T.T. Cloete - Die groot misterie van twee vroue: Briewe
aan Anna. Uitgewer: Pooka-uitgewers, 2016. ISBN 978 0 620 661 45 4
Resensent: Joan Hambidge
Op die voorblad van hierdie pragboek is ’n haarlok van die digter T.T.
Cloete se vrou, Anna. In ’n brief, gedateer 17 Desember 2007, bely die digter
dat hy hierdie gerfie hare afgesny het toe die geliefde in matriek was.
Dit is al wat hy ná haar dood van haar liggaam oor het. Dit is vandag nog
net so intakt as toe: mooi, goudkleurig en vars.
Dit is ’n brieweboek aan twee vroue: sy werklike vrou en die Dood. Wie is
die twee vroue? En wat behels hierdie misterie?
In die inleiding verduidelik Cloete hoe hy met Anna praat in ’n
bonatuurlike infra- of ultrakommunikasie.
Hierdie brieweboek, op ’n eerste vlak, is ’n besinning oor die dood en hoe
mense ná hul dood in ander vorme bly leef, in die herinnering, in afbeeldings.
En ja, die dood word hier, soos in klassieke tekste, as ’n vrou voorgestel.
Oor die impak van die afsterwe van hierdie geliefde vrou (wat hy in sy bundels
op verskeie maniere aanspreek en ’n pynlike lykdig oor die verskillende rokke
wat sy in haar lewe gedra het) kan afgelees word in die verskillende briewe –
geskryf tydens haar siekte en ná haar vertrek:
Jy is steeds die digter in my, na jou dood. Jy is nog.
Of, vra hy, is ek die digter in jou?
Sy vrou was sy muse. Sy het eweneens opofferings gemaak tydens sy
Nederlandse studieverblyf en teruggekeer Suid-Afrika toe om geld te verdien
sodat haar geliefde man verder kon studeer. Hulle was lewenslank verbonde.
Sy was die eerste leser van sy gedigte. Daar is ook vele gedigte oor haar.
Onder meer die aangrypende verse in Uit die wit lig van my land gesny: Vir Anna
(2010).
Ofskoon die digter hierdie briewe as lekebriewe beskou het, is dit egter
meer as dit. Persone wat dus ’n geliefde aan die dood afgestaan het, sal baat
vind by hierdie proses van verwerking.
Die “afwesige-aanwesigheid”. Die dood van ’n nabye persoon het soms tot
gevolg dat die agtergeblewene daardie verlies so internaliseer dat die persoon
deel van sy of haar psigiese Umwelt word.
Die briewe begin by die Universitas-hospitaal (2002) met die besef dat sy
geliefde vrou gaan sterf. Daar word deurgaans verwys na die siekte en die impak
van die lyding op die digter se gemoed. Op 8 Maart 2010 is daar ’n inskrywing
oor haar hartaanval. Besonderhede oor liggaamlikhede word vermeld.
Daar is baie belangrike kodes in hierdie teks. Soos Elisabeth Kübler-Ross
se klassieke teks oor die verskillende stappe van doodsaanvaarding. J.C. Steyn
se deeglike biografie van M.E.R. word ook vermeld en die “nugtere aanvaarding
van die weggaan”.
Viktor Frankl is ’n ander kode; hy en sy vrou wat opgesluit was in
verskillende Nazi-konsentrasiekampe, maar het met mekaar gekommunikeer en sodoende
aan hul lydende liggaamlikheid ontsnap.
Pleroma versus soma word eweneens ’n tersaaklike kode vir die begryp van
hierdie teks. Die geestelike, spirituele dimensie help ons om die liggaamlike
pyn of lyding te kan oorwin.
Erich Fromm se The Art of Loving word vermeld – want hierdie brieweboek is
’n liefdesboek. Hy praat van outoritmiek, van emosioneer en die impak van
liggaamlike pyn op sy lewe. Hy skryf insigryk oor die wetenskap – soos oor
bonobo’s en prosopagnosia.
Op ’n tweede vlak is dit ’n kreatiewe verslag van ’n digter en
letterkundige. Daar is ’n heerlike satire oor Afrikaanse “sangers”.
Cloete se erkentlikheid jeens ander kom na vore (hy verwys na Nic de Jager
se musiekprogram en sy fabelagtige kennis). Hy skroom nie om ’n digter te
kritiseer wat hom as fascisties beskou het nie en hy lewer belangrike kommentaar
op die skryfproses en die resepsie van sy gedigte.
Hy is bewus van kleinlikhede en naywer – en hoe mense “nagaande” is wanneer
jy bekroon word.
Hy praat oor literêre boelies en die eis vir vernuwing. Hy gee erkenning
aan jonger digters en bedank hulle vir hul belangstelling of toesendings van
boeke.
Dit is ’n boek wat iets verklap van die binnewerkinge van ’n groot gees en
hoe hy in hierdie tyd van wanorde, soos hy dit noem, afskeid neem; en
bestendig. Sonder sy geliefde is hy ’n halwe mens.
Daar is ’n besinning oor huil (teenoor lag), die impak van emosioneer (en
outoritmiek), die vriendskappe met Elize Botha, Eveleen Castelyn en Heilna du
Plooy – belangrike vroue in sy lewe.
Dit is eweneens, op ’n derde vlak, ’n historiese verslag. Die invloed van
die Anglo-Boereoorlog en hoe die digter se ouers op ’n klein plasie moes
oorleef, word aangrypend vermeld. Die jong Theunis is skaam om in sy armoedige
klere skool toe te gaan.
Die invloed van sy digterskap as ’n “poet’s poet” is nog nie volledig
bepaal nie. Daar is vele mense wat sy digkuns lees teen sy persoon, teen sy
voormalige verbintenisse met die sensuurraad – lees die gedigte, dan praat ons
weer.
Sowel die ATKV as die Hiemstra-trust het hierdie teks moontlik gemaak.
Sowel die ATKV as die Hiemstra-trust het hierdie teks moontlik gemaak.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)