Sunday, December 11, 2016

Susan Smith - Die aarde is 'n eierblou ark (2016)

Susan Smith - Die aarde is 'n eierblou ark. Protea Boekhuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0716-7

Resensent: Joan Hambidge

Susan Smith se tweede bundel word bemark as eko-poësie, 'n terrein wat sy ook akademies afgebaken het. Die bundel bevat egter ook 'n besinning oor digterskap, en meer spesifiek, vroue-skryfwerk, via die natuur.

Eko-poësie kry tans geweldig aandag, hier te lande en wêreldwyd. Mary Oliver se aangrypende gedigte; in Afrikaans Martjie Bosman, Johann Lodewyk Marais, waar die gedigte eko-polities is. Dan is daar talle natuurdigters in Afrikaans, te veel om op te noem: van Leipoldt tot nou in die digkuns van Marlene van Niekerk en Johann de Lange.

Die eko-politiek met sy vrese van 'n aarde wat mag sterf, is al in bloemlesings opgeneem van Lategan tot Ons klein en silwerige planeet van Johann Lodewyk Marais en A.D. Zuiderent wat in 1997 verskyn het. Bome wat met installasie-kuns bedek word; ons dink aan die kunstenaar Christo Jeanne Claude se pienk seilbedekking rondom ‘n eiland (Christoand Jeanne-Claude | Projects | Surrounded Islands).


Omringde eiland, Biscayne Baai, Groter Miami, Florida, 1980-83 (Foto, Wolfgang Volz)

Dit is 'n soort gedig wat die leser kan benader as natuurgedig, of as 'n vers oor die binneskap van die digter. (Gaan kyk na die vers van Elizabeth M. du Toit in Lategan se ou, bruin bloemlesing en ons weet dit handel oor emosionele onrus.)

Belangrike name in die wetenskap en eko-politiek word betrek: Kepler, Galileo;  Darwin en Hawking.

Die gesprek rondom die Karoo word ook aangespreek.

Walt Whitman se “Leaves of grass” word in ‘n teensang gehuldig:

Jou wilde trope is filamente van herken
In die roekelose baaie
Jou intieme sien (40)

Die opvallende van hierdie bundel is dat die aarde as vroulik voorgestel word. Dit is dus ‘n sterk feministies-gelade teks wat in die taalgebruik na vore kom. Hélène Cixous beklemtoon die belangrikehid van hierdie vervrouliking van taal in Die lag van die Medusa.

Ook die bemoeienis met die digkuns is ‘n opvallende tema in hierdie bundel. Die bundel word dus ‘n dubbelreis vir die leser waarin sowel die aarde as eierblou ark (Noag) en die soeke na die volmaakte gedig onder die loep geneem word.

In “Vangs” (50) resoneer met Opperman se “Man met flits”. Hier word ‘n wip gestel vir die vangs:

in die takwerk sit verskrik
die rooi pels
van ‘n jong gedig

“Saad” (23) ondersoek die geboorte van ‘n digter via die planteryk en die verhouding met die ouers. Hier is daar ‘n aflegging van die moeder (die lykswa het verdwaal in Bloemfontein met die navolgers soos ‘n kronkelende duisendpoot agterna). Sy hoop dat die moeder haar blommetuin nadoods sal raaksien. Hierdie gedig is Smith se Edms. Bpk. Waarin sy poëties en polities haar standpuntname verduidelik. Teenoor die “melkhoutboom uit Dirk se erf” vind ons onder andere bloedrose en plante wat met die grond praat. Die digter as ‘n soort tuinier staan op vertrek, maar die gedig bly agter.

In aansluiting hierby is “Tuin van mondings” (33), opgedra aan Sylvia Plath, ‘n sentrale vers juis ómdat soveel vrouedigters al by hierdie ikoniese digter aansluiting gevind het:

toe die laaste lug aan jou tulpe vashaak
en jy bloedloos die wêreld uit jou oë loslaat

Die verskillende rame waardeur Plath na die wêreld gekyk het, is ook hier tersaaklik.

Jonathan Culler se “framing the sign”: jy kan die bundel eko-polities lees; of die taalgebruik ondersoek of kyk na die uitmondings in memento mori.

Hierdie leser sou meer vormbeheer wou sien, soos byvoorbeeld “Eierblou ark” (12) wat ‘n distigon kon wees?

“Xolobeni Mineral sands, Wildekus” geskryf na ‘n gedig van Derek Walcott, die Prins van Vormbeheer en Implikasie, praat o.a. met “Midsummer, Tobago”:

Broad sun-stoned beaches.

White heat.
A green river.

A bridge,
scorched yellow palms

from the summer-sleeping house
drowsing through August.

Days I have held,
days I have lost,

days that outgrow, like daughters,
my harbouring arms.

Hierdie vergelykingspel met ander digters maak die “plek van klanke” ryker. Soms word die verwysings in die verseboek-ark netjies weggesteek!

‘n Verdere dimensie is spiritualiteit: die vergiffenis en genade waarmee die digter worstel wanneer sy daagliks “silwer woordspane / deur sterstof stuur” (12).

Die digter se solodebuut in 2012 was In die afwesigheid van sin (Protea) en hierdie tweede bundel maak ‘n ryper, sterker indruk.

Eierblou ark
die aarde is ’n eierblou ark
wat deur die melkweg veer

die aarde is ‘n knikkerneut
waarin die groeibegin van woorde sit

‘n tydelike oord
‘n kreunende halfweghuis

waarin ons waterdeurdronge
deur soutreën en sleepmistonge

hiermaals vaar en as bede
om vergiffenis en genade

daagliks silwer woordspane
deur sterstof stuur


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)