Resensent: Joan Hambidge
I
John Miles se romans lewer altyd sterk sosiale kommentaar. Dit is egter die
verhulde intertekste wat my interesseer in sy pakkende romans.
Die slot van die roman "Nee, dis reg, dankie dat julle gekom
het", sou 'n mens kon lees as - dankie leser dat jy my intertekste besoek
het.
En daar is vele, bekend en minder bekend, oor hoé die moderrne mens moet
reageer op geweld en die verloedering, wat ons tans in die gesig staar, op alle
vlakke van menswees.
Die Hongaarse skrywer Sándor Márai wat meen dat van alle die religieuse
illusies, die Boeddhisme vir hom die mees simpatieke is, omdat dit jou niks
beloof na die dood nie. Nirwana beloof niks (252) (Sándor Márai – Wikipedia. Besoek 11 Desember 2016).
Op 'n dag, 'n hond (Churchill se swart hond?) beleef ek tesame
met die ontwrigtende Hongaarse film, Son of Saul. 'n Man wat sy
buite-egtelike kind wil begrawe tydens die grusaamhede van Auschwitz in 1944.
Hierdie film van László Nemes spook in die gemoed - nes Miles se roman (Son of Saul – Wikipedia. Besoek 11 Desember 2016).
Christo Coetzee © Dotman Pretorius
Daar is belangrike kodes dat 'n mens die lae van hierdie roman moet afskil.
Die onvoorspelbare werkinge van die onderbewussyn word gekarteer (236) en die
skilderwerke van Christo Coetzee, in 'n fase bekend vir lae van representasie,
versoek 'n dieper kyk (Christo Coetzee – Wikipedia. Besoek 11 Desember 2016).
Met my verjaarsdag gee my buurman vir my Marcus Aurelius se Meditasies
as geskenk. En hierdie is 'n teks wat in- en uitwaaier in hierdie aangrypende
roman:
wees verdraagsaam, hoflik en nederig, onder alle
omstandighede moedig, vermy beuselagtighede en verdra vryheid van spraak (224, 225).
II
"Ons leef dubbeld, die bewussyn en die liggaam, die een lewe is
weggesteek in die ander een. Hulle is een, maar soms moet die een die knie voor
die ander buig. Die innerlike lewe gee ons verbeelding en ideale en is
moreel" (216).
Dieselfde geld intertekste wat ook weggesteek is agter die storie wat die
skrywer beweer vir hom van kardinale belang is om 'n storie te vertel (Verteller wat ‘liksens het’ om te mag vertel | Netwerk24. Besoek 11 Desember 2016).
“Hier is heelwat filosofie in die boek en
spesifiek ’n bepaalde filosofie, maar ek wou ’n roman skryf; ’n verháál is my
medium. Ek is nie besig met ’n essay nie; ek is nie besig met ’n preek of so
iets nie; ek skryf ’n verhaal. Met ander woorde: Dit wat agtergrond is, moet
geïntegreer wees in die verhaal.
Hierdie boek sit vol nihilistiese ironie, daardie relativistiese ironie
waaroor D.C. Muecke skryf in Irony and the Ironic (Methuen, 1970). Die
veelvuldige interpretasies, nie een is noodwendig reg (of verkeerd nie); die
ko-eksistensie van ongerymdhede en onversoenbaarhede en teenstrydighede wat
deel is van ons bestaan. En dit is wat hierdie roman uiters geslaagd doen.
Geweld, liefde, moord, aanklagte, klasgee, drome - weergegee in die gemoed van
'n oud-onderwyser.
Daar is verwysings na Breytenbach, Paz, Mandelstam, Ondaatje, Majakofski,
Rilke - en veral Rilke inspireer: ons is bye van die onsigbare wat heuning uit die
onsigbare versamel om op te gaar in die goue korf van die onsienlike (49).
(Hierdie
resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)