Susan Smith - Die aarde is 'n eierblou ark. Protea Boekhuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0716-7
Resensent: Joan
Hambidge
Susan Smith se tweede bundel word bemark as
eko-poësie, 'n terrein wat sy ook akademies afgebaken het. Die bundel bevat
egter ook 'n besinning oor digterskap, en meer spesifiek, vroue-skryfwerk, via
die natuur.
Eko-poësie kry tans geweldig aandag, hier te lande
en wêreldwyd. Mary Oliver se aangrypende gedigte; in Afrikaans Martjie Bosman,
Johann Lodewyk Marais, waar die gedigte eko-polities is. Dan is daar talle
natuurdigters in Afrikaans, te veel om op te noem: van Leipoldt tot nou in die
digkuns van Marlene van Niekerk en Johann de Lange.
Die eko-politiek met sy vrese van 'n aarde wat mag
sterf, is al in bloemlesings opgeneem van Lategan tot Ons klein en silwerige
planeet van Johann Lodewyk Marais en A.D. Zuiderent wat in 1997 verskyn
het. Bome wat met installasie-kuns bedek word; ons dink aan die kunstenaar
Christo Jeanne Claude se pienk seilbedekking rondom ‘n eiland (Christoand Jeanne-Claude | Projects | Surrounded Islands).
Omringde eiland, Biscayne Baai, Groter Miami, Florida, 1980-83 (Foto, Wolfgang Volz)
Dit is 'n soort gedig wat die leser kan benader as natuurgedig, of as 'n vers oor die binneskap van die digter. (Gaan kyk na die vers van Elizabeth M. du Toit in Lategan se ou, bruin bloemlesing en ons weet dit handel oor emosionele onrus.)
Belangrike name in die wetenskap en eko-politiek
word betrek: Kepler, Galileo; Darwin en Hawking.
Die gesprek rondom die Karoo word ook aangespreek.
Walt Whitman se “Leaves of grass” word in ‘n
teensang gehuldig:
Jou wilde
trope is filamente van herken
In die
roekelose baaie
Jou intieme
sien (40)
Die opvallende van hierdie bundel is dat die aarde
as vroulik voorgestel word. Dit is dus ‘n sterk feministies-gelade teks wat in
die taalgebruik na vore kom. Hélène Cixous beklemtoon die belangrikehid van
hierdie vervrouliking van taal in Die lag van die Medusa.
Ook die bemoeienis met die digkuns is ‘n opvallende
tema in hierdie bundel. Die bundel word dus ‘n dubbelreis vir die leser waarin
sowel die aarde as eierblou ark (Noag) en die soeke na die volmaakte gedig
onder die loep geneem word.
In “Vangs” (50) resoneer met Opperman se “Man met
flits”. Hier word ‘n wip gestel vir die vangs:
in die
takwerk sit verskrik
die rooi
pels
van ‘n jong
gedig
“Saad” (23) ondersoek die geboorte van ‘n digter via
die planteryk en die verhouding met die ouers. Hier is daar ‘n aflegging van
die moeder (die lykswa het verdwaal in Bloemfontein met die navolgers soos ‘n
kronkelende duisendpoot agterna). Sy hoop dat die moeder haar blommetuin
nadoods sal raaksien. Hierdie gedig is Smith se Edms. Bpk. Waarin sy
poëties en polities haar standpuntname verduidelik. Teenoor die “melkhoutboom
uit Dirk se erf” vind ons onder andere bloedrose en plante wat met die grond
praat. Die digter as ‘n soort tuinier staan op vertrek, maar die gedig bly
agter.
In aansluiting hierby is “Tuin van mondings” (33),
opgedra aan Sylvia Plath, ‘n sentrale vers juis ómdat soveel vrouedigters al by
hierdie ikoniese digter aansluiting gevind het:
toe die
laaste lug aan jou tulpe vashaak
en jy
bloedloos die wêreld uit jou oë loslaat
Die verskillende rame waardeur Plath na die wêreld
gekyk het, is ook hier tersaaklik.
Jonathan Culler se “framing the sign”: jy kan die
bundel eko-polities lees; of die taalgebruik ondersoek of kyk na die
uitmondings in memento mori.
Hierdie leser sou meer vormbeheer wou sien, soos
byvoorbeeld “Eierblou ark” (12) wat ‘n distigon kon wees?
“Xolobeni Mineral sands, Wildekus” geskryf na ‘n
gedig van Derek Walcott, die Prins van Vormbeheer en Implikasie, praat o.a. met
“Midsummer, Tobago”:
Broad
sun-stoned beaches.
White heat.
A green
river.
A bridge,
scorched
yellow palms
from the
summer-sleeping house
drowsing
through August.
Days I have
held,
days I have
lost,
days that
outgrow, like daughters,
my
harbouring arms.
Hierdie vergelykingspel met ander digters maak die
“plek van klanke” ryker. Soms word die verwysings in die verseboek-ark netjies
weggesteek!
‘n Verdere dimensie is spiritualiteit: die
vergiffenis en genade waarmee die digter worstel wanneer sy daagliks “silwer
woordspane / deur sterstof stuur” (12).
Die digter se solodebuut in 2012 was In die
afwesigheid van sin (Protea) en hierdie tweede bundel maak ‘n ryper,
sterker indruk.
Eierblou
ark
die aarde
is ’n eierblou ark
wat deur
die melkweg veer
die aarde
is ‘n knikkerneut
waarin die
groeibegin van woorde sit
‘n tydelike
oord
‘n
kreunende halfweghuis
waarin ons
waterdeurdronge
deur
soutreën en sleepmistonge
hiermaals
vaar en as bede
om
vergiffenis en genade
daagliks
silwer woordspane
deur
sterstof stuur
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike
vergunning van Rapport)