan die prag hiervan vasvang nie. Van Big Papa tot Big Mama.

Die ou grote lyk op ‘n haar na die ou voorblad van Perspektief & Profiel.

Ek klouter die eerste duin uit en tel klippe op. Soos wat ek doen in elke vreemde landskap.

Twee Landrovers sit in die sand vas. Daar in die verte kom ‘n bakkie aan om te help.

Ek kyk na die wewer-voëltjies wat pragtige neste maak; selfs Springbokkies en twee kraaie is hier te sien.

Werner neem vir my foto’s van die canyon toe ek te bang raak om verder af te klim.

Toe ons by Weltevrede lodge verby ry, raak ek melancholies. Die naam van my moeder se huis.

Dis onbeskryflik warm. Werner het vir ons ‘n piekniekmandjie ingepak, maar ek verkies om in die 4-by-4 ‘n toebroodjie te eet. Ons stop by die Engen-garage waar twee Duitsers uit Bonn gestrand is. Die voorwiel is voos en pap; kennelik deur ‘n klip getref (en hulle's toe alreeds op die spaarwiel).

Werner probeer verduidelik daar is niks met die motor verkeerd nie. Hulle het waarskynlik ‘n klip raakgery en omdat hulle nie gou genoeg gestop het nie, is dit kapoet.

Die Duitse vrou is egter van mening: “Nee, dis die motor. Hulle eis ‘n nuwe een. Sy hoor al die hele oggend doef-doef.”

Die Namib beteken letterlik groot plek. Dit is ‘n Nama-woord. Niemand kan anders as om oorweldig te wees deur hierdie woestyn nie. Dit is ‘n land van lang afstande. (Namib - Wikipedia. Besoek 1 Maart 2017)

Wanneer ons laatmiddag by ons holte-vir-die-voet aankom, gaan ek kamer toe. En begin timmer aan ‘n vers:

Ek is geborge in my skadu
soos ‘n viool
in sy swart kas.

Tomas Tranströmer (vertaal deur De Waal Venter)

Met twee swart kraaie,
‘n lodge wat Weltevrede heet
in die Naukluft,
waaier my hele lewe voor my uit.
In hierdie woestynsee
neem die landskap my terug
na die Rajasthan en Atacama
toe my moeder nog geleef
het en in daardie tyd
was stilte ‘n troop,
‘n duisend jaar of ewigheid,
onbepaald en onmeetlik bloot.
In hierdie land van sonlig en sterre
met wolke soos watte
is my moeder
steeds die souffleuse
van my lewensdrama
met ‘n uurglas wat uitloop.


Einde: Swakopmund en Walvisbaai

Swakopmund

Nou’s dit Swakopmund toe. Dis vroeg uit die vere met brekfis op die stoep. Klein voëltjies pik-pik aan die muesli, en ‘n meerkatjie wag om gevoer te word. Werner wag alreeds buite. Ons ry vandag nie alleen nie. Daar is ‘n gawe Hollandse vrou saam met ons. Ek het haar ontmoet op een van ons uitstappies om ‘n wonderskone sonsondergang te sien.

Sy wil dikwels foto’s neem; wat reg is met my. Ek drink die landskap in. Die woestyn se tekstuur het nou verander na wit sand. Daar is geen foonontvangs op hierdie lang pad nie en viertrekke jaag by ‘n mens verby teen ‘n donderende spoed. ‘n Mens wonder wat sal gebeur as jy hier in die nood raak.

‘n Laaste bord waarsku dit is die laaste restaurant, ‘n paar km van ons lodge.

Na vier ure is ons in Walvisbaai en nog dertig km staan Swakopmund, ‘n egte Duitse dorpie. Oor die etimologie van die naam is daar al baie gestry. Party meen dit van die Nama-woord Tsoakhaub (letterlik anus) om die vloed van die Swakoprivier se uitwerping van dooie diere en uitskot in die see te beskryf. Professor Peter Raper, die groot naamkenner, meen dit kom van die Santaal: xwaka (renoster) and ob (rivier). Die Duitse setlaars het dit verander na Swachaub en in 1896 word dit Swakopmund. (Swakopmund - Wikipedia. Besoek 2 Maart 2017).

Strandhotel, Swakopmund

Toe ek intjekkereer by die Strandhotel (na ‘n afskeid aan Werner), staan die twee Duitsers uit Bonn langs my. Hulle het ‘n nuwe motor gekry, maar moes ‘n nag langer oorbly in die lodge. Hulle mor oor die ongerief. Verloor nou boonop ‘n nag in Swakopmund. (Strand Hotel Swakopmund. Besoek 4 Maart 2017)

Dis nou maar eenmaal so dat Europeërs uiters omgekrap raak as sake in Afrika ‘n bietjie skeef loop. Ek dink aan die twee Duitsers in my eerste lodge wat oor alles gekla het: die kos, die feit dat hulle nie by die venster mag sit nie (daar was geen bespreking nie), die kamer wat al te oud en verweerd is, die wyn wat nie reg is nie... En so word die reis wat ‘n avontuur kon wees, ‘n onaangename ervaring.

Nou is dit Swakopmund bekyk. En daar trek ek my woorde terug toe ek in die Brewer & Butcher sit en met irritasie die gille in die kombuis moet aanhoor. Met ‘n bestuuder wat meen die gaste hou daarvan dat dit so “vibey” is!

Nou’s dit vroeg kooi toe in die Strand-hotel vir ‘n Marine & Dune-trip vroegoggend.

Swakopmund duine

Toe gebeur die onvoorsiene.

Geen wake-up call – gelukkig is die selfoon ‘n wakker wekker.

Toe ontbyt en wag. 8 - 8.15 - 8.30 - 8.45 ...

Ons bel die mense in Walvisbaai: “Haai, Mevrou die boot is al weg. U moes vroeër hier gewees het.” Ek verduidelik dat my reisbiljet verskil. Gebel heen en weer. Selfs die agent uit Pretoria bel.

“Jammer ons fout ... u kan darem nog die Duine-toer doen.”

Ek bel Estelle by ‘n ander agentskap. Al die bote gaan net in die oggend uit. Dis joppelsee.

Sy is bereid om my op ‘n ander toer te neem wanneer ek terug kom van die Duine-trip.

Adolph Jentsch landskap

Terug kamer toe. Miskien is dit Voorsienigheid wat wil toesien dat ek eerder moet fokus op die woestyn en duine vereers.

By die Duine-ontmoetingsplek, kom die bestuurderes uit.

Sy stel haar voor aan my. “Die fout met die bespreking is alles my skuld. Hier is jou geld terug en vandag is gratis!”.

‘n Koevert met ‘n rol dik note word aan my oorhandig.

Die grootmoedigheid van die vrou imponeer – ek is bekend met mense wat altyd ontken dat dit hulle fout was. Of aanval as verdediging.

Skedelkus, Namibië

En die Duine-trip tot by die Skedelkus is ‘n ervaring. Die woestyn, leer ons, word gevoed deur die mis. Daar is klein jakkalsies wat kort voor ons koms by ’n watergat gestaan het.

‘n Mens sien dooie robbe op die pad – selfs ‘n onthoofde dolfyn en flaminke, ja hulle wat op een been slaap. ‘n Lewendige rob sit met ‘n stuk vislyn om die nek, maar ons kan nie help nie, waarsku die gids. ‘n Vriend het in die hospitaal beland!

‘n Rob, vertel die gids, slaap in die water nooit regtig nie. Sy vinnetjie is na bo en hy draai in ‘n sirkel sodat hy altyd weet waar hy is. Vir regte slaap, is dit op die strand.

‘n Pragtige pelikaan is ook hier te siene en miljuisende kormorante.

Ons ry met ‘n Landrover die duine op en af. Onder ons roggel die sand. Net eenkeer sit ons vas, maar Nico, ‘n boerseun uit die Noorde, sit die Landrover in trurat en durf weer die duin aan. Deurentyd is hy en Rudi op walkietalkies.

Lunch is bier, vonkelwyn, oesters en broodjies met wildsvleis.

Ek kyk na die granaatrooi sand in die verte; die halfedelgesteentes wat wink.

Op pad terug vra ek of ons kan swem.

Ek staan in die koue water, terwyl twee vroue uit Harare alte heerlik swem.

Die lang afstande (vir mense hier is 300 km naby) en die vlae verweer deur die son en wind sal ek altyd onthou. ‘n Dorpie met die naam Solitaire waaroor ‘n Nederlander ‘n reisverslag geskryf het, en die humor. ‘n Boot wat heet “kotskoets”; ‘n plaas se naam is “Droë Willem”.

Ons staan by die Tropic of Capricorn net voor Walvisbaai - die sterreteken van my moeder en hierdie reisverslag is ‘n afskeid aan haar.

Buite Swakopmund het iemand met witgeverfde bande die naam Jesus in die sand geplant. Vir my gaan dit meer om die “psychic embodiment” van hierdie genadelose land.

Na hierdie land waar die welwitschia, die oryx, diamant en visarend simbole is, sal ek beslis weer terugkeer.

iii Aftelrympie

Hosea Kutako
GocheGanas
Kupferbergpas
Spreetshoogte
Solitaire
Sesriem
Sossusvlei
Tsauchab
Naukluft
Gaub & Kuiseb
Gobabeb
Vogelfederberg
Walvisbaai:
pas, hoogte,
kloof,
vlei, berg,
hier in soveel
tale neergegrif.

© Joan Hambidge