I
Oor die films
van Andrei Tarkofski het ek al uitgebreid geskryf. Sy films resoneer met my
siening van die lewe en kuns. Sy eerste rolprent Ivan’s Childhood het analises ontlok van Ingmar Bergman en
Jean-Paul Sartre, o.a.
Bergman het
by herhaling sy bewondering vir Tarkofski uitgespreek (Sculpting in Time_on life and Art with Andrei Tarkovsky. Besoek 16 Januarie 2017).
Hierdie
rolprent - gemaak in 1962 - is gebaseer op ’n kortverhaal van Vladimir
Bogomolof (1957). Dit is 130 minute lank, maar vereis vele herkyke, omdat dit
gelaai is met sub-teks en droomsekewense, iets waarin Tarkofski uitmunt. Daar
is min filmmakers wat drome so behendig kan aanwend as hierdie Russiese
filmmaker, en volgens sy vrou gebruik hy dikwels sy eie drome as
verhaalelemente in ’n film. (Hieroor sal daar later geskryf word na die
soveelste herbesoek van die filmdokumentêr oor sy lewe en sy werk. In hierdie
memoir maak hy die uitspraak: ek is my films; my films is ek.)
Die gegewe van
die film handel oor ’n jong weeskind, Ivan wat betrokke raak by die oorlog in
WOII en waarskynlik wil wraak neem, omdat die Duitsers sy ouers doodgemaak het.
Die
rekonstruksie van hierdie kort verhaalopsomming gaan gepaard met komplekse
vertelstrategieë, soos non-liniêre vertelling; terugflitse; ’n sirkelgang (die
begin en einde is waarskynlik ’n soort droomsekwens); die gebruik van
historiese dokumentasie, o.a. oor Goebbels; ’n sub-plot (die verhouding tussen
die soldaat en Masha).
II
’n
Twaalfjarige kind, Ivan Bondaref, beleef ’n droom. Sy moeder en hy
sit langs ’n put. Hy beweeg af in die put en wanneer hy binne-in die put is, kom ’n
emmer af. Ons hoor ’n skoot en wanneer hy na bo beweeg, is sy dood. Die kyker
besef nie dadelik dat dit ’n droom is nie. Die moeder is egter reeds dood. En
dit sluit by die slot aan wanneer hy in ’n ander droomsekwens saam met ’n jong
dogter oor die strand hardloop. Voor dit sien ons perde wat appels vreet.
Die film sluit
met ’n beeld van ’n dooie boom. Aan die begin word daar geroep na die moeder;
aan die slot is daar volledige stilte, omdat Ivan dood is.
Na die
droomsekwens aan die begin, beleef ons die jonge Ivan se swemtog oor ’n rivier.
Hy dring daarop aan om deel te wees van die oorlog. Luitenant Galtsef is die
ondervraer. Die jong kind word wel ernstig opgeneem deur Luitenant-Generaal
Gryaznof, en Ivan verduidelik in sy verslag hoe sy ouers en suster deur die
Nazi’s vermoor is. Die terugflitse gebeur eweneens non-liniêr. Ivan weier om na
’n militêre skool of weeshuis te gaan. Hy wil aktief deel wees van die oorlog.
Hy word deur
die soldate toegelaat om aan te bly. Teen die mure is die name van die gedoemde
soldate uitgekrap.
Kholin and
Galtsef neem Ivan laatnag oor die rivier.
In die laaste
tonele sien ons in Berlyn die impak van die oorlog. Goebbels se gebrande lyk,
sy vergiftigde kinders - hiermee wil Tarkofski die geweldige impak van die
oorlog op kinders beklemtoon en word dit duidelik waarom ’n kind gebruik word
om die storie te vertel.
Kholin is dood
in die oorlog en Galtsef bekyk dokumente waarin hy ontdek dat Ivan deur die
Duitsers gevang en opgehang is.
Die film sluit
af met die jong, gelukkige kind wat saam met ’n jong meisie oor die strand
hardloop - met die finale skoot: ’n dooie, uitgeholde boom. (Simbolies beskou
is dit ’n beeld vir die impak van die oorlog.)
Nikolai Burlyaev is Ivan Bondarev (Nikolai Burlyayev– Wikipedia. Besoek 16 Januarie 2017).
III
In romanterme
sou ons kon verwys na ’n ouktoriale verteller wat buite die gegewe staan en die
verhaal gedistansieerd vertel, maar ook manipuleer. Dus, Tarkofski as
ouktoriale verteller met die direkte belewenisse van die karakters en
droom-sekwense.
En die sterk
simboliek van hierdie pakkende rolprent. Oorlog beteken die dood van drome; die
dood van onskuld.
In sy memoir Sculpting in Time - Reflections on the Cinema skryf hy:
Masterpieces are born of the artist’s struggle to express his ethical ideals. Indeed his concepts and sensibilities are informed by those ideals. If he loves life, has an overwhelming need to know it, change it, try to make it better, – in short, if he aims to cooperate in enhancing the value of life, then there is no danger in the fact that the picture of reality will have passed through a filter of his subjective concepts, through his states of mind. For his work will always be a spiritual endeavor which aspires to make man more perfect: an image of the world that captivates us by its harmony of feeling and thought, its nobility and restraint.
Tarkofski
(1932 - 1986) is op 54-jarige ouderdom oorlede in Parys. Sy films het veral in
die buiteland baie lof ontvang. In die film-memoir - met Erland Josephson as
die kommentator - laat hy hom uit oor hoe hy films maak en die impak en
betekenis van tyd. Filmkuns, beweer hy, is die een kunssoort wat direk met en
in tyd werk.
Tarkofski had
uiteraard respek vir Coppola se The
Godfather, ’n film wat ek beskou as ’n hoogtepunt in sy waarneming van die
familie, die Katolieke kerk, bedrog, verraad, die verhouding tussen Italië en
die VSA, die rol van die immigrant.
Met die
wonderbaarlike Al Pacino (My Life as a Blog | What Andrei Tarkovsky Said AboutFrancis Coppola. Besoek 16 Januarie 2017).
Terug na wyle
Josephson, ’n akteur deur sowel Bergman as Tarkofski gebruik. ’n Besielde
vertolker van hul komplekse werk.
© Joan Hambidge