Bladsye / Pages

Monday, January 16, 2017

Andrei Tarkofski – Ivan’s Childhood (1962)


I
Oor die films van Andrei Tarkofski het ek al uitgebreid geskryf. Sy films resoneer met my siening van die lewe en kuns. Sy eerste rolprent Ivan’s Childhood het analises ontlok van Ingmar Bergman en Jean-Paul Sartre, o.a.  

Bergman het by herhaling sy bewondering vir Tarkofski uitgespreek (Sculpting in Time_on life and Art with Andrei TarkovskyBesoek 16 Januarie 2017).

Hierdie rolprent - gemaak in 1962 - is gebaseer op ’n kortverhaal van Vladimir Bogomolof (1957). Dit is 130 minute lank, maar vereis vele herkyke, omdat dit gelaai is met sub-teks en droomsekewense, iets waarin Tarkofski uitmunt. Daar is min filmmakers wat drome so behendig kan aanwend as hierdie Russiese filmmaker, en volgens sy vrou gebruik hy dikwels sy eie drome as verhaalelemente in ’n film. (Hieroor sal daar later geskryf word na die soveelste herbesoek van die filmdokumentêr oor sy lewe en sy werk. In hierdie memoir maak hy die uitspraak: ek is my films; my films is ek.)

 Die gegewe van die film handel oor ’n jong weeskind, Ivan wat betrokke raak by die oorlog in WOII en waarskynlik wil wraak neem, omdat die Duitsers sy ouers doodgemaak het.

Die rekonstruksie van hierdie kort verhaalopsomming gaan gepaard met komplekse vertelstrategieë, soos non-liniêre vertelling; terugflitse; ’n sirkelgang (die begin en einde is waarskynlik ’n soort droomsekwens); die gebruik van historiese dokumentasie, o.a. oor Goebbels; ’n sub-plot (die verhouding tussen die soldaat en Masha).
II

’n Twaalfjarige kind, Ivan Bondaref, beleef  ’n droom. Sy moeder en hy sit langs ’n put. Hy beweeg af in die put en wanneer hy binne-in die put is, kom ’n emmer af. Ons hoor ’n skoot en wanneer hy na bo beweeg, is sy dood. Die kyker besef nie dadelik dat dit ’n droom is nie. Die moeder is egter reeds dood. En dit sluit by die slot aan wanneer hy in ’n ander droomsekwens saam met ’n jong dogter oor die strand hardloop. Voor dit sien ons perde wat appels vreet.

Die film sluit met ’n beeld van ’n dooie boom. Aan die begin word daar geroep na die moeder; aan die slot is daar volledige stilte, omdat Ivan dood is.

Na die droomsekwens aan die begin, beleef ons die jonge Ivan se swemtog oor ’n rivier. Hy dring daarop aan om deel te wees van die oorlog. Luitenant Galtsef is die ondervraer. Die jong kind word wel ernstig opgeneem deur Luitenant-Generaal Gryaznof, en Ivan verduidelik in sy verslag hoe sy ouers en suster deur die Nazi’s vermoor is. Die terugflitse gebeur eweneens non-liniêr. Ivan weier om na ’n militêre skool of weeshuis te gaan. Hy wil aktief deel wees van die oorlog.

Hy word deur die soldate toegelaat om aan te bly. Teen die mure is die name van die gedoemde soldate uitgekrap.

Kholin and Galtsef neem Ivan laatnag oor die rivier.

In die laaste tonele sien ons in Berlyn die impak van die oorlog. Goebbels se gebrande lyk, sy vergiftigde kinders - hiermee wil Tarkofski die geweldige impak van die oorlog op kinders beklemtoon en word dit duidelik waarom ’n kind gebruik word om die storie te vertel.

Kholin is dood in die oorlog en Galtsef bekyk dokumente waarin hy ontdek dat Ivan deur die Duitsers gevang en opgehang is.

Die film sluit af met die jong, gelukkige kind wat saam met ’n jong meisie oor die strand hardloop - met die finale skoot: ’n dooie, uitgeholde boom. (Simbolies beskou is dit ’n beeld vir die impak van die oorlog.)

Nikolai Burlyaev is Ivan Bondarev (Nikolai Burlyayev– Wikipedia. Besoek 16 Januarie 2017).

III
In romanterme sou ons kon verwys na ’n ouktoriale verteller wat buite die gegewe staan en die verhaal gedistansieerd vertel, maar ook manipuleer. Dus, Tarkofski as ouktoriale verteller met die direkte belewenisse van die karakters en droom-sekwense.

En die sterk simboliek van hierdie pakkende rolprent. Oorlog beteken die dood van drome; die dood van onskuld.

In sy memoir Sculpting in Time Reflections on the Cinema skryf hy:
Masterpieces are born of the artist’s struggle to express his ethical ideals. Indeed his concepts and sensibilities are informed by those ideals. If he loves life, has an overwhelming need to know it, change it, try to make it better, – in short, if he aims to cooperate in enhancing the value of life, then there is no danger in the fact that the picture of reality will have passed through a filter of his subjective concepts, through his states of mind. For his work will always be a spiritual endeavor which aspires to make man more perfect: an image of the world that captivates us by its harmony of feeling and thought, its nobility and restraint.
Tarkofski (1932 - 1986) is op 54-jarige ouderdom oorlede in Parys. Sy films het veral in die buiteland baie lof ontvang. In die film-memoir - met Erland Josephson as die kommentator - laat hy hom uit oor hoe hy films maak en die impak en betekenis van tyd. Filmkuns, beweer hy, is die een kunssoort wat direk met en in tyd werk.

Tarkofski had uiteraard respek vir Coppola se The Godfather, ’n film wat ek beskou as ’n hoogtepunt in sy waarneming van die familie, die Katolieke kerk, bedrog, verraad, die verhouding tussen Italië en die VSA, die rol van die immigrant.

Met die wonderbaarlike Al Pacino (My Life as a Blog | What Andrei Tarkovsky Said AboutFrancis Coppola. Besoek 16 Januarie 2017).

Terug na wyle Josephson, ’n akteur deur sowel Bergman as Tarkofski gebruik. ’n Besielde vertolker van hul komplekse werk.

© Joan Hambidge